Maandag 11 September 2023

#Stukkendeharte S2 Hfst 19 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 19 - Rooi Mier


'n Ouerige man het so pas uit sy voertuig by Medicity uitgeklim en is oppad na die hoofingang van die hospitaal. Hy sien vir Larry by die motor inklim en steek vas.

"Ek kan my oë nie glo nie. G, binne my bereik. Ek kan net my pistool uithaal en skiet dan is alles verby.

Dit is so jammer G, of Larry soos hulle jou deesdae noem. Jou dood sal eers 'n rukkie moet wag want ek moet eers my dogter vind. 

Ek kan nie nou bekostig om weer op vlug te gaan terwyl niemand weet ek is in Upington nie. Gmmff, jy ry nogals 'n Duitse motor. Jy was seker hier by jou meisie."

Meneer M stap verder nadat hy die registrasie gememoriseer het. 

"Ek moet sê, my vermomming as Sandra May is nogals goed maar die nadeel is dat ek nie met my mansstem met enigiemand kan praat nie.

Laat ek gaan hoor hoe dit met Janice gaan."

Max weet nie hoekom hy vir haar omgee nie want hy het haar nog nooit eers ontmoet nie. Hy voel in sy sak of die R500 omkoop geld nog in sy sak is. 

"Iewers hier binne sal daar 'n verpleegster of verpleër wees wat 'n paar rand sal waardeur vir inligting."


Shane parkeer sy voertuig en stap by die hoofingang van Mediclinic in. Hy voel baie gespanne die afgelope tyd. Dit voel vir hom of sy persoonlike lewe hom negatief beïnvloed in sy werksomstandighede. 

Hy stap deur na die saal waar Janice lê. As speurder sal hy maklik toegang tot haar kry.

Shane kan nie die gevoel afskud dat hy iets mis nie maar wat? Hy loop agter 'n ou man verby wat met 'n verpleegster staan en gesels. 

"Miskien het Janice tog iets ongewoons gesien voordat sy geskiet is. Ek hoop Larry is tuis as ek nou weer na sy woonplek toe gaan. Sy ma het hom nog gisteroggend laas gesien en is baie bekommerd oor hom."


Jenny lê wakker in die middel van die nag. Sy kan maar net nie die gesig uit haar gedagtes kry nie.

"Waar het ek die gesig gesien. Vreemd dat 'n gesig my soveel kan pla."

Sy probeer deur haar verlede te hardloop van skooldae af  maar nie een van die gesigte wat sy onthou, pas by die een nie.

"Mense verander deur die jare maar daar bly altyd iets agter van hul jonger dae.

Nee, sy was beslis nie deel van my vriendekring op skool of universiteit nie."


Die volgende oggend terwyl sy haar tande borsel onthou sy skielik van 'n fototjie wat sy agter in haar ou groen identiteitsboekie rondgedra het. Sy het nou 'n ID kaart maar sy is seker dat die boekie iewers in die deurmekaar handsak is wat sy altyd saamneem as sy reis al dra sy dit nie saam  oral nie.

Nadat sy aangetrek het gooi sy al die inhoud van haar sak op die bed uit. Die id boekie is ook daar. Binne die plastiekomhulsel op die agterblad is die foto. Vandat sy die foto ontvang het, het sy so 'n paar keer net vlugtig daarna gekyk. Dit maak te seer.


Later daardie dag loop Steven in die winkelsentrum rond terwyl Mavis by 'n klerewinkel in is. Hy het nooit erg gehad om klere te koop nie. Sarie het maar altyd vir hom gekoop. Hy trek aan wat hy gewoonlik eerste sien in sy kas. Baie keer het hy nie eers geweet dat hy so 'n kledingstuk het nie.

Hy staan en kyk na die vertoonvenster van 'n winkel wat juweliersware verkoop. Hy kyk na die manshorlosies.

Daar verskyn 'n beeld in die venster; die refleksie van 'n vrou wat agter hom verby loop en na die venster kyk.

Steven kyk die refleksie agterna en draai om om haar agterna te kyk. 

Mavis kom van agter en slaan hom liggies op sy sitvlak.

"En as jy ander vrouens so agterna staar as ek jou vir 'n paar minute alleen los?"

Steven draai om en glimlag.

"Nooit my blom. Ek het klaar die mooiste in geur en kleur van al die rose gepluk."

"Vleier maar dit verander nie die feit dat jy wel gestaar het nie. Of kyk jy maar net die menu?"

"Ernstig nou Mavis. Daai vrou lyk baie na jou. Is jy seker jy het nie familie hier rond nie?"

"Nie wat ek van weet nie maar 'n mens weet nooit."

Steven neem die inkopies by haar en hulle stap aan. 

"Kom ons gaan eet burgers vir middagete."

"Jong, jy weet ek is nie gewoond aan die gemorskos nie maar ter wille van my mannetjie sal ek maar vandag probeer."

Sy gaan by 'n tafel vir twee.

"Gaan bestel jy maar vir my ook, ek sal nie weet wat om te bestel nie."

Steven stap na die toonbank toe om te bestel. Na 'n rukkie kom sit hy om te wag vir hul bestelling. Dit werk volgens nommers. 

Mavis kan nie glo dat sy so gelukkig kan wees nie. Sy het vir Steven jare geken maar sy het nog nooit dié sy van hom gesien nie. Nie dat hy nie lief vir Mavis was nie maar hy het verskriklik baie gedrink. Dus kon jy nooit sy omgee sy waarneem nie.

Ai, as die dronk mans net kan besef hoeveel hulle hul gesinne ontneem.

Dit is asof Steven bewus raak van haar gedagtes. Hy kyk op in haar oë, knipoog vir haar soos die jongmans soms doen as hulle aanlê. 

Agter Mavis sit 'n vrou. Dit is die vrou wat Steven 'n paar minute gelede gesien het.

Mavis merk dat sy aandag afgetrek is. Sy kyk hom vraend aan.

"En nou?"

" Die vrou van 'n paar minute gelede sit agter jou. Probeer omkyk sonder om uitgevang te word."

"Dit gaan moeilik wees as sy reg agter my sit."

"Ok, vat my foon en maak of jy 'n selfie vat; of nog beter neem 'n selfie met haar gesig op."

Mavis lig die foon en poseer kastig. Sy kry die vrou agter haar in beeld en snak na haar asem. Omdat haar vinger reeds gereed was om te druk gebeur dit meer uit skok as wat sy wou druk.

Sy sit die foon stadig neer. Haar oë is groot terwyl sy na Steven kyk. 

Hy hoor sy bestellingsnommer en staan op om hul kos te gaan kry.

Mavis kan dit nie langer verdra nie en draai om. Die vrou is nie meer daar nie. Mavis sien haar by die deur uit loop. 


In Saldanha is die strand in rep en roer. Daar lê 'n liggaam wat duidelik uitgespoel het. Die seediere het duidelik al gedeeltes van die liggaam weggevreet. 

Mense staan daar rond met gesigte wat in afsku vertrek is en neuse wat toegedruk word maar hulle staan. 

Iemand onthou darem om die polisie te bel.

©Rooi Mier 17.01.2023 

Sondag 10 September 2023

#Stukkendeharte S2 Hfst 18 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 18 - Rooi Mier


Lawrence sit saam met Derek en Angela Louw en wag vir die dokter. Sy is al 'n uur daar binne met Janice.  Vandag wil die dokter met hulle praat nou kom sy nie uit om te praat nie. As sy maar net weet dat hulle al van die vorige aand al daar sit. Hulle het net vanoggend gaan stort en ander klere aangetrek. Derek het daarop aangedring dat Angela 'n ordentlike ontbyt eet en toe is hulle terug. Lawrence het hier sit en wag.

Hulle probeer positief wees maar dit raak al moeiliker. Derek het al 'n hele paar kilometer afgelê tussen die deur en die wagkamer. Dit is senutergend om stil te moet sit.

Angela het al die fotoalbum op haar foon met Janice en die tweeling 'n hele paar keer deurgekyk.

Uiteindelik gaan die deur oop en die dokter kom uit. Sy vra hulle om haar na haar kantoor te vergesel.

Nadat almal hulle sitplekke ingeneem het bied die dokter iets te drinke aan maar niemand wou iets neem nie.

"Dokter, die seuwees knaag. Wil u nie maar vir ons vertel nie."

Angela kan nie langer wag nie.

"Reg so. Ek gaan reguit wees. Die skoot het baie skade aangerig. Drie van Janice se rugwerwels is beskadig."

"Wat beteken dit dokter?"

"Ek het haar vanoggend aan verskillende toetse onderwerp, sy is verlam."

"Verlam? My kinders se ma verlam?"

Lawrence het al vroeër van Angela af gehoor dat Janice moontlik verlam kan wees maar om uit die mond van 'n dokter te hoor dat sy definitief verlam is, is nogtans moeilik.

Hy staan op en stap uit die dokter se kantoor. 

"Wat nou? Hoe gaan dit Lorenzo en Lanice beïnvloed?"

Hy besluit om huistoe te gaan om bietjie tyd met hulle te spandeer. Daar is duidelik niks wat hy verder hier kan doen nie.


"Ek moet vandag by Mediclinic uitkom om vas te stel hoe dit met Max se nuuste slagoffer gaan. As dit kan bewys word dat hy agter dié aanval sit, is dit nog 'n klag by Max se lys. 

Hy werk ook reeds daaraan om bewyse te kry dat die moord op Rachel Adriaanse, ook sy werk is. Dan is daar die omkopery van die bewaarders. Twee van hulle wat hom moes bewaak toe hy in die hof moes verskyn het soos mis voor die son verdwyn.

Hy moet ook nog vir Larry besoek. Die aanval op Janice beteken Meneer M is op sy spoor.


Jenny kan nie die vrou vergeet nie. Om een of ander rede bly die gesig spook by haar. 

"Nou is daar egter iets anders wat haar aandag verg. Ek het gedink ek het tyd maar Sahara se aankoms hier het my ontkant gevang.

Dalk koop die krisis met die tweeling se ma my meer tyd."

Larry, wat toe nie weggegaan het nie en hier by die hospitaal rond te hang totdat hy iets hoor van Janice af. Hy sien Lawrence na sy motor toe stap. Hy het al foto's van hom saam met die tweeling gesien.

Hy besluit om hom te nader om te hoor hoe dit gaan met Janice.

"Hallo."

"Môre meneer. Kan ek help?"

Lawrence herken nie vir Larry onmiddelik nie.

"Ek wil eintlik net hoor hoe dit met Janice gaan."

Lawrence kyk hom skielik met meer aandag aan.

"Larry nê. Wat soek jy hier. Ek wil jou nie na aan Janice of my kinders hê nie. Jou teenwoordigheid in hul lewens plaas hulle in gevaar."

"Asseblief Lawrence. "

"Moenie my asseblief Lawrence nie. As gevolg van jou is sy nou verlam. Gaan weg en bly weg!"

"Verlam?"

"Ek het gesê gaan weg voor my oë. Ek sweer vandag, as enige van my kinders soveel as 'n haar verloor as gevolg van jou gaan jy daarvoor boet."

Larry stap weg na die motor wat hy al gisteraand moes gaan inhandig het.

"Verlam? Janice is verlam as gevolg van my."

Hy klim in die motor en sit met sy kop op die stuurwiel.

"Hoekom bring ek soveel seer oor diegene wat ek lief het? Eers Yvonne, nou Janice."

Hy lig skielik sy kop van die stuurwiel af op.

"Dit is alles Meneer M se skuld. Hoekom laat hy my nie in vrede nie?

Max Adriaanse, jy gaan boet vir jou dade. As die polisie jou nie kan vind nie sal ek.

Jy het genoeg mense vernietig. Dit is tyd dat jy vernietig word!"

Daar kom 'n vasberadenheid op sy gesig.


Martin is besig met begrafnisreëlings. Hy moes ook vandag die liggaam gaan uitken het. Max, sy eie broer, het sy lewe uitmekaar geruk. Daar het 'n haat binne hom ontwaak. Dit voel of dit aanhou groei en groei. Die reëlings help nie juis nie

"Max moet boet vir die leed wat hy my aangedoen het. Om ontslae van hom te raak sal vir my voel soos om 'n vlieg dood te slaan."

©Rooi Mier 17.01.2023

Vrydag 08 September 2023

#Stukkendeharte S2 Hfst 17 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 17 - Rooi Mier


Mavis moet 11:00 die volgende oggend in die hof verskyn waar sy moet pleit. Die hof sal dan ook moet besluit of sy in aanhouding moet bly en of sy 'n gevaar vir die samelewing is.

Steven besluit om, voordat hy Upington toe moet haas eers die regte ding te doen. Dit is 06:00 in die oggend dus is die nagskof nog aandiens.

Hy stap die polisiestasie binne. 

"Goeie môre Kaptein, Sersant en Konstabel."

"Goeie meneer. Ons kan niks nou vir jou doen nie asseblief. Toelaat ons om ons verslae van ons skof af te handel."

"Dit is reg so Kaptein. Daar is net iets wat ek wil sê.

Gedurende die nag was u en die Sersant uit. Ek wou inkom om by die konstabel te hoor hoe die met my aanstaande gaan. Hy was nie hier voor in die kantoor nie.

Ek het toe stilletjies in geglip om net te loer voordat hy terugkom in die kantoor. Hy was in die sel waar my verloofde is. Ek het gedink hy wou haar molesteer en het weggekruip om te loer."

Almal is skielik geïnteresseerd in wat Steven wil sê. Die spanning hang dik in die kantoor. 

"Hy het haar van die vloer af opgetel, op die bed neergelê en .."

"Voordat jy verder iets sê, wil ek hê jy moet dit in 'n verklaring noem want dit is 'n ernstige klag wat jy nou teen die konstabel gaan bring.

Sersant, neem sy verklaring af sodat ons kan reg handel met dié konstabel. Ons kan nie molesteerders in ons geledere toelaat nie."

Daar kruip 'n glimlag om die kaptein se mondhoeke. Sy gedagtes werk oortyd.

"Ek het jou katvis."

"Daar is niks om te verklaar nie Kaptein. Hy het haar opgetel, op die bed gelê en haar toegetrek. Ek kon duidelik sien dat hy omgee vir haar."

Die kaptein se stem is skielik driftig.

"Jy kan nie gevolgtrekkings maak van sy gevoelens nie en jy het dalk nie gesien dat hy onbehoorlik aan haar vat nie.

Hy het onwettig opgetree deur in die sel te gaan en jy kan ook toegesluit word want jy het ook onwettiglik 'n area betree wat jy nie moes nie meneer."

"Ja, is so kaptein maar ek het ook gehoor dat jy 'n verhouding met die Adjudant se vrou het. Jy het dit basies met jou eie mond erken.

So Konstabel, as hy jou verder probeer boelie, want dit is wat hy doen, kontak my.

En o ja, baie dankie. Julle het my mooi van range geleer deur die nag. Totsiens, ek moet in Upington kom."

Die konstabel en die sersant glimlag onderlangs terwyl die kaptein kan ontplof van woede.


Lawrence is baie vroeg op. Hy het 'n paar ure se slaap gehad, nou moet hy by die hospitaal by Janice kom. Eintlik is hy kwaad omdat sy sy kinders in gevaar gestel het deur met daai Larry deurmekaar te wees.

"Hoe kon sy? Wat as my kinders beseer was of .. Laat ek liewer nie daaraan dink nie.

Nou lê sy self in die hospitaal en kan moontlik verlam wees. Alles omdat sy op die verkeerde man staan en verlief raak het. 

Dit was nie lekker om 'n 'nee' te kry op jou vraag om te trou nie."

Hy gaan klim in sy motor en ry hospitaal toe. Die tweeling slaap nog by hul huis want Janice se ouers is albei by die hospitaal. Hopelik kan hy vandag dié Larry en Mnr M ding bespreek.

Sy verblyf in Upington was veronderstel om 'n geheim te wees maar toe gaan raak die mannetjie verlief op Janice en kom uit met die hele sak patats.

Nou is Mnr M weer op vrye voet. Die polisie kon hom nog nie vind nie.


Sandra May, 'n middeljarige vrou met swart hare ry stadig vanaf Keimoes na Upington. Sy wil nie onnodig aandag trek nie. 

Sy het Keimoes ingery as 'n ouerige gryskop tannie, nou lyk sy heelwat jonger. 

Sy kyk in die spieël en glimlag.

"Ek sal Keimoes moet aanbeveel vir enigiemand wat blitsig jonger wil word; net 'n pruikie hier en 'n roompie daar en siedaar, 10 tot 15 jaar af van jou ouderdom.

Niemand sal my maklik herken nie." 

Sy klap so in die ry met haar linkerhand op haar regter skouer.

"Ek is 'n meester."

Hy lag weer.

"Nee man, 'n meesteres."


Shane is besig om oor die laaste brug Keimoes in te ry. Net oor die brug sien hy die motor waarin die ou vrou uit Calvinia gery het. Daar is 'n man besig om dit oop te sluit. 

"Dit is seker maar nie dieselfde motor nie. Die bekommernis oor my dogter is besig om my opmerksaamheid te beïnvloed.

Nie meer ver Upington toe nie. Dit is deur Meneer M dat ek nou daai plek ook ken. Ek het altyd gedink dit is 'n klein droë plekkie maar was nogals aangenaam verras. Al wat pla is net die hitte."


Steven is naarstigtelik besig om na 'n prokureur te soek om Mavis te verteenwoordig. Uiteindelik vind hy iemand wat nog vanoggend in die hof kan wees. 

Nadat hy verduidelik waaroor dit gaan gee hy die sielkundige by wie Mavis 'n afspraak het later die week se besonderhede.

Die prokureur verseker hom dat hy sy bes gaan doen om Mavis uit die tronk te hou tot en met die hofsaak.


Steven en Mavis stap hand aan hand uit die hof. Die magistraat sê alhoewel dit 'n ernstige aanklag is, kan hy nie sien dat sy gevaar vir die samelewing kan wees nie. Hy het haar saak vir twee maande uitgestel sodat sy terapie kan ontvang. Dit behoort ook genoeg tyd te wees vir die aanklaer en verdediging.


Jenny kyk oopmond na die paartjie wat so pas by die hof uitgestap het. 

"Daardie vrou, waar het ek haar gesien? Ek is seker ek het haar al gesien.

Ag, vergeet haar, jy het groter probleme Jenny. Mens maak soms jou probleme eskuleer want jy is te bang om die waarheid te vertel. Later, wanneer jy verplig word om die waarheid te vertel is dit hopeloos te laat en jy weet jy gaan persoonlike verhoudings vertroebel."


Sandra May sit in Schroederstraat in Upington en kyk na die hotel. Sy het dit oorweeg om daar tuis te gaan maar het daarteen besluit. 'n B&B sal beter vir haar werk net in geval sy weer 'n hy moet wees. Nie in geval nie want sy moet by die hospitaal uitkom. Die mense sal haar skeef aankyk as sy hulle aanspreek met 'n diep, growwe stem. Nadat sy vir 'n B&B op die internet gesoek het, ry sy. 


Shane wag vir die duur Duitse motor van die swartkop vrou om uit die parkering te trek want hy gaan by die hotel bly. Sy plek is bespreek.

"Ek wonder of Max in Upington is of sal hy kom?"

©Rooi Mier 17.01.2023

Donderdag 07 September 2023

#Stukkendeharte S2 Hfst 16 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 16 - Rooi Mier


"Goeie naand mevrou." 
Larry stap na waar hy vir Angela sien sit in die wagkamer.
"Jy beter hier wegkom. My man het laat weet hy soek jou nie na aan Janice nie."
"Ek verstaan mevrou maar ek wil net weet hoe dit met haar gaan. Sy was reg om nie met my geassosieer te wil wees nie. Ek het net leed op haar pad gebring."
"Sy is stabiel. Jy het seker al gehoor dat daar 'n moontlikheid is dat sy verlam kan wees."
Larry trek sy asem hard in.
"Asseblief mevrou, sê dit is nie waar nie."
"Dit is wat die dokter gesê het. Hyself sal eers moet wag totdat sy heeltemaal by haar positiewe is voor hy sal kan toets. So dit is nie 'n uitgemaakte saak nie."
"Ek is so jammer mevrou. Dit is nie wat ek wou hê nie. Ek is so lief vir Janice.
Wat kan ek doen om dit makliker vir jou te maak mevrou."
"Niks nie Larry. Jy moet nou weggaan. My man is oppad en as hy jou hier kry is daar moeilikheid.
Jy moet hom kans gee om eers alles te verwerk."
"En Lanice? Is sy ok?"
"Gelukkig ja. Sy is nie liggaamlik beseer nie maar ons sal haar moet dophou. Sy moes baie trauma verduur.
Gaan nou."
"Totsiens mevrou. Ek is regtig jammer. Sê vir Janice ek sê groete. Ek gaan uit haar lewe verdwyn."
Hy stap weg. Angela kry hom baie jammer. Die man het immers die regte ding gedoen deur teen Max te getuig nou het hy nie meer 'n lewe nie.
Larry stap weg met 'n gebroke hart.
"Ek moet die liefde van my lewe agterlaat as gevolg van Max. Meneer M, ek haat jou met 'n passie. Jy moet boet vir al die hartseer wat jy veroorsaak."

Mavis lê opgekrul in die hoekie. Die konstabel het kom loer hoekom dit so stil is in die sel. Die Kaptein en die Sersant is uit. Omdat dit so stil is het die Kaptein daarop aangedring om, in plaas van die Konstabel, 'n draai in die woonbuurt te gaan ry. Steven slaap buite die polisiekantoor in die motor, of liewer probeer slaap.
Die Konstabel weet as hy iets wil doen moet dit nou wees. Hy sluit die sel oop en stap na Mavis toe. Sy is vas aan die slaap. Hy buk oor haar, steek sy hande onder haar bene en haar nek in en lig haar op.
Hy lê haar op die enigste bed in die sel. Vat 'n kombers en trek haar toe. Wat hy vroeër die aand belewe het, het hom diep geraak. Hy weet hy is die junior hier vanaand maar hy glo nou in Mavis se onskuld. Wat hy egter ook weet is dat dit niks beteken nie. 
Terwyl hy uit die sel stap hoor hy 'n voertuig buite stop. Hy probeer so vinnig moontlik die sel sluit maar soos die duiwel wil is hy nie vinnig genoeg nie.

Die Kaptein stap in en kom reguit deur na die selle toe omdat hy nie daar voor is nie.
"Konstabel, wat maak jy?"
"Ek het net kom kyk of alles reg is hier agter."
"Nou hoekom is die sel oop? Jy weet dit is ontoelaatbaar. Wat wou jy doen?
Moenie vir my sê … Of jy wou die gevangene uitlaat of jy wou, wou haar, of dalk het haar seksueel …"
"Kaptein nee! Wat dink u van my?"
"Maak nie saak wat ek dink nie maar hoe dit voorkom. Iemand wat hier inkom kan hul eie gevolgtrekkings maak. Ek gaan jou aankla."
"Maar ek het niks verkeerds gedoen nie Kaptein."
"Jy het Konstabel. Jy was in die sel. Moontlik het jy die arme vrou seksueel gemolesteer want sy is duidelik mal. Dit gaan dus jou woord teen myne wees."
"So Kaptein wil my uit mag hê? Is dit omdat ek weet jy het 'n seksuele verhouding met Adjudant Williams se vrou?"
"As ek het, wat daarvan? Jy sal dit nie teen my kan gebruik nie want dit sal jou woord, 'n konstabeltjie, teen my woord, 'n kaptein en Anna, 'n gemeenskapwerker sn wees."
"Dan moet Kaptein my dan maar aankla."
Die Sersant stap binne.
"Wat gaan aan Kaptein?"
"Ek gaan die mannetjie aankla. Hy was alleen met 'n gevangene in 'n sel en hy het haar moontlik seksueel gemolesteer omdat sy bietjie mal is en haarself nie sal kan verdedig nie."
"Die Sersant kyk van die een na die ander maar sê nie 'n woord nie.

Shane is oppad Upington toe. Hy glo dit sal Meneer M se volgende stop wees. Sy aandag is verdeel. 
Hy kon nog nie agter die kap van die byl kom aangaande sy gewese vrou se kêrel nie. Solank hy nie verseker weet of sy dogter in gevaar is nie sal hy nie kan rus nie.
Weereens kom sy werk voor sy familie. Hy het egter opdrag van bo gekry om Max so spoedig moontlik te vind. Hoofkantoor vertrou net vir hom met die Max saak omdat hulle verseker weet hy sal hom nie laat omkoop nie. Vir hom is polisie wees alles. Dit is sy wese.
Hy trek in by 'n vulstasie in Calvinia. 'n Ouerige vrou is net besig om te vertrek. Hy vind dit nogals vreemd dat so 'n vrou alleen ry. 
Ag, miskien gaan sy maar net tot op 'n plaas hier naby. Hy laat brandstof insit, strek sy bene en besluit om eers 'n rukkie te slaap sommer so in die motor. Hy is moeg en hy ry alleen. Dit is net voor sonsopkoms.

Die ou vrou kom by 'n t-aansluiting so 15 minute uit Calvinia. Sy draai links, in die rigting van Brandvlei, Kenhardt, Keimoes en uiteindelik Upington. Haar voertuig is vol brandstof, so sy hoef nie nou weer te stop nie.
Sy reik voor in haar rok in en haal haar vals borste uit. 
"Die goed is lastig. Ek sal dit eers weer voor Keimoes insit."
©Rooi Mier 17.01.2023

Woensdag 06 September 2023

#Stukkendeharte S2 Hfst 15 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 15 - Rooi Mier


"Dié malletjie sal ons moet toesluit. Ek dink nog steeds sy speel mal noudat sy uitgevang is."
"Konstabel, pasop wat jy sê. As iemand jou nou hoor is ons in die moeilikheid. Jy kan dink wat jy wil maar jy mag nie sê wat jy wil nie."
Die sersant kyk rond om te sien of daar iemand gehoor het maar dit lyk nie so nie. Hy glimlag vir die konstabel en wys na sy kop met sy wysvinger en maak klein sirkeltjies; duideluk 'n teken dat hy dink Mavis het sielkundige probleme.
'n Kaptein kom ingestap.
"Sersant, jy kan maar vir haar haar regte voorlees en haar formeel arresteer."
Die sersant stap na Mavis toe.
"Mavis Saal, ek arresteer jou op 'n klag van ontvoering van 'n dogtertjie genaamd, Lanice van Wyk. Jy het die reg om te swyg. Enigiets wat jy sê kan en sal in 'n hof teen jou gebruik word. Jy het die reg op verteenwoordiging. Indien jy dit nie kan bekostig nie sal een aan jou voorsien word."
Mavis kyk die Sersant aan met 'n leë blik asof sy nou glad nie kan verstaan wat aangaan nie.
"Ek sal mos nooit 'n klein dogtertjie ontvoer nie. Iets is nie reg nie meneer. Waar is Steven? Hy sal kan getuig."
"Getuies word eers in die hof toegelaat Juffrou. Wie is dié Steven?"
"Dit is my verloofde meneer."
"Jy mag een oproep maak. Wees wys hoe jy dit gaan gebruik. As jy 'n regsverteenwoordiger het stel ek voor jy bel hom. As jy nou wil bel kom."
Mavis bel vir Steven.
"Waar is jy Steven? Ek het jou nodig."
"Mavis? Waar is jy? Ek was so bekommerd."
"Ek is by die polisiestasie in Grobbelaarshoop. Hulle sê ek het 'n dogtertjie ontvoer en my gearresteer. Kom haal my asseblief."
"Ek is op pad my lief. Probeer kalm bly."
Mavis begin voel hoe die angstigheid haar begin oorneem.

Die sersant neem haar na die aanhoudingsselle. Jy sal dalk môre hiervandaan oorgeplaas word na Upington toe waar jy in die hof sal verskyn. Hy stoot haar in die sel. Gelukkig vir Mavis is die sel leeg omdat Grobbelaarshoop 'n klein dorpie is. Dit is weinig dat vroue gearresteer word. Daar is dus geen ongure karakters saam met haar nie.
Sy is alleen. Stoksielalleen gaan sy in dié sel wees. Miskien is die glad nie 'n sening nie. Mavis gaan sit in 'n hoekie nadat die sersant die sel toegesluit en weggeloop het.
Alweer alleen. Haar oë dwaal van muur tot muur.

Steven, oorspronklik van Vanwyksvlei, weet nie watter kant toe Grobbelaarshoop is nie. Hy gaan na die naaste persoon en vra.
"Meneer, as u voor by die pad kom, draai links en ry net. U sal daar uitkom. Dit is so bietjie meer as 'n 100 km."
"Baie dankie."
Hy spring in sy bakkie en ry.

Bennie en Derek kom in Grobbelaarshoop aan en volg die rigtingwysers na die polisiestasie. Hulle kan nie vinnig genoeg uit die voertuig klim nie.
"Waar is sy? Waar is my kleindogter?"
"Wie is julle menere?"
"Ek is Bennie van Wyk en dit is Derek Louw. Ons is die oupas van Lanice, die dogtertjie wat ontvoer is."
"Sy is in daai kamertjie met die maatskaplike werkster. U sal net 'n verklaring moet aflê en uself moet identifiseer voordat u haar kan kry."
Derek raak ongeduldig.
"Sersant, vir nou wil ek net my kleindogter sien, hoor jy my! Jy sal maar net moet wag vir jou verklaring. Moenie nou met my sukkel nie."
Derek storm in die gang af met Bennie kort op sy hakke.
"Menere! Menere!"
Derek wys hom 'n onwelvoeglike teken sonder om om te draai.
Die maatskaplike werkster, wat die geraas gehoor het maak die kamer deur oop.
"Sagter julle. Die kind slaap. Sersant laat hulle toe om tog eers net te sien dat die kind veilig is. Hulle kan mos daarna hul verklaring doen.
Menere, raak kalm. Sy slaap. Julle kan inkom maar moenie haar wakker maak nie. Sy het die slaap nodig.
Derek stap reguit na die klein bedjie toe, wat duidelik daar vir slagoffers van misdaad geplaas is. Hy streel liggies oor Lanice hare sonder om haar wakker te maak.
Bennie kom staan langs hom. Skielik oorweldig die emosies hom. Derek, wat meer emosioneel is het niks nodig nie. Hy plaas sy arm om Bennie se nek en hulle trane vloei. Blydskap, verligting, noem dit wat jy wil maar hulle vergeet daar is 'n vreemde vrou in die vertrek. Dié twee oupas is duidelik ewe lief vir hul kleinkinders.
Na 'n rukkie wys die vrou hulle waar die badkamer is sodat hulle hul gesigte kan gaan was.
"Een van julle kan haar nou saggies optel en toemaak met 'n baadjie terwyl die ander 'n verklaring gaan aflê om te bevestig wie sy is."
Bennie sorg dat hy vir Derek voorspring.
"Ek sal haar neem, jy bestuur mos."
Derek steek verleë vas en stap na die toonbank terwyl hy die afstandbeheer van die voertuig druk om oop te maak vir Bennie. Die voertuig was in hul haas om in die polisiekantoor te kom nooit gesluit nie.
Bennie sit op die agterste sitplek met die prinsessie wat met haar kop op sy been lê, knus toegemaak onder sy baadjie. Terwyl hy wag bel hy eers vir Iris en daarna vir Lawrence.

Terwyl Derek uitkom stop 'n bakkie langs hulle en die man hardloop na binne.
Steven het gejaag om hier uit te kom.
"Dit lyk my ons gaan nie 'n rustige aand hê nie sersant."
Die konstabel is gewoond aan rustige weeksaande. Daar is meestal net opgewondenheid in die week as daar 'n ongeluk op die pad na Upington toe of in die rigting van Prieska is. 
Naweeksaande is dit besig ja. Dan is dit aanrandings, messtekery, huismoles ensovoorts want van die mense is dronk.
"Kan ek help meneer?"
"Ja asseblief. Ek is Steven Daries en is hier vir Mavis Saal, my verloofde."
"O, identifiseer jou asseblief meneer. Sy is in die sel hier agter."
Nadat Steven homself geïdentifiseer het, verduidelik hy dat sy sielkundige probleme het.
"Ons verstaan Meneer Daries maar daar is niks wat ons daaraan kan doen nie. Die reg moet sy loop neem."
"Is daar enige gevangenis saam met haar in die sel?"
"Nee, sy is alleen."
"Ai tog, sy gaan beangs word. Dit is juis haar probleem."
Die kaptein in bevel vir die nag stap in.
"Wat is die probleem?"
"Die man se verloofde is opgesluit vir ontvoering. Hy sê sy het sielkundige afwykings."
Steven verduidelik aan die kaptein.
"Wel meneer, ons mag haar nie uitlaat sonder 'n regsbevel nie.
Ek sal jou 'n vergunning toestaan. Jy mag haar gaan sien vir 'n paar minute. 
Die konstabel sal jou vergesel. Geen fisiese kontak asseblief. Jy mag net met haar praat deur die tralies."

Lawrence is so opgewonde om te hoor dat sy prinsessie veilig en oppad huistoe is dat hy nie eers besef dat hy vinniger ry nie. Larissa, wat voor langs hom sit, vermaan hom.
"As jy jou kinders wil sien sal jy stadiger moet ry my vriend. Jy is ver oor die spoedlimiet."
Sahara sit doodstil. Noudat sy weet die tweeling is veilig verskuif haar bekommernis na hul ma. Sy hoop dat die dokters verkeerd is. Vir Janice om op haar ouderdom in 'n rystoel vasgekluister moet wees sal verskriklik wees. Hoe gaan dit die tweeling beïnvloed? Die aanpassing sal moeilik vir hulle wees want hulle is nog so jonk.

Steven se hart breek om sy aanstaande so te sien. Sy sit in 'n hoekie op haar hurke. Haar kop is op haar knieë en sy bewe. As hy kon het hy nou die tralies met sy kaal hande afgebreek.
"Mavis! Mavis!"
Sy reageer nie. Hy roep dus weer. Sy lig haar kop stadig op en prewel sy naam amper onhoorbaar.
"Steven."
Sy sien hom en roep nou harder uit.
"Steven, het jy my kom haal? Ek het geweet jy sal my nie alleen hier los nie."
Sy staan op en stap vinnig na die tralies.
"Ek het geweet my liefling. Ek het geweet.
Hoekom sluit hulle nie die hek oop nie?
Steven, sê hulle moet oopmaak asseblief! Asseblief Steven.
Hoekom sê jy niks?"
Steven kyk magteloos na die konstabel. Hy vat haar hande wat deur die tralies steek vas.
Die konstabel staan onmiddelik nader.
"Jy mag nie meneer."
Steven los haar hande. Mavis beur teen die tralies met albei haar hande uitgestrek na hom.
Haar stem is nou hard en amper histeries.
"Steven! Steven! Hoekom haal jy my nie hier uit nie. Ek is sooo bang. 
Asseblief Steven."
Haar stem raak nou weer net 'n gefluister.
"Ja Mammie, ek sal soet wees Mammie. Moet my nie kom pakgee nie. Ek sal nie stout wees nie."
Sy kyk verskrik na die mure en gaan sit weer in 'n hoekie en wieg terwyl sy met haarself praat.
"Moenie huil nie Mavis. Mammie kom nou. Ek moet nie stout wees nie."
Sy bewe soos 'n riet.
Steven kan dit nie langer aanskou nie. Hy draai weg van haar en staan met sy rug teen die tralies.
"Ek is nie bang nie. Mammie gaan gou kom. Die donker gaan nou weg wees."
Steven se skouers begin ruk.
Die konstabel probeer ongemerk sy trane afvee.
©Rooi Mier 17.01.2023

Plekke in #Stukkendeharte -Upington

Plekke in #Stukkendeharte -Upington Gordonia Hospitaal Dr Harry Surtie Hospitaal Upington Medi -Clinic ...