Dinsdag 23 Mei 2023

#Stukkendeharte Hoofstuk 47 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 47 - Rooi Mier

Shane Cupido kry 'n boodskap. Ons vertrek 02:00 vanoggend uit George na Beaufort Wes. Hy lees die boodskap terwyl hy ry. Hy trek onmiddelik af want hy moet 'n oproep maak. Hy is onmiddelik op die foon.
"Die poppe begin dans. Die orkes begin om 02:00. Hulle gaan hou by die snitlys (playlist). Verwag jou dansmaat vanaf 03:15 enige tyd deur die deur kom dan kan julle tango."
Shane glimlag. Daar gaan 'n tinteling deur sy liggaam. Hy was nog altyd 'n man van aksie. Dit laat hom lewendig voel. Die adrenalien begin alreeds te pomp alhoewel dit nog omtrent drie ure is voor die aksie begin. Hy is lus vir 'n tango.
Die afgelope tyd was niks lekker vir hom nie. 
"Dankie Vader, ek hoef nie meer 'n hawelose te speel nie."
Gisteraand het hy besef dat hulle besig is om met Yvonne se lewe te speel deur te probeer om eers Meneer M vas te trek. Iemand se lewe is sekerlik meer werd as erkenning. Dit sou goed op sy CV gelyk het om bekend te wees as die ou wat Meneer M vasgetrek het, maar teen watter koste?
Hy het onmiddelik 'n plan van aksie begin uitwerk om Yvonne te red. Hy het ook besef dat hy dalk die privaatspeurder se hulp nodig gaan hê. Na bietjie navorsing het hy vasgestel dat Paul 'n bietjie militêre opleiding gehad het, anders as die meeste ander mense wat hulself "privaatspeurders" noem. Hy weet hoe om homself te verdedig in gevaarlike omstandighede.
Hy het vir Paul gebel maar nie sy naam gegee nie. Hy het net gesê hy is die boemelaar van Cloetesville. Na daai oproep het hy onmiddelik in die pad geval. Die res van die span sal nou uit George ry om vroeg by die "jol" te wees. Hyself is al verby Leeu Gamka soos jy Beaufort Wes toe ry. Hy gaan egter voor Beaufort Wes afdraai in die rigting van Meiringspoort.
Shane is egter nog vroeg en besluit om eers bene te rek en miskien vinnig agter 'n bossie te gaan staan. Hy besef toe dat 'n bossie nie nodig is nie want dit is donker en hy sal sien as daar voertuie aankom.

Paul was al radeloos want hy kon geen leidrade vind oor waar Yvonne of Candice hulle bevind nie. Is hulle saam? Miskien het Candice die mense wat Yvonne aanhou iewers ontmoet.
Hy was dus desperaat vir enigiets toe hy die oproep ontvang. Die persoon het homself net indentifiseer as die boemelaar van Cloetesville. Al wat hy gesê het is pak jou goed en wees in Beaufort Wes teen 04:00 môreoggend. Ek sal jou verdere instruksies gee voor 04:00. Hou jou foon oop tussen 03:00 en o4:00. Doen dit vir Yvonne. 
Is dit 'n lokval? Al sou dit dan ook wees sal hy enigiets doen om sy suster te red. Hy sal moet die kans vat. Hy maak seker sy pistool is gereed vir enige aksie.
Noudat hy nie meer so ver van Beaufort Wes af is nie dink hy wat gaan hy doen want hy is vroeg. Hy kan nie na sy ma toe gaan nie want sy sal in die pad wees. 
'n Man is besig om uit sy motor te klim. Paul het ook 'n behoefte om af te trek maar besluit om liewers tot in Beaufort Wes uit te hou. Dit is tog nie meer so ver nie.

G is al een wat naby Yvonne mag kom omdat ander gesigte nie naby haar toegelaat word nie. Indien enigiets skeef loop sal sy net die een gesig hê wat sy kan identifiseer.
G weet dat dit eintlik beteken hy alleen die val moet vat omdat dit dan sy woord teen die res gaan wees. Hulle weet nie dat dit hom eintlik pas nie. Dit gee hom meer tyd om Yvonne se vertroue te wen. Hy het die afgelope tyd haar ook nie so gereeld ingespuit nie so sy is meer bewus van wat rondom haar aangaan. So in plaas van inspuit bind hy soms net haar hande en voete vas en iets om haar mond om nie te skree nie.
Saans moet hy haar egter inspuit sodat sy nie dalk wakker word terwyl hy slaap nie. Hy het vroeg gaan slaap omdat hy weet dat die dag dalk lank gaan wees. Nou is hy egter wakker. Dit is 'n groot plaashuis. 
Buite is verskeie wagte wat op en af beweeg. Hy besluit om maar te gaan kyk of Yvonne nog slaap. In die kamer waar sy aangehou word is daar geen vensters nie. Jy stap met trappe af so die kamer is natuurlik ondergronds. Aan die einde van die trappe is 'n deur aan die regterkant. Dit is 'n tipe stoor. Daar staan verskeie kaste teen die muur, of so blyk dit te wees. Die derde kas is eintlik 'n deur. As jy dit oopmaak is daar 'n traliehek. 
G het dié hek se sleutel gisteraand ontvang omdat hy alleen toegang tot Yvonne het. Die persoon wat die sleutels aan hom 'oorhandig' het, het eintlik net op 'n interkom met hom gepraat.
Wat vreemd was is dat die persoon besorgd geklink het oor Candice. G moes verduidelik dat sy oraait was toe hy laas met haar gepraat het. 
Yvonne slaap nog. Hy gaan sit op die bed by haar kop. Lig haar kop en laat dit op sy been rus. Hy sit en streel oor haar hare.
"Ek is so jammer Yvonne. Vergewe my dat ek my ma se lewe bo joune gekies het. Kom wat wil maar jy gaan gered word. Ek sal moet boet vir my dade maar red sal ek jou red."
Hy besef nie dat Yvonne wakker is nie. Sy hoor elke woord. Hy buk vooroor en soen haar liggies op die voorkop. Vir die eerste keer in dae ontspan  sy effens. 
Sy weet nie of sy gedroom het of dit dwelms was nie maar het hy haar die anderdag afgewas en aangetrek? Sy het gedink hy het haar verkrag maar hy het so  teer opgetree dat sy terwyl hy haar aangetrek het dat sy twyfel of dit so was. 
Nou is sy heeltemaal verward. Sy optrede strook nie met hoe sy dink 'n ontvoerder behoort op te tree nie. Miskien behandel hy haar maar net so om te verhoed dat sy sal wil ontsnap as sy 'n geleentheid kry.
Sy woorde toe hy opstaan help ook nie juis nie.
"Ek moet gereed gaan maak sodat ons Beaufort Wes toe kan gaan. Ek haat Candice vir wat sy aan jou doen. Moenie bang wees nie, ek gaan my lewe vir jou gee."

Candice lê wakker in die gastehuis in Beaufort Wes. Meneer M het die plek bespreek en betaal. Sy weet nou nog nie hoe hy lyk of regtig klink nie. Sy kan hoor dat hy iets gebruik om sy stem te verander as hy bel. Dit klink net nie eg nie.
Sy is nie soos die ander meisies nie. Die arme Yvonne. Sy het elke woord geglo wat uit haar mond gekom het. Candice het 'n paddagees. Sy vang haar prooi met haar tong.
Die dag toe Meneer M die eerste keer met haar gepraat het sal sy nooit vergeet nie.
Sy het pas tuisgekom van 'n nagklub in Yeoville, Johannesburg toe haar foon lui. Sy het die oproep geïgnoreer toe sy sien dit is 'n ongelyste nommer. Die persoon het nog drie keer gebel voordat sy haar foon afgesit het.
Na 'n paar minute het sy dit egter weer aangesit. Dit persoon het weer gebel.
Sy was van plan om die persoon eers te beledig voor sy afdruk maar voordat sy iets kon sê het 'n stem haar beveel om stil te bly en te luister.
Sy het net een woord uitgekry toe beveel die persoon haar om stil te bly nie. Candice kon dit agterna nie glo dat sy wel stilgebly het nie.
"Candice Williams, dogter van Arthur, wat jou stiefpa is en Ronel, nou 17 jaar oud maar reeds 'n rebel. 
Ek ken jou. Jy is iemand wat mag oor ander mense wil hê en geld is belangrik vir jou."
"Wie is jy?"
"Bly stil en luister. Jy sal eendag mag oor ander mense hê maar ek kan jou help om dit nou al te kry. Op 17 is jy alreeds in matriek. Jy vaar goed op skool. Sê net ja en jy gaan volgende jaar 'n huis in Kaapstad hê, jou eie motor en mag oor die armoedige ambisieloses rondom jou. Ek gee jou 'n paar dae om daaraan te dink."
"Ek ken jou dan nie eens nie."
"As dit 'n vereiste is dan is jy nie die persoon wat ek gedink het jy is nie. Dan gaan ek maar verder soek."
"Wag meneer. Gee my 'n dag of twee."
Die dag of twee het 'n week geword. Candice het gedink sy het haar hand oorspeel. Presies sewe dae later het haar foon weer gelui. Weer 'n vreemde nommer.
Hierdie keer het Candice gou geantwoord. Sy het nou wel nie geweet van wie die oproep was nie maar sy het vinnig geleer dat vreemde oproepe nie noodwendig sleg is nie. 
Dit was toe die vreemde man. Sy het onmiddelik ja geantwoord. Nou is dit twee jaar later en sy het nog nooit die geheimsinnige Meneer M ontmoet nie. Dit baat ook nie jy stoor sy nommer nie want volgende keer is dit 'n ander nommer.
Sy het vinnig geleer dat haar sjebeen net 'n front is. Wie gee om as jy jouself 'n ryk jong meisie kan noem. Sy het met hul eerste gesamentlike mensehandel hom bevraagteken en haar huis was weggevat. 
Dit was in elk geval onvanpas vir 'n "student" om haar eie huis te hê. 
Nou lê sy wakker. Sy was nog nooit spyt oor die pad wat sy gekies het nie. Dit is opwindend en belonend.
Dit is amper 02:00 vm. Sy gaan later vir G ontmoet. Meneer M is so geheimsinnig dat sy nie eers weet waar G hom nou bevind nie. Miskien is hy al hier in Beaufort Wes, miskien nie.

G is besig om die voertuig wat hy gaan gebruik gereed te kry. Dit is 'n dubbelkajuit bakkie wat ook 'n versteekte kompartement onder die verhoogde bak het. 
Nadat hy die olie, water en bande nagegaan het, wat onnodig was want hy weet die voertuig was alreeds voorberei, gaan hy om Yvonne voor te berei. Dit is die moeilikste gedeelte. Hy praat die hele tyd met haar terwyl hy haar 'n sweetpak aantrek. Hy vra om verskoning en verduidelik hoekom hy dit moet doen.  Hy sorg dat sy 'n vitamienryke drankie inkry voordat hy haar inspuit. 
Hy hoor omtrent twee persone die trappe afkom. Die twee het nie geweet van die geheime vertrek nie. Hy moes hulle daarvan vertel in opdrag van die gesiglose stem. Die twee manne gaan hom glo vergesel op hul rit as groentesmouse. 
Nadat Yvonne in die kompartement geplaas is  en verseker het dat dat genoegsame suurstof deurkom, laai hulle vrugte op die bak. Sodoende sal mens ook nie maklik sien dat die bak gedeelte verhoog is nie.
G verdwyn vinnig vir 'n minuut. Met sy terugkeer vra hy een van die ander om te ry.

Paul is alreeds in Beaufort Wes. Hy is vroeg en gaan ry by sy ouerhuis verby. Hy verlang sy ma. Sy pa het hulle verlaat toe hy nog klein was en Yvonne 'n baba. Sy ma het hulle alleen grootgemaak. Hy sou wat wou gee om nou daar in te gaan en haar lekker moerkoffie te drink maar hy kan dit nie waag nie. Hy ry tot in die dorp en besluit om vir 'n tydjie te slaap sommer so in die motor. Hy stel sy alarm.

Shane is amper by sy bestemming. Hy is so opgewonde. Daar kom 'n boodskap deur. 
"Die orkes het begin speel."
Op sy radio speel die lied, "Let's twist again.'
Hy voel weer daai tintelende gevoel.

***
Matthéüs 16:26 Want wat baat dit 'n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal 'n mens gee as losprys vir sy siel?
©Rooi Mier 13.07.2022

Maandag 22 Mei 2023

#Stukkendeharte Hoofstuk 46 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 46 - Rooi Mier

Daar is 'n klop aan die deur by Steven en Sarie se woning. Dit is vroeg warm dus staan die deur oop. Steven sien 'n gedeelte van 'n polisieuniform van waar hy sit. Hy gaan maak die traliehek oop en nooi die Sersant binne.
"Ek het net gekom om te sê dat Willem September aangekla gaan word van verkragting op jou dogter. As polisieman klink dit vir my dat dit 'n baie moeilike saak gaan wees om te bewys omdat dit jare gelede gebeur het en die feit dat die slagoffer oorlede is. Op die oomblik is die enigste bewyse die brief wat sy geskryf het en dan jou vrou."
"Hoe bedoel u my vrou?"
"Volgens die brief het u dogter haar vertel daarvan. Wat dit moeilik gaan maak is die feit dat sy nie jul dogter geglo het nie. Ons aanklaer is van die beste maar as Meneer Willem September 'n baie goeie prokureur kry is daar 'n moontlikheid dat hy vry gaan kom."
Steven se blik is vasgenael op die deur waar Mavis se gesig verskyn het; maar dit lyk asof hy haar nie raaksien nie. Sarie het geweet en nie my dogter geglo nie?
Hy onthou nou dat hulle nooit die brief klaar gelees het nie. Nadat hy Willem aangeval het was alles deurmekaar.
"So het u die brief?"
"Ja Meneer September. Dit maak nou deel uit van die bewyse."
"En u sê dat my vrou volgens die brief kennis gedra het van die verkragting?"
Hy stap deur toe en druk Mavis uit en klap die deur in haar gesig toe.
"Ek is jammer Meneer maar ek het nie geweet dat sy u nie ingelig het nie.
Daar is egter ander nuus. U broer Willem was betrokke by diamante smokkelary. Die polisie soek al jare na hom. Hy het dit goed weggesteek omdat hy altyd 'n lae profiel handhaaf het. Die bewyse is genoeg om hom vir baie kank weg te sit.
Ek het u net kom inlig. Sterkte met die begrafnis later die week."
"Totsiens Sersant. Baie dankie."
Steven maak die deur oop en Mavis val teen hom vas.
"Vervlaks man. Ek wou net klop toe jy oopmaak."
Steven sê niks. Hy druk haar net regop en weer by die deur uit. Die sersant kan nie help om te lag nie.
Steven stap saam tot by die polisievoertuig. Nadat die sersant gery het staan hy by die hek en kyk die straat af.
"Sy het geweet."
"Wat het sy geweet?"
Mavis se stem klink agter hom op. Hoe raak mens ontslae van die vrou? Verergd draai hy om en stap die huis in. 
" So my vrou het nie net met Willem geslaap nie maar ook geweet hy het my dogter verkrag. Watter soort siek mens doen dit? Slaap met jou dogter se verkragter? Sy moet nou huistoe kom. Daar is baie om te verduidelik."

Paul kyk na die koördinate van die laaste plek waar Yvonne se sel aan was. Dit is by 'n sjebeen in Cloetesville in Stellenbosch. Hy gryp onmiddelik sy sleutels en ry. Dit is nogals ver daarheen.
Met die verkeer neem dit hom amper 'n uur om in Stellenbosch te kom. Hy skakel sy gps aan om die die straat in Cloetesville te kry. Die plek is toe. Daar is slotte aan die hekke. Die enigste persoon wat hy sien is 'n hawelose buite.
Paul vra hom of hy gesien het wie laaste daar weg is. Hy vertel van die vriendelike man wat hom soms kos aangebied het. Die is weg met 'n bakkie. Hy gee die beskrywing van die bakkie.
Paul vra of daar nog iets is wat hy onthou. Hy vertel van die net so vriendelike, slim meisiekind wat vroeër daar was. Sy is slim want sy is by die universiteit. Hulle noem haar glo Candy. 
Daar is duisende bakkies soos daai. Paul se enigste uitweg is die meisie op universiteit. Hy onthou skielik 'n Candice by die universiteit. Kan dit die Candy wees?
Hy ry daarheen. As sy klas het sal hy maar net moet wag. Daar is nie 'n ander manier nie. Daar is nie antwoord by haar kamer nie. Hy sal maar in sy motor bly wag. Paul verwonder hom aan hoe maklik mens deesdae kan in en uit by koshuise sonder dat iemand jou stop.
Sy foon lui. Dit is die kantoor. Sy ma soek dringend na hom want hy antwoord nie sy foon nie. Hy bel haar en belowe om haar later ten volle in te lig.
Hy sien 'n voertuig optrek. Lawrence klim daar uit. By die ander deur klim die meisie uit wat hy die ander dag hier kom oplaai het. Lawrence haal 'n tas uit en toe hy met die tas om die motor kom kyk hy direk in Paul se gesig.
Lawrence weet vir 'n oomblik nie waar hy dié gesig gesien het nie. Dan kom dit terug. Wat soek hý hier.
Paul besluit dat nou net so goed soos enige ander tyd is. Hy klim uit en stap na Lawrence toe.
"Hi. Ek is Paul."
"Ek weet."
"Ek wil net om verskoning vra vir wat die ander dag in SeePunt gebeur het. Ek wou maar net.."
"Moenie jouself bekommer nie," val Lawrence hom in die rede, "Sahara het my klaar verduidelik. Sy is in elk geval nou vry. Ons het uitgevind ons is broer en suster. Sy is my pa se oudste dogter."
Paul is vir 'n ses geslaan.
"Regtig?"
"Ja regtig. Ek is nie meer kwaad vir jou nie. Jy het my eintlik gered van myself af. 
So jy het vir my pa gewerk?"
"Ja, ek moes Sahara vir hom opspoor."
Intussen het Larisa nader gestaan. 
"Meneer, ek probeer vasstel waar ek jou gesien het. Jy lyk so bekend."
"Ek weet regtig nie juffrou."
"Yvonne! Ja Yvonne se album. Ons het nog gelag omdat sy nog 'n outydse album hou."
"So jy ken vir Yvonne?"
"Ja, ek doen."
"Dan kan jy my miskien help. Ek kry nie vir Yvonne nie. Ek is haar broer."
"Wat bedoel jy jy kry haar nie?"
"Het jy haar gedurende die afgelope naweek gesien? Ek soek haar nou al 'n paar dae."
"Jammer. Ons kom nou net uit Upington uit. Ek en Yvonne is vriendinne. My naam is Larisa."
"Ken jy miskien 'n Candice? Ek het haar die ander dag ontmoet."
"Ja ek ken haar. Sy en Yvonne is ook vriendinne?"
"So jy en Candice is nie vriendinne nie? Mag ek vra hoekom?"
"Wel, sy laat my ongemaklik voel. Ek wens Yvonne wil nie vriende met haar wees nie."
Paul vertel haar van Yvonne wat as vermis aangegee is en dat hy eintlik opsoek na Candice is.
"Haar motor is nie hier waar dit gewoontlik staan nie. As sy klas gehad het sou dit hier gestaan het."
Sy wys na die parkeerplek waar Candice se motor gewoonlik staan.
Paul vra haar uit oor watter tipe motor dit is, die kleur en die registrasienommer. 
Larisa ken nie die registrasienommer nie behalwe dat dit 'n Gauteng nommer is.
"As ek nou net haar ID nommer gehad het kon ek dalk die registrasienommer probeer kry het. Ek moet gaan want tyd kan die verskil tussen lewe en dood wees. 
Voor ek gaan, ken jy iemand met die naam van G? Ek soek hom ook."
"Ek het hom gesien. Hy het ons drankies bedien toe ek een aand saam was."
Sy gee 'n beskrywing van G en vra dat Paul haar moet bel sodra hy iets uitvind. Hulle ruil nommers uit en Paul vertrek.
Lawrence wat die heeltyd geluister het stap nader.
"Dit was nou intens. Jy het my nooit vertel van Yvonne nie."

Sarie kom uiteindelik by die huis aan. Intussen het Mavis se storie al die rondte gedoen. Willem wat met diamante gesmokkel het en Sarie wat hom gehelp het.Dit is hoekom Sarie nie tuis is nie. Sy is by die polisiekantoor. Die mense is dus verbaas toe sy in Kokerboom Straat af kom loop.
Steven het haar sien aankom en in gestap. Raai wie het haar ook sien aankom? Mavis kom soos 'n warrelwind by haar hek uit. Sy kom gelyk met Sarie by haar hek.
Sarie gee haar een kyk wat nie baie vriendelik is nie. Die storie het haar ore ook bereik.
"Skinderbek."
"Wat bedoel jy Sarie? Wat het jy en Willem met die diamante gedoen? So jy speel net arm nê?"
"Mavis, hou jou mond asseblief."
Sy gaan voor Mavis by hek in en maak dit agter haar toe.
"Bly buite!"
"Hoeeee! Sommige mense is skaam vir die geraam maar hulle doen dit darem. Skynheilige koei, diamantsmokkelaar.
Is mos nie my skuld dat jy uitgevang was nie. Vanaand is jy seker in die hoofnuus."
Steven sit en kook daar binne. 
"Goeie middag my man."
"Sarie sê my. Het Sally jou vertel van haar verkragting as kind."
"Ja Steven maar ek het haar nie geglo daai tyd nie."
"Dankie Sarie. Sodra my kind begrawe is skei ons paadjies. Was ek al die tyd met so 'n hartelose mens getroud? Ek verafsku nie jou nie maar myself. Ek kàn dit noe glo van myself nie."
"Maar Steven .."
"Bly stil vroumens. Dit is net ter wille van my kind se waardigheid dat ek jou gaan toelaat om haar begrafnis by te woon.
Jy kan maar die huis vat. Jy gaan my nie weer sien na dit nie. Al my goed is in die ander kamer.
Jy het saam met Willem ons familie verwoes. Hy gaan dalk daarvoor boet maar pasop dat God jou nie in die hande kry. Dalk vergewe Hy jou; moet dit net nie van my verwag nie."
"Asseblief Steven."
Hy stap weg in die tweede slaapkamer en maak die deur agter hom toe.

Teen die aand was daar nog geen leidraad oor waar Yvonne, Candice of G hulle bevind nie. Paul weet dat tyd nou 'n belangrike faktor is. Hy is baie bekommerd oor sy suster. Alle aanduidings is dat hulle nie meer in die Kaap is nie.

Die hawelose voor die sjebeen is toe glad nie so haweloos nie. By sy huis gaan hy in 'n "kantoortjie" en skryf in 'n boek en sluit dit weer weg in sy kluis. Hy neem sy foon en skakel 'n nommer.
"Ek het inligting ontvang dat hulle, in plaas van Beaufort Wes, hulle vanaand op 'n plaas naby George gaan oornag. Die roete is verander. Dit gaan moeiliker wees om hulle nou dop te hou want enige voertuig wat daar naby kom sal nou suspisieus wees. Gelukkig het ons nou iemand aan die binnekant. Ons praat weer."
Die "hawelose" van Cloetesville hoop dat Paul Slingers nie hul ondersoek in die wiele gaan ry nie. Hy het intussen uitgevind dat dié Paul 'n privaatspeurder is. Alhoewel hulle weet waar Yvonne haar bevind kan hulle haar nie nou red nie. Die hele operasie kan deur die mat val. 
Hulle weet nog nie waar Meneer M hom bevind nie. Meer mense as  net die polisie soek hom.

**
Psalm 118:8 Dit is beter om by die Here te skuil as om op mense te vertrou.
9 Dit is beter om by die Here te skuil as om op *edeles te vertrou.
©Rooi Mier 13.07.2022

Sondag 21 Mei 2023

#Stukkendeharte Hoofstuk 45 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 45 - Rooi Mier

Hulle is so opgewonde in die motor dat Lawrence amper oor 'n rooi verkeerslig ry. 
"Versigtig Lawrence.  Dit is 'n dubbele kosbare vrag."
Hy kyk in die spieëltjie na haar waar sy skuinsagter hom sit. Sy glimlag spreek boekdele.
"Janice, besef jy ek sal moet gaan werk. Dit gaan vir my onmoontlik wees om op universiteit te wees terwyl jy sukkel met ons twee woelwaters. Daai dogtertjie gaan net so pragtig soos haar ma is. Ek en my bulletjie gaan natuurlik elke Stormer en elke WP wedstryd gaan kyk."
Lawrence maak nie nou sin nie want hy praat sommer van verskillende goed op dieselfde tyd.
"Dink jy ons vroumense kyk nie sport nie. Ek en die prinsessie sal nog voor julle in die motor wees en hàlloooo, ons woon in Upington. Hoé gaan julle by elke wedstryd uitkom?"
Dit klink of ons getroud is dink Janice. Sy glimlag. 
"In elk geval, jy moet klaar studeer. Dit is die beste wat jy vir jou kinders kan gee. Ek aanvaar niks anders nie."
"Ons kan maar weer daaroor praat. Intussen moet ons so gou moontlik by my ma uitkom sodat ons die nuus met haar kan deel. Daarna jou ma, dan moet my ma vir Larisa en my by die lughawe kry anders mis ons ons vlug."
"Ons sal ook moet praat oor name Lawrence. Die bloedjies kort mos name of hoe? Jy sal moet gaan dink dan bel ons mekaar in die week."
Hulle stop voor Lawrence hulle huis. Iris is buite besig.
"Hoekom kom julle hierheen? Daar is nie nou tyd vir kuier nie. Lawrence moet nog by die lughawe uitkom."
"Daar is nog genoeg tyd Mammie. Ons moet gou met jou praat Iris."
Hy klink ernstig want hy weet sy ma gaan nou op hol gaan. 
Dit is ook net so.
"Is daar fout kinders? Is my kleinkind oraait? Sê my nou!"
"Ons gaan eers my pa op video oproep kry dan vertel ons net een keer."
Lawrence vat Janice aan die hand en lei haar die huis in. Dit is al manier om Iris stil te kry. Hy skakel onmiddelik sy pa.
Bennie antwoord  onmiddelik.
"Ja seun is daar fout? Hoekom is julle almal daar? Is daar fout? Wat sê die dokter?"
Lawrence probeer om so ernstig as moontlik voor te kom.
"My pa," sy stem klink saaklik, "die dokter sê ons het 'n probleem."
Iris gryp sy arm vas en Bennie lyk baie bekommerd.
Janice kan dit nie verdra om die Van Wyk's so te sien nie. Sy blaker dit uit.
"Ons verwag 'n tweeling, 'n seun en 'n dogter!!"
"Wat sê jy?"
Iris is nie seker of sy reg gehoor het nie. Sy was slegte nuus te wagte volgens Lawrence se gesig.
"Ja Mammie, julle gaan twee kleinkinders hê."
Iris skree.
"Julle lieg vir ons. Regtig? Dit is die volle waarheid?"
Bennie se gesig wys sy blydskap. 
"Jy is darem 'n ramkat nê."
"Mammie bel maar jou man van jou eie foon af.  Ons moet nog Janice se ouers gaan inlig. Daarna gaan ek sommer vir Larisa optel. Is dit ok as ek Sahara ook gaan groet?"
"Gaan my kind. Sahara sal dit waardeer."
Bennie is dankbaar want dit lyk of Lawrence begin aanvaar het.
"Voor julle ry, het my babas al name?"
"Nee Mammie en moenie eers daaraan dink nie. Ek dink dit is my en Janice se voorreg."
Hulle is by die deur uit.
"Lawrence, kom ons kry eers vir Larisa. Ek weet my ouers is veronderstel om voor haar te weet maar sy is my beste vriendin. Ek wil graag haar gesig sien wanneer sy hoor."
Larisa is gereed. Haar tasse staan gereed om te laai. Albei haar ouers is by die werk.
"Jy hoef nie uit te klim nie Janice. Daai kind is darem groot"
Janice stap egter in.
"Vriendin, ek kan nie langer wag nie. Sien jy nog kans om peetma te wees?"
"Natuurlik, vir wat vat jy my? Die beste ooit. Onthou, as peetma is ek geregtig om die bloedjie te bederf."
"Dan sal jy moet spaar. Daar is twee van hulle. Ons gaan 'n tweeling hê."
"Regtig vriendin?"
Larisa se gesig helder op. Sy gryp Janice was om te dans maar besef vinnig haar toestand. Lawrence moet maar mee doen. Hy lag net.
"Kom julle ons gaan laat wees."
Sahara is verras om dié drie in haar oprit te sien uitklim.
Sy kom uit om hulle te groet. 
"Ek dog julle is al weg Lawrence."
"Ons vertrek nog vandag. Ek wou net my suster kom groet het. Vergewe my asseblief vir die ander dag. Ek wil jou graag as my suster leer ken."
"Wat is daar om te vergewe? Kom ons probeer dit."
Haar hart stem nog nie saam nie.
"Dan kry jy jou eerste taak as my ousus. Jy moet my tweeling se antie wees."
"Tweeling? Ek kan dit nie glo nie. Julle maak my vroeg oud. My boetie, dit gaan vir my 'n groot eer wees."
"Nou ja, ons moet gaan. Ek en Larisa sal kom kuier in die Kaap. Sien jou."
"Totsiens julle. Ek bly nog 'n week. As dit reg is Janice, gaan ons twee mekaar nog sien?"
"Asseblief Juf.., ag Sahara."
Janice se ouers is net so oorstelp van blydskap. Hulle wou met alle mag name gee. Janice moes net keer anders eindig die stomme bloedjies met oupa- en oumagrootjie se name op."
Janice weet nie wat sy moet lees in die drukkie wat Lawrence haar gee nie. Is daar 'n toekoms vir haar as Mev Van Wyk?

Paul is nou regtig bekommerd. Hy wens sy kontak kan nou terugkom met die inligting. As hy net kan vasstel waar Yvonne se foon laaste aan was het hy 'n beginpunt. Hy het sy ma gebel en die wou met alle geweld Kaap toe kom. Hy moes haar oortuig dat dit beter is om daar te wag. Yvonne kan dalk net daar opdaag.

G is besig om Yvonne in die vals bak van die bakkie te laai. Die vlak van die bak self is hoër omdat daar 'n kompartement onder is waar iemand in kan lê. Dit word toegeskuif en dan word daai rubbermatte wat gewoonlik agter op bakkies is bo-oor gegooi. 
Uit die aard van die saak moet sy bewusteloos wees om haar stil te hou. Hy is so bekommerd oor haar en hoop sy gaan genoeg suurstof hê. 
Hy ry eers in die rondte voor hy in die rigting van die nuwe bestemming ry. Niemand agtervolg hom nie. Terwyl hy ry lui sy foon. Net Candice het die nommer. Hy trek liewer af want hy wil nie die verkeerspolisie se aandag op hom trek nie.
"Ja Candice."
" Jy vertrek Beaufort Wes toe vanmiddag. Gebruik dieselfde bakkie. Ek sal vir jou kontant bring. Sorg dat Yvonne genoeg vitamiene inkry. Daar sal iemand jou nuwe instruksies gee. Meneer M se opdrag. Kontak jou later. O ja, ruil die nommerplate. Die nommerplate wat jy nou op het is vals. Jy gaan die wettiges opsit. Ons soek nie onnodige aandag op ons nie."
G is verbaas om te hoor hy ry al die tyd met valse nommerplate. So kon hy al in die moeilikheid beland het. Dit is seker hoekom Candice altyd benadruk het hy moet altyd by die verkeersreëls hou.

Paul ontvang die posisie van die plek waar die foon laaste aan was. Dit is iewers in Cloetesville in Stellenbosch. Volgens Google Maps is dit 'n geregistreerde sjebeen. Wat soek Yvonne by 'n sjebeen? 
Hy sal haar maar self moet vind. Die polisieman by wie hy haar as vermis aangemeld het was nie juis baie entoesiasties nie. Hy weet nie dat die polisieman onmiddelik nadat hy daar uit is buite toe gegaan het en gaan staan het by 'n plek waar niemand hom kan hoor nie om Candice te bel nie.

Martin raak ongeduldig met die privaatspeurder wat hy aan gestel het. Hy sal seker moet leer om geduldig te wees en nie hom aan te jaag nie. Hy is immers die beste in die land. Volgens bronne kom hy altyd met die inligting wat jy soek. 
Die man moet letterlik jare terug gaan om dié inligting te bekom. Hy wil net so graag soos sy skoonsuster agter die kap van die byl kom. Lewens was verloor as gevolg van sy broer se doen en late. Die spook moet vir eens en altyd begrawe word. Hy wonder net hoe ver terug in die verlede hulle moet gaan soek. Wanneer het sy broer by misdaad betrokke geraak? 
Rachel het hom juis gister gebel uit Namibia. Sy wil terugkom en in Upington kom bly maar sy wil eers weet of dit veilig gaan wees. Alhoewel sy lief geword het vir Namibia en sy mense verlang sy om haar eie mense te kan sien.

Candice het intussen Paul se agtergrond ondersoek. 
"So jy is 'n privaatspeurder Meneer Paul Slingers."
***
Mat 19:16 Kyk, Ek stuur julle soos skape onder die wolwe in; wees dan *versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe.
©Rooi Mier 13.07.2022

Vrydag 19 Mei 2023

#Stukkendeharte Hoofstuk 44 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 44 - Rooi Mier

Dit is Maandagoggend. Lawrence en Larisa se vlug is eers namiddag. Hy lê wakker en skielik tref dit hom dat Janice die oggend weer 'n afspraak by die dokter het. 
Haar pa gaan haar neem. Hoekom neem hy haar nie? Dit is sy enigste kans om saam te wees terwyl sy swanger. 
Hy bel haar en sy stem onmiddelik in.  Nou is hy opgewonde en staan sommer op om klaar te maak. Kwart oor agt trek hy by haar huis op. 

Janice kom onmiddelik uit. Sy is net so indien nie meer opgewonde nie. Enige tyd met Lawrence is kosbaar. Hierdie doktersafspraak nog meer so. Dit is 'n kans vir hom om saam na die baba se hartklop te luister. Hulle het ook nooit gepraat oor die naam van die kind nie. 
"Lawrence, ek dink ons moet op 'n naam vir die baba besluit. Ons het nog nooit daaroor gepraat nie."
"Dit is waar Janice, ek het heeltemaal vergeet dat die kind 'n naam moet kry. Laat ons net eers klaarmaak by die ginekoloog."

"Mnr Daries, kom."
Die polisieman sluit die sel oop en neem Steven na 'n kamer toe. 
Hy het die vorige aand wakker geword met 'n paramedikus wat oor hom buk. 
"Dit blyk sy bloeddruk te wees Sersant. Die dokter sal hom ondersoek en moontlik eers sy bloeddruk af wil kry voordat hy toestemming gaan gee dat jy hom mag wegneem.
Die ander pasiënt sal langer moet bly. Hy het 'n kopwond opgedoen toe hy teen die muur geval het. Dan is daar nog sy neus en mond wat ook nie te goed lyk nie."
Na 'n aand in die selle met 'n voorlopige klag van aanranding teen hom sit Steven nou in 'n kamer met 'n polisieamptenaar wat sy verklaring neem. 
Nadat hy sy verklaring afgelê het sê die beampte,
"As hy dit met my dogter gedoen het sou ek homself ook goed opge.."
Die deur gaan oop en die beampte voltooi sy sin met iets wat nie pas by wat hy besig was om te sê nie.
" … opgesluit bly nie. Jy kan gaan maar ons sal in kontak bly. My innigste meegevoel met u dogter se afsterwe.
Ons het reeds u vrou se verklaring geneem. Die brief wat sy vir ons gegee het moet ons ongelukkig hou.
Julle gaan seker Carnavon toe."
"Baie dankie konstabel."
Steven stap uit.

Paul is vroeg oppad Stellenbosch toe. Hy is ook nou al redelik bekommerd. Sy ma het nou al 'n paar keer gebel en dreig om in 'n taxi Kaap toe te kom. Yvonne sal hom nie maklik bel behalwe as sy geld soek  nie maar sy ignoreer gewoonlik nie hul ma se oproepe vir so lank nie. Gewoonlik bel sy terug of stuur 'n boodskap.
Baie van die studente wat vroeg klas het is al oppad toe hy daar aankom. Hy gaan klop aan Yvonne se kamer deur. Die deur gaan oop. Dit is Yvonne se kamermaat.
"Jy is mos Yvonne se broer nê. Ek het jou aan die begin van die jaar ontmoet."
"Ja, ek is Paul. Jy is nou weer hmmm Candice nê."
"Goeie geheue Paul. Ek het nogals gewonder hoekom Yvonne so skielik en in die geheim hier weg is."
"Wat bedoel jy sy is weg?"
"Ek was Donderdagmiddag uit winkels toe. Met my terugkeer was al haar besittings weg. Sy het nie eers 'n boodskap gelos nie. Ek voel nogals sleg omdat ek gedink het ons kom goed oor die weg. Jy kan self kyk."
Sy maak die deur oop en wys hom die area wat Yvonne sn was. Daar is net 'n kaal bed en 'n kas. Sy gaan maak die kas oop sodat hy kon sien dit is leeg.
"Ek moet nou gaan want ek het klas."
Paul sit in sy motor en probeer weer vir Yvonne bel. Niks. Dit is vreemd dat haar sel vir dae heeltemal af is. Hy hoef nie huistoe te bel nie want hy het nog vanoggend met sy ma gepraat. Dit is toe sy gedreig het om Kaap toe te kom. 
Al wat hy nou kan doen is om vas te stel waar sy was toe haar selfoon die laaste keer gewerk het. Hy sal maar sy kontakte moet gebruik. Nou sal hy maar amptelik eers as vermis gaan aanmeld.
Wat hy die meeste vrees is om sy ma te laat weet Yvonne is vermis.

G se foon lui. Dit is Candice. 
"Môre G. Yvonne se broer was vanoggend hier. Hy dink nou sy het net opgepak en weggegaan. Die lok begin tik. Ek hoop Meneer M gaan my spoedig kontak. Sodra hy dit gedoen het gaan ek jou skakel. Na dit sal ek jou 'n ander foon en nommer bring en daai een wegneem."
"Dit is ook tyd om haar na 'n nuwe plek te verskuif totdat sy oppad moet wees."
G het die gesprek opgeneem en stuur dit nou na sy geheime nommer. Hy gaan homself beskerm. Iets is anders dié keer. Hy verstaan ook nie hoekom hy so 'n gevoel van deernis teenoor Yvonne het nie.
Dit is so 'n lieflike oggend. Wanneer laas was hy uit in die natuur? Hy hou van oop velde, die see en berge maar hy gaan nie meer uit nie; regstelling, hy kan nie meer uitgaan nie want hy moet 24 uur 'n dag beskikbaar wees. Hy moes sy vriende agterlaat. 
Nooit in sy wildste drome het hy kon dink dat hy so 'n eensame, liefdelose lewe sou lei nie. As dit nie vir sy ma was nie het hy sommer net verdwyn maar hy vrees vir haar lewe.
Hy moet eers sorg dat sy veilig is. Hoe? Hy voel om vanoggend 'n ordentlike ontbyt vir Yvonne te maak. Candice het klas so sy sal seker eers namiddag opdaag. Hy moet ook die bakkie voorberei vir die verskuiwing van Yvonne later.

Lawrence word toegelaat, na baie gepleit, om saam met Janice in te gaan vir die ondersoek.  
Die dokter kyk hom aan met 'n streng gesig.
"Jongman, ek hoop jy gaan die regte ding doen en vir jou kind sorg. Deesdae het die kinders mos nie meer vaders nie.  Nadat hulle sperm geskenk het verdwyn hulle mos soos mis voor die son."
Lawrence voel ongemaklik.
"Ek gaan vir my kind sorg dokter."
Die dokter hou sy hand op.
"Hou net so vas. Hoor julle dit ook?"
"Wat dokter?"
"Wat se werk doen jy jongman?"
"Ek is 'n student by Universiteit van Stellenbosch dokter."
"O hel. Nou hoe gaan jy vir twee kinders sorg?"
"Ons gaan mos nie nog kinders hê nie dokter."
"Te laat, daar is klaar twee. Julle verwag 'n tweeling. Kom ons kyk gou."
Lawrence en Janice kyk verskrik na mekaar. 
"Dit kan nie wees nie dokter. Daar was laas keer net een."
Janice se stem verraai dat die nuus onverwags is.
Die dokter verduidelik dat die een baba agter die ander moes gelê het en dat met die geboorte wat nader kom moes beweeg. Hy wys vir hulle op die monitor. Dit vat vir Lawrence 'n oomblik om die twee vorms te sien. 
Wil julle die geslagte weet?
Sonder om eers met mekaar te praat sê albei gelyk, "Ja dokter."
"Nou laat ons sien. Die een wat nou voor en bietjie regs lê is 'n bulletjie.
Kom ons kyk of ons die een agter kan sien. Dit lyk my sy is jul prinsessie."
Lawrence is tegelyk gevul met blydskap en bekommernis. Het hulle genoeg voorsiening gemaak vir twee kinders? Janice voel net blydskap.
"Ek is nou jammer vir die skok julle maar dit gebeur soms dat ons eers later optel dat daar twee babas is."
Lawrence gaan solank uit terwyl Janice haar klere regtrek. Hy loop op en af in die gang. Hoe nou met sy studies? Hy moet voorsiening maak vir sy kinders.
Janice kom uit. Hy gryp haar vas en soen haar lank op die lippe. Sy is skoon uit asem.
"Baie dankie vir die tweeling Janice. My hart bars oop van vreugde."

***
Spreuke 14:26 In die vrees van die Here lê 'n sterk sekerheid, ook vir die kinders van 'n sodanige sal daar 'n toevlug wees.
Spreuke 20:7 Wie in sy regskapenheid wandel as 'n regverdige — *gelukkig is sy kinders ná hom.
©Rooi Mier 13.07.2022

Donderdag 18 Mei 2023

#Stukkendeharte Hoofstuk 43 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 43 - Rooi Mier

Die ou dronk Steven sou lankal weggeraak het om te kyk of hy die kan se bodem van bo af kan sien maar nie die Steven wat soos 'n handomkeer verander het nie. Dit is die beter dapper Steven, 2022 model. Kan dit hou? Sal dit hou?
"Lees Sarie."
"Dan is daar Oom Willem. Hy wat in die oë van die wêreld so voorbeeldig was. Almal buite ons huisgesin het gedink die son skyn uit sy dinges. Die man wat wel so nou en dan dronk geword het maar tog goedhartig was."
"Ek wonder net hoeveel gunste die weduwees aan hom moes bewys."
Willem skuif ongemaklik rond. Dit is duidelik dat die laaste gedeelte van die brief van hom gaan praat.
Voordat ek egter verder kan praat moet ek net eers iets anders vir u meedeel. Iets verskrikliks het met my gebeur. Dit is die rede hoekom, afhangende van hoeveel moed ek het om my planne uit te voer, Meneer Solomons vandag dood is. Hy het my van my menswees ontneem. 
Die vark het my verkrag."
Sarie laat sak die brief. Hierdie nuus ruk haar. 
Steven spring vinnig op en maak die voordeur oop. Dit is asof hy nie asem kan haal. Sy enigste dogtertjie. Ek het geweet daar moes 'n rede wees hoekom my dogter tot soveel wreedheid kon oorgaan. 
Dit is so jammer dat sy met haar eie lewe moes boet. Hy het nooit vir Meneer Solomons ontmoet nie maar haat brand soos 'n verterende vuur in sy binneste. Hoeveel hopeloosheid het sy ervaar om  tot daai vlak te gaan. Hy was weereens nie daar vir haar nie, nogtans het sy in díe brief gesê sy is lief vir hom. 
Hoe kan 'n pa sy eie dogter so faal. Hy het totaal en al misluk as 'n pa. Watter emosie is die sterkste? Haat vir diè man, liefde vir sy dogter of is dit net 'n onbeskryflike seer. Hy dink hy weet nou hoe voel dit as jou hart uitgeruk is.
Sarie sit en en huil ook met haar eie skuldgevoelens. As sy maar net geweet het dat Sally van haar donker geheim geweet het. Sou sy dit dan aan haar kon verduidelik? Was dit regtig al opsie wat sy gehad het? Sy het altyd so vuil gevoel na die tyd. Nou is haar kind dood en sy sal dit nooit kan regmaak nie? Dan is daar ook die droom of het dit regtig gebeur? 
Daar is die droom van iets verskrikliks wat gebeur. As dit dan net 'n droom is hoekom kan sy dit nie vergeet nie?
Daar is 'n klop aan die deur. Dit is al donker. Wie kan dit dan nou wees? Steven is in die badkamer so Sarie gaan maak die deur oop. 
Die deur word heeltemaal oopgestoot van buitekant af. Dit is Mavis en die buurvrou.
"Sarie jy moet dadelik saam met ons kom."
Die buurvrou gryp haar aan die hand en wil haar by die deur uit trek.
"Ek verstaan nie nou nie. Wat gaan aan?"
"Ons weet Sarie. Jy hoef dit nie meer alleen te dra nie."
"Ek het haar alles vertel Sarie. Jy hoef regtig nie voor te gee nie. Dit moes moeilik gewees het om dié geheim alleen te dra."
Terwyl Mavis praat vat sy die ander hand vas.
"Ek gaan nêrens voordat ek nie weet wat gaan aan nie. Wat is julle storie Mavis?"
Willem sit daar eenkant en wonder self wat dit kan wees. Skielik tref dit hom. As sy saam met Mavis hulle gaan kan die brief nie verder gelees word nie.
"Moenie hardkoppig wees nie Sarie. Gaan saam met hulle. Hulle sal jou mos nie onnodig kom haal nie. Daar moet seker 'n krisis wees."
"Jy is die krisis, sies. Dan durf jy nog in die vrou se huis sit. Jy en daai slegte dronkgat man van Sarie verdien om in die tronk te wees."
Mavis maak of sy spuug. 
"Dit is wat ek van jou dink."
"Hoe nou?"
Willem kan nie verstaan hoe hulle uitgevind het nie. Dan onthou hy Mavis was daar. Sy het natuurlik die hele storie gaan uitlap.
Sarie begin ook dink die gebeure vroeër het hulle ore bereik. Nou weet die hele Vanwyksvlei. Môre weet Carnavon, Kenhard, Brandvlei en so ver as Loxton, die hele kontrei.
Sy sal nooit weer haar gesig in die openbaar kan wys nie. Sy moet dan juis môre Carnavon toe gaan om die begrafnisreëlings te begin. Baie mense in Carnavon ken haar. 
"Ai Mavis! Hoe kon jy dit aan my doen?"
Sy dog sy dink dit maar dit is blykbaar hardop.
"Wat bedoel jy het ek aan jou gedoen? Wil jy liewer toelaat dat die man," sy wys na Willem, "aanhou met waarmee hy besig is?"
Sarie begin nou wonder. Dit klink dan nou of hulle van iets heeltemaal anders praat as wat sy gedink het.
Steven kom ingestap.
"Wat gaan hier aan?"
Mavis kyk met minagting na hom.
"Dan durf jy nog vra? Jy moet jou skaam. Watter soort man is jy? Sies ga!"
Steven staan nader.
"Ek dink julle moet julle ry kry."
Mavis sit haar hande op haar heupe om haar vasbeslotenheid aan te dui.
"Ons gaan nêrens. Dink jy ons gaan toelaat dat dié gemors haar weer verkrag terwyl jy hier is?"
"Wat? Hier is nou 'n misverstand. Wie het vir wie verkrag terwyl wie hier is?" 
Steven draai na Sarie met 'n vraagteken op sy gesig?
Mavis is verontwaardig. "Dink julle ek het nie gehoor nie? Ek het alles gehoor hier by die venster. Nee Sarie! Is jy ook die soort wat maar maak of niks gebeur het nie"
Steven stap sonder 'n verdere woord na die twee vroue, vat hulle aan hul arms en half forseer hulle by die deur uit. Mavis probeer nog vasskop maar Steven druk die deur toe en sluit dit.
"Julle twee gemorste vir manne. Dink julle julle gaan wegkom met waarmee julle besig is? Ons gaan jou red Sarie. Ons gaan nou die polisie bel."
Mavis hammer teen die deur. Toe niemand oopmaak nie storm sy by die hek uit met buurvrou kort op haar hakke.
Willem slaak 'n sug van verligting. Hier dog hy hy het 'n uitkoms gesien net om te hoor hulle verdink hom van iets erger.
Gelukkig sal al die opgewondenheid sekerlik verhoed dat die brief klaar gelees word.
"Sarie, die brief moet nog klaar gelees word en dan moet ons nog begin praat oor die begrafnis. Na die begrafnis sal ons praat oor ons toekoms saam. So laat ons verder lees."
Sarie dink by haarself dat Steven vasbeslote is om die brief klaar te lees. Sally hoekom doen jy dit aan ons?
Sarie begin te lees.
"Hy het my die liederlikste name genoem. Ek het so magteloos gevoel; so asof ek dit verdien. Weet u hoe jy voel as iemand jou beskou as iets wat jy net die laagste van lae goed mee doen? Weet u die selfhaat wat jy voel terwyl hierdie afskuwelike daad gebeur. Ek het probeer om  geen gedagtes te hê nie maar dit was onmoontlik.
Hierdie haat moes iewers uitgelaat word. Dit het in die dae daarna aanhou groei en groei en groei tot my eie Himalayas. Dit was egter nie genoeg nie. Dit moes 'n vulkaan van vurige haat uitspuug. Haat vir nie net een mens nie maar twee.
Twee mense? Ja twee. Die een was 'n Solomons, die ander 'n Daries."
Steven, wat kop onderste bo gesit het se kop ruk op en hy staar na die brief. Iets vertel hom hy gaan tot in sy wese geruk word deur die volgende sin.
Sarie voel 'n spanning aan wat so dik is jy kan dit met 'n mes sny. Watter bom gaan my kind nou los? Sy kyk na Steven wat intense spanning wys in die manier waarop hy staar.
Dan draai sy haar kop stadig na Willem. Hy sit emosieloos en staar na die venster. Is hy regtig sonder emosie of soek sy oë na 'n plek van ontvlugting. Weg, ver weg van hier af.
Sal Angola ver genoeg wees? Die blink klippies het dan altyd alles skoongewas. Die rykdom verkry deur die opwinding van ongeslypte diamante en 'n bankbalans wat heelwat nulle bevat. Die adrenalien van gevaar as jy grense oorsteek van land tot land en dan uiteindelik op Carnavon te beland en Karoo skaap te eet.
Willem is een van die rykste mense in die streek maar hy het geleer om 'n baie lae profiel te handhaaf. Niemand maak mos slapende honde wakker nie want hul byt is baie seer.
Sarie kyk weer af na die brief.
"Ja. Iemand wat my sy klein teef genoem het. Is dit nie wat 'n mens 'n hond noem nie. 
Ja Oom Willem. Die dade wat jy met my gepleeg het was 'n teken van jou sadistiese uitlewing van pedofiliese wellus."
Steven spring op en verloor heeltemaal beheer. Een treë en hy pluk Willem op en sy vuis tref hom vol in die gesig. Ongelukkig vir Willem sou dit beter gewees het as hy liewer geval het. 
Steven hou hom egter  voor  vas aan sy hemp. 'n Tweede vuis tref hom en sy reeds gebreekte neus is heeltemaal skeef. 'n Derde, 'n vierdie voordat 'n hand Steven se arm vasgryp. In sy woede stoot Steven sy vrou weg. Nog twee vuishoue tref Willem vol in die gesig. Hy stoot Willem met geweld dat hy bo-oor die bank teen die muur val.
Willem lê doodstil. Sarie lê ook eenkant en kyk haar man met vrees aan. Wat gaan hy doen met haar? Hy gaan uitvind dat Sally haar vertel het en dat sy nie geglo het nie. Wou sy maar net nie glo nie. 
Daar is 'n harde klop aan die deur.
"Maak oop die deur, dit is die polisie."
Steven maak oop met 'n bebloede hand. Dalk die bloed wat uit Willem se mond kom? Dit is asof sy brein 'n kortsluiting beleef. Al wat hy ondervind is 'n diep seer vir sy Sally. Die res is 'n blur. 
Sy bloeddruk is gevaarlik hoog. Skielik kantel hy om. Steven is uit soos 'n kers.
Mavis is histeries.
"Julle is te laat. Steven het die verkragter doodgeslaan."

Sy staan daar in haar geliefkoosde blou rokkie.
"Mammie, mammie, Oom Willem het my vasgedruk en gesê ons moet speel. Hy het my lekkers gegee en gesê dit is ons geheim.  Ek is seer Mammie."
"Oom Willem sal nooit nie my kind. Hy is dan so goed vir ons."
"Mammie, Oom Willem is kwaad vir my. Hy het weer daardie seer speletjie gespeel."
Die trane vloei van Sally se wange af op haar pienk rokkie. Dit lyk of daar bloed aan kan wees. Bloed wat Willem gemis het toe hy haar skoongevee het.
Die herinneringe spoel oor Sarie waar sy nou regop sit en huil. 
Dan is daar die laaste herinnering. Sally was nou veertien.  
Sarie was uit en het vroeër huistoe gekom. Willem kom haastig by Sally se kamer uit. 
Sally kom stadig uitgestap. Wat gaan hier aan my kind?
"Dit is nou te laat om te vra Mammie. Jy gaan my tog nie glo nie."
Daar was 'n koudheid in Sally se oë wat koue rillings teen haar ruggraat afgestuur het.
Sy kyk na waar Willem teen die muur lê. 
©Rooi Mier 13.07.2022

Plekke in #Stukkendeharte -Upington

Plekke in #Stukkendeharte -Upington Gordonia Hospitaal Dr Harry Surtie Hospitaal Upington Medi -Clinic ...