Vrydag 08 Maart 2024

#Stukkendeharte S2 Hfst 45 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 45 - Rooi Mier


'n Paar weke gelede.
Selwyn hardloop na die hoek van die gebou toe by die polisiestasie terwyl die skote klap. Hy voel meteens iets brand aan sy linkerarm en val vorentoe.
"Ek is gewond!"
Hy beweeg sy arm.
"Dit voel of dit net 'n vleiswond is."
Selwyn spring op en hardloop verder. Daar staan 'n trok met 'n oopbak. Daar is nie 'n bestuurder in nie. Hy klim agterop en kruip tot voor teen die kajuit waar met sy rug daarteen lê sodat die bestuurder hom nie sommer sal sien as hy hopelik alleen is nie.
"Selwyn! Selwyn!"
Hy hoor hoe Shane hom roep.
"Ek hoop nie hy gaan begin soek nie."
Shane se stem beweeg weg. Nadat Selwyn 'n tydjie gelê het bestel hy 'n uber want dit lyk nie of die bestuurder van die trok nou gaan terugkom nie.
Die uber bestuurder kyk hom snaaks aan toe hy die bloed sien.
"Moet jy nie liewer hospitaal toe gaan nie?"
"Nee, neem my na my na die hawe soos ek bestel het."
Selwyn weet dat hy by die hawe vervoer na Saldanha sal kry.
'n Paar aande later stap hy op die strand in Saldanha. Die strand is verlate omdat dit winderig is. 
"Hoe gaan ek uit hierdie ding kom? Max weet nou ek wou 'n verklaring by die polisie gaan maak wat hom sou inkrimineer. Suid Afrika is nie groot genoeg vir hom om weg te kruip vir Max nie. Sal ek dan my hele lewe lank op die vlug moet bly?"
So aan die einde van die strandgedeelte val hy amper oor iets. Hy gebruik sy foon se lig. Dit is 'n liggaam. Hy kyk na waar die gesig moet wees. Daar is omtrent net been. Verskeie gedeeltes van die liggaam is ook weg.
Selwyn raak naar en stap weg. "Ek kan nie die polisie bel nie want dan gaan iemand weet waar ek is en Max kan dalk daarvan hoor."
Hy stap 'n entjie toe hy skielik besef dat hy so pas oor 'n oplossing vir sy probleem gestruikel het. 'n Onherkenbare liggaam op 'n strand, net wat hy nodig het. 
"Hoe gaan ek die liggaam as 'Selwyn Rooi' verkoop?
'n Identiteitsdokument! Ja, my Id."
Selwyn plaas die id binne die enigste sak van die verflenderde klere wat nog aan die liggaam oorbly nadat hy dit amper vir twee ure in die seewater laat lê het.
Hy het gelukkig nie in sy plek gewoon die afgelope tyd nie so as hulle die liggaam met die id vind sal die mense rondom ook bevestig dat hy vir 'n tyd lank nog nie tuis was nie.
Die oggend vroeg kontak hy 'n patoloog wat hom 'n guns skuld. Hy moes sê dat dit wel Selwyn se liggaam is en dat hy verdrink het.
"Nou hoop ek net die polisie voel nie dat dit nodig is om verder te krap nie want hulle het alreeds so baie werk."

Terug in die hede.
Steven en Mavis is besig om die laaste reëlings te tref met Jenny wat help. 
Sahara kom daar aan want sy het eers die vorige aand gehoor haar antie gaan trou. Sy was egter te ontsteld oor wat Janice kwyt geraak het.
"Hallo my twee anties. Julle werk in die geheim né! Ek moet by ander mense hoor antie Mavis trou. Sou julle my ooit laat weet het?"
Jenny voel seer omdat Sahara haar as een van haar anties beskou.
Mavis merk dit op en roep Sahara om gou iets te gaan kyk saam met haar.
"Sahara, ek weet dit is moeilik maar jy moet maar vermy om Jenny jou antie te noem. Dit maak haar seer."
"Ag jammer Antie Mavis. Ek is net nog nie gereed om haar Mammie te noem nie."
"Ek verstaan my kind en ek wil jou nie forseer nie. Kom ons vat dit tree vir tree."
Hulle stap hand aan hand na Jenny toe asof hulle iets anders bespreek het.
Jenny probeer om haar gevorlens te verberg.
"Het jy gehoor dat Lawrence en Janice nie meer saam is nie? Hulle het glo hul huwelik nietig laat verklaar."
Sahara verstyf waar sy na die rok kyk. Sy maak asof sy nie gehoor het nie en ptobeer ongestoord aangaan.
"Het jy gehoor Sahara?"
"Ek het maar wat het dit nou eintlik met my te doen?"
Jenny en Mavis kyk betekenisvol na mekaar.

"Nou is ek Andy Ryneveld, die entrepreneur. Andy het gekom met bankrekeninge en al want dié alias bestaan eintlik al lankal."
Hy gaan na die vertrek waar Max lê.
Max is wakker.
"Waar is ek? Wanneer het jille my na 'n ander kamer oorgeplaas?"
"Wees jy net kalm Max. Jy is veilig by my."
"Wie is jy? 'n Nuwe dokter?
Wag, jy lyk bekend. Rooi? Selwyn Rooi? Is dit jy?"
"Die einste Maxie, die einste Selwyn Rooi."
"O, dankie tog. Jy het my gered. Baie mooi werk. Ek sal jou goed beloon vir jou inisiatief.
Daar is iets wat jy vir my moet doen. Kry vir my vir Sahara en bring haar hierheen"
Selwyn bars uit van die lag.
"Hoekom lag jy?"
"Vir jou my vriend. Ek lag vir jou."
Max frons vererg.
"Dit is nie nou tyd vir grappe nie. Hoe durf jy!"
Skielik begin sy asem te jaag.
"Stadig Max, stadig nou. Ek dink ons moet liewer jou suurstof opsit. Jou longietjies gaan jou in die steek laat."
Selwyn stap nader en plaas sy suurstof masker op sy gesig.
"So ja, lekker vars suurstoffies?"
Skielik verander sy stem van die speels grapperige na 'n saaklike toon.
"Dit is tyd dat jy moet besef jou tyd van heers is verby o koning.
Kom ek bewys jou 'n laaste eer."
Hy buig sarkasties voor Max.
"Van nou af is jy onder my beheer. Ek slaan die kitaar en jy dans.
Ag, moenie jou so ontstel nie, netnou gaan jy dood."
Hy stap na die deur.
Moenie eers daaraan dink om te probeer ontsnap nie, jy gaan dit nie lewendig hier uit maak nie."
#RooiMier
©Rooi Mier 17.01.2023

Donderdag 07 Maart 2024

#Stukkendeharte S2 Hfst 44 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 44 - Rooi Mier


Max Adriaanse, alias Meneer M, het vanmiddag ontsnap of is ontvoer uit polisiebewaking.
Rencia sit geskok regop.
"Hoe is dit moontlik?"
"Wat sê jy?"
Die dame voor kyk om terwyl sy die vraag vra.
"Niks nie Megan. Ek het maar net hardop gedink. Een van die verpleegsters moet vanaand vroeër van diens af gaan. Ek moet nou sodra ek klaar gestort het by ingaan hospitaal toe om haar af te los."
Rencia haal haar selfoon uit en stuur 'n boodskap.
"Ontmoet my by die plek. Ons moet die Max probleem bespreek."

Shane is woedend. Die polisie manne wat verantwoordelik was om Max op te pas staan voor hom. Hulle is nog albei deurmekaar.
"Idiote! Julle was veronderstel om Max op te pas. Waar is hy nou?"
Shane is regtig kwaad. Die hospitaal personeel wat daar rondgestaan het verdwyn uit die gange want Shane bulder behoorlik.
"Nou gaan julle dom-onnosels onmiddelik dat julle bloed getrek word sodat dit getoets kan word. Dan wil ek julle nie weer die week sien nie.
Kom Maandag in dan gaan julle julle lot hoor."
Shane stap weg. Sy hele houding sê 'bly weg.'

'n Halfuur later sit Shane in 'n kantoor wat die polisie huur. Nie almal weet van die kantoor nie en die huur is onder 'n private maatskappy se naam gemaak.
Daar is 'n kode klop aan die deur.
"Kom binne Kaptein Witbooi."
Rencia stap binne.
"Middag Kolonel."
"Sit Kaptein."
Dit neem Shane en Rencia omtrent 'n uur om 'n nuwe strategie te beplan. 
Rencia noem aan Shane dat sy nou nie so maklik weer na aan Max kan kom as hulle hom weer sou vastrek nie. 
Hulle kom ooreen dat Rencia liewer moet werk op mense wat dalk deel van sy netwerk kan wees en mense met wie hy dalk kontak sal wil maak soos byvoorbeeld Sahara.

Sahara worstel oor iets. Ek is die dogter van die berugste krimineel en ek werk vir sy grootste vyand, sy eie broer. "Hoe gaan ek dit hanteer? Al sou Max eers van Martin wil vergeet kan my teenwoordigheid in Martin se lewe hom altyd naby Martin hou. 
So wat doen ek? Bedank en verdwyn ek? Met Max se bronne sal hy my in elk geval tog opspoor.
Aan die ander kant is daar ook nog Lawrence. Ek sal moet wegkom. Hy is noù getroud en dus moet ek wegbly. Ek moet vir hom en Janice 'n kans gee op 'n gelukkige huwelik.
Dit beteken dat ek my moet afsny van my pa Bennie en Ma Iris. Ek het lief vir hulle geword want hulle het my soos 'n kind van hulle laat voel. Dan is daar nog die twee woel waters. Ek sal hulle mos verskriklik mis.
My lewe is op die oomblik 'n gemors."
Haar foon lui. Dit is Janice. "Wat wil sy hê?"
"Jy is seker nou in jou jou skik met jouself. Nou kan jy mos kry wat jy altyd wou hê."
"Janice, waarvan praat jy? Hoekom klink jy so vyandig?"
"Moenie maak asof jy nie weet nie. Hardloop maar na Lawrence toe. Hy is mos nou vry. Ons is nie meer getroud nie."
Janice druk die foon af.
Sahara is nog steeds in 'n war oor die snaakse oproep.

"Jy is mos 'n dokter. Dit gaan jou plig wees om toe te sien dat Max Adriaanse nie doodgaan nie. Ek betaal jou mos 'n klomp geld.
Jy sal maar net moet sorg dat jy ten minste een keer 'n dag 'n draai hier moet kom maak. Ek het van die beste privaatverpleegsters gehuur. Hulle sal nie praat nie want ek betaal hulle drie keer soveel as wat hulle sou verdien by enige instansie."
"Dit is goed en wel Meneer. Ek sal net graag wil weet vir wie werk ek."
"Jy hoef nie te weet nie dokter. Sorg net dat jy doen wat ek sê anders is jou loopbaan verby. As die mediese raad van jou geskiedenis moet hoor gaan jy boonop nog tronk toe ook.
Ek dink nie jy gaan 'n week in die tronk maak nie. Sien jou môreoggend as jy van nagdiens af kom. Jy moet Max net ondersoek en opdragte aan die verpleegsters los. Ek moet hom eers aan die lewe hou.
Almal dink die arme drommel het ontsnap, min weet hulle jy en Yvonne het hom ontvoer nie."
Die dokter stap by die deur uit en sien die blink nuwe Mercedes in die parkeerarea pronk.
"Ek het hom. Nou kan hy begin ly soos hy my laat ly het. Ek moet eers net sy geld in die hande kry; nie dat ek dit nodig het nie.
Ek dink net dit is die enigste manier om dit eindelik in die regmatige erfgenaam se hande gaan beland, die beeldskone Sahara Muller.
Wat in my guns tel is die feit dat hulle dink ek is dood."
Selwyn Rooi sit agteroor in sy stoel en kyk na die deur waaragter Max hulpeloos in sy bed lê.
#RooiMier
©Rooi Mier 17.01.2023

Woensdag 06 Maart 2024

#Stukkendeharte S2 Hfst 43 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 43 - Rooi Mier


Die polisieoffisier wat buite Max se kamer sit hoor die aanhoudende, vervelige 'peep' geluid waar hy sit en koffie drink. Hy is net besig om die beker neer te sit toe die geluid skielik verander.
'Peeeeeeeeeeeeeeeeeep!'
Die offisier skrik so groot dat hy van die stoel afval. Hy spring op, vuurwapen in die hand, sy broek is nat. Die beker lê daar eenkant en sy bene brand van die warme vloeistof wat op sy skoot geval het. Hy probeer die broek wegtrek van die sensitiewe area af terwyl hy by die kamer in storm.
Hy is verbaas om te sien dat daar reeds 'n dokter en 'n verpleegster in die kamer is.
"Hou almal uit die kamer offisier. Ons neem hom gou vir 'n nood operasie."
Die dokter skree bevele uit terwyl hy en die verpleegster Max by die kamer uitstoot.
"Niemand mag hier inkom nie, bly hier binne."
"Ja dokter."
Die offisier is maar net te bly hy hoef nie uit die kamer te gaan nie. Die verpleegster het hom alreeds ongemaklik laat voel toe sy betekenisvol na die nat kol kyk.

"Nou is ek weer Janice Louw. Dit is 'n goeie ding dat ek nie 'n nuwe id laat maak het by Binnelandse Sake nie."
Lawrence loer net skuins na Janice waar hulle in sy motor ry.
"Nou kan jy maar voortgaan om agter Sahara aan te hardloop. Voel dit nie siek nie? Sy was immers jou suster."
"Janice, hou op om lelik te wees. Ek en jy het kinders om saam groot te maak. Jy vergeet gerieflikheidshalwe dat jy nog nie oor Larry is nie.
Kom ons wees vriende soos voorheen of ry in stilte voort."
"Jammer L maar dit is deur daai feeks se pa dat ek in 'n rystoel is. Daar is geen manier hoe ons vriende kan wees as vir solank as jy lief is vir haar nie."
"Waar kom al die bitterheid nou skielik vandaan? Jy was nog altyd so vergewensgesind. Ek ken nie dié nuwe Janice nie. Haat maak 'n mens lelik. Jy kan dit aan die kinders oordra."
Lawrence laai haar by die huis af. Gelukkig is die tweeling by die kleuterskool want hy sal nie nou met hulle kan deel nie.
Hy help Janice uit die motor op die rystoel. Sy sukkel nog met die oorklimmery.

Derek is voor hulle tuis. Hy is briesend en loop op en af soos 'n leeu in 'n hok. Hy sien hoe Lawrence vir Janice help in die stoel. Voorheen sou hy na die motor gestap het om haar in te stoot; dié keer laat hy toe dat Lawrence haar in stoot. Hy loop die huis in.
"Derek, jy sal moet leer om jou emosies te beteuel my man. Die kinders is nou nie meer saam nie en jou woede gaan dit nie verander nie."
"Los my net af vroumens."
Hy storm by die agterdeur uit. Angela kyk hom kopskuddend agterna. Sy stap om Janice by die deur te ontmoet.
"Goeie dag Lawrence."
"Hallo Ma, jammer, Antie Angela."
"Hoe gaan dit met jou?"
"Jammer dat dinge nie uitgewerk het nie Antie. Sê vir Oom Derek ek is regtig jammer vir my aandeel in wat gebeur het. Kan ek op 'n ander dag kom kuier?"
"Geen probleem my kind. Groete aan Iris."
"Ek maak so Antie. Totsiens. Totsiens Janice."
Janice antwoord nie. Lawrence stap na sy motor toe. Hy hoor hoe Angela met Janice praat.
"Jy was nou onnodiglik ongeskik."

Die polisieoffisier wonder waar sy medewerker is. Hy sou net gou kafeteria toe gaan maar is nou al weg vir 'n halfuur.
Hy begin skielik dronk in sy kop te voel. Voordat hy omkantel sien hy die die verpleegster wat hom 'n beker koffie aangebied het voor hom.

In die kafeteria sit 'n polisieman by een van die tafeltjies. Hy voel te dronk in die kop om te loop. 
"Ek gaan in die moeilikheid kom omdat ek my pos verlaat het, nou voel ek te siek om te loop."
Hy probeer opstaan maar val vooroor op die tafeltjie.

Rencia lê plat tussen die bosse, geweer in die hand. Haar kamoufleurdrag smelt saam met die omgewing. 
'n Man hardloop koes-koes, geweer in die hand, knap voor haar verby.
Sy lê aan en skiet. Die skoot tref hom in sy rug. Hy struikel vorentoe en val teen 'n boom, dan sak hy stadig af grond toe.
Rencia kyk rondom haar deur die take. Hier is niemand naby nie. Sy kruip vorentoe soos wat in die weermag luiperdkruip genoem word. Daar is nog twee van hulle. Dit neem te lank om by die volgende skuiling te kom. Sy kom orent en hardloop gebukkend maar probeer om enige droeë take te vermy.
Skielik hoor sy, "Ek het jou!"
Rencia duik en draai terselfdertyd. Sy val op haar sy en skiet in die rigting van die stem. Sy tref die vrou in die maag. Die vrou sak geluidloos af op haar knieë.
"Nog een oor."
Sy praat met haarself. Dit is skielik doodstil. Sy vee die sweet van haar voorkop af.
Skielik gaan 'n paar mossies links van haar aan die raas. Daar kom 'n figuur aangesluip. Hy kyk nie in haar rigting nie maar na sy twee makers wat duidelik geskiet is daar naby.
Rencia staan saggies op.
"Fout!" 
Sy skiet hom ook in die bors. 
"Nou is jy morsdood."
Sy gaan sit plat op die grond bene gekruis.
"Dit was nou lekker. Julle het nog baie oefening nodig. Staan op!"
Sy beduie met haar verfbal geweer in hul rigting. Al drie haar slagoffers het rooi verf op hul kamoufleerdrag waar sy hulle geskiet het.
"Dit is mos die lewe, nie spuitnaalde en pille nie."

Rencia en haar drie vriende klim in die 4×4 bakkie.
Die een dame wat voor langs die bestuurder sit skakel die radio aan.
"Daar is gewoonlik lekker musiek op die tyd van die dag."
Heal the World van Michael Jackson blêr oor die luidsprekers. Die dame begin saam te sing.
"Ja wat, ek het darem so twee ure se slaap oor as ek nou tuisgekom het. Dan moet ek weer in my verpleegstersuniform klim vir nagskof.
Die lied stop skielik.
"Goeie middag. Ons onderbreuk hierdie program om 'n dringende noodberig.
Max Adriaanse, alias Meneer M, het vanmiddag ontsnap of is ontvoer uit polisiebewaking. Hy word beskou as gevaarlik en ons waarsku u om hom nie te nader indien u hom sou teëkom nie. Skakel onmiddelik u naaste polisiestasie."
Rencia sit geskok regop.
"Sodra ons meer inligting het sal ons u inlig. Ons verslaggewer is oppad na die hospitaal."
#RooiMier
©Rooi Mier 17.01.2023

Dinsdag 05 Maart 2024

#Stukkendeharte S2 Hfst 42 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 42 - Rooi Mier


"Wat gaan van my kinders word? Ek glo nog altyd dat kinders 'n pa en ma nodig het wat bymekaar is."
Lawrence sit diep in gedagte voor die tv. Behalwe vir die flitsende beelde weet hy nie wat hy kyk nie. 
"Hoe kry Janice dit reg om sommer net ons huwelik nietig te wil verklaar? Ek het regtig geglo dat ons saam 'n lewe kan bou."
"Lawrence, wat pla? Ek het juis die kanale drie keer verander om te kyk of jy hier is. Jy is beslis op 'n ander planeet.
Hoe kan ek jou help met die probleem wat jy duidelik ondervind?"
Iris kom sit langs hom op die bank.
"Dis niks nie ma."
Hy staan op en stap kamer toe.
Iris voel nou bekommerd. Iets groots is aan die gang. 

Bennie kom die leefarea ingestap.
"Waar is Lawrence? Ek moet met hom praat."
"Ek dink hy sukkel met iets groots. Hy is op 'n ander planeet my man."
"Dan beter hy vinnig in sy ruimtetuig klim en terug aarde toe kom. Het hy gedink om te trou is kinderspeletjies?"
"Hoe weet jy dit het met sy huwelik te make?"
"Ek weet net. Waar is hy?"
"Hy het na sy kamer toe gegaan?"
Bennie stap na Lawrence se kamer en klop. Na 'n tweede klop stoot Bennie die deur oop toe Lawrence nie antwoord nie. 
Lawrence sit op die rand van die bed maar sy gedagtes is duidelik ver.
"Huweliksprobleme? Julle sal dit nie kan uitwerk as julle nie saam onder een dak bly nie. Laat Janice en die kinders hier kom bly totdat jy iets anders vind. Die gastekamer is groot genoeg vir julle. Janice sal ook maklik kan rondbeweeg met die rystoel. Die tweeling het mos hul plek hier.
Nie dat ek in julle besigheid wil inmeng nie maar julle was nog nie saam na die troue nie. Dit is nie gesond nie."
Lawrence sit en staar net.
"Lyk my hier is groot fout. Wat is dit seun?"
"Janice wil skei!"
"Skei?"
"Nie eintlik skei nie maar ons huwelik nietig laat verklaar."
"Hoe en waarom? 'n Mens verklaar mos nie net sommer 'n huwelik nietig nie. In elk geval, sover my kennis strek kan dit mos nie sommer net gebeur nie.
Julle is albei oud genoeg, julle was by julle volle sinne, of was daar iemand wat 'n geheim gehou het wat 'n groot impak op julle huwelik kan hê?"
"Dit kan gedoen word pa. Ons was nog nie saam nadat ons getroud is nie."
"Nie saam nie?"
"Pa weet. Nie saam nie; uh…. uh, nie, pa weet."
"Nee, ek weet nie wat jy bedoe… Oooh, jy bedoel julle was nog nie sáám nie. Ag man hoekom sukkel ons so. Ons is mos albei grootmense. Julle was nog nie intiem ná die troue nie.
Wil sy jou daaroor los? Dit kan mos maklik reggestel word. Sy moet net onmiddelik intrek of gaan op wittebrood."
Lawrence se ore raak warm. Dit is mos nie iets waaroor mens met jou ouers praat nie.
"Dit is nie die eintlike probleem nie pa. Sy dink ek is nog verlief op Sahara."
"Is jy? Wees eerlik met jouself."
"Nee pa, natuurlik nie."
Hy kyk op die vloer terwyl hy dit sê.
"Kyk my in die oë terwyl jy dit sê. Is jy verlief op Sahara?"
"Nee pa, nee. Ek lieg nou pa. Ja, ek is.
Dit kan mos nie wees nie, sy was dan my suster."
"Ai my kind. Sy is nog steeds my dogter in my hart. Jy was lief vir haar voordat jy verneem het sy is jou suster; wat ons nou weet nie waar is nie.
My probleem is egter dat ek nog nooit ten gunste van egskeidings was nie, veral nie voordat alles probeer was nie."
"En Mammie gaan my natuurlik vertel dat wat God bymekaar gevoeg het kan niemand skei nie."
"Wie gaan nou skei?"
Iris stap die kamer binne. 
"Ek kon dit nie langer verdra nie, ek moes kom hoor wat aangaan.
Wie gaan skei?"
"Ek en Janice Mammie."
"Moenie sulke grappe maak nie kind. Dit is nie 'n speelsaak nie."
"Hulle gaan Iris. Janice wil …"
"Nee, nee, nee. Eers trou julle in die geheim, nou wil julle sommer net skei? Begrawe my maar."
Iris is ontsteld en gaan sit op die bed langs Lawrence.
"Julle gaan God se Woord verontagsaam."
"Ek weet wat Mammie wil sê. Die vraag is, het God ons werklik bymekaar gevoeg? Het ons nie getrou sonder om God te raadpleeg nie? Sou Hy sy seën op ons huwelik geplaas het Mammie?"
"Moenie jou slim hou nie mannetjie!"
"Ek doen nie Mammie, ek dink maar net hardop."
Iris sit 'n rukkie doodstil. Niemand praat nie.
"Wat is die rede?"
"Ek is nog lief vir Sahara mammie, ek was nog altyd."
Iris staan op en stap uit. By die deur draai sy om.
"Onthou net, mense gaan sê dit is omdat sy in 'n rolstoel is."
Sy stap verder.

"Ek maak vordering met die ouman. Binnekort gaan hy uit my hand uit eet."
Rencia stap uit die hospitaal op pad na haar motor. 
"Ek wonder hoekom dié man altyd hier rond hang. Soms is hy binne die hospitaal, altyd in die omgewing van Max se kamer maar nooit naby genoeg om aandag te trek nie.
Wat is sy saak? Ek sal moet uitvind want ek is seker sy teenwoordigheid het met Max te doen."
Die man klim in sy Mercedes en ry weg. Hy het 'n tevrede uitdrukking op sy gesig.
Rencia staan en kyk hom agterna terwyl hy wegry voordat sy na haar motor stap.

Derek is glad in 'n goeie bui nie.
"Wie dink die kinders is hulle? Eers trou hulle sonder ons medewete dan wil hulle uit die bloute skei?
Hulle het mos geen respek vir my en Angela nie. As Bennie en Iris dink dis reg so is dit hulle saak. Ek duld nie dié sotheid nie. 
Janice dink sy kan met enigiets wegkom net omdat sy verlam is? 
Dink weer my kind. Ek gaan dit stop."

Jenny is in haar noppies.
"Wat 'n voorreg is dit nie om vir my suster as getuie te staan met haar troue. Nie te lank gelede nie het ek gedink dat ek haar nooit weer gaan sien nie."
Sy spring onmiddelik in haar motor om by Mavis uit te kom. 
"Ons moet dadelik gaan inkopies doen. Ons het nie juis tyd nie. My suster gaan nie 'n vaal bruidjie by 'n hof wees nie. Daar moet eenvoudig net iewers 'n pastoor wees wat haar op kort kennisgewing gaan trou."

Steven weet nie wie om te vra om vir hom te staan as getuie nie.
"Al moet ek ook 'n wild vreemdeling kry, sal ek oormôre trou."
Hy onthou skielik vir Martin. Miskien kan ek hom nader. Hulle het nogal lekker gesels by die Van Wyk's woning.
"Meneer Adriaanse, goeie dag."
"Steven? Ek dog dan ons is nuwe vriende. Wat is dit met die meneer?"
"Jammer man. Ek is senuweeagtig en ek weet nie of mens vir jou nuwe vriend so iets kan vra nie."
"En dit is?"
"Jy weet ek is nuut in Upington. Daar was nog nie juis tyd om vriende te maak nie."
"Kom nou tot die punt man. Wil jy nou jou nuwe vriend ook verloor."
Martin vind dit amusant dat Steven so senuweeagtig kan wees.
"Ek soek na 'n strooijonker. Mavis en ek gaan oormôre trou."
"Hopelik is my dagboek oop. Laat ek kyk."
Steven is bekommerd. As Martin nie kan nie wie dan?
"Steven, ongelukkig sal jy maar tevrede moet wees met my. Ja, ek sal."
"Phewww! Jy moenie my hart laat staan voor ek trou nie."
Martin lag hardop. 
"Nee man. Jy moet dan nog wittebrood hou. Gepraat daarvan. Wat is julle plan?"
"Ons het nie juis groot planne nie. Mavis wil graag Van Wyksvlei se mense sien dan kom ons terug."
"Ek kom jou later sien. Stuur vir my jou adres."

Derek spring uit die motor by die hof.
"Ek hoop ek is nog betyds. Daai kinders moet gestop word."
Hy begin net om die trappe te klim toe sien hy Lawrence stoot Janice se rolstoel aan die anderkant af. Hy draai om en gaan wag onder.
"Ek hoop julle het tot julle sinne gekom!"
"Ja, ons het pappa. Dit was 'n groot fout om te trou. Ons is beter vriende en het tot dusver goed na ons kinders gekyk. Pappa sal dit maar moet aanvaar, ons huwelik is nietig verklaar."

Die polisieoffisier wat buite Max se kamer sit hoor die aanhoudende, vervelige 'peep' geluid waar hy sit en koffie drink. Hy is net besig om die beker neer te sit toe die geluid skielik verander.
'Peeeeeeeeeeeeeeeeeep!'
#RooiMier
©Rooi Mier 17.01.2023

Maandag 04 Maart 2024

#Stukkendeharte S2 Hfst 41 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 41 - Rooi Mier


Paul is by Larry se woonplek. Hulle besluit om by Shane te begin. Miskien moes Yvonne weer 'n ander identiteit aanneem. Dalk het Meneer M haar vroeëre identiteit uitgevind. Sy was nog laas Valencia Smith. Hulle maak 'n afspraak met Shane.

Janice is op skype met 'n prokureur. 
"Sê my meneer. Ek het so 'n paar dae gelede getrou. Wat ek wil weet, kan ek my huwelik nietig laat verklaar?
"Wat sou die rede hiervoor wees mevrou?"
"Wel, uhmm, ê ê ek en my man was nou nie na die huwelik intiem nie. Ons het wel twee kinders saam, 'n tweeling, maar hulle is ouer as vier.
Ons was net die eenkeer intiem en dit was onder die invloed van drank na ons matriekafskeid.
Dit is toe dat die tweeling verwek is."
"Was julle lief vir mekaar toe julle getrou het?"
"Nee, hy het iemand anders lief en ek het gedink ek sal hom kan lief hê maar helaas nie.
Ek is lief vir iemand anders."
"Dan behoort ons nie 'n probleem te hê om dit nietig te verklaar nie. Jy moet hom net siver kry om in te stem."
"Dankie meneer. Ek sal gou weer terugkom na u toe. Hier is my e-pos adres vir die rekening."

Martin skakel vir Shane.
"Goeie dag Meneer Adriaanse."
"Goeie môre Speurder Cupido.  Ek wil net verneem wanneer ek my beurt met Max gaan kry."
"Die dokter het gevra dat ons hom nie moet vermoei vandag nie. Sal môre jou pas?"
"Solank hy net nie doodgaan voordat ek hom gesien het nie."

Lawrence antwoord sy foon.
"Ja Janice. Ek wou jou juis iets vra. Praat jy maar eerste."
"Nee, jy eerste. Dit waaroor ek wil praat is redelik ernstig."
"Dan sal ek maar eerste gaan. Ons is man en vrou en dit is tyd dat ek my verantwoordelikhede nakom. Die eerste ding is om woonplek te kry. Ons kan mos nie vir ewig elk by ons ouers bly nie.
Jy is mos immers my vrou en dit is net reg dat ons 'n bed deel.
Ek dink daaraan om Sahara se huis te huur. Sy moet een van die dae terug werk toe gaan. Wat dink jy daarvan?"
"Regtig nou Lawrence. Van al die mense op die planeet moetvdit juis Sahara se huis wees? Die vrou wat jy nie kan vergeet nie. Dink jy ek sal met jou intiem kan wees in haar huis?"
"En nou? Waar kom dit nou vandaan? Wat laat jou dink ek voel nog iets vir haar?"
"Kom nou L. Ek kon dit mos nou die dag gesien het toe jy haar so styf vasdruk."
"Maar ek dink nog aan haar as my suster. Daar is mos nie fout as 'n broer 'n suster 'n drukkie gee nie."
"Nee L. So lank en styf? Gaan vertel dit vir die bobbejaan op die berg.
In elk geval, dit maak nie meer saak nie.
Ek wil hê dat ons ons huwelik nietig moet laat verklaar. Dan is jy mos vry om na Sahara te vry."
"Wat nou? Nietig laat verklaar?"
"Ja. Ek het met 'n prokureur gepraat. Dit is 'n vinnige proses."
"So jy wil nie meer getroud wees met my nie. Sommer net so?"
"Kom liewer na my toe sodat ons ordentlik kan praat en bring sommer my kinders saam."
"Jou kinders?"
"Ja, myne."
""Laat ek liewer swyg. Ek was nou wel bietjie gedrink maar ek weet ek was daar."

Sahara voel net om ver weg te gaan waar sy alleen kan sit in haar motor net met haar gedagtes en niemand by haar nie. Nou moet die palmlaning maar doen.
"Sê nou ek het sy wreedheid geêrf? Sy nou iemand maak my seer, gaan ek hom of haar wil laat boet?
Candice het dit in haar bloed gehad, so dit is heel moontlik dat ek dit ook het maar net tot nou toe onbewus was daarvan."
Sahara probeer vasstel of sy al ooit in haar lewe gevoel het om iemand te laat boet. Daar is hoop vir haar, sy kan nie een episode in haar leeftyd oproep nie.
'n Blink nuwe Mercedes ry stadig in die laning af. 
"Hoekom lyk die man so bekend? Waar het ek die man gesien"
Die man kyk nie rond nie. Hy ry verder in die laning af en gaan stop verder vorentoe. Hy klim uit die motor en gaan sit op die randsteen van die pad aan die voorkant.
Sahara probeer hom pluis maar sy kan nie onthou waar sy hom gesien of ontmoet het nie. Sy snor lyk nie eg van waar sy is nie en sy is seker dat sy hom sal erken sonder sy pet op. 
Na 'n rukkie staan hy op om sy selfoon uit die motor te haal want dit het blykbaar gelui. Hy bly staan terwyl hy praat.
Sy skakel haar motor aan en ry vorentoe om verby hom te gaan. Hy praat nog steeds op die foon. Vir 'n oomblik kyk hy na haar en draai toe weg van die pad af.
Sahara probeer sy gesig nie maar sy kan nie. Om nie aandag te trek nie ry sy tot op die einde van die laning en kom aan die anderkant weer op.
Hy het intussen in die motor geklim en krap nou in die kajuit. Weer kan sy nie sy gesig sien nie. Sy ry maar huiswaarts.

Shane, wat vir Sahara volg maar op 'n redelikke afstand moet bly. Gelukkig ken sy nie dié motor nie want sy eie motor is in vir diens.
Hy sien die Mercedes daar ver voor toe Sahara aan die bokant omdraai en aan die anderkant van die pad terugry. 
Die Mercedes begin ook beweeg. Shane wag tot dit verby hom gaan maar hy kon nie die bestuurder identifiseer nie. Dit is die voertuig wat die dag in die straat by Sahara gestaan het.
Shane moet nog gaan draai en toe hy terug ry is die Mercedes weg. Hy wil nie die res van die polisie op die man se spoor sit nie want hy wil hom nie bewus daarvan maak dat hy gesoek word nie.
" Al wat ek nou kan doen is om Sahara te vind. Moontlik volg die man haar."
Hy sien haar motor staan by Upington slaghuis. Die stukke biltong wat daar hang lyk so lekker maar hy kan nie nou ingaan nie want Sahara is daar.
#RooiMier
©Rooi Mier 17.01.2023

Plekke in #Stukkendeharte -Upington

Plekke in #Stukkendeharte -Upington Gordonia Hospitaal Dr Harry Surtie Hospitaal Upington Medi -Clinic ...