Woensdag 06 Maart 2024

#Stukkendeharte S2 Hfst 43 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 43 - Rooi Mier


Die polisieoffisier wat buite Max se kamer sit hoor die aanhoudende, vervelige 'peep' geluid waar hy sit en koffie drink. Hy is net besig om die beker neer te sit toe die geluid skielik verander.
'Peeeeeeeeeeeeeeeeeep!'
Die offisier skrik so groot dat hy van die stoel afval. Hy spring op, vuurwapen in die hand, sy broek is nat. Die beker lê daar eenkant en sy bene brand van die warme vloeistof wat op sy skoot geval het. Hy probeer die broek wegtrek van die sensitiewe area af terwyl hy by die kamer in storm.
Hy is verbaas om te sien dat daar reeds 'n dokter en 'n verpleegster in die kamer is.
"Hou almal uit die kamer offisier. Ons neem hom gou vir 'n nood operasie."
Die dokter skree bevele uit terwyl hy en die verpleegster Max by die kamer uitstoot.
"Niemand mag hier inkom nie, bly hier binne."
"Ja dokter."
Die offisier is maar net te bly hy hoef nie uit die kamer te gaan nie. Die verpleegster het hom alreeds ongemaklik laat voel toe sy betekenisvol na die nat kol kyk.

"Nou is ek weer Janice Louw. Dit is 'n goeie ding dat ek nie 'n nuwe id laat maak het by Binnelandse Sake nie."
Lawrence loer net skuins na Janice waar hulle in sy motor ry.
"Nou kan jy maar voortgaan om agter Sahara aan te hardloop. Voel dit nie siek nie? Sy was immers jou suster."
"Janice, hou op om lelik te wees. Ek en jy het kinders om saam groot te maak. Jy vergeet gerieflikheidshalwe dat jy nog nie oor Larry is nie.
Kom ons wees vriende soos voorheen of ry in stilte voort."
"Jammer L maar dit is deur daai feeks se pa dat ek in 'n rystoel is. Daar is geen manier hoe ons vriende kan wees as vir solank as jy lief is vir haar nie."
"Waar kom al die bitterheid nou skielik vandaan? Jy was nog altyd so vergewensgesind. Ek ken nie dié nuwe Janice nie. Haat maak 'n mens lelik. Jy kan dit aan die kinders oordra."
Lawrence laai haar by die huis af. Gelukkig is die tweeling by die kleuterskool want hy sal nie nou met hulle kan deel nie.
Hy help Janice uit die motor op die rystoel. Sy sukkel nog met die oorklimmery.

Derek is voor hulle tuis. Hy is briesend en loop op en af soos 'n leeu in 'n hok. Hy sien hoe Lawrence vir Janice help in die stoel. Voorheen sou hy na die motor gestap het om haar in te stoot; dié keer laat hy toe dat Lawrence haar in stoot. Hy loop die huis in.
"Derek, jy sal moet leer om jou emosies te beteuel my man. Die kinders is nou nie meer saam nie en jou woede gaan dit nie verander nie."
"Los my net af vroumens."
Hy storm by die agterdeur uit. Angela kyk hom kopskuddend agterna. Sy stap om Janice by die deur te ontmoet.
"Goeie dag Lawrence."
"Hallo Ma, jammer, Antie Angela."
"Hoe gaan dit met jou?"
"Jammer dat dinge nie uitgewerk het nie Antie. Sê vir Oom Derek ek is regtig jammer vir my aandeel in wat gebeur het. Kan ek op 'n ander dag kom kuier?"
"Geen probleem my kind. Groete aan Iris."
"Ek maak so Antie. Totsiens. Totsiens Janice."
Janice antwoord nie. Lawrence stap na sy motor toe. Hy hoor hoe Angela met Janice praat.
"Jy was nou onnodiglik ongeskik."

Die polisieoffisier wonder waar sy medewerker is. Hy sou net gou kafeteria toe gaan maar is nou al weg vir 'n halfuur.
Hy begin skielik dronk in sy kop te voel. Voordat hy omkantel sien hy die die verpleegster wat hom 'n beker koffie aangebied het voor hom.

In die kafeteria sit 'n polisieman by een van die tafeltjies. Hy voel te dronk in die kop om te loop. 
"Ek gaan in die moeilikheid kom omdat ek my pos verlaat het, nou voel ek te siek om te loop."
Hy probeer opstaan maar val vooroor op die tafeltjie.

Rencia lê plat tussen die bosse, geweer in die hand. Haar kamoufleurdrag smelt saam met die omgewing. 
'n Man hardloop koes-koes, geweer in die hand, knap voor haar verby.
Sy lê aan en skiet. Die skoot tref hom in sy rug. Hy struikel vorentoe en val teen 'n boom, dan sak hy stadig af grond toe.
Rencia kyk rondom haar deur die take. Hier is niemand naby nie. Sy kruip vorentoe soos wat in die weermag luiperdkruip genoem word. Daar is nog twee van hulle. Dit neem te lank om by die volgende skuiling te kom. Sy kom orent en hardloop gebukkend maar probeer om enige droeë take te vermy.
Skielik hoor sy, "Ek het jou!"
Rencia duik en draai terselfdertyd. Sy val op haar sy en skiet in die rigting van die stem. Sy tref die vrou in die maag. Die vrou sak geluidloos af op haar knieë.
"Nog een oor."
Sy praat met haarself. Dit is skielik doodstil. Sy vee die sweet van haar voorkop af.
Skielik gaan 'n paar mossies links van haar aan die raas. Daar kom 'n figuur aangesluip. Hy kyk nie in haar rigting nie maar na sy twee makers wat duidelik geskiet is daar naby.
Rencia staan saggies op.
"Fout!" 
Sy skiet hom ook in die bors. 
"Nou is jy morsdood."
Sy gaan sit plat op die grond bene gekruis.
"Dit was nou lekker. Julle het nog baie oefening nodig. Staan op!"
Sy beduie met haar verfbal geweer in hul rigting. Al drie haar slagoffers het rooi verf op hul kamoufleerdrag waar sy hulle geskiet het.
"Dit is mos die lewe, nie spuitnaalde en pille nie."

Rencia en haar drie vriende klim in die 4×4 bakkie.
Die een dame wat voor langs die bestuurder sit skakel die radio aan.
"Daar is gewoonlik lekker musiek op die tyd van die dag."
Heal the World van Michael Jackson blêr oor die luidsprekers. Die dame begin saam te sing.
"Ja wat, ek het darem so twee ure se slaap oor as ek nou tuisgekom het. Dan moet ek weer in my verpleegstersuniform klim vir nagskof.
Die lied stop skielik.
"Goeie middag. Ons onderbreuk hierdie program om 'n dringende noodberig.
Max Adriaanse, alias Meneer M, het vanmiddag ontsnap of is ontvoer uit polisiebewaking. Hy word beskou as gevaarlik en ons waarsku u om hom nie te nader indien u hom sou teëkom nie. Skakel onmiddelik u naaste polisiestasie."
Rencia sit geskok regop.
"Sodra ons meer inligting het sal ons u inlig. Ons verslaggewer is oppad na die hospitaal."
#RooiMier
©Rooi Mier 17.01.2023

Dinsdag 05 Maart 2024

#Stukkendeharte S2 Hfst 42 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 42 - Rooi Mier


"Wat gaan van my kinders word? Ek glo nog altyd dat kinders 'n pa en ma nodig het wat bymekaar is."
Lawrence sit diep in gedagte voor die tv. Behalwe vir die flitsende beelde weet hy nie wat hy kyk nie. 
"Hoe kry Janice dit reg om sommer net ons huwelik nietig te wil verklaar? Ek het regtig geglo dat ons saam 'n lewe kan bou."
"Lawrence, wat pla? Ek het juis die kanale drie keer verander om te kyk of jy hier is. Jy is beslis op 'n ander planeet.
Hoe kan ek jou help met die probleem wat jy duidelik ondervind?"
Iris kom sit langs hom op die bank.
"Dis niks nie ma."
Hy staan op en stap kamer toe.
Iris voel nou bekommerd. Iets groots is aan die gang. 

Bennie kom die leefarea ingestap.
"Waar is Lawrence? Ek moet met hom praat."
"Ek dink hy sukkel met iets groots. Hy is op 'n ander planeet my man."
"Dan beter hy vinnig in sy ruimtetuig klim en terug aarde toe kom. Het hy gedink om te trou is kinderspeletjies?"
"Hoe weet jy dit het met sy huwelik te make?"
"Ek weet net. Waar is hy?"
"Hy het na sy kamer toe gegaan?"
Bennie stap na Lawrence se kamer en klop. Na 'n tweede klop stoot Bennie die deur oop toe Lawrence nie antwoord nie. 
Lawrence sit op die rand van die bed maar sy gedagtes is duidelik ver.
"Huweliksprobleme? Julle sal dit nie kan uitwerk as julle nie saam onder een dak bly nie. Laat Janice en die kinders hier kom bly totdat jy iets anders vind. Die gastekamer is groot genoeg vir julle. Janice sal ook maklik kan rondbeweeg met die rystoel. Die tweeling het mos hul plek hier.
Nie dat ek in julle besigheid wil inmeng nie maar julle was nog nie saam na die troue nie. Dit is nie gesond nie."
Lawrence sit en staar net.
"Lyk my hier is groot fout. Wat is dit seun?"
"Janice wil skei!"
"Skei?"
"Nie eintlik skei nie maar ons huwelik nietig laat verklaar."
"Hoe en waarom? 'n Mens verklaar mos nie net sommer 'n huwelik nietig nie. In elk geval, sover my kennis strek kan dit mos nie sommer net gebeur nie.
Julle is albei oud genoeg, julle was by julle volle sinne, of was daar iemand wat 'n geheim gehou het wat 'n groot impak op julle huwelik kan hê?"
"Dit kan gedoen word pa. Ons was nog nie saam nadat ons getroud is nie."
"Nie saam nie?"
"Pa weet. Nie saam nie; uh…. uh, nie, pa weet."
"Nee, ek weet nie wat jy bedoe… Oooh, jy bedoel julle was nog nie sáám nie. Ag man hoekom sukkel ons so. Ons is mos albei grootmense. Julle was nog nie intiem ná die troue nie.
Wil sy jou daaroor los? Dit kan mos maklik reggestel word. Sy moet net onmiddelik intrek of gaan op wittebrood."
Lawrence se ore raak warm. Dit is mos nie iets waaroor mens met jou ouers praat nie.
"Dit is nie die eintlike probleem nie pa. Sy dink ek is nog verlief op Sahara."
"Is jy? Wees eerlik met jouself."
"Nee pa, natuurlik nie."
Hy kyk op die vloer terwyl hy dit sê.
"Kyk my in die oë terwyl jy dit sê. Is jy verlief op Sahara?"
"Nee pa, nee. Ek lieg nou pa. Ja, ek is.
Dit kan mos nie wees nie, sy was dan my suster."
"Ai my kind. Sy is nog steeds my dogter in my hart. Jy was lief vir haar voordat jy verneem het sy is jou suster; wat ons nou weet nie waar is nie.
My probleem is egter dat ek nog nooit ten gunste van egskeidings was nie, veral nie voordat alles probeer was nie."
"En Mammie gaan my natuurlik vertel dat wat God bymekaar gevoeg het kan niemand skei nie."
"Wie gaan nou skei?"
Iris stap die kamer binne. 
"Ek kon dit nie langer verdra nie, ek moes kom hoor wat aangaan.
Wie gaan skei?"
"Ek en Janice Mammie."
"Moenie sulke grappe maak nie kind. Dit is nie 'n speelsaak nie."
"Hulle gaan Iris. Janice wil …"
"Nee, nee, nee. Eers trou julle in die geheim, nou wil julle sommer net skei? Begrawe my maar."
Iris is ontsteld en gaan sit op die bed langs Lawrence.
"Julle gaan God se Woord verontagsaam."
"Ek weet wat Mammie wil sê. Die vraag is, het God ons werklik bymekaar gevoeg? Het ons nie getrou sonder om God te raadpleeg nie? Sou Hy sy seën op ons huwelik geplaas het Mammie?"
"Moenie jou slim hou nie mannetjie!"
"Ek doen nie Mammie, ek dink maar net hardop."
Iris sit 'n rukkie doodstil. Niemand praat nie.
"Wat is die rede?"
"Ek is nog lief vir Sahara mammie, ek was nog altyd."
Iris staan op en stap uit. By die deur draai sy om.
"Onthou net, mense gaan sê dit is omdat sy in 'n rolstoel is."
Sy stap verder.

"Ek maak vordering met die ouman. Binnekort gaan hy uit my hand uit eet."
Rencia stap uit die hospitaal op pad na haar motor. 
"Ek wonder hoekom dié man altyd hier rond hang. Soms is hy binne die hospitaal, altyd in die omgewing van Max se kamer maar nooit naby genoeg om aandag te trek nie.
Wat is sy saak? Ek sal moet uitvind want ek is seker sy teenwoordigheid het met Max te doen."
Die man klim in sy Mercedes en ry weg. Hy het 'n tevrede uitdrukking op sy gesig.
Rencia staan en kyk hom agterna terwyl hy wegry voordat sy na haar motor stap.

Derek is glad in 'n goeie bui nie.
"Wie dink die kinders is hulle? Eers trou hulle sonder ons medewete dan wil hulle uit die bloute skei?
Hulle het mos geen respek vir my en Angela nie. As Bennie en Iris dink dis reg so is dit hulle saak. Ek duld nie dié sotheid nie. 
Janice dink sy kan met enigiets wegkom net omdat sy verlam is? 
Dink weer my kind. Ek gaan dit stop."

Jenny is in haar noppies.
"Wat 'n voorreg is dit nie om vir my suster as getuie te staan met haar troue. Nie te lank gelede nie het ek gedink dat ek haar nooit weer gaan sien nie."
Sy spring onmiddelik in haar motor om by Mavis uit te kom. 
"Ons moet dadelik gaan inkopies doen. Ons het nie juis tyd nie. My suster gaan nie 'n vaal bruidjie by 'n hof wees nie. Daar moet eenvoudig net iewers 'n pastoor wees wat haar op kort kennisgewing gaan trou."

Steven weet nie wie om te vra om vir hom te staan as getuie nie.
"Al moet ek ook 'n wild vreemdeling kry, sal ek oormôre trou."
Hy onthou skielik vir Martin. Miskien kan ek hom nader. Hulle het nogal lekker gesels by die Van Wyk's woning.
"Meneer Adriaanse, goeie dag."
"Steven? Ek dog dan ons is nuwe vriende. Wat is dit met die meneer?"
"Jammer man. Ek is senuweeagtig en ek weet nie of mens vir jou nuwe vriend so iets kan vra nie."
"En dit is?"
"Jy weet ek is nuut in Upington. Daar was nog nie juis tyd om vriende te maak nie."
"Kom nou tot die punt man. Wil jy nou jou nuwe vriend ook verloor."
Martin vind dit amusant dat Steven so senuweeagtig kan wees.
"Ek soek na 'n strooijonker. Mavis en ek gaan oormôre trou."
"Hopelik is my dagboek oop. Laat ek kyk."
Steven is bekommerd. As Martin nie kan nie wie dan?
"Steven, ongelukkig sal jy maar tevrede moet wees met my. Ja, ek sal."
"Phewww! Jy moenie my hart laat staan voor ek trou nie."
Martin lag hardop. 
"Nee man. Jy moet dan nog wittebrood hou. Gepraat daarvan. Wat is julle plan?"
"Ons het nie juis groot planne nie. Mavis wil graag Van Wyksvlei se mense sien dan kom ons terug."
"Ek kom jou later sien. Stuur vir my jou adres."

Derek spring uit die motor by die hof.
"Ek hoop ek is nog betyds. Daai kinders moet gestop word."
Hy begin net om die trappe te klim toe sien hy Lawrence stoot Janice se rolstoel aan die anderkant af. Hy draai om en gaan wag onder.
"Ek hoop julle het tot julle sinne gekom!"
"Ja, ons het pappa. Dit was 'n groot fout om te trou. Ons is beter vriende en het tot dusver goed na ons kinders gekyk. Pappa sal dit maar moet aanvaar, ons huwelik is nietig verklaar."

Die polisieoffisier wat buite Max se kamer sit hoor die aanhoudende, vervelige 'peep' geluid waar hy sit en koffie drink. Hy is net besig om die beker neer te sit toe die geluid skielik verander.
'Peeeeeeeeeeeeeeeeeep!'
#RooiMier
©Rooi Mier 17.01.2023

Maandag 04 Maart 2024

#Stukkendeharte S2 Hfst 41 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 41 - Rooi Mier


Paul is by Larry se woonplek. Hulle besluit om by Shane te begin. Miskien moes Yvonne weer 'n ander identiteit aanneem. Dalk het Meneer M haar vroeëre identiteit uitgevind. Sy was nog laas Valencia Smith. Hulle maak 'n afspraak met Shane.

Janice is op skype met 'n prokureur. 
"Sê my meneer. Ek het so 'n paar dae gelede getrou. Wat ek wil weet, kan ek my huwelik nietig laat verklaar?
"Wat sou die rede hiervoor wees mevrou?"
"Wel, uhmm, ê ê ek en my man was nou nie na die huwelik intiem nie. Ons het wel twee kinders saam, 'n tweeling, maar hulle is ouer as vier.
Ons was net die eenkeer intiem en dit was onder die invloed van drank na ons matriekafskeid.
Dit is toe dat die tweeling verwek is."
"Was julle lief vir mekaar toe julle getrou het?"
"Nee, hy het iemand anders lief en ek het gedink ek sal hom kan lief hê maar helaas nie.
Ek is lief vir iemand anders."
"Dan behoort ons nie 'n probleem te hê om dit nietig te verklaar nie. Jy moet hom net siver kry om in te stem."
"Dankie meneer. Ek sal gou weer terugkom na u toe. Hier is my e-pos adres vir die rekening."

Martin skakel vir Shane.
"Goeie dag Meneer Adriaanse."
"Goeie môre Speurder Cupido.  Ek wil net verneem wanneer ek my beurt met Max gaan kry."
"Die dokter het gevra dat ons hom nie moet vermoei vandag nie. Sal môre jou pas?"
"Solank hy net nie doodgaan voordat ek hom gesien het nie."

Lawrence antwoord sy foon.
"Ja Janice. Ek wou jou juis iets vra. Praat jy maar eerste."
"Nee, jy eerste. Dit waaroor ek wil praat is redelik ernstig."
"Dan sal ek maar eerste gaan. Ons is man en vrou en dit is tyd dat ek my verantwoordelikhede nakom. Die eerste ding is om woonplek te kry. Ons kan mos nie vir ewig elk by ons ouers bly nie.
Jy is mos immers my vrou en dit is net reg dat ons 'n bed deel.
Ek dink daaraan om Sahara se huis te huur. Sy moet een van die dae terug werk toe gaan. Wat dink jy daarvan?"
"Regtig nou Lawrence. Van al die mense op die planeet moetvdit juis Sahara se huis wees? Die vrou wat jy nie kan vergeet nie. Dink jy ek sal met jou intiem kan wees in haar huis?"
"En nou? Waar kom dit nou vandaan? Wat laat jou dink ek voel nog iets vir haar?"
"Kom nou L. Ek kon dit mos nou die dag gesien het toe jy haar so styf vasdruk."
"Maar ek dink nog aan haar as my suster. Daar is mos nie fout as 'n broer 'n suster 'n drukkie gee nie."
"Nee L. So lank en styf? Gaan vertel dit vir die bobbejaan op die berg.
In elk geval, dit maak nie meer saak nie.
Ek wil hê dat ons ons huwelik nietig moet laat verklaar. Dan is jy mos vry om na Sahara te vry."
"Wat nou? Nietig laat verklaar?"
"Ja. Ek het met 'n prokureur gepraat. Dit is 'n vinnige proses."
"So jy wil nie meer getroud wees met my nie. Sommer net so?"
"Kom liewer na my toe sodat ons ordentlik kan praat en bring sommer my kinders saam."
"Jou kinders?"
"Ja, myne."
""Laat ek liewer swyg. Ek was nou wel bietjie gedrink maar ek weet ek was daar."

Sahara voel net om ver weg te gaan waar sy alleen kan sit in haar motor net met haar gedagtes en niemand by haar nie. Nou moet die palmlaning maar doen.
"Sê nou ek het sy wreedheid geêrf? Sy nou iemand maak my seer, gaan ek hom of haar wil laat boet?
Candice het dit in haar bloed gehad, so dit is heel moontlik dat ek dit ook het maar net tot nou toe onbewus was daarvan."
Sahara probeer vasstel of sy al ooit in haar lewe gevoel het om iemand te laat boet. Daar is hoop vir haar, sy kan nie een episode in haar leeftyd oproep nie.
'n Blink nuwe Mercedes ry stadig in die laning af. 
"Hoekom lyk die man so bekend? Waar het ek die man gesien"
Die man kyk nie rond nie. Hy ry verder in die laning af en gaan stop verder vorentoe. Hy klim uit die motor en gaan sit op die randsteen van die pad aan die voorkant.
Sahara probeer hom pluis maar sy kan nie onthou waar sy hom gesien of ontmoet het nie. Sy snor lyk nie eg van waar sy is nie en sy is seker dat sy hom sal erken sonder sy pet op. 
Na 'n rukkie staan hy op om sy selfoon uit die motor te haal want dit het blykbaar gelui. Hy bly staan terwyl hy praat.
Sy skakel haar motor aan en ry vorentoe om verby hom te gaan. Hy praat nog steeds op die foon. Vir 'n oomblik kyk hy na haar en draai toe weg van die pad af.
Sahara probeer sy gesig nie maar sy kan nie. Om nie aandag te trek nie ry sy tot op die einde van die laning en kom aan die anderkant weer op.
Hy het intussen in die motor geklim en krap nou in die kajuit. Weer kan sy nie sy gesig sien nie. Sy ry maar huiswaarts.

Shane, wat vir Sahara volg maar op 'n redelikke afstand moet bly. Gelukkig ken sy nie dié motor nie want sy eie motor is in vir diens.
Hy sien die Mercedes daar ver voor toe Sahara aan die bokant omdraai en aan die anderkant van die pad terugry. 
Die Mercedes begin ook beweeg. Shane wag tot dit verby hom gaan maar hy kon nie die bestuurder identifiseer nie. Dit is die voertuig wat die dag in die straat by Sahara gestaan het.
Shane moet nog gaan draai en toe hy terug ry is die Mercedes weg. Hy wil nie die res van die polisie op die man se spoor sit nie want hy wil hom nie bewus daarvan maak dat hy gesoek word nie.
" Al wat ek nou kan doen is om Sahara te vind. Moontlik volg die man haar."
Hy sien haar motor staan by Upington slaghuis. Die stukke biltong wat daar hang lyk so lekker maar hy kan nie nou ingaan nie want Sahara is daar.
#RooiMier
©Rooi Mier 17.01.2023

Sondag 03 Maart 2024

#Stukkendeharte S2 Hfst 40 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 40 - Rooi Mier

Hy draai stadig sy kop in die rigting van die stem.
"My dogter. My Sahara, jy het gekom."
"Hôkaai meneer. Stadig oor die klippe. Jy mag dalk 'n enkel swik.
As dit nie vir biologie was nie sou ek nie hier gewees het nie.
Ek is hier om antwoorde te kry."
Shane staan nader.
"Ek gaan net hier buite die deur wees. Roep as jy my benodig Sahara. Onthou, nie nader as twee meter van hom af nie. As jy te naby is sal ek nie kan sien as hy eigiets probeer nie."
"Jy kan maar gerus wees. Sy is my dogter en ek is in elk geval te siek."
"Glo jy jouself Max?"
Met daardie vraag stap Shane uit.
"Ek luister my kind. Jy is 'n pragtige mens. Jou jonger suster, Candice, was net so mooi."
"Uiterlike skoonheid tel niks as jy van binne verrot nie.
Dit is juis een van die dinge wat ek wou weet. Ek vra reguit vrae en jy gee reguit antwoorde.
Het jy Candice vermoor?"
"Nee, ek het nie. Dit was die tyd toe ek op vlug was."
"Jy weet wat ek bedoel. Het jy haar laat vermoor.
"Daardie liewe kind was so 'n gehoorsame kind. Sy het 'n vurige geaardheid gehad. As sy iets wou hê, dan het sy geveg totdat sy dit kry."
"Jy is besig om speletjies te speel. Antwoord my reguit."
"Was jy ook so 'n gehoorsame dogter vir jou grootmaak pa? Dit is jammer dat hy dood is. Ek sou hom wou bedank vir die goeie werk wat hy gedoen het."
"Hou op met jou speletjies. Het jy haar laat vermoor? Ek weet jy is in staat want ek was daar toe jy Antie Yvonne vermoor het, jou eie vrou. Sy was maar net een op wat sekerlik 'n elle lange lys is.
So, is jy instaat om jou eie kind ook te laat vermoor?"
Max antwoord niks en kyk haar net aan.
"So moet ek maar aanvaar dat jy 'n lafaard is wat nie verantwoording vir sy eie dade kan neem nie."
"Ek wil vir jou onder my sorg kry. Jy het glo my wiskundige brein gekry.
Om te dink ek het al die tyd na jou gesoek terwyl jy vir my broer werk. Hy is nou my vyand. Jy mag nie meer vir hom werk nie. Eintlik hoef jy nooit weer te werk nie."
"Ek soek nie jou bloedgeld nie."
"Speurder! Ek is moeg. Sy sal weer op 'n ander dag kom kuier."
Max klink regtig moeg toe hy na die speurder roep.
"Jy gaan mos my aanbod oordink. Goeie nag."
"Onbeskofte buffel."
Sahara draai om en stap uit.

Paul skakel vir Larry. Hy reël om hom by 'n kitskosrestaurant te ontmoet.
"As jy nog nie aandete gehad het nie sal jy seker nie omgee vir 'n burger nie?"
"Dit is nou 'n verassing om van jou te hoor. Ja ek sal kom."

Martin kan nie wag dat Sahara uit die hospitaal stap nie. Hy klim vinnig uit sy motor en loop haar tegemoet waar sy oppad is na die parkeerarea.
Sy lyk onsteld.
"Wat het daai vark gedoen dat jy so onsteld lyk?"
Sahara antwoord nie. Sy stap net aan na haar motor toe.
Martin stap met haar tot by haar motor.
"Hy wou nie my vraag antwoord nie."
"Wat wou jy weet?"
"Ek wou weet of hy my suster Candice laat vermoor het. Hy het nie geantwoord nie."
"Natuurlik sou hy nie antwoord nie. Ek het altyd die blaam gedra vir wat hy aangevang het van kleins af.
Jy stilswye bevestig mos nou dat hy verantwoordelik was vir die  moord op haar."
"Ek wou dit uit sy mond hoor oom Martin."
Martin maak of hy nie agterkom dat sy hom vir die eerste keer oom genoem het nie. Hy voel blydskap in hom opborrel maar nie vir lank nie.
"As sy my oom noem beteken dit dat sy Max as haar pa aanvaar," dink hy so by homself.

Shane is verstreerd. Max is definitief nie onder 'n kalkoen uitgebroei nie. Hy het sonder Sahara se medewete 'n afluister apparaat in Max se kamer geplant in die hoop hy sou iets laat val. 
Niks, Max het hom absoluut bokkerol gegee.  
Hy vorder ook nie met die opsporing van die Mercedes se baas nie.  Die einaar is al jare in Noord Amerika en was ook nie onlangs in Suid Afrika nie.

"Goeie middag Larry. Dit is goed om jou weer te sien."
"Middag Paul. Dit is 'n plesier."
"Kom sit."
Hulle gesels hiervan en daarvan totdat hulle onvermydelik by Max uitkom.
"So jy sê hy is nie in 'n goeie toestand nie."
"Hy was nogals ernstig gewond. Van sy organe is beskadig. 
Sê my, hoekom is jy hier Paul? Wat het jou Upington toe gebring?"
"My suster Yvonne. Ek kon vir maande nog nie kontak met haar maak nie. Dit bekommer my. Sy het ook nie met ons ma kontak gemaak nie. Ek het Upington toe gekom want dit was die laaste plek waar sy gesien was voordat sy Spanjé toe is.
Ek twyfel egter of sy gegaan het. Haar oproepe was van die internet af gemaak.
Ek kon dit naspeur na Spanje toe maar dit was daarheen herlei. Die probleem is, ek kom nie verder as dit nie.
Daarom wil ek jou vra of jy my nie wil help soek nie. Miskien sal sy reageer as jy haar probeer kontak."
"Wel, ek weet nie so mooi nie. Sy het die nie die afgelope tyd met my gepraat nie maar ons kan probeer."

Rencia stap Max se kamer binne. Dit is nadat die nagskof se rondtes afgehandel is.
"Goeie naand meneer. Ek sien u is nog wakker."
"Ja meisiekind, 'n mens kan net soveel slaap. Nou is ek moeg van slaap. Bring jy my medikasie sodat ek weer moet slaap?"
"Ja en nee meneer."
"Noem my sommer Max. Dit klink beter as om my te meneer heel aand."
"Ek wil eintlik weet of meneer, jammer Max, gedink het oor wat ek gesê het?"
"Sjoe, jy vra my 'n swaar ding meisiekind. 'n Mens vat tyd om so 'n besluit te neem."
Max glimlag.
"Weet jy dat jy die eerste mens is wat my vra om iets te doen en daarmee wegkom. Ek is gewoonlik die een wat vra. Nee, beveel!"
Die keer glimlag Rencia.
"Dan is dit hoog tyd dat dinge verander. Daarom moet u dit wat ek gevra het sterk oorweeg.
U wil tog nie eendag, wanneer jy oud is, spyt wees nie.
Kom, dit is tyd vir jou medikasie."
#RooiMier 
©Rooi Mier 17.01.2022

Vrydag 01 Maart 2024

#Stukkendeharte S2 Hfst 39 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 39 - Rooi Mier

Vandag moet die hof besluit of Mavis verantwoordelik gehou moet word vir die ontvoering van Lanice. Natuurlik gaan Lawrence en Janice van Wyk ook daar wees. Behalwe die verslag van die sielkundige wil die magistraat ook weet of hulle enige grondige rede het hoekom hulle dink Mavis verhoor moet word.
Dit maak dat veral Steven nogals redelik senuweeagtig is. Wat nou as sy liefde vervolg gaan word as gevolg van nou die aand se gebeure? Hy hoop maar net niemand gaan iets daaroor sê nie.
Mavis is egter kalm soos atyd. Sy glo dat niks met haar gaan gebeur wat God nie wil hê moet gebeur nie.

Die hof verrigtinge verloop redelik vinnig. Voordat die magistraat die inhoud van die verslag bekend maak wou hy eers weet of die ouers enigiets wil sê. 
Albei Lanecia se ouers sê omdat Mavis nie regtig 'n gevaar vir haar was nie en haar eintlik wou beskerm hulle die magistraat se bevinding gaan aanvaar.
Die verslag stel dit duidelik dat sy nie op daardie oomblik toerekenbaar vir haar dade was nie en dat sy eintlik gedryf was deur haar drang om klein dogtertjies te beskerm omdat sy haarself in hulle sien.
Die verslag beveel ook aan dat sy  terapiesessies moet hê vir ten minste ses maande of langer indien die sielkundige dit nodig ag. 
Die magistraat beveel aan dat sy voorlopig nie verhoor gaan word vir 'n tydperk van twaalf maande nie en dat indien daar geen verdere voorvalle in dié tydperk is nie, die hof haar moet kwytskeld.

Steven en Mavis is oorstelp van blydskap. Sy wou net by die huis kom sodat sy die Hemelse Vader kon bedank.
Na hul gebed, praat Mavis troue. 
"Steven, kan ons nie ons troudatum vervroeg nie asseblief. Jenny gaan een van die dae terug Bloemfontein toe. Ek wil haar graag hier hê met my troue."
"As jy nou praat van vervroeg dan praat ons nou van wanneer?"
"Die Vrydag. Dit is maar net 'n week vroeër as wat dit oorspronklik sou wees. Al wat verander moet word is die datum vir die pastoor en die spyseniering."
"Dan beter ons sommer nou die betrokkenes laat weet. Ek sal moet kyk vir 'n strooijonker."
"Amper vergeet ek daarvan Steven. Ek sal sommer vir Jenny of Sahara vra om my strooimeisie te wees."

Die 'sakeman' probeer die polisiemanne wat vir Max oppas se agtergronde naspeur. 
"Dit is maar altyd die beste as 'n mens weet met wie jy te doen kry as jy iemand wil omkoop. Jy kyk na sy onmiddelikke familie, met ander woorde, is hulle gesond, waarvan hou hulle, wat hul toekomtige planne is. Hy kyk na die familie se finansiële omstandighede en hul roetines.
Volgens Max se mediese verslag gaan hy nog 'n tydjie in die hospitaal bly. So ek hoef nie haastig te wees nie.
O ja! Ek sal die verpleegpersoneel ook moet navors. Daar is dalk net 'n verpleegster wat my kan help."
Nadat hy 'n paar e-posse gestuur het, verlaat hy die hotel. Hy gaan vanmiddag 'n bietjie uit na 'n plaas naby Warmsand waar hy teiken skiet gaan doen.
Soos sy gewoonte geword het loop hy eers reg rondom sy Mercedes en kyk of daar dalk aan enigiets gepeuter was.

Sahara dink die afgelope tyd baie aan Max, haar biologiese pa. Sy sukkel eintlik nog om dit te verwerp; net soos om te aanvaar dat Antie Jenny eintlik haar ma is.
"Wat maak 'n mens in my situasie? My pa is nog nie buite gevaar nie. Besoek ek hom? As ek hom besoek, sal hy dink ek aanvaar hom? As ek hom nie besoek nie, is ek 'n monster?"
Sahara het die meeste van die nag hiermee geworstel. Dit is nou al laat oggend en sy weet nog nie wat om te doen nie.
Sy skakel haar radio aan en daar is 'n bespreking oor Max Adriaanse oftewel, die berugte Meneer M. Daar is 'n sielkundige op die paneel en sy probeer ontleed wat in so 'n persoon, met soveel slagoffers, se kop aangaan.
Net daar besluit sy om hom te besoek. Sy skakel Shane om te verneem wat die prosedure is.

Shane is uit die veld geslaan toe hy Sahara se versoek hoor.
"Is jy seker jy is reg om hom te besoek?"
"Ek sal seker nooit reg wees nie Meneer Cupido maar ek moet hom besoek."
"Wat wil jy uit die besoek kry? Jy gaan dit dalk nie kry nie. Die besoek kan jou dalk net meer hartseer bring."
"Ten minste sou ek met hom gepraat het. Wat as hy sterf? Dan loop ek met onbeantwoorde vrae."
"Wel, as sy dogter kan ek jou nie keer nie maar ons moet net seker maak hy is in staat om te gesels. Ek gaan vasstel wat sy toestand is en jou laat weet."

Sahara het skaars afgelui toe Shane se foon weer lui. Martin se naam is op die skerm.
"Goeie môre Martin. Hoe kan ek help? Ek wil juis vir jou kom besoek."
"Ek wil graag vir Max besoek."
"Het ek reg gehoor?"
"Ja, jy hoor reg. Ek wil my broer besoek."
"Jy ook! Wat het julle vanoggend gedrink?"
"Van wie praat jy Speurder? Wie nog wil hom besoek?"
"Sahara het nou net afgelui."
"Asseblief Speurder, jy kan nie my klein niggie aan daai monster bloot stel nie. Keer haar."
"Ongelukkig is dit haar volste reg om hom te wil besoek. Daaraan kan ek niks doen behalwe verseker dat sy fisies veilig is."
"Dan kan ons mos saam gaan."
"Nee ongelukkig nie. Hy is 'n hoë risiko gevangene en mag net een besoeker op 'n slag ontvang. Dan glo en ook nie dat die dokter nog iemand gaan toelaat om hom vandag te sien nie gegewe sy kondisie. Ek sal moet reël vir môre. Jy kan hom dalk eers môre besoek."

Op die plaas kyk die 'sakeman' vergenoegd na die plakkate van Max wat bo-oor die teikens gegom is. Al die skote wat hy geskiet het is kop of hartskote.
"Maxie, jammer my vriend maar jy is dooier as dood."

Sahara het 'n oproep ontvang van Shane af om die tyd wat sy kan besoek te bevestig. Dit sal so 'n halfuur voor sy volgende medikasie wees. 
Haar foon lui weer. Haar baas, wat ook nou haar oom is. Sy antwoord soos iemand wat nie weet wie dit is wat bel nie. Nadat sy uitgevind het wie haar pa is het sy probeer om hom te vermy.
"Sahara Muller goeie middag?"
"Goeie middag Sahara. Dit is jou oom Martin."
"Ja Meneer. Hoe kan ek help?"
"Jy kan help deur eerstens vir my Oom Martin te noem. Daar is nie nou meer 'n rede om my meneer te noem nie."
"U is nog steeds my werkgewer."
"En jou oom. In elk geval, moenie vir Max besoek nie. Jy stel jouself bloot aan sy boosheid behalwe die fisiese gevaar."
"Ongelukkig het ek klaar bezluit meneer. Niemand gaan my stop nie."
"Laat my dan toe om saam met jou te gaan."
"Dit sal nie nodig wees nie meneer. Daar is polisie."
"Dan sal ek maar daar naby wees."

Rencia lê nog in die bed met 'n boek genaamd '#Stukkendeharte' geskryf deur Rooi Mier. Haar gedagtes is egter nie by wat sy lees nie. Sy is te opgewonde oor die komende nagdiens wat sy gaan verrig.

Janice doen 'n bietjie navraag op die internet. Sy ontdek dat skei nie die enigste manier is om uit 'n huwelik te kom nie. Iets het jaar oog gevang. 'n Huwelik kan ook nietig verklaar word as die paartjie nie hul huwelik voltrek het nie; dit beteken hul eerste seksuele verkeer na die troue. 
"Ah. Dit is nou interresant. Ek sal net eers 'n prokureur moet nader om uit te vind wat gebeur as die paartjie voorheen seksueel verkeer het."

Shane stel Sahara voor aan die polisiewag by Max se kamerdeur.
Hulle kyk haar verwonderd op en af. Dit is asof Sahara hul gedagtes kan lees.
"Is sy ook in staat tot die gruweldade van haar pa?"
Shane begelei haar die kamer in.
"Max!"
Hy draai stadig sy kop in die rigting van die stem.
"My dogter. My Sahara, jy het gekom."
#RooiMier 
©Rooi Mier 17.01.2023

Plekke in #Stukkendeharte -Upington

Plekke in #Stukkendeharte -Upington Gordonia Hospitaal Dr Harry Surtie Hospitaal Upington Medi -Clinic ...