#Stukkendeharte S2 Hfst 43 - Rooi Mier
Die polisieoffisier wat buite Max se kamer sit hoor die aanhoudende, vervelige 'peep' geluid waar hy sit en koffie drink. Hy is net besig om die beker neer te sit toe die geluid skielik verander.
'Peeeeeeeeeeeeeeeeeep!'
Die offisier skrik so groot dat hy van die stoel afval. Hy spring op, vuurwapen in die hand, sy broek is nat. Die beker lê daar eenkant en sy bene brand van die warme vloeistof wat op sy skoot geval het. Hy probeer die broek wegtrek van die sensitiewe area af terwyl hy by die kamer in storm.
Hy is verbaas om te sien dat daar reeds 'n dokter en 'n verpleegster in die kamer is.
"Hou almal uit die kamer offisier. Ons neem hom gou vir 'n nood operasie."
Die dokter skree bevele uit terwyl hy en die verpleegster Max by die kamer uitstoot.
"Niemand mag hier inkom nie, bly hier binne."
"Ja dokter."
Die offisier is maar net te bly hy hoef nie uit die kamer te gaan nie. Die verpleegster het hom alreeds ongemaklik laat voel toe sy betekenisvol na die nat kol kyk.
"Nou is ek weer Janice Louw. Dit is 'n goeie ding dat ek nie 'n nuwe id laat maak het by Binnelandse Sake nie."
Lawrence loer net skuins na Janice waar hulle in sy motor ry.
"Nou kan jy maar voortgaan om agter Sahara aan te hardloop. Voel dit nie siek nie? Sy was immers jou suster."
"Janice, hou op om lelik te wees. Ek en jy het kinders om saam groot te maak. Jy vergeet gerieflikheidshalwe dat jy nog nie oor Larry is nie.
Kom ons wees vriende soos voorheen of ry in stilte voort."
"Jammer L maar dit is deur daai feeks se pa dat ek in 'n rystoel is. Daar is geen manier hoe ons vriende kan wees as vir solank as jy lief is vir haar nie."
"Waar kom al die bitterheid nou skielik vandaan? Jy was nog altyd so vergewensgesind. Ek ken nie dié nuwe Janice nie. Haat maak 'n mens lelik. Jy kan dit aan die kinders oordra."
Lawrence laai haar by die huis af. Gelukkig is die tweeling by die kleuterskool want hy sal nie nou met hulle kan deel nie.
Hy help Janice uit die motor op die rystoel. Sy sukkel nog met die oorklimmery.
Derek is voor hulle tuis. Hy is briesend en loop op en af soos 'n leeu in 'n hok. Hy sien hoe Lawrence vir Janice help in die stoel. Voorheen sou hy na die motor gestap het om haar in te stoot; dié keer laat hy toe dat Lawrence haar in stoot. Hy loop die huis in.
"Derek, jy sal moet leer om jou emosies te beteuel my man. Die kinders is nou nie meer saam nie en jou woede gaan dit nie verander nie."
"Los my net af vroumens."
Hy storm by die agterdeur uit. Angela kyk hom kopskuddend agterna. Sy stap om Janice by die deur te ontmoet.
"Goeie dag Lawrence."
"Hallo Ma, jammer, Antie Angela."
"Hoe gaan dit met jou?"
"Jammer dat dinge nie uitgewerk het nie Antie. Sê vir Oom Derek ek is regtig jammer vir my aandeel in wat gebeur het. Kan ek op 'n ander dag kom kuier?"
"Geen probleem my kind. Groete aan Iris."
"Ek maak so Antie. Totsiens. Totsiens Janice."
Janice antwoord nie. Lawrence stap na sy motor toe. Hy hoor hoe Angela met Janice praat.
"Jy was nou onnodiglik ongeskik."
Die polisieoffisier wonder waar sy medewerker is. Hy sou net gou kafeteria toe gaan maar is nou al weg vir 'n halfuur.
Hy begin skielik dronk in sy kop te voel. Voordat hy omkantel sien hy die die verpleegster wat hom 'n beker koffie aangebied het voor hom.
In die kafeteria sit 'n polisieman by een van die tafeltjies. Hy voel te dronk in die kop om te loop.
"Ek gaan in die moeilikheid kom omdat ek my pos verlaat het, nou voel ek te siek om te loop."
Hy probeer opstaan maar val vooroor op die tafeltjie.
Rencia lê plat tussen die bosse, geweer in die hand. Haar kamoufleurdrag smelt saam met die omgewing.
'n Man hardloop koes-koes, geweer in die hand, knap voor haar verby.
Sy lê aan en skiet. Die skoot tref hom in sy rug. Hy struikel vorentoe en val teen 'n boom, dan sak hy stadig af grond toe.
Rencia kyk rondom haar deur die take. Hier is niemand naby nie. Sy kruip vorentoe soos wat in die weermag luiperdkruip genoem word. Daar is nog twee van hulle. Dit neem te lank om by die volgende skuiling te kom. Sy kom orent en hardloop gebukkend maar probeer om enige droeë take te vermy.
Skielik hoor sy, "Ek het jou!"
Rencia duik en draai terselfdertyd. Sy val op haar sy en skiet in die rigting van die stem. Sy tref die vrou in die maag. Die vrou sak geluidloos af op haar knieë.
"Nog een oor."
Sy praat met haarself. Dit is skielik doodstil. Sy vee die sweet van haar voorkop af.
Skielik gaan 'n paar mossies links van haar aan die raas. Daar kom 'n figuur aangesluip. Hy kyk nie in haar rigting nie maar na sy twee makers wat duidelik geskiet is daar naby.
Rencia staan saggies op.
"Fout!"
Sy skiet hom ook in die bors.
"Nou is jy morsdood."
Sy gaan sit plat op die grond bene gekruis.
"Dit was nou lekker. Julle het nog baie oefening nodig. Staan op!"
Sy beduie met haar verfbal geweer in hul rigting. Al drie haar slagoffers het rooi verf op hul kamoufleerdrag waar sy hulle geskiet het.
"Dit is mos die lewe, nie spuitnaalde en pille nie."
Rencia en haar drie vriende klim in die 4×4 bakkie.
Die een dame wat voor langs die bestuurder sit skakel die radio aan.
"Daar is gewoonlik lekker musiek op die tyd van die dag."
Heal the World van Michael Jackson blêr oor die luidsprekers. Die dame begin saam te sing.
"Ja wat, ek het darem so twee ure se slaap oor as ek nou tuisgekom het. Dan moet ek weer in my verpleegstersuniform klim vir nagskof.
Die lied stop skielik.
"Goeie middag. Ons onderbreuk hierdie program om 'n dringende noodberig.
Max Adriaanse, alias Meneer M, het vanmiddag ontsnap of is ontvoer uit polisiebewaking. Hy word beskou as gevaarlik en ons waarsku u om hom nie te nader indien u hom sou teëkom nie. Skakel onmiddelik u naaste polisiestasie."
Rencia sit geskok regop.
"Sodra ons meer inligting het sal ons u inlig. Ons verslaggewer is oppad na die hospitaal."
#RooiMier
©Rooi Mier 17.01.2023