Woensdag 13 Maart 2024

#Stukkendeharte S2 Hfst 49 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 49 - Rooi Mier


Yvonne sit in haar motor en wag vir Paul en Larry om uit die winkel te kom.
"Dit is so goed om vir 'n slag iemand wat naby verwant aan jou is te sien.  Ek wonder hoe gaan dit met Mammie. Die laaste keer dat ek van haar gehoor het was sy siek. Na dit het ek nooit weer kontak met haar gehad nie."
Sy dink nou aan die dag 'n paar maande terug toe sy 'n vreemde oproep ontvang het daar in Chicago.
"Valencia Smith?"
"Wie is dit?"
Die persoon wat gepraat het was Afrikaanssprekend. Yvonne was bekommerd.
"Het hulle my nou opgespoor? Moet ek nou weer vlug? Ek is so moeg daarvoor om altyd op die vlug te wees. Dit is nou genoeg. Ek gaan nie meer vlug nie."
"Luister, jy ken my nie maar moenie die oproep afsny nie asseblief. My naam is Selwyn Rooi. Jou regte naam is Yvonne Slingers. Jy was die meisie wat Max wou verkoop en toe word jy gered."
"So jy ken my, nou wat nou. Wil jy my aan Max oorgee? 
Luister hier, ek is moeg daarvan om voortdurend oor my skouer te kyk."
"Wil jy nie wraak neem nie? Voordat jy nee sê, dink mooi daaroor na aangesien jy sê jy is moeg daarvan om te vlug."
Hy het verduidelik wie hy is en wat sy plan is met Max. Eintlik wou hy haar as lokaas gebruik. Dit moet iemand wees wat 'n rede het om wraak op Max te wil neem.
Sy het verduidelik dat sy besig is met haar graad in Verpleegkunde. Sy moet nog die finale eksamen aflê.
Hy het verduidelik dat hy dit vir haar die moeite werd gaan maak en dat sy op 'n latere stadium die eksamen kan aflê.
"Ek weet ook dat hulle jou vir jou studies in Suid Afrika geakrediteer het en ook dat jy met jou vorige eksamens die beste resultate gehad het."
"So jy weet alles van my. Waarheen gaan ek as ek terug is in Suid Afrika?"
"Sodra jy op Oliver Tambo land klim jy op 'n vlug na Kimberley. Iemand sal jou daar ontmoet en jou per pad na Upington bring."
Sy was al 'n week in Upington toe die omstandighede verander. Max was geskiet en het in die hospitaal beland.
Selwyn was nog nie in Upington nie maar was daagliks telefonies in kontak.
Hy het sy planne aangepas en dit is hoe sy as verpleegkundige by die hospitaal 'n pos gekry het. 
Sy was aangestel onder 'n ander naam met die nodige kwalifikasies. Haar profiel was ook geloofwaardig en sy was onder Shane se neus as een van die verpleegsters wat toegang tot Max het aangestel.

"Verbeel ek my of het ek nou net 'n effense steekpyn in my regterbeen gevoel?"
Janice maak dit af as haar verbeelding. Haar brein het dit seker maar opgetower omdat sy so graag wraak op Max wil neem.
Lorenzo en Lanice klim uit hul oupa se motor. Hulle kom van die kleuterskool af. 
Lorenzo storm op haar af. Hy was altyd versigtig nadat sy ma uit die hospitaal gekom het maar vandat hy gehoor het dat sy geen gevoel in haar bene het nie, het hy gereeld op haar gespring.
Hy het eendag sy ma hoor praat met 'n doker. Wat hy wel gehoor het is dat sy moet op let vir enige gevoel. As dit gebeur is daar 'n kans dat sy eendag weer sal loop.
Van daardie dag af het hy gereeld op sy ma se skoot gespring en dan gevra of sy iets gevoel het.
Sy oupa en ouma het gereeld geraas met hom daaroor maar dit is asof hy besluit het die raas is die moeite werd as die springery dalk die nodige resultate kan bring.
Soos gewoonlik spring hy weer. Janice voel 'n effense kortstondige pyn in haar regter bobeen. Dit voel so onwaar dat sy nie reageer op sy vraag of sy gevoel het nie.
Hy omhels haar gelate en stap om sy ouma te gaan groet wat in die deur staan.
"Dit was daar; of was dit nie?"
Janice is so ingedagte dat sy eers van Lanice bewus word toe sy wegstap.
"Lanice, kom hier. Mammie wil jou 'n drukkie gee. Jammer, Mammie het aan iets gedink my engel."
Sy gaan na binne met die rystoel.
"Kan Mammie vir julle sap gee? Dan wil ek alles hoor wat julle vandag geleer het."
"Mammie, Sandra het gesê dat Elize se ma nie Barbies kan bekostig nie, toe sê Juffrou sy is lelik. 
Sy is dan so 'n mooi meisie. Hoekom sê Juffrou so."
Lancia staan vraend voor haar ma.
"Ouma het gesê 'n mens sê nie vir ander mense hulle is lelik nie," wil Lorenzo ook weet.
"Juffrou het nie bedoel sy lyk lelik nie. Sy het bedoel Sandra doen nie reg nie. Wanneer mens iets iets doen of sê wat 'n ander laat sleg voel dan sê die mense jy is lelik."
"Ons het gehoor dat David se ma 'n baba gaan het. Waar kom babas vandaan Mammie."
"Uit sy ma se maag Lorenzo."
"Het Mammie ook 'n baba in Mammie se maag?"
"Nee Lanecia."
"Nou hoe kom 'n baba in 'n ma se maag?"
Angela, wat in die deur gestaan het, glimlag.
"Ek wonder hoe gaan Janice uit die een kom."
"Drink nou eers julle sappies. Dan is dit bad tyd."
Janice voel warm in die gesig.
Angela sien haar ongemak en merk op.
"Nou weet jy hou ek gevoel het nê."
Janice probeer haar verleentheid wegsteek en gaan badkamer toe om Lanecia se badwater voor te berei. Dit is haar beurt om eerste te bad.
#RooiMier
©Rooi Mier 17.01.2023

Dinsdag 12 Maart 2024

#Stukkendeharte S2 Hfst 48 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 48 - Rooi Mier


Ek neem my mag terug. My naam is nie meer Valencia Smith wat iewers oorsee studeer en versteek word nie, ek is Yvonne Slingers, eens op 'n tyd 'n slagoffer maar nou nie meer nie.
Yvonne stap dreigend met die naald nader. Waar moet ek die gif inspuit? Direk in jou hart is 'n goeie plek, maar dan vrek jy te vinnig. Ek wil hê dit moet stadig wees. Dit moet eers deur jou bloedstroom loop voor dit jou die emmer laat skop.
Max se oë rek groot. Vir die eerste keer wys daar vrees op sy gesig.
Yvonne stap nader en spuit hom in die arm.
Nou kan jy rustig aan die slaap raak. Sy begin sing.
"Slaap my Maxie, slaap sag. 
Onder nagmerries vannag.
Eers die armpies vasgemaak
Dan jou doodskleed aangetrek."
Sy stap na die deur.
"Dit was maar net jou medikasie maar dit kon net sowel gif gewees het."
Die deur gaan op daardie oomblik oop. Andy stap binne.
"Jy moet nou nie die man so ontstel nie. As hy doodgaan voor hy van al sy skatte ontslae geraak het, was alles verniet."
Hy kyk na Max en grynslag. 
"Ai, ek kry nou lekker tot in my klein toontjies. Môre is d-dag. Jy gaan brandarm wees na môre."

Rencia stap by haar en Shane se geheime ontmoetingsplek in. Sy kyk hom waar hy by 'n lessenaar sit en skryf en dink by haarself, 
"Nogals nie sleg op die oog nie. Hy is mos darem geskei so ek mag maar kyk."
"Kom sit Rencia, jammer, Kaptein Witbooi."
Shane kyk nie op van waar hy sit nie. Hy is bang dat sy oë sal verraai hoe hy voel. Na sy vrou het hy nog net na Sahara geloer maar het gou besef hy sal nie ver kom nie. Van die eerste dag wat Rencia by hom geplaas was, was daar iets, ten minste van sy kant af.
"Goeie dag Kolonel. Ek verstaan dat die Mercedes wat die vreemde man altyd bestuur het verlate langs die pad gevind is."
"Ja maar ons weet nou nog nie aan wie dit behoort het nie. Hulle vee dit juis vir vingerafdrukke. Pragtige voertuig, die eienaar het beslis 'n paar pitte."
Sy telefoon lui.
"Middag Luitenant, kon julle iets vind?"
"Niks soos in niks Kolonel. Die persoon wat ontslae geraak het van die vingerafdrukke weet wat hy doen. Hy is proffesioneel."
"Ag nee man. Ek is seker dat die eienaar of bestuurder van daai Mercedes iets te doen gehad het met Max se verdwyning. Hou aan soek. Ons praat weer. Totsiens."
"Dit klink my hulle kon niks vind nie Kolonel."
"Die voertuig is skoon."
"Die man is ook nie meer te sien by die hospitaal vandat Max verdwyn het nie."
"Ons sal beslis ons sokkies moet optrek Kaptein. Hulle gaan begin dink ons is onbevoeg."
"Net jy Kolonel."
Shane kyk vinnig op.
"Wat bedoel jy?"
"Ek dra nie sokkies nie Kolonel, net sy sagte kouse."
Die glimlag wat sy vir Shane gee laat sy hart net so bietjie vinniger klop.
"Of jy nou kouse dra of sokkies, ons albei word verantwoordelik gehou. Wanneer gaan jy skietbaan toe? Ek het ook oefening nodig."
"Kolonel, ons mag nie buite hierdie gebou saamgesien word nie."
Shane sug swaar.
"Kom laat ek jou uitsien."
Hy stap na die deur om dit oop te maak. Dit voel of sy net te na aan hom verby beweeg en huiwer.
Shane vat haar skielik aan die arm, trek haar nader en soen haar. Sy beweeg nie weg nie; inteendeel, sy soen terug.
Skielik laat Shane los.
"Ek is so jammer; ek weet nie wat oor my gekom het nie."
Sy asem jaag. 
"Ek weet ek het onbehoorlik opgetree. Glo my, ek het dit nie bedoel nie Kaptein."
"Kaptein my nog een keer dat word dit seksuele mishandeling."
Sy glimlag egter en stap uit. Buite die deur leun sy vir 'n oomblik teen die muur om haarself tot verhaal te bring voordat sy verder aanstap. 
"Sjoe Rencia. Jy het darem maklik ingegee. Dit is mos nie soos ek myself ken nie. Mans hardloop agter my aan, nie anders om nie.
Ai, maar dié man laat my met jellie bene. So, so aantreklik en goedgebou."
Rencia se gesig raak warm toe sy besef dat sy na meer as net sy gesig gekyk het.

Shane gaan sit weer agter die lessenaar. 
"Jy speel met jou loopbaan Shane Cupido. Dit was nou baie onverantwoordelik.
Wat as Rencia besluit om 'n klag teen jou te lê? Ek hoop maar sy vergewe my. Jy is mos nie meer 'n kind wat deur hormone gedryf word nie."
Shane kan egter nie sy gedagtes van haar af kry nie.
"Mooi was nog nooit lelik nie."
Hy staan op en loer haar deur die venster waar sy na haar motor toe stap.

Yvonne stap oor Scottstraat na 'n klerewinkel toe. Tot dusver het sy weggekom met haar rooi gekleurde hare en groot brille wat in die son donker word. 
Net voordat sy die klerewinkel instap sien sy die twee mans aangestap kom. Dit is sowaar haar broer en G. 
"Wat maak Paul in Upington? Vermoed hy dat sy hier is? Dan is hy nog saam met G, of liewer Larry soos hy nou bekend staan."
Paul en Larry stap by 'n ander klerewinkel in. 
"Ek sal maar liewer later weer terugkom want hulle kan dalk na dié winkel toe ook kom."
Sy stap terug oor die pad en gaan klim in die motor wat sy onlangs gekoop het met die geld wat sy by Andy ontvang het. Sy noem die motor Larisa omdat sy voel dat Larisa genoeg vir haar omgegee het destyds om haar te waarsku teen Candice.
Sy kan egter nie wegry nie.
"Ek verlang regtig na my ma en my boetie."
Sy sal na hom toe wil hardloop en hom omhels maar sy weet hy sal nie haar planne goedkeur nie.
Dit is ook nie lank nie of hulle kom uit die winkel met leë hande en stap in waar sy sou gewees het.

Janice wonder waar Larry so skaars is. Sy is seker dat hy teen die tyd weet dat Lawrence nie meer haar man is nie. Sy raak so gefrustreerd omdat sy nie kan beweeg waar sy wil nie. 
"Meneer M, dit is alles jou skuld. Jy het my in die rystoel geplaas. Ek hoop jy verrot in die hel."
Haar gedagtes gaan van Max na Sahara.
"Sy is mos Max se dogter. So, miskien kan ek nog my wraak kry.
Verbeel ek my of het ek nou net 'n effense steekpyn in my regterbeen gevoel?"
#RooiMier
©Rooi Mier 17.01.2023

Maandag 11 Maart 2024

#Stukkendeharte S2 Hfst 47 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 47 - Rooi Mier


Sy lê met haar kop op Steven se skouer en sluit haar oë vir 'n oomblik.
"Ek dank U Vader omdat ek nooit weer alleen hoef te wees in die donker nie."
Sy sien in haar geestesoog hoe die skaduwees vlug.

Volgens tradisie word daar eers op verskillende plekke troufoto's gaan neem voordat hulle na die onthaal vertrek in hul koets. 
Langs die pad stop die mense letterlik, klim uit hul motors om foto's van die koets te neem. 'n Vrou hardloop nader.
"Mag ek maar 'n foto met julle neem?"
"Kom ons ry," skree Steven vir die lakei.
"Nee my man. Kom ons neem 'n foto saam met haar. Ek sal nooit vanaand slaap nie as ek haar ignoreer nie."
Die vrou neem 'n selfie.
"Dankie my man. Nou is ek honger. Hier is solank iets om aan te kou want ek voel nogals honger."
Daar is 'n bordjie met samoosas en pasteitjies in die koets wat juis daar is vir hulle. Terwyl Mavis aan 'n pasteitjie byt sien sy 'n kind langs die pad staan en bedel. Hy is vuil en beslis honger. Weer stop Mavis die koets. Sy gee die bordjie met eetgoed vir die seuntjie. Daar is duidelike dankbaarheid op sy gesig.
"Baie dankie Antie. Is Antie die koningin van Engeland? Ek het al van antie gehoor."
"Nee my kind. Die koningin is dood. Engeland het nou 'n koning. Ek is maar net Antie Mavis maar ek voel soos 'n koningin."
"O, antie is Koningin Mavis."
Mavis glimlag net.
"Gaan eet nou my kind."
Hulle ry verder. 
Steven dink, "Dit is nou die goud wat ek gevind het. 'Sy brei haar handpalm uit na die ellendige, en sy steek haar hande uit na die behoeftige. ( Spreuke 31:20)"
Sy hart klop warm in sy bors.

Die onthaal is jolig. Lawrence het gesorg dat hy langs Sahara sit. Dit raak tyd vir Steven en Mavis om te vertrek.
"Kan al die dames gou nader staan. Die bruid gaan haar ruiker gooi. Alle dames wat nie getroud is nie, wees gereed.
Is jy gereed Mavis?"
"Ja, een, twee, drie."
Sy gooi oor haar kop in Sahara se hande. Sy was nie van plan om te probeer vang nie maar toe die ruiker op haar afpyl moes sy vang.
Janice kyk haar venynig aan. 
Sahara sien dit.
"Nou verstaan ek mooi niks. Sy wil vir Larry hê maar sy haat my. Ek soek nie 'n kêrel nie."
Sahara stap weg en toe sy dink niemand kyk nie gee sy dit vir Jenny.
"Dit is tyd dat jy 'n man vat, net nie Max nie.

"Al die mans staan nader."
Steven laat Mavis op 'n stoel sit. Hy vroetel  onder haar rok, heeltemaal te lank volgens die mans daar. Uiteindelik het hy die kousband af.
Hy draai na die manne toe.
"Een, twee, drie."
Hy gooi en Lawrence vang dit. Die mense is huiwerig om hande te klap want hy kom dan nou net uit 'n huwelik.
Martin staan nader. 
"Net nog 'n laaste ding. Steven en Mavis gaan môre Vanwyksvlei toe om hul huwelik daar te begin. Daarna gaan hulle vir 'n week Kaap toe.
Wat hulle nie weet nie is dat hulle daarna op 'n tyd wat hulle pas en hul visas reg is op my onkoste Venesië toe gaan.
Bon voyage!"

Paul en Larry hou 'n tweeman braai by laasgenoemde se woonplek.
"Uiteindelik het ons darem 'n leidraad gevind. Yvonne is terug op Suid Afrikaanse bodem. Nou moet ons net vas stel waar sy haar bevind."
"Is sy nie dalk in die Kaap nie Paul. Dalk is sy in jul geboorte dorp, Beaufort Wes."
"Nee, daar is niemand nie."
"Maar dit is bekende omgewing, afhangende van haar gemoedstoestand. Ten minste weet ons nou sy is binne die landsgrense."
"So soek ons nou vir Valencia Smith of Yvonne Slingers."

Max raak wakker nadat hy weer medikasie net na middagete gehad het. Hy wil sy linkerhand beweeg maar hy kan nie. Dan voel hy dat sy regterhand ook vasgebind is. Hy is verward en dit neem hom 'n tydjie om te registreer.
"Selwyn waar is jy! Kom maak my dadelik los!"
Niks gebeur nie.
"Selwyn, waar is jy?"
Die deur gaan stadig oop. 
"Hoekom raas jy so!"
"Waar is meneer Selwyn Rooi en hoekom spreek jy my aan as jy en jou! Noem my meneer as jy met my wil praat."
Die verpleegster grinnik.
"Dit lyk my ons voel beter. Pas net op dat jy nie jou longetjies ooreis nie. Hulle het baie seergekry daarom noem ek hulle longetjies."
"Wat se kaf raak jy kwyt. Waar is Meneer Rooi."
Die verpleegster se gesig verander.
"Jy vergeet ek is nou in beheer en nogal met 'n spuitnaald in die hand."
Sy lig dit betekenisvol op.
"Selwyn Rooi? Wie is dit? Dit man in bevel hier is Andy Ryneveld. Hy is nou hier nie. Ek is nou in bevel."
"Nou kom maak my los. Ek moet in die toilet wees. Moenie net daar staan nie. Roer jou."
"Hahahaha. Lyk my jy verstaan nou waar jy in die rangorde is nie.
Doen jou ding, jy het 'n sakkie aan of soek jy 'n pan?"
Max antwoord nie. hy is duidelik briesend. Die verpleegster sien dit en glimlag.
"Pasop Maxie, 'n hartaanval nou sal tragiese gevolge hê. Kom ek vertel jou hoe dit voel om magteloos te wees.
Jy word met dwelms gevoer en onwetend raak jy verslaaf. Wanneer jy wel weet jy is nou verslaaf wil jy die dwelms hê want jou liggaam skree daarna.
Dan word jy van jou vryheid ontneem en toegesluit en bedwelm gehou.
Jy lê in 'n versteekte kompartement agter op 'n bakkie. Dit is donker en jou beweegruimte is min.
Jy kan nie by 'n gemakshuisie uitkom nie en jy laat maar alles uit want jy het nie 'n keuse nie.
Jy weet jy ry ver maar jy gee nie om nie want jy konsenteer op jou geliefdes wat jy nooit weer gaan sien nie.
Mense begin skree en skiet maar jy lê net daar met baie min beweegruimte.
Jy voel skielik 'n pyn in die been want jy is gewond in die skietery en jy is dankbaar dit is maar net in die been.
Jy word gered maar verloor jou identiteit in die proses.
Ja, eens op 'n tyd was jy Yvonne Slingers maar omdat jy bang is vir Meneer M toelaat jy dat Binnelandse Sake maar jou naam en geskiedenis verander asof jy nooit bestaan het nie.
So Maxie, as daar iemand is wat weet hoe dit voel om magteloos te wees dan is dit ek.
Dit is egter nou in die verlede. Ek neem my mag terug. My naam is nie meer Valencia Smith wat iewers oorsee studeer en versteek word nie, ek is Yvonne Slingers, eens op 'n tyd 'n slagoffer maar nou nie meer nie.
Hoe voel dit Maxie om 'n slagoffer te wees, gestroop van al jou mag, nie eers in staat om jou liggaamsfunksies te beheer nie.
Ek vergewe jou maar gee jou nou rede om my eendag te moet vergewe. Die rede waarom jy nog redelike behandeling kry is omdat Andy Ryneveld planne met jou het."
#RooiMier
©Rooi Mier 17.01.2023

Sondag 10 Maart 2024

#Stukkendeharte S2 Hfst 46 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 46 - Rooi Mier


Mavis lê die helfte van die nag wakker. Sy is opgewonde dog terselfdertyd ook senuweeagtig. 
"Wie het nou ooit kon dink dat hierdie dag vir my sou aanbreek?
Sy staan op, sit die lig aan en gaan staan voor die mooiste trourok wat sy al ooit gesien het. 
"Mavis, jy gaan  'n baie mooi bruid vir  Steven wees. Hy sal sy oë nie van jou af kan haal nie."
Sy gaan staan teen die muur wat haar van Steven skei en streel met haar hand daarteen. Dit val haar toe by dat hy nie vanaand daar slaap nie. Hy slaap by Bennie se huis. Mavis gaan klim weer in die bed en raak met 'n glimlag op haar gesig aan die slaap.

Steven is ook senuweeagtig. Dit is nou nie sy eerste keer nie maar daar is vlinders in sy maag. 
"Om te dink dat daar 'n tyd in sy lewe was dat hy Mavis glad nie kon verdra nie. Nou gaan sy my lewensmaat word."
Hy dink onwillekeurig aan Sarie sy oorlede vrou. Sy was 'n lieflike mens ten spyte van wat gebeur het.
"Ek was lief vir jou Sarie maar laat my toe om aan te beweeg. Jy ken vir Mavis. Die vriendelik en goedhartige Mavis wat ons later ontdek het. Jy het altyd gesê daar is iets in Mavis wat nie strook met die bemoeisieke persoon wat almal geken het nie.
Jy moet sag rus Sarie. Ek weet dat jy my jou sening sou gee as jy kon."
Hy hardloop in sy kop deur 'n onsigbare lys van alles wat afgehandel moes word vir die troue. Dit is die honderdste keer. Alles is daar.
Hy raak uiteindelik aan die slaap.

Klop, klop , klop. 
"Mavis! Mavis! Kom nou. Jy moet opstaan!"
Jenny maak die deur oop en stap die kamer binne. 
"Wil jy laat wees vir jou troue?"
"Uhhh, kan ek nie nog slaap nie?"
"Ons kan nie vir Steven by die kansel laat staan nie. Dan sal ek hom maar vir my moet vat."
Mavis gee 'n lang gaap.
"Waag jy dit net sussa."
Sy klim langsaam uit die bed.
"Kom, ek het vir jou ontbyt reggekry. Jy moet eet want dit gaan 'n lang dag wees."
Nadat hulle klaar geëet het staan Jenny op om haar bad gereed te kry.
"Die mense wat jou hare en grimering doen gaan oor 'n uur hier wees."

Sahara is besig om om 'n geskenk te soek vir die egpaar. Sy weet nie eintlik wat om te koop nie.
Sy sien vir Lawrence verby stap en draai haar rug na hom toe. Te laat. Hy sien haar. 
Hy stap die winkel binne.
"Sahara, hoe gaan dit? Jy is skaars."
"Goed. Ek verneem dat dit nie so goed met jou gaan nie."
"O, jy bedoel met my en Janice. Ons is nie meer saam nie."
"Sommer net so?"
"Ons het besef dat ons oorhaastig opgetree het en 'n fout gemaak het."
"Wat nou van die tweeling?"
"Ons sal nie die eerste paartjie wees wat kinders as enkelinge grootmaak nie.
Ek is eintlik verlig want my hart behoort aan iemand anders."
"Regtig! Jammer ek kan nie nou gesels nie want ek soek nog 'n geskenk vir Uncle Steven en Antie Mavis."
Sahara stap vinnig weg asof sy bang is hy sê meer as wat hy moet.
"Dan sien ek jou by die onthaal."
 
Die troue sal om 14:00 by die kerk waargeneem word deur Pastoor Vass. Hy is alreeds teen 13:00 by die kerk om te kyk of alles gereed is. 
"Nou wag ons net op die paartjie."
Die gaste begin reeds teen 13:30 op te daag. Die eerste gaste is Bennie en Iris met Lawrence kort op hul hakke in sy eie motor. Hy sou oorspronklik net na die onthaal toe gaan maar het besef dat Sahara ook by die seremonie gaan wees. Dit is immers haar Antie. 
Ander gaste begin op te daag. Dan stap Sahara binne.
"Beeldskoon soos altyd."
 Sy gaan sit in die ry voor Lawrence. Hy kry die sagte reuk van haar perfuum en dit betower hom.
"Middag Sahara."
Sy voel 'n tinteling deur haar lyf trek toe sy hoor hoe hy haar naam uitspreek. Dit is amper soos in die dae voordat hulle verneem het hulle is 'broer en suster'.
"Jy groet darem baie vandag."
"Mag ek maar langs jou kom sit?"
"Dit is mos 'n vrye land en die sitplekke is nie bespreek nie."
Lawrence gaan sit langs haar.

Teen 13:45 trek daar 'n deftige voertuig op.
Steven en Martin klim daar uit. Hulle stap die kerk binne en gaan sit op die plekke deur die diaken aangewys.

Dan, teen 13:50 trek daar twee voertuie op maar die insittendes klim nie uit nie. Hulle parkeer in teen deel 'n entjie weg van die kerk af sodat niemand kan sien wie hulle is nie.

Dan trek daar nog 'n deftige motor op. 'n Ouerige man stap na die motor toe. 'n Jongman klim uit die motor. Hy is deftig gekleed. Hy  maak die deur agter hom oop.
Jenny klim uit en begin stap na die ingang van die kerk. Martin sien haar, staan op en gaan ontmoet haar. Hy begelei haar na haar aangewese sitplek.
"Jy lyk pragtig Jenny."
"Dankie Martin. Jy lyk self goed." 

Buite by die motor maak die jongman die deur oop vir Mavis. Sy lyk soos die droom bruid.
Die ouerige man staan nader.
"Goeie middag Mavis!"
"Oom Dawid? Dit is tog nie jy nie. Wat maak u hier? Hoe het u geweet om my hier te kry?"
"Jou toekomstige man het dit gedoen. Hy het gesê jy wonder gedurig oor hoe dit met my gaan. Wel, hier is ek nou in lewende lywe, gereed om jou die kerk binne te lei en aan hom af te gee."
"Ai Oom. Jy sal my laat huil. Dit is voorwaar 'n voorreg."
Oom Dawid het nie familie in Vanwyksvlei nie. Hy het op 'n stadium by die dood omgedraai. Mavis het hom versorg. Sy het hom gewas, gevoed en ure by hom vertoef totdat hy uit die bed opgestaan het.
Hy haak haar in en hulle stap na die kerk se deur.
Die troumars begin te speel. Almal staan op. Van die dames onder die gaste trek hul asems goedkeurend op toe Mavis en Oom Dawid binnestap. 
Angela fluister in Iris se oor.
"Sy lyk pragtig."
Steven stap tot in die middel en ontmoet hulle daar.
"Jy lyk poenankies!"
"Poenankies? Jy slaap vanaand alleen," fluister Mavis vir hom met 'n glimlag.
"Okay, jy lyk asemrowend mooi."
Oom Dawid glimlag.
"Toe nou julle. Trou eers."
"Baie dankie Oom Dawid. Ek sal nou hiervandaan oorneem."
"Dankie Oom."
Mavis gee hom 'n piksoen op die wang.

Die pastoor open met 'n gebed. Daarna lees hy 'n skrif. Hy lees Pediker 4 verse 9 en 10 
"Twee is beter as een, want hulle het 'n goeie beloning vir hulle moeitevolle arbeid.
Want as hulle val, kan die een sy maat optel, maar wee die een wat val sonder dat daar 'n tweede is om hom op te tel."
Hy lewer 'n kort bemoediging. Mavis het daarvoor gevra. Toe hy klaar is gaan hy oor tot die seremonie.
"Geliefdes, ons is vanmiddag hier bymekaar as getuies van die huweliksverbond wat Steven September en Mavis Vass met mekaar gaan sluit. Ek en die suster sal moet gesels. Dit blyk dat ons dalk familie kan wees, maar kom ons gaan aan."

Buite die kerk is daar 'n beroering. Die twee voertuie wat 'n entjie weg geparkeer het se deure gaan oop en die insittendes klim uit.

"Broer Steven, wil jy iets sê?"
"Ja pastoor."
Steven draai na Mavis toe en neem haar hande in syne.
"Mavis, my liefling. Daar was 'n tyd in my lewe toe ek stukkend was. Ek het nie geweet wat van my gaan word nie. 
Toe beskik God 'n dag waarop ek die ware Mavis ontmoet het. Dié Mavis het my hartsnare geroer en 'n permanente plekkie in my hart kom inneem. "
Steven plaas sy een hand op sy hart.
"Net hier, hier het jy kom intrek en my lewe omgekeer. Ek moes hierdie huis skoon maak van verdriet en eensaamheid want die liefde het dit verdryf. Vandag wil ek jou net myne maak met jou toestemming."
"Pragtige woorde. Suster Mavis, wil jy iets sê?"
Mavis staan en kyk Steven eers 'n tydjie in die oë.
"Steven, God het toegelaat dat jy my hele wese ken. My diepste pyn, my grootste vrese. Hy het toegelaat dat ons eers 'n pad saam stap sodat jy presies weet waartoe jy jou inlaat.
Jy sien nogtans kans om my as jou vrou te neem. Dit dwing 'n diepe respek in my af omdat jy die man is wat jy is. Die Bybel sê die liefde vergaan nimmermeer. My liefde vir jou het daai ewigheidswaarde. Dit kan nie vergaan nie want dit is gebou op die Rots. Steven, ek wil jou anderhelfte wees."

"Steven September neem jy Mavis Vass as jou wettige vrou om lief te hê en te versorg onder alle omstandighede. Dit is as julle ryk is, as julle arm is, as daar voorspoed is of teenspoed, as Mavis siek is of gesond bly. Belowe jy om haar lief te hê totdat die dood julle skei."
"Ja pastoor."
Die pastoor glimlag.
"Moenie vir my kyk nie, ek is gelukkig getroud. Kyk in Mavis se oë."
Die gaste giggel. Steven glimlag ook.
Hy draai na Mavis.
"Ek belowe Mavis."
"Mavis Vass, neem jy Steven September as jou wettige man om .."
Mavis draai na Steven en onderbreek die pastoor.
"Ja Steven!"
"Jy sal moet geduldig wees toekomstige mevrou. Ek moet die vraag klaarmaak."
Die pastoor lag terwyl hy dit sê.
"Iemand is darem haastig."

Dit ringe word uitgeruil nadat die pastoor dit geseën het. Hy vra hulle om te kniel op die kussings as dit moontlik is en bid vir hulle.
Steven staan op en help Mavis op.
"Draai na die gemeente. Hiermee verklaar ek julle wettiglik as man en vrou met die gesag wat aan my toevertrou is. Soen haar Steven."
Steven trek Mavis nader en gee haar 'n lang, liefdevolle soen.
Iemand maak keel skoon en die res begin te lag.
Die register word geteken en die pastoor oorhandig hul huwelikssertifikaat. Steven gee dit vir Martin om solank te bewaar.

Na 'n paar foto's  stap hulle uit. Nog 'n verrassing wag vir Mavis. Van haar en Steven se vriende van Vanwyksvlei staan as 'n erewag toe hulle uitstap. Hulle gooi konfetti.
Daar staan 'n koets met twee wit perde en hulle is versier in rooi en goud. 
Mavis trek haar asem in. Sy het graag as klein dogtertjie gedroom sy is 'n prinses in 'n koets wat ry om haar ruiter op sy wit perd tegemoet te ry. Nou ry hy saam met haar. Sy lê met haar kop op Steven se skouer en sluit haar oë vir 'n oomblik.
"Ek dank U Vader omdat ek nooit weer alleen hoef te wees in die donker nie."
Sy sien in haar geestesoog hoe die skaduwees vlug.
#RooiMier
©Rooi Mier 17.01.2023

Vrydag 08 Maart 2024

#Stukkendeharte S2 Hfst 45 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 45 - Rooi Mier


'n Paar weke gelede.
Selwyn hardloop na die hoek van die gebou toe by die polisiestasie terwyl die skote klap. Hy voel meteens iets brand aan sy linkerarm en val vorentoe.
"Ek is gewond!"
Hy beweeg sy arm.
"Dit voel of dit net 'n vleiswond is."
Selwyn spring op en hardloop verder. Daar staan 'n trok met 'n oopbak. Daar is nie 'n bestuurder in nie. Hy klim agterop en kruip tot voor teen die kajuit waar met sy rug daarteen lê sodat die bestuurder hom nie sommer sal sien as hy hopelik alleen is nie.
"Selwyn! Selwyn!"
Hy hoor hoe Shane hom roep.
"Ek hoop nie hy gaan begin soek nie."
Shane se stem beweeg weg. Nadat Selwyn 'n tydjie gelê het bestel hy 'n uber want dit lyk nie of die bestuurder van die trok nou gaan terugkom nie.
Die uber bestuurder kyk hom snaaks aan toe hy die bloed sien.
"Moet jy nie liewer hospitaal toe gaan nie?"
"Nee, neem my na my na die hawe soos ek bestel het."
Selwyn weet dat hy by die hawe vervoer na Saldanha sal kry.
'n Paar aande later stap hy op die strand in Saldanha. Die strand is verlate omdat dit winderig is. 
"Hoe gaan ek uit hierdie ding kom? Max weet nou ek wou 'n verklaring by die polisie gaan maak wat hom sou inkrimineer. Suid Afrika is nie groot genoeg vir hom om weg te kruip vir Max nie. Sal ek dan my hele lewe lank op die vlug moet bly?"
So aan die einde van die strandgedeelte val hy amper oor iets. Hy gebruik sy foon se lig. Dit is 'n liggaam. Hy kyk na waar die gesig moet wees. Daar is omtrent net been. Verskeie gedeeltes van die liggaam is ook weg.
Selwyn raak naar en stap weg. "Ek kan nie die polisie bel nie want dan gaan iemand weet waar ek is en Max kan dalk daarvan hoor."
Hy stap 'n entjie toe hy skielik besef dat hy so pas oor 'n oplossing vir sy probleem gestruikel het. 'n Onherkenbare liggaam op 'n strand, net wat hy nodig het. 
"Hoe gaan ek die liggaam as 'Selwyn Rooi' verkoop?
'n Identiteitsdokument! Ja, my Id."
Selwyn plaas die id binne die enigste sak van die verflenderde klere wat nog aan die liggaam oorbly nadat hy dit amper vir twee ure in die seewater laat lê het.
Hy het gelukkig nie in sy plek gewoon die afgelope tyd nie so as hulle die liggaam met die id vind sal die mense rondom ook bevestig dat hy vir 'n tyd lank nog nie tuis was nie.
Die oggend vroeg kontak hy 'n patoloog wat hom 'n guns skuld. Hy moes sê dat dit wel Selwyn se liggaam is en dat hy verdrink het.
"Nou hoop ek net die polisie voel nie dat dit nodig is om verder te krap nie want hulle het alreeds so baie werk."

Terug in die hede.
Steven en Mavis is besig om die laaste reëlings te tref met Jenny wat help. 
Sahara kom daar aan want sy het eers die vorige aand gehoor haar antie gaan trou. Sy was egter te ontsteld oor wat Janice kwyt geraak het.
"Hallo my twee anties. Julle werk in die geheim né! Ek moet by ander mense hoor antie Mavis trou. Sou julle my ooit laat weet het?"
Jenny voel seer omdat Sahara haar as een van haar anties beskou.
Mavis merk dit op en roep Sahara om gou iets te gaan kyk saam met haar.
"Sahara, ek weet dit is moeilik maar jy moet maar vermy om Jenny jou antie te noem. Dit maak haar seer."
"Ag jammer Antie Mavis. Ek is net nog nie gereed om haar Mammie te noem nie."
"Ek verstaan my kind en ek wil jou nie forseer nie. Kom ons vat dit tree vir tree."
Hulle stap hand aan hand na Jenny toe asof hulle iets anders bespreek het.
Jenny probeer om haar gevorlens te verberg.
"Het jy gehoor dat Lawrence en Janice nie meer saam is nie? Hulle het glo hul huwelik nietig laat verklaar."
Sahara verstyf waar sy na die rok kyk. Sy maak asof sy nie gehoor het nie en ptobeer ongestoord aangaan.
"Het jy gehoor Sahara?"
"Ek het maar wat het dit nou eintlik met my te doen?"
Jenny en Mavis kyk betekenisvol na mekaar.

"Nou is ek Andy Ryneveld, die entrepreneur. Andy het gekom met bankrekeninge en al want dié alias bestaan eintlik al lankal."
Hy gaan na die vertrek waar Max lê.
Max is wakker.
"Waar is ek? Wanneer het jille my na 'n ander kamer oorgeplaas?"
"Wees jy net kalm Max. Jy is veilig by my."
"Wie is jy? 'n Nuwe dokter?
Wag, jy lyk bekend. Rooi? Selwyn Rooi? Is dit jy?"
"Die einste Maxie, die einste Selwyn Rooi."
"O, dankie tog. Jy het my gered. Baie mooi werk. Ek sal jou goed beloon vir jou inisiatief.
Daar is iets wat jy vir my moet doen. Kry vir my vir Sahara en bring haar hierheen"
Selwyn bars uit van die lag.
"Hoekom lag jy?"
"Vir jou my vriend. Ek lag vir jou."
Max frons vererg.
"Dit is nie nou tyd vir grappe nie. Hoe durf jy!"
Skielik begin sy asem te jaag.
"Stadig Max, stadig nou. Ek dink ons moet liewer jou suurstof opsit. Jou longietjies gaan jou in die steek laat."
Selwyn stap nader en plaas sy suurstof masker op sy gesig.
"So ja, lekker vars suurstoffies?"
Skielik verander sy stem van die speels grapperige na 'n saaklike toon.
"Dit is tyd dat jy moet besef jou tyd van heers is verby o koning.
Kom ek bewys jou 'n laaste eer."
Hy buig sarkasties voor Max.
"Van nou af is jy onder my beheer. Ek slaan die kitaar en jy dans.
Ag, moenie jou so ontstel nie, netnou gaan jy dood."
Hy stap na die deur.
Moenie eers daaraan dink om te probeer ontsnap nie, jy gaan dit nie lewendig hier uit maak nie."
#RooiMier
©Rooi Mier 17.01.2023

Plekke in #Stukkendeharte -Upington

Plekke in #Stukkendeharte -Upington Gordonia Hospitaal Dr Harry Surtie Hospitaal Upington Medi -Clinic ...