#Stukkendeharte S2 Hfst 29 - Rooi Mier
"Antie Jenny, wat gaan aan. Jy lyk nie lekker nie"
"Goeie middag almal. Ek weet ek daag hier ongenooid op maar ek het iets dringends op my hart. As ek dit nie vandag van my hart kry nie sal ek dalk nooit die moed hê nie."
"Antie Jenny, kom ek en jy gesels gou eenkant asseblief."
Jenny volg vir Sahara weg van die res af.
"Wil antie net wag tot die gaste weg is nie? Dan sal ek my volle aandag aan u gee."
"Wel, ek kan probeer kind."
"Dankie antie. Gee ons so 'n driekwart uur na 'n uur toe dan glo ek my ouers gaan ons kans gun om alleen te gesels. Die gaste behoort teen daai tyd huiswaarts te keer."
Hulle stap na die res van die gaste toe. Almal lyk bekommerd.
"Moenie julle verder bekommer nie. Ons kan later gesels."
Sy stel Jenny aan almal voor.
Shane voel ongerus. Hy kyk rond en merk dat drie van hulle daar deur Max gesoek word. Dit is 'n gulde geleentheid vir hom om toe te slaan. Met so baie ander mense teenwoordig kan dit gevaarlik.
"Ek moet so gou as moontlik met Larry gesels, dan moet ek ook probeer om Martin hier weg te kry."
Iris en Sahara bedien almal met tee of sap.
"Enigiemand wat iets wil eet, kry vir jouself. Dié kan is sout en vleiserigheid en aan die anderkant iets soets. Daar is bordjies."
Iris gaan sit langs haar man.
Sahara stap oor na Jenny toe. Sy lyk al hoe meer gespanne.
"Antie, is alles nog reg hier."
"Ja my kind. Ek gaan vir my iets te ete kry"
Shane het nou eers opgegee om Larry se aandag te probeer trek want Larry probeer om Lawrence se aandag te trek. Hy voel ongemaklik in die geselskap en wil so gou as moontlik wegkom.
Uiteindelik beweeg Lawrence weg van Martin af in die rigting van Larry.
"Hoe gaan dit vandag met jou vrou Lawrence?"
'n Bordjie val. Sahara staan en bewe.
Almal kyk na haar.
"Wat is fout my kind?"
Iris gaan bekommerd nader.
"Niks nie Ma Iris. Ek het maar net 'n bietjie duiselig gevoel."
"Kom sit 'n bietjie."
Sahara voel lam in haar bene. Sy haal die stoel net, net.
"Het ek reg gehoor? Het Larry gevra hoe dit met Lawrence se vrou gaan?
Het hy dan regtig met Janice getrou? Hoekom weet Larry en sy weet niks."
Jenny loop heen en weer. Sy is op breekpunt. Dit is duidelik dat iets gaan gebeur. Sy sit die bordjie neer en draai na Sahara.
"Jy is my dogter. Sahara, jy is my dogter!"
'n Doodse stilte sak neer. Dit lyk of niemand durf asemhaal nie.
Sahara, wie se oë die heeltyd op een plek gestaar het lig haar kop op en kyk vraend na Jenny.
Bennie is die eerste een om tot verhaal te kom. Hy lag.
"Nee man Jenny. As daar iemand is wat moet weet dan is dit ek. Moenie sulke grappe maak nie. Jou suster Maria is Sahara se ma."
Almal lyk half verlig en wag vir Jenny om te begin lag. Haar uitdrukking bly egter ernstig.
"Sahara is my dogter."
"Antie Jenny, hoe kan jy? Die grap is nie in goeie smaak nie. Voel antie siek?"
Sy staan vinnig op en stap na Jenny toe.
"Jammer my kind. Ek kon nie langer met die geheim nie. Dit is die waarheid.
Maria, my suster, het op dieselfde dag gekraam. Haar kind was doodgebore by Gordonia Hospitaal. Ek het geboorte, met die hulp van 'n vroedvrou geskenk.
Pappa was 'n baie konserwatiewe persoon. Ek was nie getroud nie. Die plan was om my baba te laat aanneem. Toe Maria se baba sterf, het Mamma voorgestel dat my baba met hare verruil word.
Maria het nie geweet haar baba is doodgebore nie. Pappa het met behulp van die kraamsuster die babas omgeruil en die doodgebore baba is deur die hospitaal saam met fetusse verbrand of wat hulle ook al daarmee doen."
"So my kind by Maria was doodgebore?"
Bennie wag in spanning vir 'n antwoord.
"Ja, sy is."
"Wil jy nou vir my sê dat my dogter Sahara, nie eintlik my dogter is nie?"
Hierdie keer is dit Sahara wat in spanning wag; of liewer sy en Lawrence.
"Nee, sy is nie jou dogter nie Bennie."
Lawrence voel soos 'n vasgekeerde.
"Ek het nog altyd gehoop dat sy nie my suster is nie, nou is dit te laat, hopeloos te laat."
Hy raak skaam vir sy gedagtes. Dit voel vir hom almal kan dit lees.
Sahara probeer haar bes om nie te dink nie. Dit is in elk geval te laat. Haar wens is te laat verhoor. Hy is nie meer beskikbaar nie.
Larry se hart klop net so wild.
"Hoe nou? Dit was nog altyd vir my duidelik dat Lawrence lief is vir Sahara. Nou is hy getroud met Janice. Hoekom moet die lewe so wreed wees? Hoekom?
Ek wou juis met Lawrence praat oor die feit dat hy nog lief is vir Sahara maar met Janice getrou het. Almal wat hul storie ken het die ope geheim van hom en Sahara se liefde geken maar niemand wou dit hardop noem nie. Wat gaan nou gebeur?"
Bennie loop op en af.
"Ek het vir Sahara lief geword soos 'n eie dogter. Daar was, is 'n konneksie tussen ons daarom het ons nooit voortgegaan met dna toetse nie."
Shane staan op. Dit is tyd vir hom om te gaan. Hy het reeds te lank vertoef. Wat hier aangaan is nie eintlik sy besigheid.
Hy stap na Larry tke en trek hom aan die arm.
"Kom ons laat die familie toe om verder alleen deur die ding te kom. Ons is oorbodig hier en ek wil juis nog met jou gesels."
Hulle groet en stap albei na die hek toe.
Sahara hoor hulle nie groet nie.
"Nou wie is my pa dan Antie Jenny."
"Jou pa is Max Adriaanse."
Shane en Larry steek vas by die hek. Hulle draai in ongeloof om.
Martin staan vinnig op.
"So Rachel was reg. Die geheim waarvan sy my vertel het, het aangedui dat Sahara Max se kind is.
Sy het Sahara se dna laat toets omdat sy haar so baie na haar eie seun laat dink het. Gelukkig het sy nog nie ontslae geraak van sy hare wat Max in 'n sakkie gehou het nie."
Lawrence wens dat hy liewer nie geweet het wie haar pa is nie.
"Max? Sy is Max se dogter! Max wat my kinders se lewe in gevaar gestel het."
#RooiMier
©Rooi Mier 17.01.2023