#Stukkendeharte S2 Hfst 10 - Rooi Mier
Skielik bars die hel los. Daar is 'n harde slag en skreeuende bande, gevolg deur wat klink soos 'n botsing.
Die bestuurder van die voertuig waarin Max is sien hoe die begeleidingsvoertuig agter hom skielik van die pad afswaai en teen een van die pilare van die brug bots. Die voertuig agter kom skreeuend tot stilstand maar kan nie 'n botsing vermy nie.
Skielik is daar net vlamme agter hulle. In die truspieël kan hy nie uitmaak watter voertuig brand nie.
Die verkeerslig na die brug is groen dus ry die voorste voertuie oor. Dit is duidelik dat albei versnel het. 'n Bakkie aan die linkerkant van die kruising ry vinnig vorentoe oor die verkeerslig wat vir hom rooi is en stamp albei begeleidingsvoertuie van die kant af; een aan die agter- en een aan die voorkant. Dit veroorsaak dat albei voertuie aan die verkeerde kant van die pad beland. Dit veroorsaak dat voertuie in die teenoorgestelde rigting in hulle vasry.
Die hoofvoertuig swenk skerp na links en ry in die voertuie vas wat wag vir die verkeerslig. Mense skree en dié van hulle wat nie in die ongeluk betrokke is nie spring uit hul voertuie.
Die paniek veroorsaak chaos, soveel so dat niemand opmerk dat Max ongeboei en sonder kettings agteruit die hoofvoertuig klim, stap na 'n wagtende voertuig en die voertuig wegjaag nie.
Teen die tyd dat een van die voorste voertuie se bewaarders hom byval hulle het 'n gevaarlike gevangene is die gevangene, soos in mond van Kapenaars, wit weg. Die bewaarder wat saam met hom agter in die voertuig was lê oënskynlik bewusteloos. Hy begin stadig 'bykom'.
Die polisiestasie waar Selwyn die klagtes lê is skielik in rep en roer.
Iemand skree, "Meneer M het ontsnap!"
Selwyn hoor dit en verlaat die polisiestasie vinnig. Hy probeer om ongemerk weg te kom sodat Shane hom nie kan sien nie.
Net voordat hy egter om 'n hoek kan verdwyn sien Shane hom. Skote begin klap skielik. Selwyn val. Shane wat besig was om uit te klim duik instinktief langs die motor neer.
Dit is ook net betyds want skielik hoor hy hoe skote sy motor tref. Hy rol na die motor langsaan en hardloop gebukkend na die agterkant, wapen in die hand.
Binne die polisiestasie lê Selwyn se regsverteenwoordiger beangs op die vloer. Die Sersant neem die verklarings, vou dit en druk dit in sy broeksak.
In die chaos binne die polisiestasie is hy die enigste een wat nie geskok is oor die gebeure nie. Hy kyk na die prokureur en grinnik.
"Bang gat."
Hy is seker dat die prokureur nie gesien het hy die klagstaat in sy sak gedruk het nie.
"Manne, hoekom is julle so stadig? Ons moet daai aanvallers kry!"
Buite trek voertuie met skreeuende bande weg. Die aanvallers het ontsnap.
Shane skiet 'n skoot of twee agterna maar hy besef dat hy dalk iemand onskuldig kan tref. Hy onthou van Selwyn en hardloop daarheen.
Daar is niemand, net 'n paar bloedspatsels.
"Hande in die lug."
Shane skrik, steek sy hande albei in die lug.
"Draai stadig om."
Die adrenalien pomp. Hy draai stadig om maar is gereed vir enigiets.
""Shane! Is dit jy? Amper skiet ek jou."
"Betram, waar val jy uit. Jy is te stadig om my te kan raakskiet maat.
Wat maak jy in die Kaap?"
"Verplaas hierheen. Ek het nou net op die aksie afgekom; gedink jy is een van die skurke."
Die tv en radiostasies begin te gons. Martin sit geskok in sy kantoor en luister.
Teen die aand is Max nog steeds op vrye voet. Omtrent die helfte van elke nuusberig oor die land op alle media gaan oor die ontsnapping. Sosiale media gons.
Martin is oppad Saldanha toe. Rachel kan in gevaar wees alhoewel sy weier om deur sekuriteit opgepas te word.
Daardie aand slaap almal wat al een of ander tyd met Max te doen gehad het onrustig.
Die oggend is Max nog steeds die hoofnuus. Jy kan egter sien dit is nie net 'n gewone dag nie want die meerderheid nuuslesers het vanoggend rooi en wit aan. Dit is dié dag van liefde.
"Valentynsdag! Ek wonder wat maak jy vandag my liefde. Jou liefde sal vir ewig in my hart brand al kan ek nie saam met jou wees nie.
Dit is jou skuld. Alles jou skuld dat ons nie op die dag van liefde saam kan wees nie. Ek het jou baie lief Rachel maar jy het my verraai. Daarvoor kan ek jou nie laat lewe nie. Ongelukkig moet jy sterf. Jy sal 'n stuk van my hart saamneem.
Max, jy sal moet opstaan. Vir nou moet jy aan die beweeg bly."
Larry onderdruk die beklemming op sy bors.
"Dié man kon gerus 'n beter tyd gekies het om te ontsnap. Hoekom juis nou? Ek gaan nie toelaat dat Max my dag bederf nie. Vandag gaan ek vir Janice wys hoe lief ek haar het."
Hy bel haar.
"Janice, goeie môre, ek wil jou iets vra."
"Goeie môre Larry. Het jy die nuus gesien?"
"Ja, ek het. Gaan jy toelaat dat dit ons dag bederf?"
"Nee. Wat wou jy vra?"
"Ek het vir ons 'n plekkie bespreek vir aandete. Die ding is, ek wil dit kanselleer en liewer jou en die kinders op 'n piekniek uitneem vanmiddag?"
"Is jy seker dit is wat jy wil doen? Ek sal nogal daarvan hou dat ons vier die dag saam vier. Dit is jou kans om die tweeling beter te leer ken."
"Dan maak ons so."
"Jy vergeet dat ek werk maar gelukkig werk ek nie vandag nie."
"Dankie Vader. Ek het vergeet. Sien jou om 13:00?"
"Reg so Larry."
Martin is van vroeg af al besig. Hy het in 'n B & B geslaap en is nou besig buite die huisie wat Rachel huur. Toe alles afgehandel is en die mense vertrek het wat hom gehelp het, skakel hy haar.
"Goeie môre Martin, wat is jy so vroeg op my spoor?"
"Gelukkig weet ek jy slaap nie vas nie.
"Kan ek jou terugbel? Daar is iemand by die deur."
"Reg so, praat later."
Rachel stap na die deur toe en maak oop. Tussen die deur en die veiligheidshek lê 'n bossie van die pragtigste rose, duidelik gekweek deur iemand met die nodige kennis. Dit is pienk met rooi spikkels.
Sy tel dit op ek kyk maar daar is niemand. Daar is 'n nota by.
"Dit is net die helfte van my hart. As jy die ander helfte wil hê moet jy uitkom."
Sy sluit die veiligheidshekkie oop en stap uit. In die hoekie van die die voortuin is daar 'n rooi gazebo. Daar is 'n tafel met bakke op en die tafel is gedek.
Soos sy nader stap sien sy aarbeie en waatlemoenstukkies in bakke.
Daar is ook vonkel druiwesap. Daar is egter niemand te sien nie. Musiek begin te speel.
Rachel weet die persoon kruip iewers weg. Sy is aangenaam verras want sy weet dit kan net Martin wees.
"Uiteindelik is ek gereed om te erken dat ek hom ook lief het."
"Your once, twice, three times a lady
And I love you.
Yes your once, twice, three times a lady
And I love you."
Dit is beslis nie Lionel Richie se stem nie.
Hy kom om die hoek terwyl hy sing met 'n mikrofoon in die regterhand en 'n enkele rooi roos in die ander. Martin het 'n ongelooflike stem.
"Rachel, jou teenwoordigheid laat die bloed in my are bruis soos vonkelwyn."
Hy neem twee glassies en skink.
"Weet jy dat ek leeg voel sonder jou. Ons twee hoort saam soos aarbeie en room."
Hy neem 'n aarbei, doop dit in room en laat haar daaraan byt.
"Ek het jou oneindig baie lief Rachel. Is daar plek vir my in jou hart?"
"Ja Martin. Hope plek. Ek het jou ook lief."
Hy trek haar nader en soen haar lank en innig.
©Rooi Mier 17.01.2023