#Stukkendeharte Hoofstuk 7 - Rooi Mier
Die volgende oggend raak sy laat wakker. Teen 10:00 eet sy ontbyt. "Ja, sy moet bid vir 'n wonderwerk. Lawrence moet op een of ander manier die Here vind."
Sy het net klaar geëet toe daar 'n klop aan die voordeur is. Dit is haar tannie Jenny met tasse en al.
"En nou antie? Ek het nie geweet jy is oppad nie."
Die taxi het haar afgelaai. "Goeie môre Sahara. Mens groet eers."
Jenny dra een tas in en beduie met haar kop na die ander een. "Ons praat later. Ek is moeg en honger."
"Antie kan solank gaan stort terwyl ek iets vir ete voorberei."
Jenny eet in stilte terwyl Sahara haar dophou. Dit is duidelik dat haar tannie gespanne is. Nadat sy klaar geëet het noem sy dat sy 'n rukkie wil slaap.
By die skool is die meeste van die matriekulante duidelik nie hulself nie. Lawrence is vir die eerste keer in sy lewe babalaas. Na die tweede bier sweer hy hy was al dronk. Hy het nog nooit aan enige alkohol geraak nie.
Sy pa het gal afgegaan toe hy teen 03:00 die oggend tuis kom. "Onverantwoordelik" is die een woord tussen al die ander geuiter het wat in sy kop vassteek. Sy pa dring daarop aan dat hy Janice se ouers om verskoning moet gaan vra omdat hy hul dogter eers daai tyd gaan aflaai het en nogals onder die invloed van drank.
Hy kyk in die rigting van Janice. Sy lyk self ook nie te goed nie. Dit lyk of sy gehuil het. Sy was badkamer toe vroeër. Die matriekonderwysers is almal na die personeelkamer ontbied.
Lawrence stap na Janice toe. "Het jou ouers met jou geraas?"
Janice draai net weg van hom af en hy gaan maar sit.
Die onderwyser kom die klas binne.
"Ons het besluit om julle eerder huistoe te stuur. Die matriekafskeid moes liewer op 'n Vrydagaand gewees het. Julle mag maar gaan."
Gewoonlik sou almal by die deur uitgevlieg het maar dit lyk of die meeste leerders maar traag is. Van hulle wat gewoonlik met vervoer ry sal nou moet stap of wag totdat hulle opgelaai kan word. Lawrence stap gewoonlik behalwe as sy pa tuis is, maar hy het gaan werk.
Daardie middag laat toe sy pa tuiskom het hy duidelik nog nie afgekoel nie.
Hy het wel 'n bos rooi rose in sy hand en 'n toegedraaide geskenk. Sy gesig het 'n meer vriendelike, liefdevolle uitdrukking toe hy na Iris stap.
"Jy het gedink ek het vergeet nê. Dankie vir jou liefde en omgee my sweetness. Ek is baie lief vir jou. Geluk met ons huweliksherdenking."
"Baie dankie bokka. Geluk vir jou ook. Ek is net so lief vir jou. Ek het iets spesiaals voorberei vir jou. Ons gaan dit in die kamer geniet later." Sy knipoog vir Bennie.
Lawrence voel ongemaklik omdat sy ouers so openlik oor hulle liefde is.
Bennie glimlag, "Jy bly ook maar so stuitig nê. Dit sal net bietjie moet wag."
"Klim in die kar Lawrence." Hy stemtoon het verander en is nou baie kortaf.
Lawrence sien aan sy gesig dat hy beter nie vrae moet vra nie.
"Iris, ek gaan gou die klong na die Louws toe neem om verskoning te vra." Hy stap kar toe met Lawrence kort op sy hakke. Dit is eers doodstil in die motor. Toe trek sy pa skielik af en vertel hom weereens hoe onverantwoordelik hy was en hoe teleurgesteld sy pa is.
"My kind, ek was ook een dag so onverantwoordelik en dit het nie goeie gevolge gehad nie." Sy stem is nou sagter maar hy vertel nie wat gebeur het nie.
"Jy moet maar alles verdra wat na jou kant toe kom en nie Meneer of Mevrou Louw in die rede val nie."
In die Louws se woning is Janice net in die kamer. Haar oë is rooi gehuil.
Daar is 'n klop aan die deur. Sy hoor haar pa oopmaak en sê, "Goeie dag. Ek neem aan dit is Mnr van Wyk?"
"En u is Meneer Louw? Goeie naand."
"Goeie naand Meneer Louw." Dit is definitief Lawrence se stem.
"Kom binne. Dit is my vrou, Angela."
"Aangenaam Mevrou."
"Sit daar op die banke. Gaan julle iets drink?"
"Net water mevrou."
"Ek sal niks neem nie mevrou, " antwoord Lawrence saggies met 'n droë keel.
Nadat Angela die water gebring het en langs haar man gaan sit het, sê Bennie, "Lawrence het iets om te sê."
"Me, me, meneer ê en mevrou. Ek wi wil net jammer sê."
"Moenie nou hakkel nie kind. Praat!" Bennie is ongeduldig met sy seun.
Lawrence skraap moed bymekaar. Hy praat vinnig. " Ek wil net om verskoning vra dat ek Janice so laat huistoe gebring het. Ek is regtig jammer."
"Nie laat nie, vroeg vanoggend." Angela kyk hom direk in die oë.
"Julle het gedrink ook. Moenie antwoord nie want ek vra nie.
Ek is so teleurgesteld in julle albei. Mens weet nie wat kon alles gebeur het onder die invloed van drank nie.
Ek het al so baie stories gehoor van dronk matriekulante." Derek se stem klink kalm.
"Ek is ook regtig jammer Meneer Louw. Ek is nog steeds kwaad vir hom."
"Hy was nie alleen in die ding nie. Die vroue van vandag het hul eie stem en eie wil. Janice moenie dink ek is klaar met haar nie. Maar kom ons staan nie stil by dié punt nie. Ek is net dankbaar dat hulle veilig tuis gekom het."
"Baie dankie Meneer Louw. Ons praat weer. Ek het net by die huis gekom en toe hierheen." Bennie staan op.
Almal staan op. "Ek stap saam tot by u motor," sê Derek.
" Totsiens mevrou," groet Bennie en Lawrence tegelykertyd.
Jenny het tot laat geslaap. Met aandete is sy duidelik nog gespanne. "Ek het gekom omdat ek iets belangriks op die hart het, maar ek is nog nie gereed nie. Ons praat môre."
Daardie aand in haar bed wonder Sahara wat haar tannie al die pad uit Bloemfontein sal laat kom het. Hoekom nie net bel nie? Dit moet belangrik wees, baie belangrik. Sy slaap onrustig. Lawrence is weereens in haar drome.
©Rooi Mier 13.07.2022
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking