Dinsdag 06 Junie 2023

#Stukkendeharte Hoofstuk 59 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 59 - Rooi Mier


Larisa is opgewonde. Sy gaan 'n bietjie wegkom uit die koshuis. Om dag na dag neus in die boeke te sit is glad nie lekker. Sy het nou wel nie veel van 'n sosiale lewe nadat Anton gesterf het nie maar sy kon darem soms met Yvonne gesels. Nou is dit haar ook nie meer beskore nie. 
Sy pak vir haar 'n naweektas. Miskien moet sy maar net een boek saam neem om dalk net Sondagoggend deur haar werk te lees. Sy is egter reeds goed voor berei. Daar is einlik niks meer wat sy nog moet leer nie. Dit was die afgelope tyd net boeke en nogmaals boeke. Universiteit is beslis nie skool nie.
Sy glimlag. As haar ma moet hoor dat sy gedurende eksamens tyd het vir naweek uit het sy die horries gekry. Sy is egter nie hier nie en dit is nie nodig vir haar om hiervan te hoor nie.
Sy bestel 'n uber om haar tot by Lawrence in Eersterivier te neem. Daarvandaan gaan hulle verder uber Seepunt toe. Hulle sou oorspronklik die Saterdagoggend gegaan het maar Sahara het gevra hoekom hulle nie Vrydagaand al kan oorslaap nie. Dan kan Lawrence vir hulle braai op die balkon. Dit belowe om 'n lekker naweek te word. 
Dit raak 'n heerlike aand in Seepunt. Sahara wou bier bestel vir Lawrence maar hy wou niks daarvan weet nie.  Sy is dankbaar daarvoor want die naaste wat sy al aan alkohol gekom het is druiwesap.
Larisa het een keer op skool dronk geraak maar het besluit dat dit nie vir haar is nie. Drie jongmense met geen alkohol by 'n braai? Dit is raar maar waar.
Sahara het twee slaapkamers. Lawrence eindig op op die rusbank. Hy lê wawyd wakker. Die kere wat hy na aan Sahara gekom het, het hy besef dat daar nog baie water in die see moet loop.
Miskien sal dit die beste wees as hy maar so spoedig moontlik met Janice trou. Mens kan mos aanleer om iemand lief te kry of hoe? Dit is ook immers die ma van sy kinders. Hulle is goeie vriende en hy weet dat hulle gelukkig kan wees.
Larisa raak aan die slaap met Paul in haar gedagtes. Wat 'n aantreklike man. Lank en lenig soos sy dit sal kies uit 'n katalogus. 
Sahara dink ook aan Paul. Moet sy maar kyk waarheen hulle oppad is? Miskien kan daar iets van kom of sal hy net 'n tweede prys wees? Sy besluit om hom te bel die volgende oggend. 

Paul se sel lui. Hy wonder wie dan nou so lastig is op 'n Saterdagoggend. Hy laat dit lui vir 'n rukkie. Dit stop. Hy kyk wie dit was. Dit was Sahara.
Skielik skrik hy helder wakker.
"Sahara!" 
Hoekom soek sy hom? Hoekom het hy nie vroeër opgetel nie. Is sy in die moeilikheid. Hy bel haar.
"Sahara goeie môre."
"Goeie môre Sahara. Paul hier. Jy soek my."
"Ek het? Nee, ek het jou nie gebel nie. Laat ek gou kyk. Jammer, ek sien ek het. Dit is per ongeluk. Ek het my sel oopgemaak om my boodskappe te lees. Ek moes met die neersit per ongeluk jou geskakel het. Nou voel ek baie verleë. Wat moet jy nou van my dink?"
"Nee, niks."
"O jy dink niks van my nie?"
"Nee Sahara. Dit is nie wat ek bedoel nie."
Sy begin lag aan die anderkant. Hy glimlag. Die vrou vang my elke keer. Hy het haar nooit opgesom vir iemand vol grappies nie.
"Noudat jy my gebel het, wat van Maandag?"
"Wat van Maandag! O, jy bedoel die koffie."
"Ja Paul."
Sy lag weer. 
"Reg so Sahara. Maandag is reg met my."
Paul is sommer op en wakker. Kan dit nie nou al Maandagoggend gewees het nie? Wat koop 'n mens vir 'n date wat nie 'n date is nie? Help.

Gavin het vandag gehoor hy gaan na 'n plek van veiligheid ver uit die Kaap geskuif word. Hy en sy ma gaan daar herenig word. Alhoewel hy al met Yvonne gepraat het weet hy ook nie waar sy haar bevind nie. Hy is kwaad vir homself dat hy ooit betrokke geraak het by die mensehandel sindikaat. Nou het hy nie meer 'n lewe van homself nie. Alles draai nou rondom Meneer M.

Shane is bekommerd. Hoekom probeer Max nie uit die land vlug soos die meeste misdaadbase sou probeer nie? Hulle weet te min van hom om te weet wat hy volgende gaan probeer doen. Op die grensposse, die lughawens en hawens word daar uitgekyk vir hom. Hy is juis nou besig om al die video- en fotomateriaal op sosiale media van die dag in Reiger Park te bestudeer. Miskien is daar iewers 'n leidraad. Die munisipaliteit vat ook hul tyd met die verslag oor aan wie al die huise in die straat behoort. Miskien is daar iewers 'n leidraad. 

Mavis sit alleen in haar huisie. Sy het geen kind of kraai wat haar plekkie met haar deel nie. Hoe dikwels is sy bang om hierheen terug te keer. Sy is nie bang omdat sy glo enigiets fisies gaan met haar gebeur nie. Dit is eerder die eensaamheid wat haar bekruip en dan oorweldig. Sy weet sy staan bekend as die grootste skinderbek suid van due ewenaar.
Die mense wat haar so noem weet nie dat dit haar ontvlugting is nie. Mense sê haar sleg en val haar aan. As daar net een persoon kan wees wat haar wil leer ken vir wie sy eintlik is.
Weet hulle hoe voel dit om aand vir aand alleen te sit en wens dat jy deel van 'n gesin kan wees. Sy maak kos vir een. Niemand nooi haar oor vir 'n ete nie. Sy kyk TV alleen. Niemand om saam met haar te lag nie. As daar 'n tranetrekker op TV is huil sy alleen. 
Dit is nie dat sy nie eensaamheid ken nie. Dit is van kleins af deel van haar lewe. Sy onthou hoe sy dikwels alleen in die huis gesit het as kind. Elke geluid haar laat opkrul het van die vrees. Elke skaduwee het 'n monster geword.
Op 'n dag het sy per ongeluk by die skool uitgevind dat wanneer sy nuus het, sy die middelpunt van enige gesprek  kon word. 
Sy het egter ook geleer dat na die tyd sy nog meer soos 'n uitgeworpene voel. Die meisie wat eenkant op die skoolgrond sit en wag soos 'n hondjie vir 'n been.
As sy tog net haar kinderdae kon oordoen. Dit sou seker ook nie moontlik wees met dieselfde ouers nie.
Sy sit en kyk verlangend by haar venster uit. By die huis langsaan word daar oudergewoonte gestry oor watter kanaal.
Aan die anderkant word daar gelag. Hulle het altyd iets snaaks om mekaar te vertel. Oorkant is Steven en Sarie se deur nog oop. Hulle was vandag so gelukkig. 
Wanneer sal sy dan eendag gelukkig kan wees? Al is dit net vir 'n dag; wel, selfs 'n uur sal doen.
Sy trek haar gordyne toe, sit haar ligte af en klim in haar bed. Die boom buite maak skadu's op haar muur. Monsters wat haar wil gryp. Hoekom beleef sy dit dan vanaand so erg?
Sy lê klein opgekrul op haar bed. Mammie wanneer kom julle huistoe? Ek is bang.

*****
Ons almal het stories, van trane en spyt. 
Ons almal het verhale van liefde en verwyt. 
Niemand is perfek nie en nie almal is mooi nie, 
maar onthou, die lekkerste appels is nie altyd rooi nie. 
Wees jouself, laat jou lig vir die wêreld skyn en weet dat God jou lief het!!!!
Gedig deur Jacobet en Gert
©Rooi Mier 13.07.2022

Maandag 05 Junie 2023

#Stukkendeharte Hoofstuk 58 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 58 - Rooi Mier


Janice vryf oor haar maag. Die twee is woelwaters. Hulle skop haar klaar. Die ginekoloog het gesê hulle is besig om te draai. Dit is nie meer lank nie. Gelukkig maak Lawrence die week klaar met eksamens. 
"Ek het dan nog nie eers vir hom laat weet wat die name is wat ek vir ons seuntjie gekies het nie. 
Die name wat hy vir die meisie gekies het is perfek. Ek hou baie daarvan, Lanice Lauren van Wyk."
Sy haal haar sel uit en stuur hom 'n whatsapp boodskap.
"L, wat dink jy van Lorenzo Anton as jou seuntjie se name? Ek het maar net gedink ons moet jou vriend vereer en watter beter manier is daar nie.
Hy sal dan vir altyd 'n plekkie in ons gesin hê."
Nadat sy die boodskap gestuur het en dit weer lees besef sy dat sy "ons gesin" gesê het asof sy aanvaar hulle gaan trou. 
"Ek hoop nie hy neem aanstoot nie, ek het dit nie so bedoel nie, maar dit sal nie sleg wees nie."
 Sy sien haarself met haar man en kinders op die parkie. Sy het nooit kon dink dat sy op neëntien sou uitsien om getroud te wees nie maar dan weet neëntienjariges nie wanneer hulle hul sielsgenote gevind het nie.

Lawrence stap by die eksamenlokaal uit. Ek kyk sy whatsapp boodskappe. Oor twee dae gaan hy en Larisa by Sahara kuier. Dan lê daar nog een vraestel voor, voor sy semester eindig.
Hy sien uit na die vakansie want volgens skatting word sy tweeling vroeg in sy vakansie gebore. Larisa maak twee dae later klaar met eksamen so hy dink nie hy gaan vir haar wag nie.
Daar is 'n boodskap van Janice. Hy hou van die name en van die feit dat sy Anton wil vereer. Al wat hy wou hê is dat Anton vereer word. As hy die bulletjie se naam moes kies sou 'Anton' beslis deel van die naam wees.
Hy lees weer die boodskap en die keer vang sy oog die 'ons gesin.'  Dit is nie vreemd vir hom nie want hy sien ook soms die vier van hulle saam. Is dit nie dalk tyd vir hom om 'n definitiewe besluit te neem oor sy toekoms.

Sarie is besig in die kombuis. Sy neurie 'n deuntjie. Soveel hartseer en nou soveel vreugde. Nie dat die hartseer weg is nie, dit is meer draagbaar. 
Sy maak 'n kos wat op die platteland as 'n Sondagmiddag bord kos bekend staan. Daar is skaap, hoender, aartappelslaai, geelrys met rosyne, patat en 'n mengelslaai. In die oond is haar malvapoeding met vla op die stoof.
Die lug voel juis koud saans. Hopelik kom hy vanaand terug bed toe. As hy nie kom nie sal sy maar geduldig wees. Sy mis hom verskriklik baie.

Paul het afgevat vir die middag. Hy is in See Punt. Miskien sien hy vir Sahara. Hy het haar selnommer maar hoe verduidelik hy waarom hy bel?
Hy kan dalk nog wegkom met 'toevallig raakgeloop.' Daar sit sy toe ook op haar bank. Hy noem dit haar bank want dit is waar hy haar eintlik regtig ontmoet het. Hy stap 'n wye draai en kom rustig aangedrentel van die anderkant af. 
Teleurstelling. Dit is nie sy nie. 

Sahara lê min of meer op dieselfde plek waar sy vir die eerste keer haar pa gesien het. Dit is nog vreemd. Sy het aanvaar dat dit so is. Waarom nog tyd mors op 'n dna toets?
Sy vind dit egter nog steeds moeilik om Lawrence as haar broer te sien. Sy is self verward oor die hele ding. Sy aanvaar hom as haar broer maar haar hart sien hom nog nie so nie. Haar grootste toets is dié naweek.
Na 'n paar minute besluit sy om terug te keer na haar woonstel. Sy stap die trappe op van die strand af tot op die padvlak. Daar staan Paul reg voor haar.
Hy kyk na links en sien haar. Sy hart mis 'n slag. Pragtige vrou. 
"Hi Sahara. Goed om jou te sien. Wat 'n toeval."
"En ek is onder 'n kalkoen uitgebroei nê. Goeie dag Paul."
"Uitgevang. Ek het nie geweet hoe om jou te nader nie."
"Jy kan mos maar net gebel het. Hoekom soek jy my?"
"Jy dwing my nou om reguit te wees. Ek wou jou baie graag weer sien."
"Jy sien my nou en??"
"Ek wou jou net vra om 'n koffie saam met my te gaan drink."
"Haai ek het nogal net gister vir my koffie gaan koop. So ek het koffie."
Sahara is dik van die lag maar sy probeer dit wegsteek.
"Ek koop nou nie juis enige goedkoop koffie nie. So hoekom sal ek dan nou met jou wil gaan koffie drink?"
Sy draai weg sodat hy nie haar gesig moet sien nie. Sy moet hom terugkry vir wat hy die dag gedoen het met Lawrence, alhoewel dit op die einde ten goede uitgewerk het; wel niemand kon Lawrence se ongeluk voorsien nie.
"Dan is ek jammer dat ek jou gepla het Sahara."
Hy begin wegstap.
Sahara bars uit van die lag. 
Paul draai verward om. Lag sy regtig vir my? Hy het haar nie gesien as iemand wat so lelik met ander mense kan wees nie.
"Bel my dan kan ons tydens middagete 'n dag in volgende week 'n koffie gaan geniet. Ek is dan terug by die werk.
Jammer maar ek moes jou terugkry. Jy lyk nou nog verstom. Totsiens."
Sy stap weg.
Paul voel die verligting deur hom spoel. Dan begin hy lag. Dat die vroumens hom so kon vang. 

Max sit sy valse grys baard aan met sy grys pruik. Vat sy kierie, sluit die huis en stap om 'n taxi op die hoofpad te gaan kry. Dit is tyd om te beweeg. Hy stap verby 'n vangwa, hy kyk die polisieman in die oë en waai vir hom.

***
©Rooi Mier 13.07.2022

Sondag 04 Junie 2023

#Stukkendeharte Hoofstuk 57 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 57 - Rooi Mier


Rondom Lily Straat in Reiger Park is dit skielik baie bedrywig. Eers het dit gelyk of daar skielik net maar verkeer van gewone voertuie in die area is. Geleidelik verander dit ook na meer SAPD voertuie. Daar is verskillende uitgange uit die straat. Die uitgange word afgebaken.
Die mense in die area merk dit en begin mekaar oor en weer bel. By sommige huise begin mense oor die hekke en mure hang om te kyk wat volgende gaan gebeur. Sommige mense sluit hulself in en loer deur die vensters
By sommige huise is mense skielik baie bedrywig. Dalk het hulle iets om weg te steek. 

Sarie wonder hoekom Steven met haar wil praat. Sy het geweet een of andertyd sal hulle moet gesels, dit is net dat sy nie lus is vir nog slegte nuus nie. Hulle is ook die enigste oorblywende familie van Willem. Sodra die ondersoek afgehandel is moet hy ook nog begrawe word.
Dit op sigself is klaar moeilik. Hoe begrawe jy iemand wat indirek die dood van jou kind veroorsaak het? Wat soveel hartseer in jou gesin veroorsaak het? 
Sy weet egter instinktief dat dit nie is waaroor Steven wil praat nie.  Hy wil natuurlik skei. Sy sal maar net met alles saamstem; sy het dit immers veroorsaak.
Sy sit en wag reeds vir hom. Hy neem op 'n bank teenoor haar plaas. Sy gaan hom voorspring dink sy. 
"Steven, my man, ek wil jou weereens om verskoning vra vir wat ek gedoen het. Ek wil net vir jou sê dat ek aanvaar dat jy nie meer my man wil wees nie. Dit is nie maklik vir my nie maar ek gaan jou nie teenstaan nie."
"Waarvan praat jy Sarie?"
"Ek sê jy kan maar 'n prokureur kry om die skei te hanteer."
"Wie het van skei gepraat? Wil jy skei Sarie?"
"Natuurlik nie. Ek gaan jou nie teenstaan nie."
"Stadig Sarie. Ek het iets anders op die hart. Luister asseblief.
Ek wil jou vertel van my verlede, van alles wat ek deurgemaak het voordat ek jou ontmoet het. Belowe my jy sal eers net luister."
Hy begin vertel van sy kinderdae en alles wat hy deurgemaak het. Alhoewel Sarie 'n gedeelte daarvan gehoor het in die lykshuis, luister sy aandagtig sonder 'n woord.
Dit laat haar opnuut hartseer. Sy hoor die seer in sy stem en dit herinner haar aan klein Sally. Hoe seer moes dit vir haar gewees het, haar eie moeder wat haar wegstuur.
Sy is nie eers bewus daarvan dat haar trane loop nie. Steven se oë is ook nat. 
Nadat hy klaar sy storie vertel het kom staan hy voor haar waar sy sit.
"Sarie, ek wil vra dat jy my vergewe. Vergewe my dat ek nooit my geheim met jou gedeel het nie. Vergewe my dat ek my na drank gewend het. Vergewe my dat ek jou nie die lewe gegee het wat jy verdien het nie; dat ek deur my lewe jou gedwing het om in Willem se mag vasgevang te word. Ek wil jou ook vra om my te vergewe vir die manier waarop ek opgetree het die laaste paar weke.
As jy nie kan nie sal ek jou nie verkwalik nie. Ek het besef dat ek jou nog baie lief het en dat dit nie sommer net weggewens kan word nie."
Nadat hy klaar gepraat het staan Sarie op, plaas haar arms om sy nek en gee hom 'n liefdevolle, lang soen.
"As daar iemand is wat om vergifnis moet pleit dan moet dit ek wees Steven. Kan jy mý vergewe. Natuurlik is jy vergewe."
Steven hou haar net styf vas en sê nie 'n woord nie. Sy liggaam ruk net.
Hulle het nie eers opgemerk dat Mavis alles gehoor het nie. Sy is haastig oppad, maar gee haar krediet. Sy versprei 'n positiewe storie van vergifnis dié keer. Niemand het gesien dat sy trane afvee toe sy daar wegstap nie.
Het Mavis ook dalk 'n seer wat sy verdoesel agter baie praat en skinder? Is dit nie dalk haar manier om aanvaarding te soek nie? 

Nadat die polisie alle in en uitgange by Lily Straat afgebaken het, ry 'n paar tot by 'n huis in die straat waar hulle vinnig uitspring met wapens gereed.  Die straat kry skielik lewe. 
Die polisiemanne spring oor die hek en mure. Van hulle hardloop om die huis om die agterdeur en alle vensters te dek. Mense val oormekaar om in 'n posisie te kom om 'n foto of video te neem van die gebeure. Niemand weet egter wat presies aangaan nie.
Ja wat, ons mense sal die gevaar in hardloop uit nuuskierigheid. 
Drie polisiebeamptes mik na die voordeur toe. Een klop met 'n dokument in die hand (natuurlik 'n lasbrief), terwyl die ander twee hom dek, gereed om hom te beskerm.
Dit vat 'n rukkie vir die deur om oop te gaan. 'n Vrou van om en by veertig verskyn in die deur. Dit is duidelik dat sy heftig reageer. Die polisiebeampte wys haar die dokument. Sy neem haar tyd om dit te bestudeer terwyl mens duidelik kan sien dat die beamptes ongeduldig is. Probeer sy tyd wen?
Sy staan uiteindelik weg en die polisie beamptes storm die huis binne. 
Buite het iemand genoem dat hy gehoor het Meneer M skuil daar binne. Nou is dit in rep en roer. Polisie beamptes sukkel om die mense weg te hou. Elkeen wil die oomblikke vasvang in beeld of ten minste as 'n ooggetuie. Totale chaos daarbuite. Nog drie polisie beamptes gaan die huis binne. 'n Vroue beampte lei die vrou wat die deur oopgemaak het uit. Sy vloek en skel op die beampte. Dit is duidelik dat die beamptes binne die huis nie behoorlik hul werk kan doen nie. 

In Kaapstad sit Shane gespanne. Hy spring dan weer op en loop op en af, op en af. Sy oë vasgenael op die horlosie op sy arm, dan die horlosie op sy kantoormuur.  Wat neem dit so lank. Hoe wens hy hy was self daar. Die spanning loop hoog. Sy selfoon lui. 
Dit is nie sy amptelike sel nie. Hy ruk dit uit sy sak en gooi dit teen die muur. Shane kan dit nie verdra om nie deel van die operasie te wees nie.
Dit is asof hy musiek hoor en iemand druk hom vas sodat hy nie kan dans nie. 

In Reiger Park is die spanning ook op breekpunt. Die eerste joernalis het daar aangekom. Nuus oor die moontlike arrestasie van Meneer M is besig om soos 'n veldbrand te versprei. In nuushuise word daar oormekaar geval en geskree soos elke joernalis die een wil wees wat die storie gaan dek vir sy of haar nuushuis.
Binne die huis is alles deurmekaar. Meubels is geskuif, kaste is oop. Daar is selfs 'n gat in die plaffon. Is daar nie dalk iewers 'n geheime deur nie, 'n ondergrondse kamer nie.
Niks, hier is niemand anders in die huis nie. Die beamptes kom een vir een uit. Daar is 'n verslae uitdrukking op elke gesig wat uitkom. Elkeen van hulle wou so graag deel wees van dié groot vangs. Daar is egter geen vis nie.

Shane is net so verslae toe hy die nuus kry. Intelligensie het bevestig dat Max Adriaanse in die huis was maar nou is hy nie daar nie. Hy gaan sit en staar na die muur oorkant hom.

'n Halfuur gelede het Meneer M se foon gelui. Die persoon het hom gewaarsku dat hulle oppad is om hom vas te kom trek. Max was kalm toe hy die beampte bedank. 

Verder af in die straat staan 'n ouman en kyk oor die hek na die bedrywighede. Hy is grys en leun op sy kierie. Sy hoed is effens oor sy gesig getrek. Hy glimlag breed en loop hinkepink die huis in.
***
©Rooi Mier 13.07.2022

Vrydag 02 Junie 2023

#Stukkendeharte Hoofstuk 56 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 56 - Rooi Mier


Shane is opgewonde. Hy het inligting ontvang waar Max Adriaanse hom bevind op die oomblik. Terselfdertyd voel hy ook teleurgesteld. Dit is in Reiger Park in Johannesburg en hy is in Kaapstad. 
Die volgende vlug na Oliver Tambo is eers oor ses ure, dan is die vlug self ten minste 2 ure. Saam met die voorbereiding kan dit dus tot tien, elf ure neem. Dit is hopeloos te lank.
Dit beteken hy moet 'n span daar vra om die operasie uit te voer. Dit sit nie lekker aan hom nie. Daar is altyd die risiko dat daar inligting kan uitlek oor die beplande operasie.
Hy het egter nie 'n keuse nie. 

G of te wel Gavin het vroeër uiteindelik met sy ma gepraat op video oproep. Sy het vertel dat 'n baie gawe polisieman by hul huis aangekom het en haar ingelig het oor waarmee hy besig is. 
Natuurlik was sy baie teleurgesteld om te verneem haar seun is betrokke met mensehandel. Dit het haar vreeslik ontstel. Sy het hom ook sommer lekker vasgevat.
Daarna het sy weer haar blydskap uitgespreek dat hy tot sy sinne gekom het en nie die arme kind in haar ellende gelos het ter wille van haar nie.
Voor dit alles gebeur het, het Gavin 'n baie openlike verhouding met sy ma gehad. Hy vertel haar dus van Yvonne. Sy ma moedig hom aan om sy hart te volg maar sy waarsku hom hoe gevaarlik dit kan wees. Sy kom egter tot die slotsom dat 'n mens alles behoort te doen vir liefde, natuurlik alles wat wettig is.
Na sy gesprek met sy ma kon hy Yvonne kontak. Sy lyk goed. Nadat sy hom bedank het vertel sy hoe spyt sy is dat sy nie ag geslaan het op Larisa se waarskuwing nie. Al wat sy nou wil doen is om haar graad te voltooi. Sy wil 'n maatskaplike werkster word.
Gavin vra vergifnis oor sy aandeel aan haar ontvoering. Hy vertel haar van sy ma en hoekom hy dit gedoen het.
Yvonne weet egter alreeds dat hy sy ma wou beskerm en vertel hom dat sy dalk presies dieselfde sou gedoen het as sy in dié posisie was. 
Gavin is so dankbaar dat sy dit nie teen hom gaan hou nie. Hoe sou hy dit kon verdra? Hy voel dan alreeds so skuldig. Sal dit nou die regte tyd wees om haar te vra of hy haar weer kan sien? Hy besluit om liewer te vra of hulle in kontak kan bly waarop sy antwoord dat sy hom graag beter wil leer ken en dat sy vriende met hom wil wees.
Dit gee hom natuurlik baie hoop. Die moontlikhede is nou baie groter. Nadat hulle totsiens gesê het fluit hy 'n opgewekte deuntjie. Gaan sy dalk die moeder van sy kinders wees? 
Hy wonder juis watter tipe pa hy gaan wees nadat hy gehoor het dat Meneer M eintlik Candice se pa was en dat hy moontlik verantwoordelik is vir die moord op haar.
Intussen staan sy lewe stil. Stan Cupido praat juis van 'n nuwe naam en van totdat die verhoor plaasvind. Dit kan jare neem.

Candice Williams se ma het klaar begrafnisreëlings getref. Haar dogter her as 'n krimineel sterf. Sy het altyd gesê dat Candice baie soos haar pa was. Sy het gehou van mag. Nou het dit haar lewe gekos.
Die ironie is dat haar kriminele aktiwiteite nie direk haar dood gekos het nie maar haar eie pa. Sy glo dat dit hy was. 
As jong meisie was dit so bekorend om die meisie te wees van iemand groot in die onderwêreld. Die droom van baie jong meisies. Sy het 'n lewe van luukse gehad solank sy net beskikbaar was vir hom.
Daar was 'n tydperk dat sy selfs gunsies aan 'n vriend van hom moes doen. Sy het geglo dat sy baie belangrik vir hom is want sy het aan niks tekort gehad nie. Sy was selfs 'n keer saam met hom Dubai toe as Mev Max Grant, die van wat sy gedink het sy eie is.
Hoe groot was die ontnugtering toe sy swanger word en gedink het hy gaan met haar trou. Sy moes met 'n skok uitvind dat hy reeds getroud is en dat hy nie eers eenkeer daaraan gedink het om ernstig met haar te wees nie.
Dan sal hy ook eers wil vasstel of dit wel sy kind is want hy het daar dan aan sy vriende aangebied as vermaak. Dit kan mos enige iemand se kind wees.  Wat haar die seerste gemaak het was toe hy gesê het sy moet aanvaar dat sy niks meer as 'n prostituut is. Hy koop haar dienste.
Sy was platgeslaan. Kan dit wees dat sy, 'n intelligente persoon in dieselfde strik getrap het as baie ander jongmeisies?
Sy het uit sy lewe verdwyn maar hy het haar tog opgespoor keer op keer dan het sy maar wees saam met hom geslaap. 
Nadat sy die wonderlikste man ontmoet het en met hom getrou het, het hy nog steeds sy draai kom maak. Haar man het skielik sy werk verloor en net so skielik 'n ander werksaanbod gekry. 
Sy het uitgevind dat dit Max se toedoen was. Wanneer hy wou kom oorslaap moes haar man elke keer uitstedig gaan. Hy het natuurlik nie geweet dat sy eintlike baas sy stiefkind se pa was nie.
Nou haat sy hom. Hy het haar kind vermoor. Sy is oortuig daarvan dat sy hom self sal vermoor as sy kon. 
Sy het nou in die nuus gelees dat sy vrou Rachel is en dat sy gedink het hy is jare dood. Arme vrou of was sy ook bekoor deur sy mag?

Steven het die saak oordink. Hy wil so graag vir Sarie vergewe maar het dié geld nou 'n probleem geword. Sy ly tog klaar, gaan verdere straf nodig wees? Dit is maklik vir hom om te sê sy het ons kind se dood veroorsaak.
Waar was hy as pa? Hy het agter die seer van die verlede geskuil en homself bejammer. Het dit enigsins gehelp? Hy het nou liewer dubbele seer. 
Moes hy nie liewer sy seer gebruik het om andere die seer te spaar of meskien daardeur te help nie?
As hy gepraat het, sou iemand anders nie dalk ook die moed gehad het om te praat nie. Dalk sou dit die steriotipering help wegneem het. Dalk sou Sarie miskien anders reageer het toe Sally kom praat het.
Dit is so maklik om die blaam op iemand anders te lê om jouself beter te laat voel.
Is hy nog lief vir Sarie? Ja, beslis. Hoekom sy eie hart en daarmee ook haar hart vernietig? Is daar dan nie genoeg stukkende harte in die wêreld nie?
Steven maak 'n keuse. Hy kies om die verandering te wees. Verandering begin vandag in Kokerboom Straat in Vanwyksvlei. 
Vir die eerste keer in jare is hy op sy knieë.
"Ag Here, ek weet nie meer hoe om te bid nie daarom val ek sommer met die deur in die huis.
Almal sê U weet alles. So U weet van my seer. Ek het vir jare ander mense gehaat en selfs vir U. Vandag moet U my vergewe.
My haat het niks van hulle weggeneem nie. Dit het my liewer na drank gedryf. Ek weet ook wat selfhaat is. Hoe meer ek gedrink het hoe meer het ek myself verag.
Leer my om ander te vergewe dan kan ek myself vergewe omdat ek glo dat ek dan vry sal wees.
Amen."
Vir die eerste keer nadat Sally gesterf het sien Steven lig in die tonnel. Hoekom het hy skuldig gevoel as hy die slagoffer was? Het hy dan die daad gepleeg dat hy skaam moes voel? Hy moet begin deur eerstens vir Sarie alles te vertel.
***
Psalm 103:10 Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie.
11 Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor *die wat Hom vrees.
12 So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.
©Rooi Mier 13.07.2022

Donderdag 01 Junie 2023

#Stukkendeharte Hoofstuk 55 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 55 - Rooi Mier


Sahara het toe nie teruggebel nie. Paul is nou nie seker of sy sy nommer herken het en toe besluit het om nie te bel nie of is sy nommer net eenvoudig nie gelys nie. Hy is egter nie van plan om so maklik tou op te gooi nie. 
Paul skakel weer. Die foon hou aan lui totdat dit hom later aanspoor om 'n stempos te los. Hy druk egter af. 

Yvonne het gevra dat hy Larisa laat weet dat haar wond mooi heel. 
Hy skakel Larisa.
"Larisa goeie middag."
"Hi Larisa, klink jy altyd so formeel. Dit is Paul, Yvonne se broer."
"Hi Paul, ek wou maar net nie voorbarig klink nie. Jy het so saaklik geklink toe ek laas met jou gepraat het."
"Dit was seker as gevolg van my bekommernis oor Yvonne. Hoe gaan dit met die eksamens?"
"Baie studeer werk maar oor die algemeen gaan dit goed. Hoe gaan dit met Yvonne. Haar nommer werk nie meer nie."
"Sy het my juis gevra om jou te laat weet sy is op die herstel pad. Dit was net moeilik om weer vaste kosse te begin eet. Sy lyk glo nou soos Amerika se maer modelle, vel en been."
Larisa lag.
"Ek wens ek kan 'n kilo of twee verloor."
"Nee man Larisa. Jy wil tog nie dat die mense jou moet mis kyk nie. Jy is perfek soos jy is.
Ek wil jou eendag uit neem vir ete. Dit is net om dankie te sê vir jou bydrae tot Yvonne se redding. My ma kan nie ophou om te sê hoe dankbaar sy is teenoor elkeen met 'n bydrae.
Wat doen jy die Saterdag?"
"Dit is buite die kwessie Paul. Sahara gaan vir my en Lawrence uit neem dat gaan ons die aand by haar kuier en oorslaap."
"O jammer. Ek het nie geweet jy en Lawrence is nou, jy weet."
Larisa lag weer. 
"Nee glad nie Paul. Ons is net baie goeie vriende van ons eerste dag op skool af."
Sy wonder of Paul dalk net 'n tikkie jaloers is.
Paul is jaloers maar eerder op Lawrence.  Hy is nou wel Sahara se broer maar sterf liefde dan sommer net so? Die liefde was daar vóór hulle geweet het hulle het 'n bloedverbintenis.
"Dan praat ons weer Larisa. Ek sal in verbinding bly. Onthou die ete. Ek gaan jou nog uitneem. Totsiens."
Larisa se hart klop wild. 
"Ai Anton. Is dit te gou om so te voel? Vergewe my want ek is nog steeds lief vir jou."

Paul skakel weer Sahara se nommer. As sy nie dié keer antwoord nie weet hy nie wat hy gaan doen nie. Niks nie. Hy is so teleurgesteld. Nou is hy seker sy wil nie met hom praat nie. Hy gooi se sel op sy lessenaar neer. 

Martin en Rachel sit en gesels in 'n restaurant. 
"Dink jy nie dat ons tog Shane Cupido se hulp aanvaar om vir jou beskerming te kry nie Rachel. Daai broer van my is baie onstabiel. Ek sal myself nooit vergewe as hy jou wil laat seermaak nie."
"Hy sal nie Martin."
"Hoe seker is jy daarvan? Almal glo hy het sy eie dogter laat vermoor. Hoekom sal hy jou oorsien."
"Martin, as hy my kan seermaak kan hy jou ook seermaak. Jy wil nie bewaak word of wegkruip nie. So respekteer my ook. Ek kruip nie weg nie."
"Jou seun is alreeds dood as gevolg van sy bedrywighede. Ek kan nie glo ons het in dieselfde huis grootgeword en dieselfde waardes geleer nie."
"Martin, die meeste ouers leer nie hul kinders om die verkeerde dinge te doen nie. Dit is keuses wat hulle self maak."
Martin dink aan hulle as kinders. Max was altyd die selfsugtige een. As hy nie iets besit nie mag niemand anders nie. Hy het speelgoed van Martin of hul neefs altyd laat wegraak, per ongeluk gebreek of stukkend gesny.
Martin se katjie het 'per ongeluk' in die brandende kaggel beland. Hy het 'per ongeluk' oor 'n neef se hondjie met die fiets gery. 

Steven en Sarie sit langs mekaar in die prokureur se kantoor. Hulle het 'n oproep gekry om te kom. 
Albei van hulle se eerste gedagte was dat dit die ander se prokureur was en dat dit oor skei gaan.
Sarie het besluit dat as dit so is dan gaan sy dit nie teenstaan nie. Sy sal net inval indien die voorwaardes redelik is.
Steven is nie meer so seker hy wil skei nie. Hy is egter nog baie kwaad vir haar oor wat met hul kind gebeur het. 
Die prokureur het hulle so pas meegedeel dat hulle gesamentlike erfgename van Willem se bates is. Hy sê egter ook dat hulle dalk niks daarvan gaan kry nie want as die staat kan bewys dat dit uit geld bekom is wat uit misdaad voortspruit gaan die staat dit konfiskeer. Dit beloop tussen R15 en 20 miljoen.
Daar is egter 'n lewenspolis van so by die R5 miljoen wat eweredig tussen hulle en Sally opverdeel moes word. Indien iemand weggeval het dan word daardie persoon se uitbetaling verder eweredig verdeel tussen die oorblywendes.
Dit is nou iets wat uit die bloute kom. Hulle sou nooit kon dink dat Willem dit sou doen nie. Dan is hulle ook geskok om te weet dat Willem se bates soveel beloop.
Steven weet nie wat om te dink van dié geld nie. Sal dit nie Sally se waardigheid verder ontneem nie; haar herinneringe besoedel nie? Hy is nou wel arm maar geld is nie alles nie.
Hy het tyd nodig om te dink wat om daarmee te doen.
Sarie is nog te uit die veld geslaan. Sy weet nie wat om van dit alles te maak nie.

***
Hebreërs 13:5 Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. *Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: *Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.
©Rooi Mier 13.07.2022

Plekke in #Stukkendeharte -Upington

Plekke in #Stukkendeharte -Upington Gordonia Hospitaal Dr Harry Surtie Hospitaal Upington Medi -Clinic ...