Vrydag 23 Desember 2022

#Stukkendeharte Hoofstuk 8 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 8 - Rooi Mier


Teen 04:00 die oggend is sy wakker. Sy het die gewoonte aangeleer om te bid as sy wakker word in die nag. Nadat sy klaar gebid het lê sy weer.
Nou lê en wonder sy weer wat haar Antie Jenny wil sê wat so belangrik is dat sy so ver kom ry het. Dit moet iets met haar ouers te doen het. Sy wonder juis al hoe meer wie haar biologiese pa is.
Dan gaan haar gedagtes weer na Lawrence toe. "Het ek gevoelens vir hom? Daar is definitief iets. Geen man het al ooit haar gedagtes so oorheers."
Sy raak weer aan die slaap.


'n Paar strate verder lê Janice ook wakker. Hoe kon sy haar so misgis. Sy het regtig gedink dat Lawrence iets vir haar voel maar duidelik nie. Hy het in sy dronkenskap haar 'n paar keer Sahara genoem. Nog het sy voortgegaan en haarself aan hom gegee. Dit was toe sy besef het sy maak die grootste fout van haar lewe. Hy het haar toe gedurende hul intiemste oomblikke Sahara genoem. Sy het met 'n skok besef dat hy nooit oor Sahara gaan kom nie.
"Ek is so bleddie lief vir die man." Sy begin saggies te huil. "My ma sê altyd dat jy eers verseker weet wanneer hy 'I do' gesê het. Dit is wanneer jy jouself eers aan 'n man moet oorgee."
Sy wil so graag haar ma in haar vertroue neem maar hoe? Hulle kon tot dusver alles met mekaar deel. Vandag moet sy weer in die teenwoordigheid van Lawrence spandeer. Sy hoop die skooldag gaan vinnig.
Die oggend 'n halfuur voor die skool begin sit Lawrence alreeds in die klas. Anton is nog nie daar nie. Hy het onthou dat hy Janice Sahara genoem het. Is dit hoekom sy so afsydig is? 
Sy vriende dink anders maar dit was sy eerste ondervinding. Dit was glad nie sleg nie maar hoekom het hy Janice Sahara genoem? Sal hy dan nooit oor haar kom nie.
Sy pa was reg. Onder die invloed van drank gebeur dinge wat liewer nie moes gebeur nie. Hy sien homself as iemand wat vrouens respekteer. Natuurlik kan hy nie die drank skuld gee vir wat gebeur het nie. Dit het wel dit makliker gemaak om daai lyn oor te steek.


Anton stap in. "As die L nou vroegoggend sooo diep dink?"
"Môre buddy. Mens groet eers."
"Goeie môre Meneer van Wyk. Hoe gaan dit? Man, ek hoop nie jy was onverskillig nou die aand nie. Ek hoop jy het beskerming gehad."
"Hoe weet jy?"
"L, het het per ongeluk op julle afgekom. Larisa en ek was oppad na ons vervoer toe."
Lawrence wou nog iets sê  toe Larisa instap. Sy gee hom 'n ondeunde knipoog. Janice stap binne. Larisa knik vir Lawrence en wys met haar kop in Janice se rigting.  
Lawrence raak skaam want hy weet Janice het gesien. Die klok red hom. Al die ander leerders kom die klas binne.


"Antie Jenny slaap laat vandag of is sy maar net besig om my te vermy? Ek wil nou weet wat aangaan."
Sahara gaan klop aan haar deur. "Antie, ek wil inkom."
"Kom maar binne. Dit is seker tyd. Goeie môre."
"Môre antie. Het u darem oraait geslaap?"
"Ja Sahara maar kom ons praat. Sit hier op die bed. Ek wil jou vertel wie jou pa is en waarom dit gebeur het."
"Jy weet ek en jou ma was dieselfde tyd op universiteit omdat sy eers twee jaar gaan werk het."
"Ons was een aand by 'n partytjie van een van die studente. Dit was 'n lekker partytjie en ons het ons geniet, selfs vir die eerste keer 'n drankie en toe drankies gedrink. Vyf jongmanne het uitgegaan om dagga te gaan rook. Die reuk het by die venster ingewaai. Hulle het luidrugtig geraak."
"Iemand het gesê nee man. Ek wil nie verder as boom gaan nie. 'n Ander stem het toe gesê, kom aan man. Moenie 'n sussie wees nie. Net die een keer."
"Ek kon nie verder hoor nie want iemand het die musiek harder gedraai."
"Hulle het een na die ander ingekom. Dit was duidelik dat hulle hoog was van een of ander dwelmmiddel. Ek het al mense gesien wat dagga gerook het. Hulle lag gewoonlik vir alles. Hierdie jongmanne was meestal aggressief."
"Die partjie het al luidrugtiger geraak en dit was ook duidelik dat die dwemgebruikers skoorsoekerig geword het. Hulle het sommer glase begin breek. Mense begin stamp en as iemand val of seerkry hardop  gelag. Dit was duidelik tyd vir ons om te gaan."
"Ek het begin soek na jou ma. Maria, waar is jy? Net toe ek haar sien bars daar 'n geveg los. Een van die ander jongmanne wat nie buite was nie het seker genoeg gehad. Hy slaan na 'n dwelmgebruiker en 'n ander probeer hom keer."
"Hy skree, Ek het nou genoeg gehad van die … , die vloekwoorde rol van sy lippe af."
"Meer mense begin vuisslaan en ek het toe by die deur uitgevlug saam met 'n paar ander meisies. Sommige meisies was ook redelik hoenderkop van die bier en wyn."
"Laat ek maar erken ek ook. Ek kon nie vir Maria kry nie. My benewelde brein het gesê ek moet by my kamer uitkom om te gaan slaap."
"Die volgende dag het ek nie jou ma gesien nie. Ek het die oggend klasse gehad en sy die oggend en middag. Ons was nie een keer saam nie."
"Die middag het ek gaan slaap want my kop was seer."
"Dit was eers die volgende dag dat ek haar gesien het. Sy was stil en het nie veel gepraat nie. Op my vraag het sy net geantwoord dat sy die aand geniet het; maar dit het nie so gelyk nie. Ek het gedink dit was maar oor die drinkery. Dit het my self verbaas om haar daai aand met 'n glas wyn of twee te sien; definitief buite haar karakter."
"Ek moet nou eers badkamer toe meisiekind, maak jy solank vir ons koffie."
"Dis reg so antie." 
Sahara staan lui weg op van waar sy op Jenny se bed gesit het en stap kombuis toe. 
Haar ma het haar nooit vertel dat sy ooit al alkohol gebruik het nie. 
Sy het altyd net gesê, "My kind belowe my jy sal nooit alkohol gebruik nie. Dit verwoes net mens se lewe."
Dan het sy net altyd gesê, "Ja Mammie. Wat sal ek nou wil drink. Lyk my Mammie het al 'n dop gesteek."
Haar ma het dan net gesê, "Bly jy net weg."


Skielik onthou sy dat sy nog 'n afspraak by die bank het. Sy wil van haar geld gaan vasbelê. 
Sy skree badkamer se kant toe, "Antie, ek gaan sommer ontbyt maak. Ek het later 'n afspraak by die bank."
Na haar afspraak het sy skielik die begeerte om net verby die skool te ry. Sy kyk op haar horlosie. Dit gaan nou tweede pouse wees. Sy gaan stop buite regoor die rugbyveld waar sy al gesien het Lawrence en Anton gewoonlik sit. Sy hoor die sirene wat die pouse aankondig. Drie minute later sien sy die twee asook Larisa na hul gewone sitplek aangestap kom.
Dit lyk of Lawrence maar stil is. Anton en Larisa is duidelik meer in gesprek. Hy is maar net daar. Skielik verlang sy om net weer daai "Goeie môre Juffrou Van Wyk, agga, Muller te hoor."
Sy glimlag onwillekeurig. "Ek is verlief op die jongman. Sal ek ooit 'n kans het met hom? Alhoewel hy altyd grap oor ons sal hy ooit 'n ouer vrou wil hê? Dan bots hul geloof ook nog. Om 'n atiës te wees is ook 'n geloof; jy glo dat jy nie in 'n god glo nie."
Sy hoor haar pa, "My kind, jy moet eendag vir jou 'n man vat wat dieselfde geloof as jy het. Vergeet daarvan dat dit oraait gaan wees."
Dit is seker haar grootste struikelblok. Sy glo dieselfde as haar pa.


Tweede pouse is gewoonlik net vyftien minute. Die drie is alreeds oppad klas toe toe die sirene lui.
©Rooi Mier 13.07.2022

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Plekke in #Stukkendeharte -Upington

Plekke in #Stukkendeharte -Upington Gordonia Hospitaal Dr Harry Surtie Hospitaal Upington Medi -Clinic ...