Vrydag 15 September 2023

#Stukkendeharte S2 Hfst 23 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 23 - Rooi Mier


Nog voordat hy regtig begin het gee Max op. Upington is nie klein nie so om 'n vroedvrou te soek wat gehelp het met 'n geboorte meer as twee dekades gelede is malligheid. Baie van die vroedvroue destyds was ook nie eers geregistreer nie.
"Ek sal maar by die naam moet soek. Dit kan ook moeilik wees want die ma van my kind kan getroud wees. Dalk geskei daarna en weer getrou. Mens weet nooit. 
Ek sal maar my polisiekontakte gebruik om by binnelandse sake navrae te doen. 
Dit is goed dat Shane gister weer weg Kaap toe is. Nou kan ek eers weer asemhaal. 
Ek is nogal bly dat ek hom nie geskiet het nie. Dit is lekker om iemand soos hy as opponent te hê. As hy dood moet wees, wie sal sy adrenalien kan laat pomp?
Maar jy het 'n vervaldatum Shane. Geniet maar nou nog jou 'beste voor' datum."

Lawrence, Sahara en Larisa sit by 'n bekende braaihoender plek. 
"Ek het julle hierheen gebring want ek het iets belangriks om met julle te bespreek."
"Ons luister."
Sahara wonder wat so belangrik kan wees dat Lawrence sy suster en sy beste vriendin nodig het.
"Ek wil met Janice trou!"
Lawrence laat dit insink. Sahara en Larisa is uit die veld geslaan.
"Jy sê trou? Het ek reg gehoor L? Jy wil met Janice trou?"
"Jy het reg gehoor Larisa."
Sahara is nog steeds doodstil. Haar hartklop het versnel en dit lyk of sy nie genoeg suurstof kry nie.
"Wat makeer Sahara? Verstik jy?"
"Nee, ek is reg jammer."
"L, het jy vergeet van die vorige keer toe jy haar gevra het om te trou en sy 'nee' gesê het?"
"Larisa, ek voel dit gaan die keer anders wees. Larry is verbied om naby haar te kom."
"Maar dit verhoed haar nie om nog steeds lief te wees vir hom nie."
"Ek en haar ouers gaan nie toelaat dat Larry naby my tweeling kom nie."
"Sahara, praat jy. Daar is 'n sielkundige term vir sy huidige toestand. Die Engels sê so mooi, 'blank state of the mind.'
Hy is nou breinloos."
"Is jý lief vir haar Lawrence?"
Sahara probeer haar stem so normaal moontlik hou.
"Ek dink ek sal lief kan word vir haar."
"So jy wil met haar trou omdat jy jammer vir haar voel? Dit sal nooit hou nie want niemand wil vir altyd bejammer word nie."
"Maar ek moet met haar trou Sahara ter wille van my kinders."
Sahara staan skielik sonder woord op en haas haar na die badkamer toe.
Larisa kyk haar aandagtig agterna. 
"Kan dit wees? Nee, dit kan tog nie, of wil ek dit maar net nie glo nie?"
"Wat makeer haar nou? Wil jy nie gaan kyk nie Larisa?"
"Nee, sy sal nou terug wees. Sy is maar net ontsteld omdat haar broer in 'n liefdelose huwelik wil gaan."
"So is jy ook daarteen gekant Larisa?"
"Ja en nee. Ek wou nog altyd hê dat jy en Janice moet trou maar daar moet ten minste liefde wees."
Sy kyk op haar horlosie.
"Ek sal moet gaan pak sodra Sahara terug is. Jy moet my maar laat weet na die groot vraag."

Sahara is baie ontsteld.
"Hoe kan Lawrence sy lewe op 'n liefdelose huwelik uitmors?
Ek kan en mag nie met hom trou nie maar hy moet gelukkig wees.
"Dit is al manier dat ek berusting gaan vind."
Sy was haar gesig en stap uit met 'n aangeplakte glimlag.
"Ek moet alweer om verskoning vra. Jy is 'n grootman Lawrence. Jy moet doen wat reg voel vir jou."

Larry het 'n boodskap van Shane ontvang om te vra dat hy by die polisiestasie moet aanmeld sodat hulle hom kan verskuif na 'n veiliger plek toe want hy is seker dat Max in Upington sal wees en dat hy definitief sal weet waar hy tuisgaan.
Hy het Shane belowe maar toe hy aflui het hy besluit dat hy nie meer gaan weghardloop van Max af nie. Al wat hy gaan doen is om op 'n ander plek net hier in Upington gaan bly.
"Max het my toekoms geruineer. Hy sal moet boet.
Hy is 'n luis wat doodgedruk moet word. Wie kan ek nader om my te help?"
©Rooi Mier 17.01.2023

Donderdag 14 September 2023

#Stukkendeharte S2 Hfst 22 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 22 - Rooi Mier


"Goeie middag Meneer. Ek weet nie eers wat u naam is nie."
"En jy het ook nie nodig om te weet nie want ek betaal jou kontant."
"Reg so meneer. Ek het vir u fotostate gemaak van die geboortes op die gegewe dag. Ongelukkig het die vrou na wie u spesifiek gevra het nié op die dag, die dag tevore of die dag daarna hier geboorte gegee nie."
"Dit kan nie wees nie. My informant het my verseker dat my dogter op dié spesifieke dag gebore is."
"Meneer, mense hier rond het soms tuis geboorte geskenk. Dalk het 'n vroedvrou gehelp met die geboorte. Hulle was ook meestal ouer vroue so daar is 'n kans dat die vroedvrou dalk nie meer lewe nie."
"Sjoe, maar jy is skerp. Ek gee jou sommer 'n noot of twee ekstra. As jy my na dié transaksie ooit iewers gesien het, gee ek jou familie ekstra vir jou doodskis."
"Ek verstaan meneer. Baie dankie."
"Net om jou te verseker dat ek weet waar jy bly, jou geld sal onder die middelste potplant, die groot wit pot, wees."
Dit was 'n plesier om met u besigheid te doen meneer."
"Watter besigheid? Ek ken jou nie."
Mnr M stap weg. 
"Ek sal 'n ander plan moet maak want die vals snor laat my jeuk."

"Hoe voel jy vanoggend my lief?"
"Ek weet nie Steven. Natuurlik is ek bly om te weet my suster lewe en is nog gesond. Ek sukkel net met die feit dat sy my alleen gelos het."
"Mavis, sy was basies ontvoer. Onthou ook dat sy maar 'n kind was. Miskien moet jy haar kant van die storie oordink. Sy wou jou eintlik beskerm van die misdadigers daarom het sy daarna stilgebly."
"Sy het nogtans vir jare niks gesê nie."
"Ek hoor jou. Jy moet ook onthou dat sy, nes jy, getraumatiseer was deur al die gebeure."
"Kom ons bid daaroor my liefling."
"Gepraat van bid, ons moet aan ons troue werk. Is maar eensaam daar op daai groot bed met jou in die kamer langsaan."
"Ek kan mos om kom vanaand."
Steven gee 'n ondeunde oogknip.
"Here, verlos my tog net van die bose asseblief."
Mavis lag.
"So ek is die bose? My baie, baie outydse aanstaande bruid."
"Ons sal sien wie is outyds op ons huweliksnag."

Lawrence se kop is 'n warboel van gedagtes. Daar is so baie dinge om nou in ag te neem. 
"Janice sal nooit toelaat dat ek die kinders in my sorg neem nie.
Ek kan dit ook nie van haar verwag nie. As kind het ek geleer wat die waarde van 'n ma in my lewe was.
Ja, pa's het ook 'n onskatbare waarde; dit sal ek nie kan ontken nie, maar daar is net iets besonders aan die band tussen ma en kinders in die meeste gevalle.
Is Janice 'n goeie ma vir my kinders? Ja, sy is. 
Sal sy 'n goeie ma vir hulle uit 'n rystoel wees? Ek weet nie. 
Die toekoms is nou skielik so onseker. Miskien moet ek maar vir Janice vra om met my te trou, dan is die kinders mos in ons albei se sorg.
Dit klink nogals na 'n plan. Ja, dit is definitief 'n oplossing.
Ek gaan haar weer vra om te trou."
Hy besluit om sy besluit eers net met Larisa te deel. Hulle twee kom darem al baie lank aan as vriende. 
"Dalk moet ek Sahara saam neem as ek na Larisa toe gaan. Dit sal vandag nog moet wees want Larisa gaan môre terug Kaap toe."

Martin is na die begrafnis van Rachel nog meer verbitterd. Max het Rachel so vervreem van haar eie familie dat daar nie 'n enkele van hulle was nie.
Dit was net hy en 'n paar van sy personeellede van sy firma. Sy het gereeld daar kom kuier dan het sy sommer saam met die vrou wat die tee maak vir hulle aangedra en soms skons gebak en vir hulle gebring.
Dit is jammer dat Sahara nie daar kon wees nie. Sy het vir hulle albei soos 'n dogter gevoel.
Hy voel meteens hartseer. Watter beroepe sou sy kinders gevolg het? Sou een van hulle dalk al getroud gewees het? Sou hy al 'n oupa gewees het?
Leo en Craig het hul suster Sandra soms so geïrriteer maar hulle was baie lief vir mekaar.
Dan was daar sy oorlede vrou Estelle. Wat 'n liefdevolle mens was sy nie. Martin het gedink ná haar sou hy nooit weer liefhê nie totdat Rachel weer in sy lewe gekom het. Ou liefde roes nie of hoe?
Skielik kom Max se beeld weer voor hom.
"Hoe maak mens 'n kokkerot dood?"
©Rooi Mier 17.01.2023

Woensdag 13 September 2023

#Stukkendeharte S2 Hfst 21 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 21 - Rooi Mier


Max is vroegoggend by Gordonia Hospitaal om rekords te probeer kry wat dalk die identiteit van sy dogter bekend gaan maak. Die administrasie personeellid vir wie hy genader het vra of hy later of dalk die volgende oggend kan terugkom want dit gaan hom tyd gee om te soek. 
Die liaseerstelsel van die argiewe is glo baie deurmekaar vir 'n nuweling. 
Max sê dat hy hom net tyd gee tot 16:00 wanneer die administratiewe personeel se werksdag eindig.

Shane is vroeg by die bushalte. Die vorige aand het hy vasgestel dat vlugte uit Upington nou hopeloos te duur geraak het. Hy moet sy kinders so vinnig moontlik uitsorteer sodat hy sy volle aandag weer op Max kan plaas. As daar een persoon is wat hy glo binne die landsgrense sal bly al is hy 'n vlugteling van die gereg is dit Max Adriaanse. Dit is asof hy 'n uitdaging aan die polisie rig.
" Vang my as julle kan."
"Nou sit ek met nog 'n raaisel, Selwyn Rooi. Is hy vermoor en in die see gedamp of het hy net verdrink. Ek verwerp egter die verdrink storie."

Sahara het dieselfde bloutjie geloop met die vliegkaartjies. Sy het egter vir Martin gebel en verskoning gemaak omdat sy dit nie betyds gaan wees vir die begrafnis nie, daarom gaan sy maar liewer bly in Upington.
Sy is vroeg op omdat sy nie meer kon slaap nie. Tot haar verbasing vind sy Antie Jenny ook in die kombuis.
"Goeie môre Antie. U is vroeg op?"
"Ag, ek kon nie meer slaap nie. Goeie môre."
"Maak twee van ons."
"Antie skuld my nog 'n verduideliking oor hoekom u hier is."
"Ek sal jou hopelik binnekort kan inlig Sahara."
In haar kop het sy nou al al die gesprekke en scenarios afgespeel. 
"Hoe gaan Mavis my ontvang?
Sal sy verstaan dat ek haar alleen agtergelaat het by daai vrou wat veronderstel was om ons ma te wees?
Hoe vind ek nou vir Mavis? Is sy getroud met die man aan haar sy?"

Steven laai vir Mavis by die adres af net voor 11:00 daardie oggend. Hy sal haar weer so oor 12:00 kom optel.
Mavis kon dit gister uit die vrou kry wat haar so hartseer maak. Sy het haar tweeling dogters bietjie meer as 'n maand gelede in 'n fratsongeluk albei verloor, nadat sy net 'n paar dae vroeër verneem het dat haar man nog net om en by twee maande oor het om te leef. Kanker is deur sy hele liggaam versprei.
Mavis, wat almal voorheen 'n skinderbek genoem het, het in die laaste dae ontpop tot Mavis die versorger. Dit lyk of die moederliefde wat sy nooit ontvang het nie, uit gaar vloei na andere al is hulle soms ouer as sy.
Teen 12:00 kom sy en die vrou uitgestap. Dit lyk of hulle ou vriendinne is. Mavis belowe om weer gou te kom inloer terwyl sy na Steven toe stap in die voertuig. Sy sien beweging uit die hoek van haar oog by die huis langsaan.
Dit is sowaar die vrou van die eetplek gister. Die vrou het haar ook gesien en is vinnig oppad na die hek toe. Sy kom na die voertuig toe.

"Mavis? Is dit jy?"
"Ja, moenie vir my sê dit is Margaret nie. Is dit?"
"Ja, dit is ek, jou suster Margaret."
Mavis staan versteen. Sy weet glad nie hoe om op te tree nie. Jenny se trane begin vloei. Sy omhels vir Mavis maar Mavis se liggaam verstyf net.
Sy weet dat dit haar suster is want sy kan haar vaagweg onthou as 'n dogtertjie so drie jaar ouer as sy.
Hoe het sy nie verlang na die herontmoeting nie maar nou kan sy nie reageer nie. 
Steven klim uit die voertuig. Hy kon sy oë noe glo toe hy die ooreenkoms tussen die vroue van nader aanskou nie.
"Dames, ons is in die straat. Kan ons nie iewers gaan gesels nie?"
"Ek bly net langsaan by my kleinniggie. Kom ons gaan daarin."
Binne die huis toe almal sit stel Jenny haarself voor aan Steven want Mavis is nog nie by magte om te reageer nie.
"My naam is Jenny meneer, maar eintlik is ek Margaret, Mavis se ouer suster."
"Ek is Steven. Mavis is my aanstaande."
Mavis reageer uiteindelik.
"Margaret, is dit regtig jy? Waar was jy my suster? Ek was so alleen."
Sahara stap daar in. Sy het die voertuig buite gesien en gewonder wie dit kan wees. Verwonderd steek sy in die deur vas en kyk van die vreemde en tog bekende vrou af na Antie Jenny toe en terug.
Steven staan op.
"Dit is Steven en dit is sy verloofde Mavis. Hierdie jong dame is Sahara."
Jenny sien die vrae in Sahara se oë.
"Aangename kennis."
Steven kan nie help om te glimlag oor die verwarring op Sahara se gesig nie.
Jenny neem Sahara aan die hand.
"Sit, ons moet praat."
Sahara gaan sit stadig. 
"Het my ma-hulle 'n suster waarvan ek nie kennis dra nie?"
"Dit is my suster Mavis."
"Ek verstaan nou nie. So dit is my auntie. Hoekom dra ek nie kennis van haar nie?"
"Nee, dit is my suster maar nie jou auntie nie."
"Nou verstaan ek glad nie antie."
"Eintlik is ek nie regtig jou auntie nie. Ek is nie jou ma se bloedsuster nie."
"Wat bedoel antie nou?"
"Jou oupa en ouma het my aangeneem, of soort van aangeneem."
Sahara staan op en loop op en af. 
"Wat is dit met julle grootmense? Hoekom hou julle altyd geheime? Dit is mos nie 'n skande om aangeneem te wees nie."
"Dit was nie so eenvoudig nie Sahara. My aanneming was nie wettig nie daarom het Pappie en Mammie stilgebly daaroor."
Mavis kan sien dat beide Magaret, of dan Jenny soos sy nou bekend staan, en Sahara ontsteld is. 
"Dan moet jy dit aan haar verduidelik sodat sy verstaan wat jy bedoel. Ek sal ook graag wil hoor want ons ma het gesê dat jy aangeneem was deur ander mense."
"Kom ek vertel julle wat ek kan onthou.
Ek was vyf jaar oud en Mavis so drie. Ons ma het ons weer een aand alleen gelos. 
Ek kon Mavis nie daardie aand troos nie. Sy het aanhoudend gehuil. Ek weet ek kon dit nie meer verdra nie.
Ons ma het altyd vir my blameer as sy terugkom en jy huil. Sy het my 'n slegte ouer suster genoem en dan vir my 'n vreeslike pakslae gegee.
Dit kon ek hanteer want ek was al gewoond aan die slanery. Wat ek egter nie kon hanteer nie was wanneer sy jou pakgegee het totdat jy jouself natmaak. Dan het sy jou verder pakgegee omdat jy jouself natmaak.
Vergewe my Mavis. Ek kon dit nie meer hanteer nie. Sy het ons altyd van buite af toegesluit so ek het deur die venster geklim.
My doel was om hulp te gaan soek. Daar was 'n bakkie in die hoofstraat. Ek het die man genader vir hulp. Hy het my ingelaai en begin ry. 
Die man wou nie ry na waar ek beduie het nie maar aanhou ry. Deur verskeie dorpe. Ek het later gesien daar lê 'n ander man agter op die bakkie.
Die man onder die seil het probeer wegkom van die polisie af. Na ure het hy weer gestop. Ek kon die ligte van 'n dorp sien. Dit was Upington. Terwyl hy en die man in die bos gegaan het, het ek uitgeklim en in die veld gehardloop. 
Die mans het my gesoek. Ek het gehoor hoe hulle belowe om my, sowel as my familie dood te maak as ek enigiemand sou sê van hulle. Dit het my vreesbevange gemaak Mavis. Ek was meer bekommerd oor jou as oor myself. 
Toe dit heeltemaal lig word was ek in die dorp. Daar het jou ouma my in die straat gevind Sahara. Sy het my versorg en omdat ek nie wou sê wie ek is en waar ek vandaan kom nie, kon sy julle nie probeer opspoor nie.
Hulle het my Jenny genoem. Ek het een aand gehoor hoe Pa en Ma baklei oor my. Pa wou dat ek aan die maatsksplike werkers oorhandig moet word. Ma het gesê net as hy nie lief geword het vir my nie.
Daarna het ek net aangebly en Jenny geword."
"Magaret of Jenny, ek weet nie hoe ek oor jou storie moet voel nie. Weet jy hoeveel aande ek daarna alleen moes sit en wag.
Mammie het gesê dat as ek nie soet is nie sal die skaduwees teen die muur my ook kom haal en opeet. 
Weet jy hoe ek probeer het om nie saans 'n geluid te maak nie veral as die skaduwee teen die muur my bekruip het?
Besef jy hoeveel oggende ek pak gekry het omdat ek myself bevuil het want die skaduwee het 'n verlammende uitwerking op my gehad?
Al wat verligting gebring het was toe ek skool toe moes gaan. Ten minste kon ek uit die huis ontsnap en namiddae slaap sodra ek die huis skoongemaak het voor Mammie tuis kom.
Ek het op 'n stadium regtig geglo dat jy dood is totdat Mammie vir iemand vertel het 'n kinderlose egpaar het jou aangeneem.
Toe het ek jou begin haat. Hoe kon jy alleen weggaan?
So my suster, as ek jou nie om die nek val nie vergewe my."
©Rooi Mier 17.01.2023

Dinsdag 12 September 2023

#Stukkendeharte S2 Hfst 20 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 20 - Rooi Mier


Vir 'n oomblik weet Mavis glad nie wat om te doen nie. Sy staan vinnig op en loop eers na Steven toe wat besig is om sy bestelling te kollekteer. Halfpad draai sy egter om en stap vinnig na die deur toe. 

Sy is net betyds om haar om 'n draai te sien gaan na die uitgang toe. Sy volg. Buite sien sy hoe die vrou in 'n motor klim. 

Sy probeer so vinnig moontlik na die motor toe beweeg maar in haar haas stamp sy 'n vrou se inkopietrollie om.

"Jou onnoselle dwaas. Kyk jy nie waar jy loop nie."

Mavis se aandag so fokus op die vrou in die motor dat sy net vaagweg bewus is van die trollie. Sy probeer die kruideniersware wat uitgeval het systap.

"Ek moet met haar praat. Sy kan nie wegkom nie."

Skielik voel sy 'n hand aan haar arm trek.

"Waarheen dink jy gaan jy? Jy sal moet betaal vir die skade."

Sy kyk verward om in die gesig van die woedende vrou en terug na die motor wat besig is om uit te trek.

Stadig draai sy terug na die vrou wat lyk of sy die giftigste slange met haar kaal hande kan vang. Haar oë gaan grond toe. Daar is twee gebreekte bottels tamatiesous en 'n pakkie koekmeel wat stukkend is, verder is die paar ander items nog heel.

"Jy moet betaal vir al die goed wat hier lê."

Steven het intussen opgedaag. Hy plaas die sakkie in sy hand in die steeds verdwaasde Mavis sn, laat die inkopietrollie regop staan en begin pak alles wat heel is netjies terug in die trollie.

"Ek is jammer vir wat hier gebeur het mevrou. Ek sal betaal vir die skade. Moet ek dit gaan koop of wil u die geld hê?"

Die vrou bars skielik in trane uit. 

"Dit kan mos nou nie wees oor die paar items wat gebreek het nie en hy gaan dit mos nou terugkoop."

Steven weet nie hoe om op te tree nie.

Mavis se omgee sy skop onmiddelik in. Sy weet wat seer is en dit wat sy hoor is iemand wat seer het.

Sy staan onmiddelik nader en plaas haar hand op die vrou se skouer.

"Kan ek u help tot by u motor? Steven, bring jy haar trollie."

Mavis vergesel die vrou tot by haar motor terwyl Steven die trollie bring. 

Nadat alles in die motor gepak is kyk Mavis vir Steven en wys hom met die kop om eers weg te gaan.

"Ek gaan gou die gebreekte items koop."

Die vrou wil nog protesteer maar Mavis dwing hom met haar oë om te gaan.


Sahara, wat meestal tyd by haar pa se woning deurgebring het vandat sy in Upington aangekom het is tuis toe Jenny daar aangery kom. 

"En as Antie nou so lyk? Wat het gebeur?"

"Later Sahara, gee my net kans om te herstel."

Ok. Ek wil antie net inlig dat ek môre Kaap toe vlieg. Dit is Antie Rachel se begrafnis, sy is my baas se skoonsuster. Die een wat nou die dag in Saldanha doodgeskiet is."

"Jy meen Max se vrou! Bly liewer hier my kind. Dit kan gevaarlik wees. Jy weet nie of daai moordenaar ook daar gaan opdaag nie."

"Ek weet dit is moontlik. Eintlik hoop ek hy kom want ek het nodig om te sien of dit die gesig van die man in die motor is toe sy geskiet was.

Ek wil ook my verlof gaan verleng terwyl ek daar is. Sal seker maar onbetaald moet wees maar ek moet help met die tweeling."

"Jy kan mos foto's van hom kyk."

"Dit is nie dieselfde nie antie. Sien jou dan later antie. Ek wil vanmiddag met Lawrence en die tweeling deurbring."

Jenny kyk haar vraend aan en dink.

"Die kind is nog nie oor Lawrence nie."

Haar gedagtes keer terug na vroeër die middag. Die oomblik toe sy die vrou se refleksie in ruit sien, het sy besef dit is die vrou wat by die hof uitgestap het. Sy het vinnig opgestaan en uitgestap. Oppad uit het sy opgemerk die vrou volg haar.

"Miskien is dit tyd vir my om die waarheid in die oë te staar.

Ek sal een of ander tyd met Mavis moet praat."


Terwyl Max met die verpleegster staan en praat lui sy foon. Hy maak verskoning en stap uit.

Shane wat agter hom verby gestap het hoor die stem en dink by homself. 

"Die stem klink bekend."

Hy kyk in die rigting van die stem maar hy ken nie die man nie. Die man stap haastig in die rigting van die uitgang.

Shane stap verder aan na die saal waar Janice is.

"Ja, ek luister."

"Middag meneer. Ek wil net laat weet dat u vrou môre in Durbanville in die Kaap begrawe word."

"Dankie dat jy laat weet het. Ek sal egter nie daar kan wees nie. Jy moet op 'n afstand bly en vir my foto's vat. Ek wil duidelik sien wie almal daar is en ook presies waar haar graf is."

Hy druk af en gaan sit in die motor. Kan dit wees? Van alle mense is daar trane in Max se oë.

"Rachel hoekom moes jy my verraai? Twee keer my liefling; eers by die gereg en toe met my broer. Jy het my hart vertrap. Was jy nie veronderstel om deur dik en dun by my te staan nie?"

Hy kyk in die spieël en sien dat sy manspruik effens skeef op sy kop sit.


Janice weier om met Shane te praat. Angela probeer haar oorreed maar sy weier. Volgens haar is haar lewe verby. Al wat nou saak maak is haar kinders.

Shane verseker vir Angela dat dit nie 'n probleem is nie. Dit is te verstane dat sy nog nie gereed is nie. Hy stap uit want hy moet by Larry uitkom. Miskien kan hy hom ooreed om ten minste verskuif te word uit Upington of die wag wat hy voorheen gehad het weer met hom sal hê.


Max glimlag en skud sy kop. "Die man is knaend."

Hy haal sy vuurwapen uit en rig dit op Shane se hart.

Shane is besig om sommer hier by hom met 'n oproep besig.

"Nee, miskien is 'n kopskoot beter.

Nee, dit is net in films wat hulle na die kop toe mik."

Hy mik weer op die hart. Hy plaas sy vinger op die sneller, sy oë gefokus op die plek waar Shane se hart is.

"Nou!"

Shane is besig om met 'n heftige stemtoon met iemand te praat. Hy is duidelik kwaad.

Max se glimlag verbreed as dit enigsins moontlik is.

"Na  al die drama wat ons gehad het is dit nou so maklik."

Hy voel die adrenalien pomp. Sy vinger is reeds om die sneller gekrul. Hy moet net druk.

Max laat sak die wapen.

"As ek jou nou skiet kan dit jare vat voor ek met my dogter gaan ontmoet en 'n verhouding met haar gaan bou."

Hy het skaars die wapen weggesit of Shane kyk direk na hom. Behalwe dat Max vermom is, is dit ook duidelik dat Shane se kop op 'n ander plek is. Iets moes hom ontstel het.


Shane is onsteld. Sy dogter het laat weet dat sy ex se vriend haar op en af bekyk sodra hy alleen is met haar.

Toe hy met sy seun praat om hom te vra om sy suster op te pas as diè vriend kom kuier het hy iets onstellend gesê.

Hy het glo die man betrap waar hy sy suster so bekyk het en sy lippe afgelek het. Die man het oorgeslaap en hy is seker hy het hom in die nag in die gang gehoor waar hy en sy suster se kamers is.

Die volgende oggend het hy sy ma gevra daaroor maar sy sê hy maak stories op.

Shane is vasbeslote om nog die volgende oggend terug Kaap toe te vlieg. Hy sal maar sy motor iewers moet los.

Niemand is belangriker as sy kinders en hul veiligheid nie.


Hy klim in sy motor en sit die radio aan.

"Dit is tyd vir nuusflitse hier op Radio Riverside.

Gister is 'n liggaam ontdek in Saldanha op die strand. Die liggaam is onherkenbaar as gevolg van die feit dat visse of ander seediere aan dit gevreet het.

Daar is egter 'n identiteitskaart in een van sy sakke ontdek. Die naam daarop is Selwyn Rooi."

©Rooi Mier 17.01.2023

Maandag 11 September 2023

#Stukkendeharte S2 Hfst 19 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 19 - Rooi Mier


'n Ouerige man het so pas uit sy voertuig by Medicity uitgeklim en is oppad na die hoofingang van die hospitaal. Hy sien vir Larry by die motor inklim en steek vas.

"Ek kan my oë nie glo nie. G, binne my bereik. Ek kan net my pistool uithaal en skiet dan is alles verby.

Dit is so jammer G, of Larry soos hulle jou deesdae noem. Jou dood sal eers 'n rukkie moet wag want ek moet eers my dogter vind. 

Ek kan nie nou bekostig om weer op vlug te gaan terwyl niemand weet ek is in Upington nie. Gmmff, jy ry nogals 'n Duitse motor. Jy was seker hier by jou meisie."

Meneer M stap verder nadat hy die registrasie gememoriseer het. 

"Ek moet sê, my vermomming as Sandra May is nogals goed maar die nadeel is dat ek nie met my mansstem met enigiemand kan praat nie.

Laat ek gaan hoor hoe dit met Janice gaan."

Max weet nie hoekom hy vir haar omgee nie want hy het haar nog nooit eers ontmoet nie. Hy voel in sy sak of die R500 omkoop geld nog in sy sak is. 

"Iewers hier binne sal daar 'n verpleegster of verpleër wees wat 'n paar rand sal waardeur vir inligting."


Shane parkeer sy voertuig en stap by die hoofingang van Mediclinic in. Hy voel baie gespanne die afgelope tyd. Dit voel vir hom of sy persoonlike lewe hom negatief beïnvloed in sy werksomstandighede. 

Hy stap deur na die saal waar Janice lê. As speurder sal hy maklik toegang tot haar kry.

Shane kan nie die gevoel afskud dat hy iets mis nie maar wat? Hy loop agter 'n ou man verby wat met 'n verpleegster staan en gesels. 

"Miskien het Janice tog iets ongewoons gesien voordat sy geskiet is. Ek hoop Larry is tuis as ek nou weer na sy woonplek toe gaan. Sy ma het hom nog gisteroggend laas gesien en is baie bekommerd oor hom."


Jenny lê wakker in die middel van die nag. Sy kan maar net nie die gesig uit haar gedagtes kry nie.

"Waar het ek die gesig gesien. Vreemd dat 'n gesig my soveel kan pla."

Sy probeer deur haar verlede te hardloop van skooldae af  maar nie een van die gesigte wat sy onthou, pas by die een nie.

"Mense verander deur die jare maar daar bly altyd iets agter van hul jonger dae.

Nee, sy was beslis nie deel van my vriendekring op skool of universiteit nie."


Die volgende oggend terwyl sy haar tande borsel onthou sy skielik van 'n fototjie wat sy agter in haar ou groen identiteitsboekie rondgedra het. Sy het nou 'n ID kaart maar sy is seker dat die boekie iewers in die deurmekaar handsak is wat sy altyd saamneem as sy reis al dra sy dit nie saam  oral nie.

Nadat sy aangetrek het gooi sy al die inhoud van haar sak op die bed uit. Die id boekie is ook daar. Binne die plastiekomhulsel op die agterblad is die foto. Vandat sy die foto ontvang het, het sy so 'n paar keer net vlugtig daarna gekyk. Dit maak te seer.


Later daardie dag loop Steven in die winkelsentrum rond terwyl Mavis by 'n klerewinkel in is. Hy het nooit erg gehad om klere te koop nie. Sarie het maar altyd vir hom gekoop. Hy trek aan wat hy gewoonlik eerste sien in sy kas. Baie keer het hy nie eers geweet dat hy so 'n kledingstuk het nie.

Hy staan en kyk na die vertoonvenster van 'n winkel wat juweliersware verkoop. Hy kyk na die manshorlosies.

Daar verskyn 'n beeld in die venster; die refleksie van 'n vrou wat agter hom verby loop en na die venster kyk.

Steven kyk die refleksie agterna en draai om om haar agterna te kyk. 

Mavis kom van agter en slaan hom liggies op sy sitvlak.

"En as jy ander vrouens so agterna staar as ek jou vir 'n paar minute alleen los?"

Steven draai om en glimlag.

"Nooit my blom. Ek het klaar die mooiste in geur en kleur van al die rose gepluk."

"Vleier maar dit verander nie die feit dat jy wel gestaar het nie. Of kyk jy maar net die menu?"

"Ernstig nou Mavis. Daai vrou lyk baie na jou. Is jy seker jy het nie familie hier rond nie?"

"Nie wat ek van weet nie maar 'n mens weet nooit."

Steven neem die inkopies by haar en hulle stap aan. 

"Kom ons gaan eet burgers vir middagete."

"Jong, jy weet ek is nie gewoond aan die gemorskos nie maar ter wille van my mannetjie sal ek maar vandag probeer."

Sy gaan by 'n tafel vir twee.

"Gaan bestel jy maar vir my ook, ek sal nie weet wat om te bestel nie."

Steven stap na die toonbank toe om te bestel. Na 'n rukkie kom sit hy om te wag vir hul bestelling. Dit werk volgens nommers. 

Mavis kan nie glo dat sy so gelukkig kan wees nie. Sy het vir Steven jare geken maar sy het nog nooit dié sy van hom gesien nie. Nie dat hy nie lief vir Mavis was nie maar hy het verskriklik baie gedrink. Dus kon jy nooit sy omgee sy waarneem nie.

Ai, as die dronk mans net kan besef hoeveel hulle hul gesinne ontneem.

Dit is asof Steven bewus raak van haar gedagtes. Hy kyk op in haar oë, knipoog vir haar soos die jongmans soms doen as hulle aanlê. 

Agter Mavis sit 'n vrou. Dit is die vrou wat Steven 'n paar minute gelede gesien het.

Mavis merk dat sy aandag afgetrek is. Sy kyk hom vraend aan.

"En nou?"

" Die vrou van 'n paar minute gelede sit agter jou. Probeer omkyk sonder om uitgevang te word."

"Dit gaan moeilik wees as sy reg agter my sit."

"Ok, vat my foon en maak of jy 'n selfie vat; of nog beter neem 'n selfie met haar gesig op."

Mavis lig die foon en poseer kastig. Sy kry die vrou agter haar in beeld en snak na haar asem. Omdat haar vinger reeds gereed was om te druk gebeur dit meer uit skok as wat sy wou druk.

Sy sit die foon stadig neer. Haar oë is groot terwyl sy na Steven kyk. 

Hy hoor sy bestellingsnommer en staan op om hul kos te gaan kry.

Mavis kan dit nie langer verdra nie en draai om. Die vrou is nie meer daar nie. Mavis sien haar by die deur uit loop. 


In Saldanha is die strand in rep en roer. Daar lê 'n liggaam wat duidelik uitgespoel het. Die seediere het duidelik al gedeeltes van die liggaam weggevreet. 

Mense staan daar rond met gesigte wat in afsku vertrek is en neuse wat toegedruk word maar hulle staan. 

Iemand onthou darem om die polisie te bel.

©Rooi Mier 17.01.2023 

Plekke in #Stukkendeharte -Upington

Plekke in #Stukkendeharte -Upington Gordonia Hospitaal Dr Harry Surtie Hospitaal Upington Medi -Clinic ...