Dinsdag 25 Julie 2023

#Stukkendeharte S2 Hfst 08 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 08 - Rooi Mier


Max skuif reg in voor die TV om die Staatsrede te kyk.
"Ek wonder wat gaan Cyril vandag vir ons sê. Die land is klaar in die duister. Ek hoop hy kan darem 'n bietjie lig bring."
Na 'n rukkie begin hy te lag.
"Sien julle nou, daai rooi gevaartes gaan nie vir Cyril vanaand laat praat nie. Hulle is so bedrywig soos rooi miere. Ja wat, ons het 'n demokratiese land waar elkeen sy sê mag sê.
Ek sal maar môreoggend die nuus kyk om te hoor wat hy te sê gehad het."

Sahara sien al die oproepe wat Lawrence gemaak het. Daar is ook twee van haar pa af en dan een van Ma Iris af.
Sy besluit om Ma Iris te bel want sy is die een wat die maklikste sal verstaan dat sy alleen tyd nodig het. Dit is dan ook so maar Ma Iris maak haar belowe om ten minste een keer 'n dag te laat weet of sy veilig is.
Sahara glimlag en dink haar stiefma is 'n regte hoenderhen. Sy wil altyd weet waar haar kuikens is. Die wegkom doen haar nogals goed. Haar gedagtes begin speel rondom 'n gedig en moontlik 'n storie. 
Die ete by Antie Rachel was nogals aangenaam. Sy wonder egter hoekom sy so ontwykend is oor wat sy hier doen. Wel, as sy nie moet weet nie is dit reg so want nou kan sy net konsentreer op haar skryfwerk. Sy kyk na die datum.
"Een van die dae is dit Valentynsdag; nog 'n Valentynsdag sonder liefde. As ek dit nou maar moet erken, sal ek seker nooit iemand vind om sý plek in te neem nie."
Sy sidder as sy daaraan dink dat sy en Lawrence dalk getroud kon gewees het en eers dan uitgevind het hulle is broer en suster.
"Vanaand wil ek net met die Here praat. Daarna wil ek slaap. Môre wil ek vars wees."

Selwyn lê en dink aan vandag se verwikkelinge. Hy weet nie wat om te maak van alles wat gebeur het nie maar hy voel tog dat hy Rachel kan vertrou. Vir die eerste keer sedert sy haar opwagting gemaak het slaap hy rustig.

Rachel se gedagtes is 'n warboel. Na die heerlike kuiertjie met Sahara het haar foon gelui. Dit was Martin en wat hy haar meegedeel het was skokkend. Hoe hanteer mens die nuus met die nodige sensitiwiteit sonder dat iemand seerkry? Moet Max altyd al 'n mens se verhoudinge met vriende en kennisse opmors?
Sy raak aan die slaap maar draai elke paar minute.

"Janice, dit is tyd dat ek jou van my hele verlede vertel. Ek is baie lief vir jou maar as ek nie heeltemaal eerlik met jou gaan wees nie is daar nie 'n toekoms vir ons nie.
My naam is eintlik Gavin. Die Larry naam het ek eers onlangs gekry. Jy ken net klein gedeeltes van my lewe maar ek gaan jou nou alles vertel."
Larry begin Janice alles oor sy verlede vertel. Sy sit oopmond en luister. 
"Ek het nie geweet jy het soveel geskiedenis nie. Wat my bekommer is hoe dit my kinders gaan beïnvloed. Gaan jou verlede hulle nie in gevaar stel nie?"
"Ek hoor jou Janice, ek kan jou nie waarborg nie. Max is darem in die tronk."
"Vir nou ja. Ek is baie lief vir jou maar my kinders se veiligheid kom eerste. Jy sal my moet kans gee om alles te oordink."
Larry se emosies wys op sy gesig. Hy staan op van die bank waar hulle naby haar werksplek gesit het en loop weg.
"So ek sal nooit 'n toekoms kan hê nie as gevolg van my verlede nie."
In sy teleurgestelgheid het hy nie opgemerk dat iemand foto's van hom en Janice geneem het nie. Die persoon volg hom nou. 'n Koue rilling gaan by sy ruggraat af. Hy voel skielik ongemaklik.
Larry kyk om. Daar loop 'n paar mense agter hom maar niemand wat lyk of hulle in hom belangstel nie.
"Dit is seker maar net omdat Max se naam nou genoem was."

Max kyk na die hooftrekke van die nuus wat handel oor die Staatsrede. Beurtkrag is een van die dinge wat almal verwag het. Wat hy interessant is die feit dat die President 'n ramptoestand verklaar het. Max lek sy lippe af. 
"Met die ramptoestand tydens Covid het hy baie geld gemaak. Hier is alweer vir my 'n geleentheid om staatsgelde te eet."
Die aankondiging dat die R350 toelaes ook voortgaan maak sy glimlag breër.
"Ai Cyril, jy wil ook nie ophou om my ryker te maak nie. Daai geld beland tog in my sak deur die dwelms wat ek verskaf. Ek het gedink jy gaan dit R700 maak. Maar nou ja, ek is seker te vraatsugtig."
Na hy die nuustrekke gekyk het, maak hy 'n oproep om te hoor of sy manne al vir G opgespoor het.
Hy ontvang bevestiging dat hy wel opgespoor is. Daar is ook 'n bonus; sy meisie het 'n tweeling. Hulle is almal in Upington.
"Alles is besig om in plek te val. Nou moet ek nog net my dogter opspoor. Sy is glo ook in Upington."
Hy glimlag.
"Upington het laas vir hom in die tronk laat beland. Hierdie keer gaan my geluk draai. Ek gaan my dogter daar kry en dié wat my in die tronk laat beland het se begrafnisse bywoon."
©Rooi Mier 17.01.2023

Maandag 24 Julie 2023

#Stukkendeharte S2 Hfst 07 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 07 - Rooi Mier


"Goeie middag Martin. Ek sien jy het al 'n paar keer gebel vandag."
"Wanneer kom jy huis toe Rachel. Ek het baie belangrikke nuus ontvang."
"Waaroor gaan dit?"
"Ek wil dit nie graag oor die foon met jou bespreek nie. Miskien kan jy my sê waar jy is dan kan ek kom tot daar."
"Nee, ek kan nie en ek kan ook nie nou huis toe gaan nie. Dit waarmee ek besig is, is baie belangrik. Ek sal dalk nooit weer die geleentheid kry nie.
Miskien moet jy my maar later vanaand bel en vertel wat die nuus is."
"Jy is ook lekker hardkoppig liefde. Ek hoop nie jy is met iets gevaarliks besig nie. Moenie probeer om Max alleen aan te vat nie. Ek kan jou nie nou verloor voordat ons begin het nie."
"Ag komaan Martin. Ek het jou gesê ek is nog getroud. Daar kan nie 'n sprake van 'n 'ons' wees nie. Bel my vanaand dan kan jy my alles vertel."
Rachel wonder wat dit kan wees. Martin het gewoonlik nie hulp nodig as dit oor besigheid gaan nie. Dalk het dit iets te doen met Max.
Sy klim in haar motor om supermark toe te gaan. Vandat Max se saak 'n paar jaar terug begin het is sy baie meer oplettend. Sy het onmiddelik dieselfde man wat haar op die strand agtervolg het in haar truspieël gesien. Sy is seker dat dit Selwyn is. So hy moes agtergekom het sy het hom dopgehou het nou doen hy dieselfde.
Nadat sy klaar gekoop het wat sy wou sien sy sy motor 'n entjie weg staan. Sy gaan sit haar kruideniersware in die motor, sluit dit weer en stap vinnig reguit op hom af.

Selwyn probeer maak of hy haar nie sien aankom nie. Hy stel kastig aan die radio.
Rachel stap tot by sy venster en klop. Sy wys dat hy moet afdraai. Haar oog vang sy ander hand wat iets langs sy sy uithaal terwyl sy ander hand die knoppie druk om die ruit te laat sak.
"Ek is nie 'n gevaar vir jou nie Selwyn. Sit maar jou wapen weg voor iemand dit sien. Jy weet natuurlik wie ek is. Antwoord net nee of ja, kan ek môremiddag 'n afspraak met jou kry in 'n restaurant in die openbaar waar ons albei veilig sal wees?"
Selwyn is oorbluf. Hy het nie verwag sy sou hom so openlik konfronteer nie.
"Ja."
"Het jy 'n pen? Skryf my nommer neer."
"Ek tik dit sommer op my foon in Rachel," antwoord hy met 'n diep stem.
Rachel gee die nommer.
"So jy het jou huiswerk gedoen. Ja, ek is Rachel. Jy het 'n pragtige diep stem. Sing jy bariton?"
Sy stap weg voor hy kan antwoord.
"Bel my môre om te bevestig Selwyn."
Terwyl sy wegloop dink sy,
"'n Diep mansstem het my nog altyd bekoor. Ek sal ure na daai stem kan luister."

Shane is bekommerd oor sy kinders. Daar is niks konkreets nie maar sy dogter het die anderdag toe hy hulle uitgeneem het genoem dat sy eks se verloofde haar ongemaklik laat voel.
Sy is nou eers nege maar baie opmerksaam. In plaas van sy seun lyk dit of sy eerder die speurder tipe is.
Hy het reeds die man se agtergrond nagespeur maar daar is niks vreemds nie. Sonder enigiets sal dit moeilik wees om sy eks te oortuig dat sy versigtig moet wees. Sy sal net dink hy is jaloers. Tog voel hy onrustig.
Vanoggend het hy nog verneem ook dat Max se appélsaak so gou as Maandag al op die rol is. Geld wat stom is maak reg wat krom is.
Sy speurdersinstink bly knaag aan hom. Wat voer Max in die mou? Met hom kan 'n mens enigiets verwag. Sy soeke na nog bewyse om sy appêl teen te staan het tot nou toe niks opgelewer nie. Die hele ding het in elk geval te vinnig gebeur.
Vir nou moet hy egter op sy kinders konsentreer. Hulle veiligheid kom eerste.

Max is besig om die nuus te kyk. Dit is snaaks dat daar niks gesê word oor sy appêl nie. Deesdae kan hy net wind laat dan is dit op die nuus. Hy hou nogal van al die aandag. Dit laat hom soos 'n superster voel.
Hulle praat liewer van 'n aanval in Kwazulu-Natal waar vyf mense doodgeskiet is.
"Waarheen gaan die wêreld? Hoekom mense so sonder rede doodskiet," sê hy hardop.
Die bewaarder en twee medegevangenis naby hom kyk hom vreemd aan.
"Jy is 'n mooi een om te praat."
"Mens kan sien jy is nog nuut hier bewaardertjie. Is jy getroud? Het jy kinders? Kom praat met my as jy swaarkry met dat salarissie wat die staat jou betaal."
"Ek is nie te koop nie."
Max lag hardop. 
"Moenie so haastig wees met stadige dinge nie. Soms brand 'n mens se huis sommer so onverklaarbaar af of jou motor word afgeskryf in 'n ongeluk.
In elk geval, niemand praat van koop nie. Hulp is dalk wat jy sal benodig; net so 'n aanvullertjie by die salaris. Soms is die aanvullertjie groter as die salaris."
Die bewaarder stap weg.
"Julle twee. Julle is mos bendelede met nommers. Ek wed julle altwee sit hier want julle het die skuld op julle geneem vir wat julle base gedoen het.
Hy lewe die lekker lewe terwyl julle vir 'n paar pennies jare van julle lewe hier moet sit.
As julle ooit hier uitkom kyk uit vir Max. Ek is een van die dae weer 'n vry man.
"Sabela…"
Max val die een gevangene in die rede.
"Dink jy ek is 'n skollie? Jy praat ordentlik met my want ek is 'n ordentlike mens. Volgende keer vra jy toestemming om te praat."
©Rooi Mier 17.01.2023

Sondag 23 Julie 2023

#Stukkendeharte S2 Hfst 06 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 06 - Rooi Mier


Sahara loop langs die see in Saldanha. Dit is haar eerste keer hier en sy hou van die dorp. In haar soeke na rustigheid is dit presies waar sy wil wees. As enige plek weer vir haar aan die skryf kan kry dan moet dit hier wees.
Dit is nou al meer as vier jaar maar sy vind soms dat sy nog steeds aan Lawrence dink op 'n romantiese wyse. Daar was tye wat dit gelyk het of sy dit aanvaar, dan kom daar weer tye waar sy met die tweeling sit en wens dat sy ma was. Hierdie hele saak het haar geestelikheid afgebreek. 
Op die ouderdom van 27 het sy haarself vir die eerste keer aan 'n man oorgegee in 'n poging om aan te wil beweeg. Dit het egter nie gewerk nie. Die persoon wat die seerste gekry het is Paul. Sy het hom misbruik om net daarna te sê dat sy hulle nie sien as meer as net vriende nie.

Selwyn is ook op die strand maar hy is vermom. Hy dra 'n hoedjie wat 'n floppie genoem word met 'n paar duur sonbrille. Sy hare is heeltemaal af. Onder sy groot hemp kan mens 'n knop sien as jy mooi kyk. Daar word definitief iets weggesteek. 
Die vorige aand was daar iets op die nuus oor Max wie se appélsaak op die hofrol geplaas is. Op daardie oomblik het hy meteens onthou waar hy dié vrou wat sy huis dophou gesien het. Dit is Max se vrou, Rachel.
Wat soek sy hier? Hy weet dat sy teen Max getuig het. Is sy verlede met Max besig om hom in te haal? Het Max haar gestuur? Dit is heel moontlik want hy het al bewys dat diegene wat teen hom is maklik oorreed kan word om aan sy kant te wees.
'n Pragtige jong vrou stap verby hom. Selwyn voel dit sal 'n sonde wees om haar nie agterna te staar nie. Hy is nou al amper tien jaar 'n wewenaar. Sy vrou was doodgeskiet in kruisvuur. Hy was die teiken. Na dit het hy nooit emosioneel by vroue betrokke geraak nie. So dan en wan sal hy 'n aand met iemand spandeer maar niemand sal ooit sy vrou se plek kan volstaan nie.
Terwyl hy die jong vrou met die oë volg sien hy dat sy meteens vassteek en na 'n vrou staar wat so 'n endjie van haar af onder 'n sonsambreel op 'n stoeltjie sit.
"Ag nee man. Moenie vir my sê dié pragstuk is lesbies nie. Hoekom anders staar sy so na 'n ander vrou?"
Sy staar nie net nie maar stap na die vrou toe onder die sambreel.

"Antie Rachel, wat maak jy hier? Is Meneer Adriaanse ook hier?"
Sahara het nog altyd gedink hulle twee hoort saam en dat daar iets tussen hulle is. 
"My wêreld Sahara, wat maak jý hier? Is jy met vakansie?"
"Ja antie, ek het besluit om bietjie weg te kom uit die stad. Ek moes net 'n bietjie wegkom."
"Kom later oor na my plek toe dan kan ons aandete geniet."
"Antie kan my die adres stuur asseblief. Wat 'n toeval!"
"Kind belowe my net dat jy nie vir Martin gaan sê dat ek hier is as hy sou bel nie."
"Ek maak so antie; niemand dra kennis dat ek hier is nie. Dié vakansie wou ek heeltemaal wegkom nou is antie hier."
Sy glimlag en stap weg van Rachel af.

Selwyn is in skok. So Max se vrou en dié jong vrou ken mekaar? Dit beteken dat sy dalk nie toevallig verby hom geloop het maar voorgegee het dat sy hom glad nie ken nie.
Daar waar sy nou wegstap van Mevrou Adriaanse af kyk sy in sy rigting. 
"Het sy nou gerapporteer van my teenwoordigheid op die strand? Ek het dan gedink my vermomming werk goed."
Selwyn stap na sy motor toe wat op die parkeergebied staan. Hy het genoeg gehad vir die dag.

"Ek het lanklaas vir Sahara gesien. Dit sal goed wees om haar te verras vandag. Pa raas altyd met ons omdat hy voel dat ons meer moeite moet doen as broer en suster."
Lawrence trek op in die parkeerarea waar Sahara werk. 
"Dit sal regtig goed wees om my sus te sien. Ek verlang my familie."
Hy maak gereeld video oproepe om met die tweeling te praat maar dit is nie genoeg nie. Sy universiteitsvriende is rowwe mense wat hou van partytjies en dit beteken gewoonlik drank en heel dikwels dwelms ook. Hy het homself belowe dat hy nie daai pad gaan loop nie. Dit maak dat hy soms maar alleen is, veral naweke.
Die ontvangsdame ken hom. Sy sal graag wil hê hy moet haar raaksien maar al wat sy regkry is 'n vriendelike groet. 
"Goeie middag Meneer van Wyk."
"Asseblief, nie meneer nie; noem my Lawrenc."
"Ek moet altyd professioneel optree so ek sal maar hou by meneer, behalwe as ons dalk vir 'n koffie uit is."
Lawrence ignoreer haar.
"Is Sahara in?"
"Praat julle dan nie Meneer?"
"Wat bedoel jy?"
"Sy is met verlof vir twee weke."
"O dankie. Ek gaan haar dan maar bel. Totsiens!"
Hy stap uit verwonderd na sy motor.
"Dit is snaaks dat Sahara niks gesê het nie. Hy weet sy is nie in Upington nie want sy ma sou hom vanoggend gesê het. Dan beteken dit dat sy in haar woonstel sit of op die strand oorkant haar woonplek is."
In sy motor bel hy haar. 
Sy antwoord nie. Hy ry maar Seepunt toe en hoop om haar in haar woonstel te kry.
"Meneer, Sahara Muller is weg vir twee weke. Jy is mos haar broer né?"
Die opsigter lyk verbaas omdat hy nie weet nie.
"Dankie meneer."
Lawrence is nou bekommerd. "Sahara is 'n baie verantwoordelike mens. Hoekom het sy nie laat weet waarheen sy gaan nie?"
Hy bel sy ma.
"Mammie, het u hulle dalk met Sahara gepraat?"
"Nee boeta. Is daar fout?"
"Sy is glo met verlof vir twee weke. Gewoonlik gaan sy Upington toe as sy met verlof is. Sy antwoord ook nie haar foon nie."
"Boeta, ons het nog nie rede om bekommerd te wees nie. Sy is 'n volwassene. Kom ons wag totdat sy terug bel."
"Maak so Mammie."
Lawrence kan nie help om bekommerd te wees nie. Hy bel nog 'n paar keer maar daar is geen antwoord nie.

Martin wens Rachel wil nou haar foon antwoord. Hy het haar raad nodig oor hoe om die inligting wat hy verkry het te hanteer.
©Rooi Mier 17.01.2023

Vrydag 21 Julie 2023

#Stukkendeharte S2 Hfst 05 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 05 - Rooi Mier


Max is opgewonde. Hy het vandag gehoor dat sy aansoek om appél so spoedig moontlik op die hofrol geplaas gaan word. Dit beteken hy kan nou al sy planne in werking begin stel. Hy sal al sy kontakte moet begin kry want as alles goedafloop is hy binnekort weer op vrye voet. Sy regsverteenwoordiger is egter baie pessimisties. Hy glo nie Max se appêl gaan slaag nie maar Max steur hom glad nie daaraan nie. Hy was nog altyd iemand wat gewaag het en gewen het; behalwe vir die keer dat Shane hom gearresteer het. Daarvoor moet hy boet.Hy haal sy onwettige selfoon uit. Die bewaarder draai sy rug asof hy nie gesien het nie en stap weg. 
Nadat hy klaar almal gekontak het wat hy moes, bestel hy vir hom en sy handlangers in die sel en vir die bewaarders aan diens in maksimum pizza en Coke vir middagete. 
Hy is in 'n goeie bui.

Daardie middag stap Mavis alleen af begrafplaas toe. Sy gaan eers staan by twee grafte wat langs mekaar is met die pragtigste grafstene. Soos met plattelandse tradisie tel sy twee klippies op en plaas een op elke graf. 
"Sally my kind. Die meeste mense het my geken as Mavis die skinderbek maar jy het my altyd met soveel respek behandel. Ek weet dat jy my sou aanvaar het as jou pa se nuwe liefde.
Sarie, ons was al die jare vriendinne. Ek was eers kwaad vir jou omdat jy met soveel seer rondgeloop het maar dit nie met my gedeel het nie. Ja, ek weet, selfs as vriendin kon jy nie vertrou dat ek 'n wag voor my mond sou hê nie."
Sy glimlag effens.
"Wel ek sou myself ook nie vertrou het nie. Dit was egter net 'n fasade my vriendin, om my eie seer diep te probeer wegbêre in 'n kluis van ontkenning. Ek is egter nie meer kwaad vir jou nie want ek het dieselfde gedoen.
Ek sal vir Steven mooi oppas Sarie. Jy hoef jou nie verder oor hom te kwel nie."
Mavis bars skielik uit van die lag.
"Jy het altyd gesê mense wat met die dooies praat is koekoes. Laat my toe om vandag koekoes te wees."
Sy stap verder aan tot by 'n ou graf wat onversorgd is. 
"Vir jou het ek nie veel te sê nie ma, behalwe dat ek opgehou het om jou te haat. Vandat ek dit gedoen het is die bitterheid weg en ek voel ook meer gesond. 
Ek wens net jy het vir my gesê aan wie het jy my sustertjie as baba afgesmeer? Nou lê jy daar, net stemlose beendere. Jou eindelose beledigings en afkrakery het met jou tong weggevrot. 
Jy het jou houvas op my verloor want ek haat jou nie eers meer nie."
Sy tel 'n klippie op en plaas dit op die graf. Sonder omkyk stap sy weg.
Sy voel soos daai ligte warrelwindjie wat dansend oor die begrafplaas draai en stof na die hemel op neem.
Stof tot stof.

Shane is teleurgesteld dat Max se appélsaak so vinnig op die hofrol geplaas is. Hy vermoed daar is omkopery betrokke maar dit gaan moeilik wees om te bewys. Hy kan egter nie sien hoe Max se appél gaan slaag nie. Wat voer die man in die mou? 
Hy kyk op sy horlosie en dink dat hy sal moet wikkel. Hy verlang sy kinders en omdat dit 'n weeksdag is moes hy toestemming by die ma kry om hulle te sien sodra hul tuiswerk afgehandel is. Hulle kan burgers gaan eet vir aandete en die ma het nie 'n probleem daarmee nie. Stellenbosch is ver uit die stad so as hy nou ry behoort hulle klaar te wees as hy daar opdaag.

Martin het nuus ontvang en hy weet nie hoe hy dit moet hanteer nie. Sy reaksie een van ongeloof. Dit kan mos glad nie wees nie. Daar moet 'n fout wees; 'n baie groot fout.
Max het sekerlik iets te doen met wat in dié dokument staan.
©Rooi Mier 17.01.2023

Donderdag 20 Julie 2023

#Stukkendeharte S2 Hfst 04 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 04 - Rooi Mier


Die Somerlug is vroeg-vroeg warm. Hier vanaf die koppie agter die dorp strek die vlaktes ver en wyd tot daar doer waar die aarde een word met die hemelblou. O Heer my God, hoe groot is U.

Steven kyk af op die dorp. Hoe het Vanwyksvlei nie verander sedert sy kinderdae nie. Die dorp is nog nie so groot nie maar die moderne wêreld het dit beslis kom vind. Teerstrate en satelietskottels is het hul opwagting gemaak en daarmee saam 'n weg gebaan vir die dwelms wat die jeug so vernietig.

Skielik onthou hy hom sit teen hierdie koppie as 'n jongman. Sy Sallytjie is daar ver onder by die huis waar hy haar gevra het om te staan sodra hy op die koppie is. Hul huisie was een van die naastes aan die kop. Sy lyk klein daar waar sy staan en vir hom waai. Hy waai terug en blaas soentjies. Hoe soet is hierdie herinneringe. Ja, herinneringe wat hy kom besoedel het my sy alkoholmisbruik.
Hy laat sy oë nader kom tot halfpad teen die berg uit. 'n Glimlag speel om sy mondhoeke. Daar waar sy sit is die verste wat sy al teen die koppie uitgeklim het.
Die lewe wil gelewe wees. Wie het nou kon dink dat hy hierdie vrou, wat hy eens nie kon verdra nie, so lief sou kom kry. Die liefde is beslis gebore uit die liefde wat hy vir sy Skepper gevind het. 
"Mavis, Mavis," roep hy.
Hy is nie seker of sy hom gehoor het nie maar sy draai en kyk op teen die kop. Sy maak 'n soentjie op haar hand en blaas dit vir hom.
Na Sally se dood het Covid deur die land getrek en sy geliefde vrou, Sarie, se tyd was hier; heeltemaal te vroeg en baie skielik. Sy het geen simptome gewys totdat sy skielik nie kon asemhaal nie. Binne minute was sy weg. Dit is alweer vier jaar.
Hy begin stadig af te beweeg in die rigting waar Mavis vir hom sit en wag op 'n klip.

Mavis kyk liefderik op teen die kop vanwaar Steven haar nader. 
"Hier kom my reddingsboei wat God vir my uitgestuur het. Vandag weet ek dat God se tydsberekening sekuur is."
Drie en 'n halfjaar gelede het sy haar heeltemaal onttrek uit die samelewing. Sy kon net nie meer sin maak van haar bestaansreg as mens nie. Haar lewe was 'n klomp onbeantwoorde vrae.
"Wie is ek? Hoekom is ek so ongelukkig? As daar 'n God is, hoekom toelaat Hy die monsters in my lewe?"
Sy het tot 'n slotsom gekom dat God 'n mite is. Iemand wat iets hê om aan vas te hou het hierdie God in sy gedagtes gevorm. Sy geloof was so sterk dat God vir Hom 'n werklikheid geword het.
Mavis het 'n besluit om dit alles te beëindig maar elke keer wanneer sy dink sy is gereed het iets haar gedwing om eers die Bybel te lees.
Stadig maar seker het die mite weer God vir haar geword. Dit was asof die woorde in die Bybel 'n lewe van hul eie gekry het. Elke keer was daar 'n ander skrifgedeelte wat na haar uitgeroep het.
Dan op 'n dag het hy daar gestaan in die deur, Steven. Sy onthou die gesprek woord vir woord.
"Mavis? Is jy okay?"
Sy het die ou Mavis gaan uitgrawe as verdediging.
"Noudat jy jou vrou doodgemaak het wil jy weet of ek okay is? My beste vriendin is nie meer as gevolg van jou. Hoekom is die polisie so treurig. Jy hoort agter tralies maniak."
Steven het kalm gebly nadat sy hom by die deur uit gestoot het en dit in sy gesig toegeslaan het.
Hy het saggies aan die deur geklop en toe sy nie oopmaak nie het hy deur die deur gepraat.
"Die lewe is nie tussen jou vier mure nie Mavis. Dit is daar buite waar mense swaarkry. Mavis was altyd iemand wat tydig en ontydig gepraat het maar agter daai voorgee is daar 'n omgee Mavis.
Onthou jy vir Tannie Bettie? Daai Mavis was daar toe haar kinders haar verlaat het en stad toe gevlug. Jy het by haar gekuier sodat sy nooit te eensaam gevoel het nie. 
Mavis was daar toe sy op haar sterfbed lê en Mavis het haar hand vasgehou toe sy haar laaste asem uitblaas.
Dan is daar Oom Petrus wat longkanker gehad. Tannie Elsie wat jy versorg het alhoewel almal van haar gevlug het omdat hulle vermoed het sy het Covid.
Moet ek aangaan? Kom uit daai huis en kom lewe."
Dit het stil geword voor die deur. Teen die tyd dat sy oopgemaak het, het Steven al aan die oorkant by sy deur ingestap.
Sy kyk op na haar Godgegewe toekomstige man wat haar aan die hand optrek.
"Kom ons gaan pak Mavis. Upington wag vir ons."
Sy glimlag en fluister onhoorbaar,
"Ja Here, U het ons stukkende harte kom heel maak."
Hardop sê sy, "Uiteindelik gaan ek die hulp kry wat ek so broodnodig het. Ek kan nie langer so in vrees lewe nie. Elke skaduwee kan nie vir ewig 'n monster wees nie. God se Woord verklaar dat Hy my nie 'n gees van vreesagtigheid gegee het nie maar ek sukkel nog steeds om Hom op Sy woord te vat. Danksy jou gaan ek hulp kry. Ek is so lief vir jou."

Selwyn Rooi, 'n man van so 45 jaar oud, fiks en lank, draf op die seesand, stop en doen 'n paar oefeninge. Om een of ander rede kry hy nie die vrou wat gistermiddag by sy huis verby gery het en hom gegroet het uit sy kop nie. Die vrou het hy slegs vir sekondes gesien maar sy het bekend gelyk.
Sy is definitief nie deel van sy verlede nie maar waar het hy haar dan gesien? Iets vertel hom dat dit nie toeval was nie. 
Naby sy huis, in sy straat sien hy die motor wat gister verby gery het staan. Hy begin stap want hy wil 'n behoorlike kyk. 
Soos hy van agteraf die motor nader kan hy sien dat die vrou deur 'n verkyker kyk in die rigting van sy huis. 
Hy verbeel hom nie, sy kyk regtig na sy huis. Hy stop. Hoekom hou sy sy huis dop? Iets is nie pluis nie.
Selwyn besluit om maar liewer terug te beweeg tot by die winkel so 'n 100 meter weg. Hy het net daar aangekom toe sien hy die motor trek stadig weg. Dit ry stadig verby sy huis maar vesnel dan.
Nou is hy definitief onrustig. Wat wil die vroumens met hom hê?

Rachel het die man wat 'n paar meter agter die motor gaan vassteek het in haar truspieël gesien. Sy het sy gesig lank genoeg gesien om te weet dat dit dieselfde man is wat gister in die hek van die huis voor skuins voor haar gestaan het.
Sy is nie seker of die man opgemerk het dat sy die huis dophou met 'n verkyker nie want hy het nie omgekyk nadat hy omgedraai en winkel toe gestap het nie. Miskien wou hy net iets gaan koop.
Sy ry stadig vorentoe. Is daar nog mense in daai huis? Sy het vir meer as 'n uur gestaan en daar was nie eers 'n beweging van die gordyne nie. Dit is redelik warm en die gordyne is wel oopgetrek maar die vensters is toe. In dié hitte sou iemand darem seker die vensters oopgemaak het. 
Sy ry in die rigting van die see. In die parkeerarea begin sy soek na 'n Selwyn Rooi op sosiale media. Sy besef dat sy eintlik veronderstel was om dit te doen voor sy halsoorkop weg is van Martin af. Die inligting in haar besit is al oud en daarby het sy nie eers 'n foto van hom nie.

Tuis sit Selwyn Rooi en bepeins dit wat so pas gebeur het. Wie kan die vrou wees? Hoekom dink hy haar teenwoordigheid voorspel noodwendig gevaar? 
Hy gaan kombuis toe. In die hoekie langs die stoof lig hy 'n teël op van sy hout vloer. Hy steek sy hand in die gat en haal 'n rewolwer uit.
Hy gaan sit in sy kamer, haal dit uitmekaar en maak dit skoon. 
©Rooi Mier 17.01.2023

Plekke in #Stukkendeharte -Upington

Plekke in #Stukkendeharte -Upington Gordonia Hospitaal Dr Harry Surtie Hospitaal Upington Medi -Clinic ...