Sondag 25 Desember 2022

#Stukkendeharte Hoofstuk 10 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 10 - Rooi Mier


Sahara is weer alleen in haar groot huis. Sy is bietjie ontsteld om te weet hoe sy verwek is maar besluit daar en dan dat as haar pa dit kon aanvaar het, dan moet sy ook maar aanbeweeg. Daar is net mooi niks wat sy daaraan kan doen nie. 
Die kwessie van haar biologiese pa is nie regtig nou 'n probleem nie, of is dit? Sy het nou 'n naam en in haar agterkop wonder sy tog hoe hy lyk.
Sy begin doelbewus haar gedagtes in 'n ander rigting stuur. "Ek is so opgewonde oor die werk; wel, die moontlike werk. Vanaand gaan ek dit 'n saak van gebed maak."
"Ek voel in elk geval baie skuldig oor my geestelike lewe. My gebede is deesdae 'n gerammel van gee, gee, gee en wanneer laas het ek Bybel gelees of was ek by 'n byeenkoms. Daar is juis 'n teksvers in Hebreërs wat praat van die belangrikheid van bywoning van byeenkomste," dink sy.
Sy dink aan alles wat gebeur het sedert haar ma afgesterwe het. "Dit is tyd dat ek my hart bloot lê aan my hemelse Vader."
Sy staan onmiddelik op, sit 'n lied op waarvan sy verskriklik baie hou, kry haar Bybel en maak dit oop by Hebreërs 10. Een teksvers val haar op, dit is vers 36.  "Want julle het lydsaamheid nodig, om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry."
"Ja Here, ek het lanklaas U wil gedoen maar ek verwag U moet my uithelp."
Terwyl sy luister na Lenor was sing, "Ek loof U vir wie U is" besluit sy dat sy voor die Here wil kniel in gebed.  Sy was lanklaas só in gesprek met haar Hemelse Vader.


Lawrence aan die anderkant dink vanaand weer aan Sahara.
"Wat maak sy? Waar is sy? Dink sy darem aan my of was ek maar net nog 'n leerling in haar klas?"
Hy dink ook deesdae meer aan die feit dat sy bekeer is. Sy ma het eendag vir 'n ander vrou gesê wat na haar toe gekom het vir raad, "Die lig meng nie met die duisternis nie."
Hy het haar later daaroor uitgevra en het verduidelik dat 'n mens liewer nie in 'n verhouding moet wees met iemand wat anders glo nie. Hy het nog altyd geglo dat dit nie 'n probleem behoort te wees nie.
Vanaand vra hy homself egter af of dit kan werk. Hy het nog altyd geglo dat die sogenaamde Christene nie baie breins het nie. Hoe kan jy glo aan wat jy nie sien nie? Sy ma is egter 'n baie intelligente vrou en so ook Sahara. 
Hoe kan hulle soos skape wees? "My eerste prioriteit is om tog eers weer vir Sahara in die hande te kry. Ek moet uitvind of ek 'n kans met haar het. Daarna kan ek probeer om haar te laat insien van hoe haar geloof afbreek maak aan haar intelligensie. Ek glo in elk geval nie dat gebed my gered het toe ek as kind met my ouers in 'n ongeluk was nie."
Skielik onthou hy ook dat sy ma gesê het dat wanneer twee mense nie van dieselfde geloof is nie dat die een die ander sal probeer beïnvloed al is dit ook op 'n baie subtiele manier. Hy raak skaam as hy dink dat hy dit alreeds oorweeg voordat hy en Sahara nog saam is. Ek sal haar maar net moet respekteer vir wie sy is.
"Wel, al wat ek verseker weet is dat ek verseker baie lief is vir daai vrou" 
Hy raak aan die slaap met hierdie gedagte.


Sahara het klaar gebid en voel heelwat ligter. Sy het vanaand haar laste by Sy voete neergelê, ook haar onbekende toekoms. Sy sien nou weer uit na 'n nuwe begin in die Kaap maar tog wil sy nog nie ontslae raak van die huis nie. 
In haar bed dink sy aan haar gelukkige kinderjare in dié huis.
Onwillekeurig sien sy Lawrence  en haarself met kinders in dié huis. "Moenie laf wees nie Sahara. Lawrence  en jy sal nooit gebeur nie."
Sy raak aan die slaap.


Janice staan op. Sy het gisteraand besluit om Lawrence in haar truspieël te plaas; iemand van wie sy wegry. Jammer dat sy 'n haai gevind het maar daar is nog baie visse in die see. Dit is asof sy 'n gewig afgegooi het.
"Natuurlik is die liefde nog steeds in my hart maar ek sal dit hanteer."
Na haar badkamer roetine trek sy haar skooluniform aan. Vandag skryf sy haar eerste vak van haar finale eksamen, Afrikaans Eerste Taal. Niks gaan en niemand gaan haar onderkry nie. Dit is immers haar huistaal.
Sy glimlag. Net gister lees sy dat iemand met die naam van Two Minute Noodle op sosiale media gesê het, "Ewenwel... onteenseglik... vereenselwig...onomwonde...is woorde wat jy gebruik as jy hooge Afrikaans besig!"  Vandag gaan sy "hooge Afrikaans" besig in daai opstel.
Sy gaan bak 'n eier en 'n worsie. Vandag is sy lus vir eet so sy gooi melk in 'n beker en maak dit warm en gooi dit in 'n bakkie met 'n Weetbix. Sy sit ook 'n piesang reg om saam te neem.
Die geur van die worsie hang in die lug en sy gaan sit. Skielik vlieg sy op en haas haar na die badkamer. Sy voel naar. 
"Mammie het net gister genoem dat daar 'n virus in die lug is. Ek moet maar 'n stropie en vitamine neem."


By die skool kry sy vir Larisa. 
"Girl, jy lyk 'n bietjie bleek vanoggend"
"Ek voel 'n bietjie onder die weer vandag maar ek kan nie die vraestel mis nie. Jy weet dat ek baie goed vaar in die vak daarom wil ek dit nie mis en dalk net 'n gemiddelde punt kry nie. Kom ons gaan skryf."


Hulle skryf eksamens in die skoolsaal sodat daar genoeg afstand tussen leerders kan wees. Janice stap verby Lawrence en groet hom asof hy net 'n kennis is.
Na die eksamen stap sy na die snoepie toe. Sy voel nogal honger want sy het toe nie geëet nie en die piesang lê nog op die kombuistafel.


Larisa en Anton kom staan ook in die lyn agter haar. Hulle praat van hoe lekker hulle geskryf het. Sy koop 'n pasteitjie en sap en stap na die banke onder die boom. Die matrikulante mag huistoe gaan maar dit lyk of niemand haastig is nie.
Larisa en Anton is oppad na haar toe, toe sy haar pasteitjie oopmaak. Die lamskerrie pasteitjie ruik lekker. Haar maag grom van hongerte. 
Sy neem 'n byt, spuug uit, gooi dit neer en hardloop kleedkamer toe. Larisa kyk haar aandagtig agterna. Lawrence kom aangestap maar blykbaar net om totsiens te sê want hy wil by die huis kom.
Larisa kyk hom op en af en sê, "Kry vir Janice by 'n dokter."
"Is sy siek? Sy wil in elk geval niks met my te doen hê nie."
"Ja sy is, asgevolg van jou."
"Ag man, ek kan myself ook skop dat ek Sahara se naam op so 'n ongeleë tyd genoem het. Ek moet nou gaan julle twee. Ons skryf mos eers weer môremiddag. Sien julle dan."


Larisa stap na die kleedkamer waar sy Janice kry wat vreeslik naar is. Haar liggaam ruk soos iemand wat opgooi maar niks kom uit nie want daar is niks in haar maag nie. Larisa neem haar na die skool se siekeboeg toe. Die suster luister na haar storie. 
"Kan ek dalk iets kry vir die naarheid?"
"Nee", sê die suster, "jy moet by 'n dokter uitkom. Ek kan nie vir jou enigiets gee voor ons nie seker is wat fout is nie. Gaan was jou gesig en spoel jou mond. Daarna kan ek jou ouers laat kom om jou dokter toe te neem."
Terwyl Janice badkamer toe gaan vra Larisa, "Dink suster sy is swanger?"
"Ek mag nie vir jou sê nie maar wat dink jy."
"Maar 'n mens kry mos nie 'morning sickness' die tyd van die dag nie."
"Alhoewel dit morning sickness genoem word kan mens dit enige tyd van die dag kry. Ek hoop ons is verkeerd want haar hele toekoms lê voor. Dit is glad nie goed vir jongmeisies se toekoms as hulle so vroeg kinders kry nie."
"Sy is darem al agtien suster," laat Larisa van haar hoor.
"Dink jy dit is oud genoeg? Wat van haar studies of sy kon ten minste aan haar loopbaan begin bou het."
Janice stap binne.
"Ek voel oraait Suster. Ek sal my ma by die huis vra om my dokter toe te vat."
Die suster kyk haar op en af.
"Dit is nie so dringend nie maar jy moet by die dokter uitkom. Totsiens dan eers. Ek moet met 'n graad 10 daghospitaal toe gaan."
"Girl, jy moet rustig wees. Ek wil die peetma wees."
"Peetma? Van wie se kind nou?"
"Joune."
"Ek is mos nie swanger nie."
"Hou aan om vir jouself te lieg Girl. Jy is swanger uit en gedaan."
Janice wil nog iets sê toe lig Larisa haar hand op om te wys sy moet stilbly, "bye girl!" 


Anton staan by die hek en wag vir Larisa. Janice stap verby en waai net. Sy is onsteld.
"Wat gaan aan Larisa? Hoekom is sy so onsteld?"
"Lawrence gaan 'n pa word."
"Moenie líeg nie! Is Janice swanger? Rerig!"
"Dit is nog nie bevestig nie maar ek is amper 100% seker daarvan."
"Daai is mos nou 'n bummer."
"Jy sê nie vir hom nie. Janice moet nog eers by die dokter bevestig."
"Joh kinta, vir wat vat jy my?"
Die aand 20:00 lui Anton se sel. Hy sien dat dit Lawrence is.
"Auw die L, jy bel my mos nie meer deesdae nie. Is daar 'n probleem?" Daar is iets soos afwagting in sy stem.
"Vir wat klink jy so opgewonde? Maar ek het baie goeie nuus."
Anton val Lawrence in die rede, "Het sy jou gesê?"
"Wie my wat gesê?"
"Janice man. Moenie jou dom kom hou nie. My bra gaan 'n pa word. Geluk grootman.""
"Watter bra van jou?" Lawrence klink uit die veld geslaan.
"Jy wie dan. Van wanneer af het ek nog 'n vriend?"
"Is jy gerook Anton? Waarvan praat jy?"
Anton klink nou onseker. "So sy het jou nie gesê nie? Nou wat is die goeie nuus?"
"Jy gaan nie wegkom met dit nie. Ek wil nou weet waarvan jy praat."
"As jy nie weet nie L, kan ek jou nie sê nie." 
Anton dink hoe om uit die ding te kom.
Lawrence laat hom egter nie van struik af bring nie. Hy het Janice se naam gehoor en Anton wat hom gelukwens so kan dit wees? Het Anton gesê hy gaan 'n pa word?
"Jy beter nou praat Anton."
"Die L moet my asseblief nie in 'n hoek dryf nie. Wat ek gesê het was per ongeluk."
Lawrence klink ongeduldig. Daar is 'n knop in sy maag. "Ek wag."
"Janice is swanger. Of ek weet nie verseker nie. Onthou net, jy het my gedwing om te praat."
Daar heers 'n doodse stilte.
Na 'n paar sekondes vra Anton, "Die L, is jy oraait?"
"Jy sê swanger? Sy is swanger?"
Anton antwoord nie want hy weet Lawrence soek nie 'n antwoord nie.
Hy hoor dat Lawrence afgelui het. "Wat het ek nou gedoen?"
Skielik onthou hy dat Lawrence iets wou sê voordat hy sy mond verby gepraat het. 
"As ek hom nie nou bel nie gaan ek nooit slaap nie."
Lawrence antwoord nie. Hy s maar moet wag tot môre. 


Aan die anderkant sit Lawrence nog steeds met sy skootrekenaar op sy bene en selfoon in die hand op sy bed. Dit lyk of sy brein gestop het om te fungeer. 
Dan skielik begin dit terugkom. 
"Ek gaan 'n pa word? Dit kan mos nie wees nie. Dit moet 'n poets wees. Hoekom sal Anton dan nou weet voor my."
Hy voel skielik verlig. "Dit is wat dit is. Anton kan mos nie sulke grappe maak nie. Hy sal maar nou moet wag om te hoor waarvoor ek hom gebel het"
"Sjoe, daai was darem nou amper. Ek kan nie bekostig om kinders by enigiemand anders te hê nie. My toekomstige vrou is Sahara en sy gaan die ma van my kinders wees. Ek wonder of sy twee of drie kinders in haar toekoms sien."
Hy klim met 'n groot glimlag in die bed. "Ek gaan Anton terug kry."
©Rooi Mier 13.07.2022

#Stukkendeharte Hoofstuk 9 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 9 - Rooi Mier


Sy skakel haar enjin aan en ry huiswaarts. Tuis het Jenny net begin om om iets ligs aan te slaan vir middagete. Sy haal ook vleis uit om later aandete te begin.
"Middag Antie. Dinge het goed afgeloop by die bank. Kan ek vir ons sap skink?"
"Hou net so vyftien minute vas dan kan ons sommer middagete geniet. Ek wil juis vir jou sê dat ek môre Kaapstad toe wil gaan na my dogter toe. Ons moet klaar gesels. Ek moet nog my bespreking gaan doen."
"Ek sal dit sommer op die internet doen Antie."
"Ok, laat ek gou my identiteitsnommer gaan kry. Ek kan dit nooit onthou nie. Jou ma het my altyd probeer verduidelik hoe om dit maklik te onthou maar my kop wil net nie."
Sahara lag. "Mammie het daarop aangedring dat ek myne ken. Sy het altyd gesê daar is eintlik net vyf nommers om te onthou van die dertien. Die eerste ses ken jy klaar want dit is jou geboortedatum. Die volgende vier moet jy leer; as jy 'n vrou is begin dit met 'n nul tot vier, mans met vyf tot 9, daarna is almal 08. So jy moet dan net die laaste een leer."
"Sal net sy wees. O ja, ek moet my bankbesonderhede ook bring."
"Los Antie, ek betaal en moenie stry nie."
Sahara gaan haal haar skootrekenaar terwyl Jenny haar Id gaan haal. Na'n paar minute is die bespreking gedoen. 
"U bus vertrek eers môreaand 18:00. Reël dat hulle u afhaal by Kaapstad stasie om 06:00 die volgende oggend."
"Reg so. Dalk gebruik ek 'uber'. Kom ons eet."
Sy bedien gestoomde vis en slaai.
"Kom ons praat klaar. Jy wou mos nog geweet het van jou ma.
Daardie aand met die bakleiery was daar 'n jongman wat gebloei het. Jou ma het hom na sy kamer vergesel om sy wond te verbind.
Na die wond verbind was (dit was glo glad nie netjies nie want sy was onder die invloed van drank) het hulle gesels. Hy wat vir die eerste dwelms gebruik het en sy wat vir die eerste keer drank gebruik.
Soos hulle sê, die een ding het gelei tot die ander.
Die volgende oggend het sy in sy bed wakker geword. Sy het haar maagdelikheid in die proses verloor.
Toe die jongman wakker word kon sy van sy reaksie aflei dat hy dink hy het haar forseer.
Dit was eintlik nie 'n logiese afleiding nie omdat sy nog steeds daar was. 
Jou ma was skaam en het hom nie reggehelp nie; net aangetrek en haastig sy kamer verlaat. Op daardie stadium het sy nog nie sy naam geken nie."
"So sy het het nie eers my pa se naam geken nie?"
"Laat ek klaar praat. 'n Maand en paar dae later het sy 'n roetine mediese ondersoek ondergaan. Sy het uitgevind sy is swanger. 
Toe sy by die dokter se kamer uitkom het die suster 'n aanmerking gemaak van jongmeisies wat nie sedes het nie en dan moet die arme kindertjies daaronder lei. 
Die jongman het daar sit en wag vir sy beurt om die dokter te sien. Hy het opgestaan en na haar beweeg. Terwyl hy besig was om haar te bedank dat sy hom nie aangegee het vir verkragting nie; sy ouers het hom nie so grootgemaak nie; vra die suster of hy die onnosel pa is.
Maria het hom net aan die arm uitgetrek by die spreekkamer se deur. Sy het net vinnig gesê sy is nie swanger nie en weggestap.
Hy het toe sy naam aan haar geskree terwyl sy wegstap."


Jenny se selfoon lui. Sahara gee haar haar privaatheid en gaan na haar kamer. Sy raak aan die slaap. Heelwat later raak sy wakker. Die huis is stil. Daar is 'n nota dat Jenny en Sandra uit is. 
Sahara herkou aan alles wat sy gehoor het. So haar ma was ten minste nie verkrag nie. Sy was wel in dronkenskap verwek. Hoe voel mens oor dit?
"Wil ek werklik weet wie my biologiese pa is? Die pa wat my grootgemaak het kan nie vervang word nie. Ek wil nie regtig weet wie hy is nie."


Daardie aand sit sy laat met haar skootrekenaar en skryf 'n gedig wat sy opdra aan haar pa. Sy het onlangs ontdek dat sy nogals daarvan hou om gediggies te skryf. Die anderdag het sy 'n gedig gelees getitteld "Die Bruid", geskrywe deur iemand wat homself "Rooi Mier" noem. 
"Ek wonder hoekom "Rooi Mier" en hoekom? Ag hy of sy het seker maar sy of haar redes," dink sy. Toe sy moeg is vir dink kyk sy na een van Rowen G se videos. Dit gaan oor hom wat in 'n taxi gery het en 'n gesprek op whatsapp van iemand anders gevolg het. Dit beur haar op. 
Sy is in die bed en dink aan Lawrence toe Jenny kom. Dit was al laat.
Lawrence lê ook op sy bed en dink aan Sahara. Waar is sy? Hy moet weer 'n draai ry om te kyk of sy nie dalk teruggekom het uit die Kaap nie. Dan weer dink hy aan Janice. Hy het immers met haar geslaap. Kan hy net aanbeweeg asof niks gebeur het nie? Hoekom is sy so afsydig? Met sy gedagtes terug by Sahara raak hy aan die slaap.


Die volgende oggend is Lawrence effens opgewonde oppad skool toe. Hy ontmoet Anton langs die pad.
"Môre buds. Om te dink dit is ons laaste dag van klas. 'n Man voel nogals opgewonde maar ook hartseer."
"Hi die L. Ja wat, van ons ander vriende in ander klasse gaan ons nou net in die verbygaan sien. Hulle skryf mos nie dieselfde vakke as ons nie behalwe die tale."
"Ek is aanvaar vir medies by Stellenbosch en Wes Kaap. Moet nog besluit watter een. Wat van jou buds. Jy gaan mos regte doen."
"Ek is ook aanvaar L. Ook Wes Kaap en dan Vrystaat, maar ek gaan Kaap toe. Wou nog altyd die Kaap leer ken. Ek was nou nie so bevooreg soos jy wat gereeld daar kuier nie."
"Jy gaan mos nie om op die beach te gaan lê nie. Jy gaan study."
"Lmk. As jou toppie nou hoor hoe meng jy die tale is jy in die rooi."
"Ag man, hy beter sy bek hou." Lawrence klink skielik driftig. Hy het nog nooit so met of van sy pa gepraat nie. "Ek het hom altyd gerespekteer maar nie meer nie."
"Wat is dit nou L. Jy klink nie lekker nie."
"Los dit buds." Hy klink nors en duidelik omgekrap.


Anton verander maar die onderwerp. "Dink jy nie dis 'n plan om albei Wes Kaap toe te gaan nie? Dan kan ons mos saam bly." 
"Nogals. Kom ons soek op die internet vir studente akkomodasie."
Later sit hulle met Anton se selfoon en kry drie plekke. Bellville, Eersterivier en Kuilsrivier. Hulle stuur emails vir al drie. 
"Nou moet ons maar wag. My ouers is oraait met my wat liewer Kaap toe as Vrystaat toe wil gaan."


Larisa en Janice stap saam deur die skoolhek.
"Môre girlfriend."
"Hi Larisa."
 "Jy is baie stil die afgelope tyd. Mens sou dink dat jy in die wolke sou wees nadat jy en Lawrence .. jy weet."
Vandat Anton en Larisa uitgaan het die twee meisies bevriend geraak. Waar hulle voorheen net klasmaats was gesels hulle meer soos vriende.
Janice loop en kyk op die grond. Dit lyk of sy saggies begin huil het.
"Girl, wat gaan aan? Kom ons gaan praat."
"Nie nou nie. Ek wil my gesig gaan was voor die klok lui."


Hulle stap saam na die badkamer.
"As jy reg is kan jy maar met my praat."
Die klok lui en hulle stap klas toe.
Lawrence en Anton is ook net oppad klas toe en sien hulle aankom.
"Hier kom die mooiste girl suid van die ewenaar. Larisa is darem net te mooi vir woorde né die L"
"Gaan soontoe man. Sahara is die mooiste alkant van die ewenaar."
Lawrence besef nie dat hy hardgenoeg gepraat het sodat Janice hom kon hoor nie.
"Hallo julle" groet hy.
Janice stap verby hulle die klas binne sonder 'n woord. Sy kyk nie eers na hulle nie. 
Larisa wat agter haar loop beduie dat hulle moet stilbly.
Toe die klok vir pouse lui, neem Larisa Janice aan die hand en lei haar na 'n stil gedeelte van die skoolgrond.
"Kom girl, wat gaan aan? Ek het gedink jy is gelukkig noudat jy en Lawrence saam is. Ek het altyd geweet jy het gevoelens vir hom, selfs die tyd toe ek hom wou hê."
"Was dit dan so ooglopend? Ek het gedink niemand weet nie, veral omdat hy net oë gehad het vir Juffrou Muller. Eintlik nog steeds het."
"Wat bedoel jy met nog steeds het?"
"Net wat ek sê, hy is nog nie oor haar nie."
"En wat was dit dan die aand van die matriekdans? Hy is mos nie die soort wat meisies net gebruik nie; baie respekvol."
"Ek het ook so gedink. Dit was duidelik 'n verkeerde siening." Janice raak weer tranerig. "Hy het my so baie seergemaak en verneder."
"Wat het gebeur?"
"Hy het my Sahara genoem, en nie net een keer nie. Dit was net te veel toe hy dit in ons intiemste oomblik doen."
"Wow girl. Nou verstaan ek hoekom jy so lyk. Die gemors! Dit was baie gemeen."
"Ek dink nie dit was bedoeld nie, hy was onder die invloed van drank."
"Hoe verdedig jy nog die man?"
"Dit is nie wat ek doen nie. Ek dink die alkohol het hom net die waarheid laat besef. Miskien wou hy aanbeweeg maar sy hart wou nie."
"Laat ek liewer stilbly. Ek hoop julle het ten minste beskerming gebruik."
"Nee, ons het nie. Dit was nie beplan nie."
"Girl! Ek hoop van harte jy is nie swanger nie. Om 'n kind te hê van 'n man wat nie lief is vir jou nie is nie 'n goeie ding nie. Eintlik is dit nie goed om 'n kind op jou ouderdom te hê met studies wat voorlê nie. Ons bid maar dit is nie so nie."
Sahara lê maar laat want sy weet Jenny gaan nie vroeg op wees nie. Sy weet Sandra hou daarvan om 'n drankie of twee te neem, of sal ons sê 'n drankie of vyf en meermalle nader aan die vyf. Sy en Jenny was uit en haar antie is self nie skaam nie.


Sy neem haar skootrekenaar en lees deur haar gedig tot dusver. Dit handel oor onbeantwoorde liefde. Sy kan nie gepaste woorde vind om haar gedig mee af te sluit nie.


Teen tienuur staan sy op, gaan stort en trek aan. Met Jenny wat nog slaap gaan sy maar net brood met koue vleis op met koffie eet.
Sy sal dan later iets voorberei vir 'n vroeë aandete aangesien Jenny om 17:30 by die busstop moet wees. 


Sy lees haar e-posse. Meestal 'n klomp gemors. Dan sien sy een van 'n verspreidingsmaatskappy in die Kaap. Sy het daar aansoek gedoen vir 'n pos as persoonlike assistent. Die e-pos sê dat sy op 'n kortlys is. Hulle wil weet of sy nog belangstel omdat die aansoek maande gelede gedoen was. As haar antwoord positief is moet sy laat weet en dan kan sy reël vir 'n onderhoud nog dié week of sy kan reël vir 'n skype onderhoud.
Sy laat weet onmiddelik dat hulle met haar maar 'n skype onderhoud kan doen op 'n tyd wat geleë is vir hulle.
'n Uur later het sy 'n datum en tyd en ook dat die pos eers in Januarie beskikbaar is. Dit sal haar pas want dit gee haar tyd om 'n huurder te kry vir haar huis. 


"Ek moet hier wegkom. Hier is nie 'n toekoms vir my met Lawrence nie. Dit is duidelik dat hy aanbeweeg het met iemand sy ouderdom," dink sy.


Jenny het so 'n uur gelede eers opgestaan. Nadat sy gebad het het sy haar tasse gaan pak. Sy kom nou by die sitkamer ingedrentel en lyk duidelik siek.
"As Mammie nou hier was het sy antie behoorlik vasgevat. Lekker aand gehad?"
"Moenie my herinner nie. Daai dierbare suster van my sou nooit ophou neul het nie. Wees jy net bly jy het nie 'n suster nie. Of miskien het jy, mens weet mos nie.
Ek moet jou seker klaar vertel. Jou ma het besluit om eerlik met jou pa te wees en het hom alles vertel. Sy kon nooit geheime hou nie."
"Behalwe dat sy geheime van haar dogter kon hou," val Sahara haar in die rede.
"Sy wou jou sê maar jou pa het gevra dat sy jou nooit moet vertel nie. Jy laat my nou die storie vooruitloop.


Nadat sy hom vertel het, het hy gesê hy is klaar met haar. 'n Week later het hy gebel en gesê hy kan nie sonder haar nie. Hy het gevra of hulle so spoedig moontlik kan trou. Hy gaan die kind grootmaak as sy eie en niemand moes daarvan weet nie. Die kind sou grootgemaak word as sy eie.
Natuurlik het hy nie geweet ek weet daarvan nie. Maria het my laat sweer om nooit vir enigiemand te vertel nie, nie eers ons ouers nie.
Sy het die universiteit opgeskop en jou pa het uit Johannesburg gekom tot in Bloemfontein en hulle het in die hof getrou.
Daarvandaan het hulle Upington toe gekom om sy en ons ouers in te lig van die troue.
Almal was geskok want hulle sou eers die volgende jaar trou. Die ouers aan albei kante was erg omgekrap.
Hulle het net gesê hulle moes trou. Die ouers het maar net aanvaar dat sy swanger is van hom. Ons ma was natuurlik glad nie tevrede want sy het daardie visie gehad van albei haar dogters in wit trourokke en die onthaal.
Sy het vir maande lank haar ontevredenheid uitgespreek; totdat sy besef het haar eerste kleinkind is oppad en dat dit 'n meisiekind gaan wees.
Pappa was natuurlik meer teleurgesteld omdat sy, volgens hom, haar toekoms weggegooi het."
©Rooi Mier 13.07.2022

Vrydag 23 Desember 2022

#Stukkendeharte Hoofstuk 8 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 8 - Rooi Mier


Teen 04:00 die oggend is sy wakker. Sy het die gewoonte aangeleer om te bid as sy wakker word in die nag. Nadat sy klaar gebid het lê sy weer.
Nou lê en wonder sy weer wat haar Antie Jenny wil sê wat so belangrik is dat sy so ver kom ry het. Dit moet iets met haar ouers te doen het. Sy wonder juis al hoe meer wie haar biologiese pa is.
Dan gaan haar gedagtes weer na Lawrence toe. "Het ek gevoelens vir hom? Daar is definitief iets. Geen man het al ooit haar gedagtes so oorheers."
Sy raak weer aan die slaap.


'n Paar strate verder lê Janice ook wakker. Hoe kon sy haar so misgis. Sy het regtig gedink dat Lawrence iets vir haar voel maar duidelik nie. Hy het in sy dronkenskap haar 'n paar keer Sahara genoem. Nog het sy voortgegaan en haarself aan hom gegee. Dit was toe sy besef het sy maak die grootste fout van haar lewe. Hy het haar toe gedurende hul intiemste oomblikke Sahara genoem. Sy het met 'n skok besef dat hy nooit oor Sahara gaan kom nie.
"Ek is so bleddie lief vir die man." Sy begin saggies te huil. "My ma sê altyd dat jy eers verseker weet wanneer hy 'I do' gesê het. Dit is wanneer jy jouself eers aan 'n man moet oorgee."
Sy wil so graag haar ma in haar vertroue neem maar hoe? Hulle kon tot dusver alles met mekaar deel. Vandag moet sy weer in die teenwoordigheid van Lawrence spandeer. Sy hoop die skooldag gaan vinnig.
Die oggend 'n halfuur voor die skool begin sit Lawrence alreeds in die klas. Anton is nog nie daar nie. Hy het onthou dat hy Janice Sahara genoem het. Is dit hoekom sy so afsydig is? 
Sy vriende dink anders maar dit was sy eerste ondervinding. Dit was glad nie sleg nie maar hoekom het hy Janice Sahara genoem? Sal hy dan nooit oor haar kom nie.
Sy pa was reg. Onder die invloed van drank gebeur dinge wat liewer nie moes gebeur nie. Hy sien homself as iemand wat vrouens respekteer. Natuurlik kan hy nie die drank skuld gee vir wat gebeur het nie. Dit het wel dit makliker gemaak om daai lyn oor te steek.


Anton stap in. "As die L nou vroegoggend sooo diep dink?"
"Môre buddy. Mens groet eers."
"Goeie môre Meneer van Wyk. Hoe gaan dit? Man, ek hoop nie jy was onverskillig nou die aand nie. Ek hoop jy het beskerming gehad."
"Hoe weet jy?"
"L, het het per ongeluk op julle afgekom. Larisa en ek was oppad na ons vervoer toe."
Lawrence wou nog iets sê  toe Larisa instap. Sy gee hom 'n ondeunde knipoog. Janice stap binne. Larisa knik vir Lawrence en wys met haar kop in Janice se rigting.  
Lawrence raak skaam want hy weet Janice het gesien. Die klok red hom. Al die ander leerders kom die klas binne.


"Antie Jenny slaap laat vandag of is sy maar net besig om my te vermy? Ek wil nou weet wat aangaan."
Sahara gaan klop aan haar deur. "Antie, ek wil inkom."
"Kom maar binne. Dit is seker tyd. Goeie môre."
"Môre antie. Het u darem oraait geslaap?"
"Ja Sahara maar kom ons praat. Sit hier op die bed. Ek wil jou vertel wie jou pa is en waarom dit gebeur het."
"Jy weet ek en jou ma was dieselfde tyd op universiteit omdat sy eers twee jaar gaan werk het."
"Ons was een aand by 'n partytjie van een van die studente. Dit was 'n lekker partytjie en ons het ons geniet, selfs vir die eerste keer 'n drankie en toe drankies gedrink. Vyf jongmanne het uitgegaan om dagga te gaan rook. Die reuk het by die venster ingewaai. Hulle het luidrugtig geraak."
"Iemand het gesê nee man. Ek wil nie verder as boom gaan nie. 'n Ander stem het toe gesê, kom aan man. Moenie 'n sussie wees nie. Net die een keer."
"Ek kon nie verder hoor nie want iemand het die musiek harder gedraai."
"Hulle het een na die ander ingekom. Dit was duidelik dat hulle hoog was van een of ander dwelmmiddel. Ek het al mense gesien wat dagga gerook het. Hulle lag gewoonlik vir alles. Hierdie jongmanne was meestal aggressief."
"Die partjie het al luidrugtiger geraak en dit was ook duidelik dat die dwemgebruikers skoorsoekerig geword het. Hulle het sommer glase begin breek. Mense begin stamp en as iemand val of seerkry hardop  gelag. Dit was duidelik tyd vir ons om te gaan."
"Ek het begin soek na jou ma. Maria, waar is jy? Net toe ek haar sien bars daar 'n geveg los. Een van die ander jongmanne wat nie buite was nie het seker genoeg gehad. Hy slaan na 'n dwelmgebruiker en 'n ander probeer hom keer."
"Hy skree, Ek het nou genoeg gehad van die … , die vloekwoorde rol van sy lippe af."
"Meer mense begin vuisslaan en ek het toe by die deur uitgevlug saam met 'n paar ander meisies. Sommige meisies was ook redelik hoenderkop van die bier en wyn."
"Laat ek maar erken ek ook. Ek kon nie vir Maria kry nie. My benewelde brein het gesê ek moet by my kamer uitkom om te gaan slaap."
"Die volgende dag het ek nie jou ma gesien nie. Ek het die oggend klasse gehad en sy die oggend en middag. Ons was nie een keer saam nie."
"Die middag het ek gaan slaap want my kop was seer."
"Dit was eers die volgende dag dat ek haar gesien het. Sy was stil en het nie veel gepraat nie. Op my vraag het sy net geantwoord dat sy die aand geniet het; maar dit het nie so gelyk nie. Ek het gedink dit was maar oor die drinkery. Dit het my self verbaas om haar daai aand met 'n glas wyn of twee te sien; definitief buite haar karakter."
"Ek moet nou eers badkamer toe meisiekind, maak jy solank vir ons koffie."
"Dis reg so antie." 
Sahara staan lui weg op van waar sy op Jenny se bed gesit het en stap kombuis toe. 
Haar ma het haar nooit vertel dat sy ooit al alkohol gebruik het nie. 
Sy het altyd net gesê, "My kind belowe my jy sal nooit alkohol gebruik nie. Dit verwoes net mens se lewe."
Dan het sy net altyd gesê, "Ja Mammie. Wat sal ek nou wil drink. Lyk my Mammie het al 'n dop gesteek."
Haar ma het dan net gesê, "Bly jy net weg."


Skielik onthou sy dat sy nog 'n afspraak by die bank het. Sy wil van haar geld gaan vasbelê. 
Sy skree badkamer se kant toe, "Antie, ek gaan sommer ontbyt maak. Ek het later 'n afspraak by die bank."
Na haar afspraak het sy skielik die begeerte om net verby die skool te ry. Sy kyk op haar horlosie. Dit gaan nou tweede pouse wees. Sy gaan stop buite regoor die rugbyveld waar sy al gesien het Lawrence en Anton gewoonlik sit. Sy hoor die sirene wat die pouse aankondig. Drie minute later sien sy die twee asook Larisa na hul gewone sitplek aangestap kom.
Dit lyk of Lawrence maar stil is. Anton en Larisa is duidelik meer in gesprek. Hy is maar net daar. Skielik verlang sy om net weer daai "Goeie môre Juffrou Van Wyk, agga, Muller te hoor."
Sy glimlag onwillekeurig. "Ek is verlief op die jongman. Sal ek ooit 'n kans het met hom? Alhoewel hy altyd grap oor ons sal hy ooit 'n ouer vrou wil hê? Dan bots hul geloof ook nog. Om 'n atiës te wees is ook 'n geloof; jy glo dat jy nie in 'n god glo nie."
Sy hoor haar pa, "My kind, jy moet eendag vir jou 'n man vat wat dieselfde geloof as jy het. Vergeet daarvan dat dit oraait gaan wees."
Dit is seker haar grootste struikelblok. Sy glo dieselfde as haar pa.


Tweede pouse is gewoonlik net vyftien minute. Die drie is alreeds oppad klas toe toe die sirene lui.
©Rooi Mier 13.07.2022

#Stukkendeharte Hoofstuk 7 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 7 - Rooi Mier


Die volgende oggend raak sy laat wakker. Teen 10:00 eet sy ontbyt. "Ja, sy moet bid vir 'n wonderwerk. Lawrence moet op een of ander manier die Here vind."
Sy het net klaar geëet toe daar 'n klop aan die voordeur is. Dit is haar tannie Jenny met tasse en al. 
"En nou antie? Ek het nie geweet jy is oppad nie."
Die taxi het haar afgelaai. "Goeie môre Sahara. Mens groet eers."
Jenny dra een tas in en beduie met haar kop na die ander een. "Ons praat later. Ek is moeg en honger."
"Antie kan solank gaan stort terwyl ek iets vir ete voorberei."
Jenny eet in stilte terwyl Sahara haar dophou. Dit is duidelik dat haar tannie gespanne is. Nadat sy klaar geëet het noem sy dat sy 'n rukkie wil slaap. 
By die skool is die meeste van die matriekulante duidelik nie hulself nie. Lawrence is vir die eerste keer in sy lewe babalaas. Na die tweede bier sweer hy hy was al dronk. Hy het nog nooit aan enige alkohol geraak nie.
Sy pa het gal afgegaan toe hy teen 03:00 die oggend tuis kom. "Onverantwoordelik" is die een woord tussen al die ander geuiter het wat in sy kop vassteek. Sy pa dring daarop aan dat hy Janice se ouers om verskoning moet gaan vra omdat hy hul dogter eers daai tyd gaan aflaai het en nogals onder die invloed van drank. 
Hy kyk in die rigting van Janice. Sy lyk self ook nie te goed nie. Dit lyk of sy gehuil het. Sy was badkamer toe vroeër. Die matriekonderwysers is almal na die personeelkamer ontbied. 
Lawrence stap na Janice toe. "Het jou ouers met jou geraas?"
Janice draai net weg van hom af en hy gaan maar sit. 


Die onderwyser kom die klas binne.
"Ons het besluit om julle eerder huistoe te stuur. Die matriekafskeid moes liewer op 'n Vrydagaand gewees het. Julle mag maar gaan." 
Gewoonlik sou almal by die deur uitgevlieg het maar dit lyk of die meeste leerders maar traag is. Van hulle wat gewoonlik met vervoer ry sal nou moet stap of wag totdat hulle opgelaai kan word. Lawrence stap gewoonlik behalwe as sy pa tuis is, maar hy het gaan werk. 
Daardie middag laat toe sy pa tuiskom het hy duidelik nog nie afgekoel nie. 
Hy het wel 'n bos rooi rose in sy hand en 'n toegedraaide geskenk. Sy gesig het 'n meer vriendelike, liefdevolle uitdrukking toe hy na Iris stap. 
"Jy het gedink ek het vergeet nê. Dankie vir jou liefde en omgee my sweetness. Ek is baie lief vir jou. Geluk met ons huweliksherdenking."
"Baie dankie bokka. Geluk vir jou ook. Ek is net so lief vir jou. Ek het iets spesiaals voorberei vir jou. Ons gaan dit in die kamer geniet later." Sy knipoog vir Bennie.
Lawrence voel ongemaklik omdat sy ouers so openlik oor hulle liefde is.
Bennie glimlag, "Jy bly ook maar so stuitig nê. Dit sal  net bietjie moet wag."


"Klim in die kar Lawrence." Hy stemtoon het verander en is nou baie kortaf. 
Lawrence sien aan sy gesig dat hy beter nie vrae moet vra nie. 
"Iris, ek gaan gou die klong na die Louws toe neem om verskoning te vra." Hy stap kar toe met Lawrence kort op sy hakke. Dit is eers doodstil in die motor.  Toe trek sy pa skielik af en vertel hom weereens hoe onverantwoordelik hy was en hoe teleurgesteld sy pa is.
"My kind, ek was ook een dag so onverantwoordelik en dit het nie goeie gevolge gehad nie." Sy stem is nou sagter maar hy vertel nie wat gebeur het nie.
"Jy moet maar alles verdra wat na jou kant toe kom en nie Meneer of Mevrou Louw in die rede val nie."


In die Louws se woning is Janice net in die kamer. Haar oë is rooi gehuil. 
Daar is 'n klop aan die deur. Sy hoor haar pa oopmaak en sê, "Goeie dag. Ek neem aan dit is Mnr van Wyk?"
"En u is Meneer Louw? Goeie naand."
"Goeie naand Meneer Louw." Dit is definitief Lawrence se stem.
"Kom binne. Dit is my vrou, Angela."
"Aangenaam Mevrou."
"Sit daar op die banke. Gaan julle iets drink?" 
"Net water mevrou."
"Ek sal niks neem nie mevrou, " antwoord Lawrence saggies met 'n droë keel.
Nadat Angela die water gebring het en langs haar man gaan sit het, sê Bennie, "Lawrence het iets om te sê."
"Me, me, meneer ê en mevrou. Ek wi wil net jammer sê."
"Moenie nou hakkel nie kind. Praat!" Bennie is ongeduldig met sy seun.
Lawrence skraap moed bymekaar. Hy praat vinnig. " Ek wil net om verskoning vra dat ek Janice so laat huistoe gebring het. Ek is regtig jammer." 
"Nie laat nie, vroeg vanoggend." Angela kyk hom direk in die oë.
"Julle het gedrink ook. Moenie antwoord nie want ek vra nie.
Ek is so teleurgesteld in julle albei. Mens weet nie wat kon alles gebeur het onder die invloed van drank nie.
Ek het al so baie stories gehoor van dronk matriekulante." Derek se stem klink kalm.
"Ek is ook regtig jammer Meneer Louw. Ek is nog steeds kwaad vir hom."
"Hy was nie alleen in die ding nie. Die vroue van vandag het hul eie stem en eie wil. Janice moenie dink ek is klaar met haar nie. Maar kom ons staan nie stil by dié punt nie. Ek is net dankbaar dat hulle veilig tuis gekom het."
"Baie dankie Meneer Louw. Ons praat weer. Ek het net by die huis gekom en toe hierheen." Bennie staan op.
Almal staan op. "Ek stap saam tot by u motor," sê Derek.
" Totsiens mevrou," groet Bennie en Lawrence tegelykertyd.


Jenny het tot laat geslaap. Met aandete is sy duidelik nog gespanne. "Ek het gekom omdat ek iets belangriks op die hart het, maar ek is nog nie gereed nie. Ons praat môre."
Daardie aand in haar bed wonder Sahara wat haar tannie al die pad uit Bloemfontein sal laat kom het. Hoekom nie net bel nie? Dit moet belangrik wees, baie belangrik. Sy slaap onrustig. Lawrence is weereens in haar drome.
©Rooi Mier 13.07.2022

#Stukkendeharte Hoofstuk 6 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 6 - Rooi Mier


Lawrence het sy pa se motor geleen en is oppad na Janice toe. Hy ry Koper Straat af verby die straat waar Sahara in woon. Hy begin twyfel of dit die regte ding is om Janice te vra. Moet hy nie maar alleen matriekafskeid toe gaan nie? Hy hou egter aan ry en draai links in Beryl Straat waar Janice woon.
By sy bestemming klop hy aan die deur. 'n Groot man maak die deur oop met 'n "Ja?". 
"Goeie naand Meneer, bly Janice hier?"
"Sy doen. Wie sê ek is dit?"
"Ek is haar klasmaat, Lawrence van Wyk. Sy weet nie ek kom nie."
Die man steek sy hand uit om te groet terwyl hy Lawrence op en af bekyk. Sy oë bly langer staan op die blomme en sjokolade. "Ek is Meneer Derek Louw. Kom binne. Dit is my vrou Angela." 
Die vrou is klein en skraal in vergelyking met hom. Sy staan op uit die bank en stap in Lawrence se rigting. "Ek het nie geweet my kind het so 'n aantreklike boyfriend nie." Sy glimlag ondeund.
Lawrence se gesig raak warm, "Nee mevrou ons .."
"Toe maar jongman. Ek grap maar."
"Janice! Hier is iemand vir jou!" Die man se stem kan jou bangmaak.
" Wie is dit? Ek kom daddy!"
"Lawrence?" Sy klink opreg verbaas. "Wat maak jy hier?"
Sy het 'n sweetpak aan en sy lyk glad nie onaardig nie dink Lawrence. 
"Die blomme is vir u Mevrou." Hy gee die blomme vir Janice se ma.
"Is daar fout? Lyk vir my na sag maak. Janice? Is daar iets wat ons moet weet?"
"Nee mevrou. Ek wil vir Janice iets vra." Lawrence se warm gesig is nog warmer.
Mens kan die verligting op albei die ouers se gesigte sien. 
"Nou dan sê ek dankie. Jy is 'n sjarmante jongman. Kom ons los hulle alleen my man. Help my gou in die kombuis."
Meneer Louw lyk onwillig maar hy volg sy vrou.
Lawrence gee die sjokolade vir Janice. Sy wys hy moet sit.
"En nou L? Ek het nie eers geweet jy weet waar ek woon nie. Anton het jou natuurlik my adres gegee."
"Ja hy het." Lawrence begin praat oor die dag.
"Los daai L. Waarvoor is jy hier?"
"Janice, het jy al iemand om jou matriekdans toe te vergesel?"
"Nee." Sy probeer haar opgewondenheid wegsteek.
"Wil jy nie saam met my …"
"gaan nie. Ja Lawrence." Sy kon nie meer voorgee nie; sy voltooi sy vraag en antwoord sommer ook.
"Mammie!"
Mevrou Louw kom vinnig binne. "Wat is dit nou my kind? Wat het gebeur."
"Ek gaan saam met hom matriekafskeid toe."
"Regtig? Jy gaan dan nie."
"Nou gaan ek Mammie."
"Dan moet ons begin beplan. Lawrence bel jou ouers. Jy gaan hier eet." Mevrou Louw vra nie, sy sê.
Hy is eers so 20:15 oppad huistoe. By Lood straat draai hy in en ry tot regoor Sahara se woning. Hy sit 'n rukkie en kyk na die huis en besef toe dat die inwoners van die straat dit verdag mag vind. As hy maar net vir Sahara nog een keer kon sien.
Terwyl hy wegry kan hy nie help om aan Janice te dink nie. Sy is mooi. Hoekom sien hy dit nou eers? Daardie aand is sy gedagtes in 'n warboel. Dan is dit Sahara; dan is dit Janice. Hoe kan hy aan Janice dink as sy hart by Sahara is? Hy weet hy is lief vir Sahara. So Janice is seker net 'n fisieke aantrekking. Sy is pragtig.
Sy ma sou gesê het mans se gedagtes word deur hul hormone gedryf.


Hy spandeer meer tyd met Janice die volgende paar weke.
Die aand van die matriekafskeid breek aan. Janice lyk asemrowend. Lawrence voel 'n tinteling deur sy liggaam toe hy aan haar arm vat om haar die saal in te lei.


Sahara sit in haar motor en kyk na Lawrence. Hy is sooo aantreklik. Dit is dalk haar laaste keer dat sy hom sien. Alhoewel sy nie die huis gaan verkoop nie gaan sy weer Kaap toe binnekort. Sy moet iets met haar lewe doen.
Vanaand gaan sy stadigaan begin pak. By die huis gekom sien sy weer vir Lawrence vanaf die voertuig stap met Janice aan sy arm. Is dit jaloesie wat sy voel?
Hy is nog nie volwasse genoeg vir haar nie. Dan is daar nog die feit dat hy 'n ateïs is. Sy glo onwrikbaar in God. Dit sal nie werk nie. Haar gedagtes is nogtans by hom selfs nadat sy gebid en gaan slaap het.
©Rooi Mier 13.07.2022

Maandag 19 Desember 2022

#Stukkendeharte Hoofstuk 5 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 5 - Rooi Mier

Maandagmiddag stap Lawrence en Anton by die skoolhek uit. 

"Juffrou Muller het mos 'n soortgelyke motor in dieselfde ligblou gehad L." Hy wys na 'n motor wat 'n entjie op in die pad staan. Hulle nader die voertuig van agter af.

Sahara sien hulle aankom in haar truspieël en besluit om te ry. "Wat het ek nou eintlik hier kom soek?" Sy weet haar eerste gedagte Saterdagoggend was Lawrence. So was hy die hele naweek in haar gedagtes.

"Dit kan tog nie wees nie, nie 'n kind nie. Is dit oor die aandag wat hy haar gegee het?"

Sahara het heelwat aandag gekry van mans, oud en jonk. Sy was 'n pragtige vrou maar het hulle altyd ignoreer. Nou het sy vir langer as 'n uur in haar kar gesit net om hom te sien. Daar is 'n vreemde aantrekkinskrag aan hom.

Sy ry huis toe.

Lawrence het klaar middagete gehad en sit en staar na sy Wiskundeboek. Hy was nie van plan om Wiskunde te doen nie maar tog het hy die boek uitgehaal. Hy sien vir Sahara voor die swartbord staan. Sy verduidelik 'n Algebra som.

Sy pa is met verlof vir 'n week. Hy sê hy wil net rus. Hy kom ingestap met kort broek, t-hemp en sandale aan. 

"Ek sien jy staar net na jou boeke. Wat gaan aan?"

"Niks nie pa."

"Aangesien dit niks is; ek wou jou nog altyd vra wat van daai Juffrou geword het wat die dag so ongeduldig was by die skool se hek. Daar was iets vreemds in jou stem toe ek jou uitgevra het oor haar."

"Wat bedoel pa?"

"Ek wil weet of jy verlief is."

Iris, Lawrence se ma stap die vertrek binne. "Is my Lawrence verlief? Wie is sy. Kan sy darem 'n koppie koffie maak en 'n eier kook?"

"Ai my vrou. Los die klong af."

Die ouers stap albei uit.

"Ek sal moet aanbeweeg. Anton het juis voorgestel dat ek Janice vra om my na die matriekafskeid te vergesel. Ek sal haar môreaand gaan vra."

Sahara kom net nie aan die gang met haar planne nie. Sy sou 'n week bly maar dit raak twee, later 'n maand. Sy het haar amper in Lawrence vasgeloop in die nuwe winkelsentrum maar hom eerste gesien en vinnig by 'n winkel ingeglip. Hy het haar nie gesien nie en verby gestap. 

Gister het sy op haar ma se dagboek afgekom. Sy het besluit om dit te lees. Miskien is daar 'n antwoord op haar vraag oor wie haar biologiese pa is en hoekom haar ma gedoen het wat sy gedoen het. Noudat sy weer bid voel sy beter maar kan nog nie kerk toe gaan nie.

Daardie aand gaan lê sy met die dagboek. Sy besef onmiddelik dat sy niks gaan vind nie want die dagboek begin 12 jaar gelede. Sahara besluit om tog te kyk of haar ma nie net dalk iets laat glip het oor haar verlede nie. 

Onderaan op die vyfde bladsy staan die woorde "eerste weggesluit." Die dagboek praat meestal van haar en haar pa. Sy voel ongemaklik omdat sy voel dat sy haar ma se privaatheid skend. Net die wete dat sy dood is laat haar verder soek.

Sy kry niks verder behalwe oor dinge wat sy reeds weet nie. Die volgende dag besluit sy om die goed in die motorhuis uit te sorteer. In die hoek staan 'n ou trommel wat toegesluit is. Dit is haar ma se ou resepteboeke. Sy was baie heilig daaroor niemand mag daarin gekrap het nie.

Skielik tref dit Sahara. "Eerste weggesluit"  beteken dalk iets belangriks is weggesluit. Waar anders as in dié trommel. Sy was altyd verbaas oor haar ma se heftige reaksie as iemand wou weet wat daarin toegesluit was. Alhoewel sy altyd nuuskierig was oor dié kookboeke en breipatrone wat daarin was het sy nooit die trommel oopgesluit nie alhoewel sy geweet het waar die sleutel is.

Sy gaan kry dit in haar ma se kamer. Sluit die trommel oop. Daar is inderwaarheid resepteboeke in, boeke oor blomme en breipatrone. Sy begin die boeke uit te pak; soort by soort. Dan is daar een waarop geskryf staan Maria.

Sy maak dit oop en sien dat dit 'n dagboek is. Dit begin so 'n jaar voor haar geboorte. Sy merk dat die datums ingeskryf is en daar soms weke verloop het sonder enige inskrywings.

Sahara besluit om alles eers net so te los, neem die dagboek en gaan sit en deursoek dit in die sitkamer. Dit kom soms voor of daar bladsye uitgeskeur is. Sy voel opgewonde maar tog ook bang. Wat gaan sy vind?

Nogtans besluit sy om dit eers weg te sit toe sy nie onmiddelik iets vind nie. 

Die dagboek sou vir nog 'n paar dae daar lê sonder dat sy dit oopmaak.

Lawrence gaan die volgende dag na skool winkel toe. Hy koop sjokolade en blomme. Tuis vra sy ma wat gaan aan.

"Mammie ek gaan vir Janice vra om .."

"Om jou meisie te wees" val sy hom in die rede.

"Nee Mammie." 

"Die vrou is altyd so haastig," dink hy. 

"Sy moet my matriekafskeid toe vergesel."

"Ooo", sê sy.

Skielik skree sy, "Matriekafskeid! Hoekom sê jy nou eers? Wanneer?"

"Volgende maand."

"Volgende maand? Jy sal laat ek 'n oorval kry. My seun moet 'n behoorlike afskeid hê en jy bly stil? Net vanaand gaan ons begin beplan. Wat gaan jy aantrek? En die kar? Watter kleur gaan die meisie se rok wees?"

"Stadig Mammie, jy moet kalm wees. Ek is nie iemand vir groot gedoentes nie."

"Ek is jou ma. My seun sal nie soos 'n vaaljapie lyk nie. Hy gaan kwaai uitsteek."

Lawrence lag, "Waar leer Mammie daai. Nogals kwaai uitsteek."

"My kind, jou ma is nie vaak nie. Ek hoor mos hoe julle jongspan praat."

Lawrence lag. "As Bennie nou hoor hoe sy Iris praat is jy 'n geskeide vrou en ek gaan by hom bly. Jy is net te vinnig en te besig in ander mense se sake."

"Jy raak te groot vir jou skoene. Moenie dat daai bietjie haartjies daar onder jou opmaak nie."

"Mammie nee man. Jy maak my skaam."

"Op 'n ernstige noot; hoe gaan dit met jou skoolwerk. Is jy gereed vir die komende eksamen?"

"Ons moet die Here dank dat Hy jou gedra het tot hier."

"Mammie weet mos ek glo nie daaraan nie."

"So jy was ook eers 'n bobbejaan toe word jy 'n mens. My kind, ek bid dat jou oë eendag gaan oopgaan. God het Homself aan my openbaar toe ons in daai groot ongeluk was. Jy was basies dood maar Hy het jou teruggegee aan my nog voordat die nooddienste daar was. Daar was geen hartklop en asemhaling nie totdat ek jou opgetel en na God toe opgelig en Hom gesmeek het vir 'n wonderwerk. So jy is my eie wonderwerk van God af."

"Mammie!"

Iris vryf oor sy kop en stap weg.

"Vanaand gaan ek ongesond eet." Sahara bestel 'n pizza. Sy gaan stort solank want dit neem omtrent 'n halfuur voor die pizza afgelewer sal word. Nadat sy haar slaappak aangetrek het gaan haal sy 'n 5ooml bottel Coke uit die yskas. Die pizza word afgelewer. Sy plaas dit op die koffietafel by die Coke. Toe gaan kry sy 'n kombers en haar ma se dagboek. Hopelik vind sy vanaand iets.

Sy laat waai twee snye pepperoni pizza en 'n halwe glas Coke. Nou is sy gereed vir die soek. 

Dit vat ook nie lank nie of sy sien 'n inskrywing. "Lionel het my vanaand gevra om met hom te trou. Ek is so opgewonde maar tog ook bang. Sê nou hy vind uit? Ons het selfs 'n datum vir die troue. Dit is 26 April 1981.

"Maar dit is mos nie die datum waarop hulle getrou het nie. Hulle het  2 Julie 1980 getrou." 

Sy het voorheen uitgewerk dat haar ma omtrent drie maande swanger was toe hulle getrou het. Sy was 22 Desember 1980 gebore. Die inskrywing wat sy nou lees is gedateer 15 Mei 1980. 

"Miskien het hulle uitgevind sy is swanger en besluit om vroeër te trou." 

Haar selfoon lui. Dit is antie Jenny wat wil weet hoe dit gaan. Sy weet sommer dit gaan 'n lang gesprek wees. Terwyl sy praat gaan sit sy die res van die pizza en die Coke in die yskas. 'n Halfuur later sê antie Jenny eers totsiens. 

Nou is sy nie meer lus vir daai dagboek nie. Dit pla haar egter nog dat haar ma geskryf het, "Sê nou hy vind uit." Daar is dus nog die moontlikheid dat Lionel nie haar biologiese pa was nie maar dan het dit voor die huwelik gebeur. Haar ma was dus nie ontrou in haar huwelik nie.

Skielik tref dit haar, "As my pa nie regtig my pa was nie, wie was dit dan? Hoe lyk hy? Waar is hy? Lewe hy? Weet hy ooit van my?"

©Rooi Mier 13.07.2022

#Stukkendeharte Hoofstuk 4 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 4 - Rooi Mier

Die skoolvakansie is verby. Al die grade is terug by die skool. Lawrence gaan net skool toe en terug. Hy glimlag nooit meer nie. Anton probeer af en toe maar kan nie tot hom deurdring nie. 

"Anton, wat gaan aan met jou vriend? Hyt baie verander die laaste paar weke. Is dit omdat Juf Muller weg is?" Janice knik in Lawrence se rigting. "Kyk hoe sit hy daar. Dit lyk vir my na opregte liefde. Onbeantwoorde liefde."

Anton glimlag, "Wat weet jy tog van liefde af?" Terwyl hy dit sê is sy oë vasgenael op Larisa. "Die lewe is snaaks", dink hy hardop.

"Meer as wat jy dink, meer as wat jy dink", fluister Janice. "Ek wonder of hy my nou sal raaksien noudat Juf Muller weg is." Sy loer net vinnig is Lawrence se rigting.

Mnr Figland kom die klaskamer binne net toe die klok lui vir pouse. "Jammer julle. Dit het langer geneem as wat ek verwag het. Sien julle mos weer die tweede laaste periode." 

Die leerders verlaat die klaskamer met hul sakke. Na pouse gaan hulle na die Afrikaanse klaskamer toe.

Anton en Lawrence sit nie by hul gewone plek teen die heining nie. Lawrence staan in die snoepie lyn terwyl Anton op 'n bank daar naby sit. Janice kom sit by hom. 

"Anton, jy is eintlik die verkeerde persoon om mee te praat maar ek voel nog steeds meer gemaklik om met jou te praat. Dink jy dit is lelik van my om bly te wees dat Juf Muller weg is?"

"Janice wat gaan aan. Jy is mos nie daaí tipe nie. Sahara het mos niks aan jou gedoen nie." Hy kyk na haar en merk dan op dat sy na Lawrence kyk.

Dit is die kyk wat mens gee as jy iemand bewonder.

"Janice, jy is tog nie, óóóf is jy? Ja jy is. Hoekom het jy niks gesê nie."

"Wat bedoel jy?"

"Ek kan mos sien jy is verlief op Lawrence. Jy het dan nog nooit 'n aanduiding gegee nie."

Janice staan vinnig op. "Nie 'n woord verder nie en jy vertel hom nie." Sy stap weg.

Sahara stap stadig rond tussen die winkels by die Waterfront. Sy is netjies en konserwatief aangetrek want sy was weg na 'n onderhoud toe. Net daar besluit sy om maar weer te kyk vir 'n onderwyspos. 

Haar gedagtes dwaal terug na Carlton - Van Heerden toe in Upington. Sy was gelukkig by daai skool voordat haar lewe omver gegooi is.

Sy voel so eensaam hier in die Kaap. Hier is familie maar hulle weet nie dat sy hier is nie en sy wil dit so hou. Net gister het sy besluit dat haar lewe nie gaan stilstaan omdat haar ouers, of so het sy gedink, oneerlik met haar was nie. 

Die naweek gaan sy Upington toe sodat sy die huis beskikbaar kan maak vir 'n huurkontrak, haar ma se voertuig te verkoop en die meubels te verkoop, stoor of weggee. Haar ma het 'n baie duur smaak in meubels gehad. Miskien moet sy dit net verkoop en die geld aan die weeshuis skenk.

Om die een of ander rede dink sy van gister af baie aan Lawrence, haar gewese graad 12 leerder. Dit het begin gebeur net nadat sy besluit het haar lewe kan nie vir ewig stil staan nie. Sy het op 'n manier tog die aandag geniet. Sy glimlag, "Mev van Wyk nogals. Ek wonder wat doen hy nou; nee hulle. Sahara jy het hom 'n kind genoem, dink tog net helder." Tog is daar 'n afwagtende opgewondenheid in haar. 

Dit is Vrydagaand. Sahara trek by die oprit in. Dit voel vreemd om hier te wees na 'n paar maande. Sy klim uit en die nuustak is alreeds daar met die sleutel.

"Goeie naand my kind. Jy lyk goed. Kom ek maak vir ons koffie dan vertel jy my alles. Gaan jy bly? Hoe is die Kaap? Waar .."

"Stadig antie, ek sal u môre vertel. Ek was so pas vir amper 12 ure agter die stuurwiel. Nou wil ek net stort en slaap."

"Net een koppie koffie."

"Asseblief antie. Ek is regtig moeg. Sien antie môre."

Sahara maak die motorhuis oop met afstandbeheer in trek die kar in.

"Ongeskikte , ongemanierde, ondankbare kind." Sandra stap om na haar huis toe.

"Goeie nag vir antie ook en baie dankie."

Sy stap die huis binne. Sandra het die deur oopgesluit. Dit is duidelik dat daar vandag skoongemaak was. "Sy is tog 'n dierbare mens, net bemoeisiek."

Terwyl Sahara stort begin die herinneringe terugkom. Al die vreugde wat sy as kind ervaar het, die hartseer van die sterfte van die man wat sy as haar pa beskou het. Dit was 'n lelikke ongeluk. Kop-aan-kop botsing met 'n trok.

Sy onthou hoe sy en haar ma mekaar ondersteun het. Hoe die lag teruggekom het. Dan die skielike sterfte van haar ma. Volgens die outopsieverslag was dit maagkanker. Haar ma moes dit weggesteek het want die pyn moes soms ondraaglik gewees het.

Sahara het op 'n jong ouderdom besluit om die Here aan te neem. Hoekom het Hy toelaat dat haar ma sterf? Vandat haar ma begrawe was, was sy nog nie weer in die kerk nie. 

Daar kom skielik 'n bitterheid in haar op. Sy onthou skielik die middag toe sy gehoor het dat haar pa nie haar biologiese pa was nie. "Hoe kon haar ma dit aan haar pa doen? Wie is die man wat haar verwek het?" 

Sy kan nog nie glo dat haar ma so vals en ontrou kon wees nie. Nie haar moeder Maria nie.

Nadat sy haar slaapklere aangetrek het raak die stilte in die huis oorweldigend. Sy begin skielik te huil. Eers was dit net trane maar later is dit rou snikke. Toe sy later bedaar begin sy spontaan haar hart voor die Here uitstort. Sy het laas die oggend voor haar ma afgesterf het gebid.

Sy gaan klim onder die komberse in en raak omtrent onmiddelik aan die slaap.

©Rooi Mier 13.07.2022

Hoofstuk 1

Hoofstuk 2

Hoofstuk 3

Onder die Brug 1


#Stukkendeharte S1 Hoofstuk 3 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S1 Hoofstuk 3 - Rooi Mier

Sahara is nie haarself die volgende dag by die skool nie. Sy klink onsamehangend en onvoorbereid. As iemand 'n vraag wil vra sê sy net, "Nie nou nie." Sy het haar eie klas, 12A vir Wiskunde die laaste periode. 

Hulle het haar nog nooit so gesien nie.

Lawrence is bekommerd en probeer om haar met sy Mev van Wyk grappie op te beur.

"Moenie familiër raak nie kind. Bepaal jou by jou ouderdom. Ek speel nie met kinders nie," snou sy hom toe. 

Daar heers 'n doodse stilte. Sy het nog nooit so opgetree nie. Lawrence voel of hy in die aarde kan wegsak. Anton kyk na hom met 'n vraagteken op sy gesig.

Anton voel by moet ten minste sy vriend verdedig, "Juffrou is maar net vier of vyf jaar ouer as hy."

"Wil my dit verder vat in die hoof se kantoor of gaan my jou mond hou."

Toe die klok lui gryp Sahara net haar sak en storm uit.

Gewoonlik is omtrent almal teen die tyd by die deur uit, maar vandag bly almal verstom sit. Dan begin dit skielik te gons want hulle ken nie hul geliefde juffrou so nie. Vir so 'n jong onderwyseres het hulle hope respek vir haar.

Anton stap na Lawrence toe, vat aan sy skouer en fluister, "Het jy haar vertel?"

"Nee!" 

Dit is 'n baie kortaf antwoord. Lawrence gryp sy sak en stap vinnig uit.

Gewoonlik moet die onderwysers nog 'n tydjie aanbly voor hulle huistoe gaan. Sahara is egter ìn haar motor oppad uit. Sy blaas ongeduldig vir 'n ouer wat 'n leerder sommer in die hek oplaai. 

Lawrence stap verby. Gewoonlik stap hy saam met Anton maar sy pa kom hom vandag optel. Hy moet 'n nuwe skootrekenaar kry. Hulle gaan sommer direk hiervandaan winkel toe.

"Middag oom Bennie", groet Anton in die verby gaan.

" Middag Anton." Bennie van Wyk skakel die motor aan en sê, "Middag seun. Wie is daai ongeskikte onderwyseres?"

"Middag pa. Sy is nie 'n ongeskikte onderwyseres nie. Dit is my Wiskunde onderwyseres." 

Lawrence klink driftig. Sy pa kyk hom aan. Iets is fout met my kind. Hy bly egter stil. "Ek sal maar later vra" dink hy.

Hy skakel die lugversorging aan want dit is nogal warm. Upinton is mos meestal baie warm. In Schroeder Straat parkeer hy en hulle stap verder op soek na 'n eetplek voor hulle verder gaan.

Tuis stap Sahara reguit na haar kamer. Jenny wil nog vra of sy iets wil hê maar sy maak haar kamerdeur toe. Sy kom nie weer uit nie.

Die volgende paar weke gaan dit nie beter  by die skool nie. Dit is amper Junie vakansie maar die matrikulante gaan nie met vakansie nie so hulle maak nie planne nie. Winterskool wag vir hulle. Hulle gee ook nie juis om nie want dit is hul laaste paar maande met die meeste van hul vriende. Na dit gaan hulle verskillende rigtings in. Die oorgrote meerderheid sal seker in Kaapstad of Johannesburg opeindig, hetsy vir studies of werk. Kimberley en  Bloemfontein is ook genoemde bestemmings met 'n Gqeberha hier en 'n Durban daar.

Twee weke voor die skole sluit vir Junie vakansie tref 'n slag hulle. Sahara het bedank. Die dag as die skole sluit is dit haar laaste dag. Die leerders is geskok. Dit is skielik. Sy is op haar jong ouderdom 'n baie goeie onderwyseres en die beste Wiskunde onderwyser op die skool.

Lawrence en Anton sit by die omheining en bespreek dit. 

"Wat nou L. Gaan jy haar vertel voor sy weggaan?"

"Ek kan nie Buds. Vandat haar ma afgesterf het, het sy baie verander. Ek sal haar maar gaan opsoek by haar huis."

"Oeeeeh, ek weet nie so mooi nie L"

"Ek moet net Anton. Sy is my toekoms." 

Die vakansie breek aan. Die matrikulante is die enigste leerders wat klasse bywoon. Dit is gewoonlik so van 09:00 tot 11:00. 

Lawrence besluit die tweede Maandag van die vakansie dat hy nie langer gaan uitstel nie. Hy gaan na klas by haar 'n draai gaan maak. "Hoe gaan sy weet hoe hy voel as hy haar nie gaan vertel nie?"

Hy weet min of meer waar en besluit om nie vir Anton te sê nie. Na klas glip hy vinnig weg toe Anton eers by die kleedkamer ingaan.

In Bellvue vra hy bietjie rond. Hy kry die huis en stap by die hek in. 

"Wat soek jy?" Sandra vra oor die heining. 

" Woon Juffrou Muller hier mevrou?"

"Ek is en was nog nooit 'n mevrou nie. Hoekom vra jy?"

Lawrence dink, "Dit is 'n bemoeisieke antie die."

Hardop sê hy, " Ek het 'n boodskap vir haar van die skool af." 

"Sy is in die Kaap. Seker haar pa gaan soek. Gee maar die boodskap vir my. Ek sal sorg dat sy dit kry."

"Ek kan nie mevrou, jammer mejuffrou. Dit is privaat. Weet u wanneer sy gaan terugkom?"

"Miskien oor 'n maand, miskien nooit. Sy gaan die huis verkoop. Gee maar die boodskap."

"Nee mejuffrou." Lawrence stap vinnig hek toe. Hier moet hy wegkom.

"Onbeskofte kind!", kastig nie vir sy ore bedoel nie maar Sandra praat hard genoeg vir hom om te hoor.

Sahara staan en uitkyk oor die see uit die woonstel wat sy huur in Seepunt.

"Hoe kon my ouers so 'n groot geheim van my weggehou het?"

Die trane vloei opnuut teen haar wange af.

"Ek is gebreek. Stukkend." 

Sy is onversorgd. Sy gee nie om nie. Haar hare is geborsel maar net vinnig. Dit was ook maar net omdat sy melk moes gaan koop.

©Rooi Mier 13.07.2022

Hoofstuk 1

Hoofstuk 2

Hoofstuk 4

Onder die Brug 1

Plekke in #Stukkendeharte -Upington

Plekke in #Stukkendeharte -Upington Gordonia Hospitaal Dr Harry Surtie Hospitaal Upington Medi -Clinic ...