Woensdag 06 September 2023

#Stukkendeharte S2 Hfst 15 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 15 - Rooi Mier


"Dié malletjie sal ons moet toesluit. Ek dink nog steeds sy speel mal noudat sy uitgevang is."
"Konstabel, pasop wat jy sê. As iemand jou nou hoor is ons in die moeilikheid. Jy kan dink wat jy wil maar jy mag nie sê wat jy wil nie."
Die sersant kyk rond om te sien of daar iemand gehoor het maar dit lyk nie so nie. Hy glimlag vir die konstabel en wys na sy kop met sy wysvinger en maak klein sirkeltjies; duideluk 'n teken dat hy dink Mavis het sielkundige probleme.
'n Kaptein kom ingestap.
"Sersant, jy kan maar vir haar haar regte voorlees en haar formeel arresteer."
Die sersant stap na Mavis toe.
"Mavis Saal, ek arresteer jou op 'n klag van ontvoering van 'n dogtertjie genaamd, Lanice van Wyk. Jy het die reg om te swyg. Enigiets wat jy sê kan en sal in 'n hof teen jou gebruik word. Jy het die reg op verteenwoordiging. Indien jy dit nie kan bekostig nie sal een aan jou voorsien word."
Mavis kyk die Sersant aan met 'n leë blik asof sy nou glad nie kan verstaan wat aangaan nie.
"Ek sal mos nooit 'n klein dogtertjie ontvoer nie. Iets is nie reg nie meneer. Waar is Steven? Hy sal kan getuig."
"Getuies word eers in die hof toegelaat Juffrou. Wie is dié Steven?"
"Dit is my verloofde meneer."
"Jy mag een oproep maak. Wees wys hoe jy dit gaan gebruik. As jy 'n regsverteenwoordiger het stel ek voor jy bel hom. As jy nou wil bel kom."
Mavis bel vir Steven.
"Waar is jy Steven? Ek het jou nodig."
"Mavis? Waar is jy? Ek was so bekommerd."
"Ek is by die polisiestasie in Grobbelaarshoop. Hulle sê ek het 'n dogtertjie ontvoer en my gearresteer. Kom haal my asseblief."
"Ek is op pad my lief. Probeer kalm bly."
Mavis begin voel hoe die angstigheid haar begin oorneem.

Die sersant neem haar na die aanhoudingsselle. Jy sal dalk môre hiervandaan oorgeplaas word na Upington toe waar jy in die hof sal verskyn. Hy stoot haar in die sel. Gelukkig vir Mavis is die sel leeg omdat Grobbelaarshoop 'n klein dorpie is. Dit is weinig dat vroue gearresteer word. Daar is dus geen ongure karakters saam met haar nie.
Sy is alleen. Stoksielalleen gaan sy in dié sel wees. Miskien is die glad nie 'n sening nie. Mavis gaan sit in 'n hoekie nadat die sersant die sel toegesluit en weggeloop het.
Alweer alleen. Haar oë dwaal van muur tot muur.

Steven, oorspronklik van Vanwyksvlei, weet nie watter kant toe Grobbelaarshoop is nie. Hy gaan na die naaste persoon en vra.
"Meneer, as u voor by die pad kom, draai links en ry net. U sal daar uitkom. Dit is so bietjie meer as 'n 100 km."
"Baie dankie."
Hy spring in sy bakkie en ry.

Bennie en Derek kom in Grobbelaarshoop aan en volg die rigtingwysers na die polisiestasie. Hulle kan nie vinnig genoeg uit die voertuig klim nie.
"Waar is sy? Waar is my kleindogter?"
"Wie is julle menere?"
"Ek is Bennie van Wyk en dit is Derek Louw. Ons is die oupas van Lanice, die dogtertjie wat ontvoer is."
"Sy is in daai kamertjie met die maatskaplike werkster. U sal net 'n verklaring moet aflê en uself moet identifiseer voordat u haar kan kry."
Derek raak ongeduldig.
"Sersant, vir nou wil ek net my kleindogter sien, hoor jy my! Jy sal maar net moet wag vir jou verklaring. Moenie nou met my sukkel nie."
Derek storm in die gang af met Bennie kort op sy hakke.
"Menere! Menere!"
Derek wys hom 'n onwelvoeglike teken sonder om om te draai.
Die maatskaplike werkster, wat die geraas gehoor het maak die kamer deur oop.
"Sagter julle. Die kind slaap. Sersant laat hulle toe om tog eers net te sien dat die kind veilig is. Hulle kan mos daarna hul verklaring doen.
Menere, raak kalm. Sy slaap. Julle kan inkom maar moenie haar wakker maak nie. Sy het die slaap nodig.
Derek stap reguit na die klein bedjie toe, wat duidelik daar vir slagoffers van misdaad geplaas is. Hy streel liggies oor Lanice hare sonder om haar wakker te maak.
Bennie kom staan langs hom. Skielik oorweldig die emosies hom. Derek, wat meer emosioneel is het niks nodig nie. Hy plaas sy arm om Bennie se nek en hulle trane vloei. Blydskap, verligting, noem dit wat jy wil maar hulle vergeet daar is 'n vreemde vrou in die vertrek. Dié twee oupas is duidelik ewe lief vir hul kleinkinders.
Na 'n rukkie wys die vrou hulle waar die badkamer is sodat hulle hul gesigte kan gaan was.
"Een van julle kan haar nou saggies optel en toemaak met 'n baadjie terwyl die ander 'n verklaring gaan aflê om te bevestig wie sy is."
Bennie sorg dat hy vir Derek voorspring.
"Ek sal haar neem, jy bestuur mos."
Derek steek verleë vas en stap na die toonbank terwyl hy die afstandbeheer van die voertuig druk om oop te maak vir Bennie. Die voertuig was in hul haas om in die polisiekantoor te kom nooit gesluit nie.
Bennie sit op die agterste sitplek met die prinsessie wat met haar kop op sy been lê, knus toegemaak onder sy baadjie. Terwyl hy wag bel hy eers vir Iris en daarna vir Lawrence.

Terwyl Derek uitkom stop 'n bakkie langs hulle en die man hardloop na binne.
Steven het gejaag om hier uit te kom.
"Dit lyk my ons gaan nie 'n rustige aand hê nie sersant."
Die konstabel is gewoond aan rustige weeksaande. Daar is meestal net opgewondenheid in die week as daar 'n ongeluk op die pad na Upington toe of in die rigting van Prieska is. 
Naweeksaande is dit besig ja. Dan is dit aanrandings, messtekery, huismoles ensovoorts want van die mense is dronk.
"Kan ek help meneer?"
"Ja asseblief. Ek is Steven Daries en is hier vir Mavis Saal, my verloofde."
"O, identifiseer jou asseblief meneer. Sy is in die sel hier agter."
Nadat Steven homself geïdentifiseer het, verduidelik hy dat sy sielkundige probleme het.
"Ons verstaan Meneer Daries maar daar is niks wat ons daaraan kan doen nie. Die reg moet sy loop neem."
"Is daar enige gevangenis saam met haar in die sel?"
"Nee, sy is alleen."
"Ai tog, sy gaan beangs word. Dit is juis haar probleem."
Die kaptein in bevel vir die nag stap in.
"Wat is die probleem?"
"Die man se verloofde is opgesluit vir ontvoering. Hy sê sy het sielkundige afwykings."
Steven verduidelik aan die kaptein.
"Wel meneer, ons mag haar nie uitlaat sonder 'n regsbevel nie.
Ek sal jou 'n vergunning toestaan. Jy mag haar gaan sien vir 'n paar minute. 
Die konstabel sal jou vergesel. Geen fisiese kontak asseblief. Jy mag net met haar praat deur die tralies."

Lawrence is so opgewonde om te hoor dat sy prinsessie veilig en oppad huistoe is dat hy nie eers besef dat hy vinniger ry nie. Larissa, wat voor langs hom sit, vermaan hom.
"As jy jou kinders wil sien sal jy stadiger moet ry my vriend. Jy is ver oor die spoedlimiet."
Sahara sit doodstil. Noudat sy weet die tweeling is veilig verskuif haar bekommernis na hul ma. Sy hoop dat die dokters verkeerd is. Vir Janice om op haar ouderdom in 'n rystoel vasgekluister moet wees sal verskriklik wees. Hoe gaan dit die tweeling beïnvloed? Die aanpassing sal moeilik vir hulle wees want hulle is nog so jonk.

Steven se hart breek om sy aanstaande so te sien. Sy sit in 'n hoekie op haar hurke. Haar kop is op haar knieë en sy bewe. As hy kon het hy nou die tralies met sy kaal hande afgebreek.
"Mavis! Mavis!"
Sy reageer nie. Hy roep dus weer. Sy lig haar kop stadig op en prewel sy naam amper onhoorbaar.
"Steven."
Sy sien hom en roep nou harder uit.
"Steven, het jy my kom haal? Ek het geweet jy sal my nie alleen hier los nie."
Sy staan op en stap vinnig na die tralies.
"Ek het geweet my liefling. Ek het geweet.
Hoekom sluit hulle nie die hek oop nie?
Steven, sê hulle moet oopmaak asseblief! Asseblief Steven.
Hoekom sê jy niks?"
Steven kyk magteloos na die konstabel. Hy vat haar hande wat deur die tralies steek vas.
Die konstabel staan onmiddelik nader.
"Jy mag nie meneer."
Steven los haar hande. Mavis beur teen die tralies met albei haar hande uitgestrek na hom.
Haar stem is nou hard en amper histeries.
"Steven! Steven! Hoekom haal jy my nie hier uit nie. Ek is sooo bang. 
Asseblief Steven."
Haar stem raak nou weer net 'n gefluister.
"Ja Mammie, ek sal soet wees Mammie. Moet my nie kom pakgee nie. Ek sal nie stout wees nie."
Sy kyk verskrik na die mure en gaan sit weer in 'n hoekie en wieg terwyl sy met haarself praat.
"Moenie huil nie Mavis. Mammie kom nou. Ek moet nie stout wees nie."
Sy bewe soos 'n riet.
Steven kan dit nie langer aanskou nie. Hy draai weg van haar en staan met sy rug teen die tralies.
"Ek is nie bang nie. Mammie gaan gou kom. Die donker gaan nou weg wees."
Steven se skouers begin ruk.
Die konstabel probeer ongemerk sy trane afvee.
©Rooi Mier 17.01.2023

Dinsdag 05 September 2023

#Stukkendeharte S2 Hfst 14 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 14 - Rooi Mier


Vroeër daardie middag.

Steven en Mavis het 'n heerlike middag op die eiland. Sy het nog nooit in haar lewe so 'n lieflike, ontspanne naweek gehad nie. 
Steven het geweier dat sy enigiets moes kook. Dit is al wat sy ken. Behalwe die persona wat sy aangeneem het om van ander mense te skinder, het sy altyd vir ander mense rondgestaan.
Hy wou vir haar wys dat sy ook belangrik is en spesiaal; veral vir hom. Steven wou later 'n bietjie af stap rivier toe maar sy het gesê hy moet gaan want sy wil net lê en ontspan.
Nadat sy hom oortuig het om alleen te stap het sy gelê. Sy weet nie wat gebeur het nie maar skielik het die verlede weer by haar kom spook. Angs het haar oorval toe sy besef sy is alleen.
Sy het opgestaan en in die rigting van die rivier begin stap. Terwyl sy stap het sy 'n harde knalgeluid gehoor soos in 'n wapen wat afgevuur word. Die skok het haar heeltemaal in 'n war gemaak.
Sy het in die verkeerde rigting begin stap en glad nie meer geweet waarheen sy oppad is nie.
Skielik het sy by 'n motor verbygestap. Daar was twee kindertjies in. Die seuntjie het gehuil en die meisietjie het doodstil gesit. Daar was vrees op haar gesig.
Iets het in Mavis geknak. Die donkerskaduwees van haar alleen nagte as dogtertjie het haar bespring.
Soms het sy geskree; ander kere het sy doodstil gesit en gehoop die donker skadus sien haar nie. Sy was vol vrees maar het geen geluid gemaak nie. Lanice se gesig het hierdie vrees getoon. 
Mavis moes haar net red. Sy kon nie toelaat dat die kind met soveel vrees daar sit nie. 
Sy moes haar red. Die dogtertjie moes gered word. Klein Mavis moes gered word. Sy sou net toelaat dat sy so in duisternis sit en hoop iemand kom om haar te red nie.
Sy het met Lanice begin praat asof sy met haar kleiner self praat. Haar verseker dat die skaduwees weg sal gaan want iemand gaan haar kom red.
Sy het Lanice uit die motor gehaal en haar die heeltyd verseker dat sy haar nie gaan verlaat nie. Mavis het in vrees heeltemaal vergeet van almal en alles behalwe die klein Mavis.
Sy was nie eers bewus van al die ander goed wat rondom haar aangegaan het nie. Met Lanice aan haar hand het sy weggestap.

Steven het later teruggekom en die gewoel gesien. Hy kon nie dink dat 'n vrou op Valentynsdag geskiet gewees het nie. Mavis was nie by hul piekniekplekkie nie. Hy het gaan sit en gedink sy sal terugkom. 
Die mense het later begin soek na 'n meisie en hy het gedink sy is ook by die soekgeselskap. Hy self het ook begin soek na die dogtertjie maar terselfdertyd ook na Mavis.
Hy het later bekommerd begin raak toe hy haar nie kry nie. Daar was polisiemanne wat opgedaag het as gevolg van die skietery. Hy het verduidelik van sy aanstaande wat verdwyn het maar hulle het gesê sy is 'n volwassene. As sy teen die volgende aand nog nie terug is nie kan hy haar as vermis gaan aanmeld by die polisiestasie.
Teen dié tyd was Steven rasend van bekommernis. Mavis ken nog nie vir Upington nie. Hoekom sou sy net loop?
Hy het maar saam met die soekgeselskap geloop in die hoop om haar op te spoor.Is sy miskien saam met die dogterjie ontvoer? Sy moet teen die tyd bevrees wees.

Die SAP van Grobbelaarshoop ry met die deurpad langs op soek na die vrou en die dogtertjie. Hulle ry selfs 'n entjie uit die dorp in die rigting van Prieska en terug in die teenoorgestelde rigting, Upington se kant toe maar daar is niemand wat ryloop in enige van die rigtings.
Hulle het seker maar 'n geleetheid gekry. Met hulle terugkeer in die dorp merk hulle die bakkie op van die man wat gebel het. Hulle stop sodat hulle meer inligting kan verkry.
Terwyl hulle besig is om inligting uit te ruil sien die vrou 'n beweging by die toe winkel daar naby. Dit is sowaar die vrou met die dogtertjie. Die dogtertjie hou styf aan die vrou se rok vas.
Twee polisiemanne klim sommer oor die reëling langs die pad en stap in hulle rigting. Die vrou lyk nou regtig verward en bang.

Mavis is nou by haar volle positiewe maar sy is bevrees. Waar is ek? Hoe het ek hier gekom? Wie is die dogtertjie wat so styf aan vashou?
"Mevrou, kan ons jou iets vra?"
"Ja meneer maar sê my eers, watter plek is dit die?
"Mevrou, ons sal die vrae vra. Wie is die dogtertjie by jou?"
"Ek weet regtig nie meneer. Maar ek moet weet waar ek nou is. Is ons nog naby die Eiland in Upington? Waar is Steven?"
Die man en die vrou wat hulle geleentheid gegee het tot daar is nou ook by.
Die vrou kan die vrees op Mavis se gesig sien en kry haar jammer.
"Onthou jy vir my?"
"Nee, wie is jy en hoekom hou die meisietjie so styf aan my rok vas?"
"Jy en die dogtertjie het uit Upington naby Louisvaleweg saam met ons gery tot hier. Onthou jy glad nie? Ons in in Grobbelaarshoop."
Die polisieman kyk die vrou op en af.
"Ek dink die vrou speel vir tyd. Kom ons neem haar polisiestasie toe. Ons sal ook 'n maatskaplike werker moet kry vir die kind terwyl ons die vrou ondervra."
"Meneer, kan sy en die dogtertjie nie maar met ons tot by die polisiestasie ry nie? Die kind is klaar so getraumatiseer."
Sy kyk pleitend na haar man.
Hy knik sy kop.
"Ja asseblief sersant, ek sal hulle veilig daar kry."
Die sersant lyk onwillig maar knik tog vir sy kollega om aan te dui hy gaan dit toelaat.

By die polisiestasie vra die vrou of hulle nie net eers die dogterjie se naasbestaandes kan 'n video oproep kan gee nie sodat hulle darem weet dat hul kind veilig is nie.
'n Welsynwerkster stap toe net by die polisiestasie in en sê dat sy dit liewer moet hanteer want sy moet eers met die naasbestaandes praat om hulle voor te berei en ook nie die kind dalk verder moet ontstel deur dalk die verkeerde ding te sê nie.
Sy probeer ook die dogtertjie neem na 'n kantoor wat meer kindervriendelik is maar Lanice hou vas aan Mavis se rok. 
Die polisieoffisiere in die kantoor vind dit vreemd dat Lanice so vashou aan haar ontvoerder se rok. Die maatskaplike werker moes dit seker gesien het want sy verduidelik dat Mavis se gesig nou die bekendste vir haar is en dit is dalk ook 'n aanduiding dat sy nieteenstaande die omstandighede veilig voel by Mavis.

Derek antwoord die video oproep. Toe hy by die vreemde vrou op sy skerm hoor waaroor dit gaan wink hy vir Bennie nader. Hy verduidelik dat hulle die oupas van die dogtertjie is en hoekom haar ma en pa nie nou beskikbaar is nie.
Albei van hulle se trane vloei, juis wat die maatskaplike werker gesê het hulle nie moet doen nie, toe hulle hul kleindogter sien. Die maatskaplike werker beduie met die kop dat hulle moet stop. Bennie kry homself onder beheer en Derek beweeg eers uit die gesigsveld.
Lanice se trane begin ook vloei. "Oupa, Pappa, kom haal my."
Sy beweeg vorentoe om die foon te vat en die maatskaplike werker toelaat haar om die foon in haar hande te hou. Sy raak aan die skerm.
"Oupa."
Bennie is alleen op die skerm te sien. 
"Oupa se kind. Oupa en Pappa kom haal jou nou Nisie."
Noudat sy haar oupas gesien het haal die vaak haar in. Sy raak snikkend aan die slaap op Mavis se skoot.
Bennie roep die mense naaste aan hulle bymekaar en verduidelik dat hul kleindogter gevind is in Grobbelaarshoop. Hy verduidelik dat sy ontvoer was deur 'n vrou. Hulle moet asseblief die ander deel van die soekgeselskap verwittig want hy en Derek gaan onmiddelik vertrek. 
Nadat hulle albei hul vroue gebel het met die goeie nuus vertrek hulle met Derek se voertuig. Bennie moet hom elke keer maan oor sy spoed.

Steven was in die groep wat Bennie toegespreek het. Hy hoor dat 'n vrou vir Lanice ontvoer het maar hy weet dit kan Mavis wees nie. Sy is te liefdevol deesdae. Hy vra 'n polisieman om asseblief na te gaan wie die vrou is aangesien sy aanstaande ook weggeraak het.
Na 'n rukkie kom die polisieman terug en bevestig dat dit Mavis is dat sy die ontvoerder is. Steven is geskok. Daar moet 'n fout wees. Nie sy Mavis nie.

Larry het ook gehoor dat Lanice gevind is. Sy verligting is groot. Hy het baie lanklaas gebid maar nou bedank Hy die Vader.
Hy vertrek onmiddelik hospitaal toe om te hoor hoe dit met Janice gaan.
©Rooi Mier 17.01.2023

Maandag 04 September 2023

#Stukkendeharte S2 Hfst 13 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 13 - Rooi Mier


Derek Louw is buite homself waar hy saam met 'n soekgeselskap al langs die rivier soek. Hy is nie 'n man van geweld nie maar hy het op 'n keer vir Larry voor die bors gegryp en hom met 'n vuishou bygedam. Hy weet hy het 'n donker verlede en hy het my dogter en kleinkinders se lewe in gevaar gestel. 'n Polisieman wou hê dat Larry hom moet aankla maar Larry het gesê hy verstaan hoekom dit gebeur het.  Nou sorg Larry maar net dat hy nie in dieselfde groepie as Derek soek nie.

"Ek moet vir Angela bel om te hoor hoe gaan dit met Janice."
Angela antwoord onmiddelik.
"Ek sou jou nou net gebel het. Het hulle al my poplap gekry? Sê tog hulle het."
"Nee Angela. Ons soek nog. Die polisieduikers kan eers môre voortgaan maar ons hou aan soek. Hou moed my vrou.
Hoe gaan dit met Janice?"
"Hulle het haar oorgeplaas Mediclinic toe. Sy is op die oomblik in die operasiesaal. Hulle kyk of hulle die patroon veilig kan verwyder. Ek gaan nou gebedskamer toe. Ons kind gaan dit maak want ek glo my God doen nog steeds wonderwerke. Ons praat later."

Bennie kom oor om te hoor hoe dit met Janice gaan. Nadat Derek hom ingelig het bel hy Iris om haar ingelig te hou. Sy pas vir Lorenzo op by die huis. Noudat hy slaap kon sy uitlating gee en het vreeslik gehuil.
"Here, hou ons prinsessie veilig asseblief."

Sahara en Martin was nog steeds in Saldanha toe sy die nuus ontvang. Sy is moeg want sy was al vroeg op vanoggend. Dié nuus het haar oorweldig. Hulle moes haar suikerwater ingee. Sy wil sommer onmiddelik in die motor klim en Upington toe ry maar Martin moes haar oortuig sy kan nie en dit is ver. Hy stel voor dat sy eers hoor wat Lawrence se planne is.

Lawrence blaas ongeduldig op sy toeter. 
"Hoekom kom Larissa nie uit nie? Hy ry sommer sonder haar."
Sy foon lui. Dit is Sahara.
"Waar is jy Lawrence?"
"Ek laai net gou vir Larissa op by die universiteit dan ry ons Upington toe. Daar is eers môremiddag 'n vlug."
Larissa is besig om in die motor te klim.
"Kan jy my iewers op die N7 kry asseblief? Iemand gaan my neem hier uit Saldanha."
"Waar op die N7?"
"Ry maar, ek sal Larissa bel. Jy bestuur mos. Shane Cupido, die speurder, gaan my neem."
Terwyl Larissa en hy ry wonder hy wat sy met Shane in Saldanha doen. Is hy dan nie getroud nie?

"Derek, Janice het nou net uit die operasiesaal gekom. Die patroon is suksesvol verwyder maar .."
Angela raak stil.
"Wat is dit Angela. Praat met my." 
"Die patroon het haar ruggraat beskadig. Sy ….. sy sal moontlik verlam wees."
"Nee dit kan nie wees nie. Is hulle verseker? Daar moet 'n fout wees."
"Moontlik Derek, nie definitief nie."
"Wat het ons dan gesondig Angela? My dogter is moontlik verlam en my kleindogter is wie weet waar; dalk in die hande van 'n maniak.
As daar 'n God is, is dit nou die tyd dat Hy Sy gesig moet wys."
"Moenie so praat nie my man. Ons dogter gaan lewe en ek weet ons gaan Lanice kry. God sal ons nie teleurstel nie."

Max is briesend.
"Jy het die verkeerde persoon geskiet? So G lewe nog?"
"Ja meneer. Net toe ek skiet toe .."
"Ek wil nie hoor nie. Jy het my gefaal. As daai G verdere moeilikheid vir my veroorsaak moet jy solank begin hardloop. Die einde van die wêreld is nie te ver vir my nie."
"Maar meneer?"
Max lui af.
"Ek sal moet geld uit my Luno rekening in my bankrekening oorplaas.
Hulle dink daai paar rand wat hulle gevries het is my enigste geld."
Max het vir hom 'n Luno rekening onder 'n valse naam wat op sy valse identiteit is oopgemaak. Met dieselfde identiteitsdokument het hy ook 'n buitelandse bankrekening oopgemaak. 
Hy is verseker hulle sal hom nie kan stop deur sy finansies af te sny nie. 

Lawrence kry vir Sahara by Moorreesburg waar sy en Shane 'n kort rukkie terug aangekom het. 
Na 'n rukkie se ry en die uitruil van inligting rondom Janice se skietery, kan Lawrence nie meer sy nuuskierigheid beteel nie. 
"Wat het jy en Shane dan saam in Saldanha gedoen?"
Larissa wat voor langs hom sit kyk hom aandagtig aan.
"Is Lawrence nog nie oor Sahara nie? Hoekom klink hy dan so bietjie jaloers?"
Sy sê hardop,
"Lawrence, dink jy jy mag haar dit vra? Sy het mos 'n persoonlike lewe ook."
"Ja maar sy is my, uh, my suster. Ek moet haar beskerm en die man is mos getroud."
"Nee, hy is nie. Hy is geskei."
"Ek is hier en kan vir myself praat broer en vriendin.
Antie Rachel, Max Adriaanse se vrou was vanoggend voor my doodgeskiet en julle stry oor my persoonlike lewe. 
Kom ons konsentreer liewer op wat in Upington gebeur het."
"Jammer sus. Ek het nie geweet nie."
"Ek is nou ok na berading. My bekommernis is oor ons prinsessie. Dink julle Max se manne …"
"Moenie dit sê nie sus. Moenie dit eers dink nie. Ek sal mal word."
"Ten minste is Janice nou stabiel. Mammie het nou net gebel voor ons jou opgetel het."
"Dankie Vader."

"Liefling, dink jy nie ook die vrou met die dogtertjie was vreemd nie? Die dogtertjie het bang gelyk en die vrou het soms gelyk of sy nie weet wat om haar aangaan nie."
"Ja my man. Sommige mense is maar vreemd. Uit Upington het sy nie 'n woord gesê nie behalwe ja toe ons sê ons gaan tot in Grobbelaarshoop."
Sy skakel die TV aan. Daar is 'n foto van die dogtertjie op die nuus.
"Kyk hier my man. Die dogtertjie het vroeër in Upington weggeraak. Haar naam is Lanice."
"Dan moet ons haar gaan red my vrou. Hulle sal hopelik nog op die hoofpad wees."
"Ek dink ons moet eerder die polisie bel."
"Hulle gaan dalk te laat wees. Ons bel hulle terwyl ons daarheen ry. Kom, daar is nie tyd nie."
©Rooi Mier 17.01.2023

Sondag 03 September 2023

#Stukkendeharte S2 Hfst 12 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 12 - Rooi Mier


Lanice sit met groot oë en kyk. Sy is verwonderd oor wat besig is om te gebeur. 
Lorenzo slaan teen die sitplek voor hom en probeer die sitplekgordel los maak met sy klein handjies.
"Mammie! Mammie! Ek wil my mammie hê. Oom Lally jy my mammie seelmaak. My mammie vol boed.
Bling my mammie oom Lally."
Die skok het Lorenzo so getraumatiseer dat dit lyk of hy 'n terugslag gehad het want hy praat nou soos toe hy drie jaar oud was.
Larry is self so in skok dat hy vergeet van die tweeling. Hy probeer 'n ambulans bel en kry dit blykbaar nie reg nie. 
Mense wat daar naby piekniek gehou het hardloop nader. Iemand bel die ambulans. 'n Vrou daar naby hoor Lorenzo en hardloop na die motor om hom te kry.
Janice haal moeilik asem. Larry wil haar optel maar 'n man hou hom teë.
"Jy kan nie, jy sal haar net verder beseer. Die ambulans gaan nou hier wees."
Lorenzo ruk los uit die vrou se hand en storm na Larry toe en slaan hom teen sy been.
"Jy mammie seelmaak oom Lally. Moenie Mammie seelmaak nie."
Dit ruk Larry terug na die werklikheid en hy tel Lorenzo op wat hom aanhou slaan teen die bors.
Skielik onthou hy van Lanice. Met Lorenzo steeds in sy arm stap hy na die motor toe.
"Lanice?"
Daar is niemand in die motor nie.
"Lanice, Lanice! Het iemand 'n klein dogtertjie gesien?
Lanice!"
Die vrou wat Lorenzo uit die motor gehaal het stap nader.
"Daar was net die seuntjie in die motor meneer."
"Nee, dit kan nie wees nie.
Lanice, Lanice! Waar is jy my prinsessie. Asseblief tog mense, bring haar hierheen as julle haar het.
Asseblief tog."
Die ambulans arriveer. Hulle stabiliseer Janice en skuif haar versigtig op die draagbaar. 
"Waarheen vat julle haar Meneer?"
"Ons neem haar Dr Harry Surtie Hospitaal toe meneer. As sy medies het sal sy later oorgeplaas word Mediclinic toe."
Larry huil met Lorenzo, wat nou rem in die rigting van die ambulans, nog steeds op sy arm. 
Mense begin in alle rigtings te soek na Lanice. Sy is nêrens te vinde nie. Nie ver daarvandaan nie vloei die Oranjerivier sterk. Van die soekers kyk betekenisvol na die vloeiende watermassa. 
Na die Somerreën in die provinsies hoër op van die rivier is dit redelik vol.

Die polisie arriveer. Sosiale media begin te gons. Larry is deurmekaar. Hy wil by die hospitaal wees waarheen hulle Janice geneem het maar hy moet eers Lanice kry. 
Hy onthou skielik dat hy nog nie Janice se ouers gebel het nie. Hy het ook nie hul nommers nie.

Shane verneem eers later van die skietaanval in Saldanha. Hy was so geskok besig toe hy van Max se ontsnapping verneem het dat na die voorval die vorige dag net huistoe gery het. Hy het gevoel dat hy Suid Afrika gefaal het omdat hy nie die ontsnapping kon verhoed nie.
Hy het later aan die slaap geraak. Toe hy wakker word het hy onmiddelik begin werk aan leidrade. Niks!
Max het soos mis voor die son verdwyn. Hy het ook nog probeer om Selwyn Rooi in die hande te kry. Dié het ook net verdwyn.
Hy was op kantoor op dié dag van liefde toe hy die berig ontvang. Toe hy hoor dat Rachel Adriaanse doodgeskiet was het hy onmiddelik in sy motor gespring en Saldanha toe gery.
In Saldanha aangekom kyk hy eers die sosiale media om te sien of daar enige verdere verwikkelinge is. Hy het geleer dat jy nie net sommer sosiale media moet ignoreer nie.
Hier leer hy van die aanval in Upington maar omdat daar nie name is nie maak hy nie die konneksie nie.
Martin en Sahara is nog steeds by die polisiestasie. Hy lees hul verklarings. 
Martin maak gebruik van die geleentheid om alleen met Shane te praat toe Sahara kleedkamers toe gaan. Hy het 'n geheim ontdek wat hy net met Rachel tot dusver gedeel het in nou is sy nie meer met hom nie. Dit glo dat as hy dit met iemand deel dan is dit net makliker en hy kan dan aangaan met die begrafnisreëlings. 
Shane lyk redelik geskok oor die inligting. Hoe moet hy nou die nuwe verwikkelinge hanteer? Hoe gaan dit sy ondersoek beïnvloed?

Larissa was uit vir die dag met Paul. Sy het eintlik vir hom uitgeneem aangesien hy nie kan sien hoe sy voel nie. Dit was 'n aangename middag op 'n aarbeie plaas naby Stellenbosch. Sy wou hom nie die skrik op die lyf jaag deur hom uit te vra vir aandete nie.
Nou is sy terug in haar woonstel en sy wonder hoe Janice se middag afgeloop het. Hulle het die vorige dag gesels en mekaar vertel van hul Valentyndag planne.
Sy bel. 
"Goeie middag. Janice se foon. Dit is Larry wat praat."
"Goeie middag Larry of sal ek sê G? Waar is Janice?"
"Larissa, ek het nie goeie nuus nie. Sit jy?"
"Vertel net Larry, wat is dit?"
"Janice is in die hospitaal. Sy was vanmiddag geskiet."
"Hoe bedoel jy geskiet."
"Iemand het haar geskiet. Stuur asseblief vir my een van haar ouers se nommers. Hulle weet nog nie."
Larissa is bewerig van skok terwyl sy die nommer soek om vir Larry te stuur.

"Mevrou Louw, dit is Larry hier."
"Naand Larry. Hoekom hou julle die tweeling so laat uit. Bring hulle nou dadelik huistoe. Julle is onverantwoordelik."
"Mevrou, ek het slegte nuus. Janice is in die hospitaal."
"In die hospitaal? Hoekom?"
"Iemand het haar geskiet."
"Nee, nee. Hoe bedoel jy? Watter hospitaal? Is sy ok.?"
"Dr Harry Surtie. Ek weet nie hoe dit gaan nie."
"Ons is oppad. Wag my daar buite."
"Ek is nie daar nie mevrou."
"Hoekom nie. Maak dat jy daar kom."
"Mevrou, ek kan ongelukkig nie. Ek soek vir Lanice. Sy het weggeraak."
"Weggeraak? Jy sê weggeraak! Waar?" 
"Hier langs die rivier mevrou.
Mevrou? Mevrou?"
Dit is doodstil.
©Rooi Mier 17.01.2023

Vrydag 01 September 2023

#Stukkendeharte S2 Hfst 11 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 11 - Rooi Mier


Sahara is vroegoggend op. Sy is oppad na Rachel toe.
"Ek wil vroeg in die pad val. Antie Jenny is in Upington en om een of ander rede is ek onrustig. 
Wat se besigheid het sy in Upington veral as ek nie daar is nie? Hoekom moes sy so dringend in Upington uitkom dat sy nie eers seker gemaak het of ek daar is nie?"
Sy ry eers na Antie Rachel toe net om haar in te lig sy vetrek sommer direk van Saldanha af Upington toe.
Oral langs die pad is daar mense met ten minste een rooi kledingstuk aan. Die dag van liefde. Dit is nie vir haar beskore nie. Die man wat sy vir ewig gaan liefhê is haar broer.
Daar is 'n diep seer in haar.
Sy parkeer sommer aan die anderkant van die straat want sy moet in elk geval in aanhou ry op dié pad tot sy by die hoofpad kom. Sy ruik die seelug toe sy uitklim.
Voordat sy haar deur toemaak merk sy mense in die voortuin. Dit is Antie Rachel en 'n man wat in 'n vurige omhelsing is. Daar staan twee motors; die een reg voor die huisie wat Antie Rachel huur.
Sy herken dit. Die motor behoort aan haar werkgewer, Martin Adriaanse. 
Sy glimlag.
"Ek het geweet daar is iets tussen die twee. Dit was seker maar die feit dat Antie Rachel nog getroud is met daai Max wat hulle weerhou het van 'n openlike verhouding.
Ek sal maar ry en haar later bel."

"Baie lief."
Rachel gee 'n diep sug. Haar liggaam raak skielik slap.
"En nou Rachel? Rachel! Rachel! Praat met my! Wat gaan nou aan Rachel?"
Haar kop val agteroor. Haar oë is wyd oop en verstar. Martin hou haar basies regop met sy omhelsing.
"Rachel! Rachellll! Nee! Rachel antwoord my."
Martin voel iets taai oor sy hande loop.
Hy hou haar regop met die ander hand en kyk.
Bloed! Rooi en taai warme bloed is op sy hand.
"Help! Help! Iemand help my. Help my asseblief tog!"
Martin skree hard en histeries. Hy hou nou letterlik vir Rachel op. Hy is bang as hy haar neerlê moet hy aanvaar dat sy leweloos is. Solank sy nie lê nie is daar nog hoop. 
"Sy moet net lewe. Sy het nie 'n keuse nie want sy moet skei sodat ons kan trou.
Kom nou Rachel! Moenie nou speletjies speel nie. Ons gaan dan môre 'n prokureur sien.
Asseblief my engel. Dit is Valentynsdag, nie 'n dag om dood te speel nie.
Heeeelp! Heeeeelp! Iemand help tog!"

Sahara wou net terug in die motor klim toe sy dié hulpkreet hoor. Sy kyk na waar Oom John Antie Rachel se slap liggaam regop hou. Daar is bloed.
Sy hardloop na hulle toe verby die motor wat daar staan. Dit registreer nie eers by haar dat die bestuurder nog steeds agter die wiel sit nie. Sy sien hom net so skrams en haar brein vra hoekom hy glimlag terwyl sy die hekkie voor oopruk.

Max draal die knaldemper stadig van sy vuurwapen af terwyl sy oë vasgenael op die paartjie is.
"Ai tog my Racheltjie. Hoekom moes julle my verraai? Nie net by die gereg nie maar ook in liefde. 
Het julle dan geen skaamte nie? My broer en my vrou.
Nou is jy dood. Verewig weg en jy kon dit verhoed het. Ek het hierheen gekom in die hoop dat ons kon gesels en vind jou in my broer se arms."
Hy merk die pragtige jong dame op wat na die hek toe hardloop. Dit lyk nie of sy hom gesien het nie.
'n Glimlag begin nou om sy mondhoeke vorm. 
"Nou gaan jy lei my broer totdat ek voel om jou uit jou ellende te red. Die dood sal jy as genadig beskou.
Nou moet ek in Upington kom. Dit is tyd om my dogter te ontmoet. 
"Valentynsdag! My Valentynsdag is rooi; rooi met die bloed van my geliefde."

Martin en Sahara sit plat op die gras en wag vir 'n ambulans. Hulle albei weet dat dit eintlik onnodig is. Daar word nie 'n woord tussen hulle geuiter nie. Hulle sit net daar.
Skielik vlieg Martin op en begin op en af te loop.
"Max Meneer M Adriaanse, jy het vandag jou doodsvonnis geteken"

In Upington is Larry oppad met sy gehuurde Mercedes om sy beminde te gaan optel. Vandag gaan hy sy liefde bewys deur met die tweeling 'n band te begin bou. Hy het hulle al ontmoet maar dit was elke keer net vlugtig.
Janice lyk pragtig in haar rooi en wit kortbroekpakkie. Sy voel opgewonde dat Larry haar kinders in ag neem. Dit beteken hy beskou hul verhouding as ernstig.
Lanice het 'n pop in haar een hand en hou haar Mammie se hand vas. Lorenzo het karretjies in albei hande. Hy loop skuins voor sy Mammie.
Larry maak die deure oop en help die kinders agter in. Hy maak hulle veiligheidsgordels vas.
Daarna maak hy die linkervoordeur oop vir Janice en gee 'n diep buiging. 
"Tot u diens, my koningin."
Janice glimlag.
"Moenie laf wees nie man."
Upington is nog redelik warm so hulle soek na 'n plek onder 'n boom.
Larry haal 'n mandjie en komberse uit.
"Janice, ek gaan vandag die tweeling bederf. Lorenzo gaan my help om die koningin en die prinsessie te bedien."
Hy haal 'n pienk roos uit waarvan die dorings van die stingel verwyder is en vra vir Lorenzo om dit vir Lanice te gee.
Hy self gee vir Janice 'n pragtige rooi roos. Dit lyk of Lorenzo die hele bedienery geniet, solank hy ook kry van die lekkernye. Larry moet net keer anders bedien hy die sjokolades voor die soutigheid.
Dit is 'n heerlike namiddag. Lorenzo raak eerste aan die slaap op die kombers. Sy motors het hy eers netjies langs sy ma se sak gepak.
Lanice raak 'n rukkie later aan die slaap met haar kop op Larry se been. Hy skuif versigtig en plaas 'n kussing onder haar kop.
As jy egter gedink het hy is verlos is dit 'n fout want Janice lê nou met haar kop op sy been.
Hulle is albei ontspanne en vir iemand wat kyk lyk hulle soos 'n getroude paartjie.

"Waar is jy?"
"Ek is op my pos met my teiken onder waarneming."
"Moenie my bel nie want ek gooi dié foon en sim nou weg. Wanneer ek jou weer bel moet jy vir my sê dat G nie meer is nie.
Ek kontak jou later. Nou moet ek net eers wegkom uit Saldanha. Sal môre daar wees."

Teen 16:30 pak Larry hulle op. Hulle is almal uitgeput. Die tweeling is wakker. Larry neem hulle motor toe terwyl Janice die komberse opvou. 
Larry is terug by Janice en buk om die vullissak op te tel toe Janice skielik skree. Sy hou haar maag vas en val.
Larry hoor die skoot weergalm terwyl hy in 'n gebukkende posisie is. Hy kom vinnig regop en sien Janice hou haar maag vas voordat sy grond toe sak.
Larry is buite homself. Hy het lank genoeg vir Candice gewerk om te weet dit was bedoel vir hom.
Die lang arm van Meneer M se reg het hom uiteindelik ingehaal. Hy gaan lê bo-oor Janice om haar te beskerm teen enige verdere skote.
Niks. Hy hoor net 'n voertuig met skreeuende bande wegtrek.
©Rooi Mier 17.01.2023

Plekke in #Stukkendeharte -Upington

Plekke in #Stukkendeharte -Upington Gordonia Hospitaal Dr Harry Surtie Hospitaal Upington Medi -Clinic ...