Donderdag 21 September 2023

#Stukkendeharte S2 Hfst 28 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 28 - Rooi Mier


"Antie Jenny, ek gaan later vandag weer by my pa en die tweeling kuier. Ek sal moet begin dink aan terug Kaap toe gaan. My baas gaan my nie vir ewig verlof gun nie.
Die week wil ek so veel moontlik tyd by hulle kuier sodat ek dié naweek kan vertrek."
"Dit is reg so meisiekind. Ek wil ook volgende week vertrek. Nou gaan ek eers vir Mavis en Steven kuier. Dit is goed om tyd met my suster te spandeer. Ek het baie om voor op te maak."
"Ek wil net eers winkels toe. Moet ek iets saambring of kan ons vanaand maar pizza eet?"
"Pizza is reg met my meisiekind."
Sahara vertel haar nie dat sy die vorige nag niks geslaap het nie. Sy het die moord herleef.

Martin is by die winkelsentrum.
"Ek moet vandag vir Sahara in die hande kry. Hopelik het sy al herstel van die moord wat reg voor haar oë plaasgevind het.
Daarna moet ek vasstel waar Max is. Ek is seker ek sal hom hier vind."
"Goeie môre Meneer Adriaanse. Hoe gaan dit vandag."
"Goeie môre Speurder Cupido. Ek het verwag om jou vandag hier raak te loop. Nog nie vir Max gevind nie?"
"Wel, ek weet hy is hier en dat hy sy dogter wil vind."
"Nou hoekom gebruik jy nie die twee wat so agter my aan loop om ook liewer te help met die soektog nie?"
"Uitgevang! Hulle gaan bly want hulle probeer jou beskerm teen Max. So waar jy gaan, gaan hulle."
Shane wink die twee manne nader wat so 15 meter weg is.
"Meneer Adriaanse weet van julle twee. Dit beteken dat iemand wat hom volg julle twee ook sal opmerk. Julle sal minder opsigtelik moet wees.
Verdwyn nou maar hou hom steeds in sig."
"Ja speurder, dit gaan my nog nie verhoed om Max by te kom as ek hom eerste vind nie."
"Ek waarsku jou Martin. As jy dit doen gaan jy my verplig om jou op te sluit."
"Goeie môre Speurder, goeie môre Meneer Adriaanse. Wat gesels julle so intens?"
"Sahara! Wat 'n verrassing. Ek wou jou juis vandag opsoek my kind. Die Shane wil my nie aflos nie."
"Dalk doen hy net sy werk Meneer Adriaanse."
"Speurder, sê tog vir die meisiekind om my Oom te noem."
"Jy is haar baas Meneer. So dit is dalk moeilik vir haar. Goeie môre Juffrou Muller. Ek soek jou ook."
"Wel, dan moet julle maar albei vanmiddag oor kom na my pa se huis toe. Hy is tuis vanmiddag. Dan kan julle hom sommer ook ontmoet."
"Solank ek tyd gaan hê om alleen met jou te praat. Jy weet seker dit gaan oor die moord op Mevrou Rachel Adriaanse."
"Reg so speurder. Ek stuur die addres."

Hulle merk nie die ouerige man op wat by hulle verby stap nie.
"Ai Shane en Martin, weet julle hou naby ek aan julle is? Ek het ongelukkig nie tyd om met julle te ginnegaap nie. Miskien moet ek julle uitnooi vir 'n koffie.
Hier gebeur so baie dinge in Upington. Jy kon my om tik met 'n veer toe ek verneem Janice is getroud met iemand anders. Sy was dan so verlief op Larry volgens die video's wat my spioene my gestuur het nie."

Lawrence is vandag opsoek na 'n woonplek. Hy kan nie sy nuwe bruid by sy kamer laat intrek nie.
Sy gaan binne die volgende dag of twee ontslaan word. Hy moet 'n plekkie vind wat geskik gaan wees vir die tweeling ook.

Hy was nou al by twee agentskappe maar daar is niks geskiks wat onmiddelik beskikbaar is nie. Hy hoop maar hy gaan 'n plekkie kry.
"Môre Lawrence."
Lawrence kyk om. Sy gesig verander onmiddelik. 
"Ag Vader. Kan U my tog nie van dit ook nog gespaar het nie? Is my ouers se gesannik nie genoeg nie?"
Hy groet hardop. 
"Ja Larry, wat wil jy hê? Ek en Janice is nou getroud. Wat wil jy hê?"
"Net 'n paar minute van jou tyd asseblief."
Lawrence kry 'n oproep.
"Verskoon my 'n oomblik. Ek moet dié neem."
Hy praat vir 'n minuut of twee op die foon.
"Jammer, ek moet gaan. Kom sien my vanmiddag by my huis. Jy was mos al daar om die tweeling af te laai."
"Maak so. Sien jou Lawrence."

"Ma Iris, ek het nou iets gedoen sonder u toestemming. Ek wou vanmiddag daar kom kuier."
"Sahara my kind, van wanneer af het jy toestemming nodig om hier te kom kuier. Jy maak my nou seer."
"Dit is nie die probleem nie ma. Ek het my baas en nog iemand oorgenooi. Hulle kom 15:00."
"Sjoe! Nou het jy my in 'n knoop. Ek het niks hier om voor te sit nie."
"Moenie bekommerd wees nie ma. Ek is hier by die winkels. Stuur my 'n lysie en ek koop dit sommer by die tuisnywerheid. Whatsapp dit sommer."
"Ek maak so. Koop genoeg. Mens weet nie wie kom kuier ook nie. Dit wat ons nie eet nie kan ons vir die mense wat in die bos bly gee. Ek het lanklaas vir hulle iets geneem."
"Dit sal nogals lekker wees. Ek het dit altyd in die Kaap gedoen. Ek koop sommer genoeg vir hulle ook."

"Bennie, Sahara het iemand oorgenooi later. Jy het mos nie planne nie?"
"Ek het nie eintlik lus vir mense nie maar ek het so min tyd saam met my dogter. So ek sal hulle verdra."
"Dit is ook 'n geleentheid om haar in te lig van haar broer se onbesonne daad. Ek kan van die giftigste slange kaal hand vang as ek daaraan dink. Ons kan egter niks aan die saak verander nie. Jammer my man."
"Moenie van daai sot praat nie. Hy het nog nie eers 'n woonplek vir sy vrou en kinders nie. Gaan hulle nou apart bly? Ek is so boos ek kom help jou met daai slange."
Iris bars uit van die lag.
"Ek wil nou nie my man verloor deurdat 'n slang hom gepik het nie. Los maar die slange af."
Bennie kan ook nie help om te lag nie.

Bennie, Iris en Sahara berei die buite onthaalarea voor want dit is 'n lekker dag om buite te wees. Upington bied nie sommer 'n dag in middel Februarie wat nie te warm is nie. Dit is eintlik 'n aangename middag.

Shane is eerste daar. Nadat hy kennis gemaak het met Bennie en Iris vra hy of hy dalk met Sahara alleen kan gesels voor Martin opdaag. 
Iris dink dat dit goed is mits dit nie te lank gaan neem nie. Shane verseker haar dit is net 'n paar minute.
Hy en Sahara gesels in die woonkamer terwyl Bennie en Iris buite in die onthaalarea die laaste paar goed in plek kry.
Shane gaan weer met Sahara deur die gebeure rondom die moord. Dit ontstel haar bietjie. Al wat sy kon byvoeg was om te sê dat sy nou seker is dat dit Max was nadat sy foto's van hom bestudeer het.

Terwyl Sahara hulle binne besig is daag Lawrence op.
"Middag pa, middag ma."
Hy verwag kilheid maar hulle groet nogals heel gemoedelik.
"Ons moet later gesels Lawrence, Sahara het gaste oorgenooi."
"Reg so pa. O ja, iemand kom my besoek. Hy is seker al oppad. Ek is regtig jammer ek kon nie vroeër sê nie."
"Hoe meer siele hoe meer vreugde. Wat kan 'n ma nou doen. Sy kan nie haar kinders se gaste wegwys nie."
'n Motor stop buite. Dit is Martin.
"O, dit is Meneer Martin Adriaanse, Sahara se baas."
"Nou gaan kry jy hom by die hek asseblief Lawrence aangesien jy hom ken. Sahara sal seker nou klaar wees."
Bennie druk Lawrence in die rigting van die hek.
"Goeie middag Meneer Adriaanse. Wat 'n verrassing!"
"Goeie middag. Lawrence nê. Ek het jou 'n paar maande gelede by ons hoofkantoor in Kaapstad ontmoet."
"Reg so meneer. Kom binne en volg my asseblief."
"Dit is my en Sahara se pa, Bennie van Wyk en dit is ons ma, Iris.
Pa en Mammie, dit is Meneer Martin Adriaanse, Sahara se werkgewer."
Nadat hulle klaar kennis gemaak het bied Lawrence hom 'n sitplek aan.
Sahara en Shane kom binne en die gesels gaan lekker aan.

Nog 'n voertuig stop buite. Die persoon klim uit.
"O, dit is nou my gas, Larry."
Lawrence stap na die hek toe om sy gas te ontmoet.
"Hoekom het jy my nie gesê julle het gaste nie? Kan ek nie maar op 'n ander dag kom nie?"
"My ouers weet reeds van jou. Kom, ek wil in elk geval so gou as moontlik hoor wat jy te sê het. Daarna skei ons paaie vir ewig."
Larry stap deur die hek en steek skielik vas.
"Speurder Cupido?"
"Larry? Uiteindelik loop ek jou raak."

Larry het net klaar gegroet toe daar nog 'n voertuig stop.
Bennie staan op.
"Wie sal dit nou wees?"
"Dit lyk my na die voertuig wat my Antie Jenny huur."
Jenny klim uit en stap in. Sy lyk nie haarself nie.
"Jammer dat ek julle geselskap onderbreek, maar ek kan nie meer nie."

"Ahhh. Uiteindelik is ek in Upington. Nogals glad nie sleg nie. Ek wou nog altyd dié plek sien.
Nou is ek hier maar glad nie om die plek te kom besigtig nie.
My ou vriend Meneer M is hier iewers in dié plek.  Ons het baie om oor te gesels.
Laat ek net eers by 'n B&B inboek dan kan my soektog begin. Niemand verwag my nie en niemand gaan my ook herken nie, nie eers die grote Meneer M nie. My vermomming is te goed."
Die onbekende ryk sakeman sleutel die adres van die B&B  in op sy Mercedes se GPS in.
#RooiMier 
©Rooi Mier 17.01.2023

Woensdag 20 September 2023

#Stukkendeharte S2 Hfst 27 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 27 - Rooi Mier


Martin stap die voorportaal van die hotel binne.
"Goeie môre meneer. Kan ek u help?"
"Goeie môre. Martin Adriaanse hier. Ek het hier bespreek."
"Kom ek bevestig net meneer."
Die ontvangsdame kyk in Martin se oë.
"En as u nie is nie sal ek verseker dat u wel is Meneer Adriaanse. Ek sal u mos nooit kan wegstuur nie."
Dit lyk of sy nie haar oë van Martin kan wegskeur nie.
"Die sleutel dame."
" Ekskuus? O ja, u sleutel."
Sy draai na die rekenaar.
"Ja, Mnr Adriaanse."
Sy draai na die paneel agter haar en haal een van die kaarte af. Sy hou dit in haar hand sodat Martin dit uit haar hand moet neem.
Hy probeer dit neem sonder om aan haar hand te raak maar sy lig haar hand sodat daar aanraking moet wees.
"Baie dankie."
Martin probeer so vinnig moontlik wegkom.
"Kontak my maar enige tyd indien u iets benodig. Ek sal dit persoonlik vir u bring Martin Adriaanse."
Sy staar hom agterna.

Shane, wat gaan draf het kom net die voorportaal binne.
"Martin Adriaanse? Het ek reg gehoor?"
Hy is te laat vir die hysbak en besluit om eers te kyk op watter vloer dit gaan staan voordat hy opgaan.
Hy woon op dieselfde vloer. Daar is 'n oop deur en hy haas om daar te kom voordat die deur toe gaan. 
Martin staan in die deur.
"Speurder Shane Cupido? Is dit jy?"
"Ja, dit is ek. Wat maak jy hier?"
"Besigheid. Ek het mos 'n tak hier."
"Regtig? Is jy seker jy is hier vir besigheid?"
"Wel, vir wat anders sal ek hier wees?"
"Juis nou? So kort na Rachel se dood? Dit is nie 'n goeie tyd nie."
"Enige tyd is 'n goeie tyd. Wat maak jy hier? Of, kan dit wees? Max is hier in Upington."
"Ek hoop nie jy gaan my ondersoek in die wiele ry nie. Indien jy inmeng sal ek jou moet laat opsluit. Dit is ook gevaarlik vir jou om hier te wees."
"Ek is hier op my eie besigheid speurder. Kan ek nou gaan rus? Ek het amper heel nag gery."

Jenny sit op die stoep. 
"Ek hou nogals baie van Sahara se ouers en dit is 'n jammerte dat sy en Lawrence nie bymekaar kan wees nie. Hy was nou wel  nie tuis toe ons gistermiddag daar was nie maar dit klink of hy 'n agtermekaar mannetjie is. Miskien sal hy 'n ou vrou soos ek raaksien. Hy kan my Ben 10 wees.
Jenny, hou op met jou stuitigheid. As Sahara nou jou gedagtes kan lees gaan jy nooit die einde daarvan hoor nie.
Laat ek liewer klaar maak."

"Wat gaan aan met Lawrence vandag? Hy het nog nie uit sy kamer gekom nie. Hy slaap gewoonlik nie so laat nie. Weet jy iets Bennie?"
"Los maar die klong Iris. Hy moet een van die dae terug universiteit toe."
"Dit is net dat hy gister regdeur kamer toe is nadat hy van Janice afgekom het. Dit het gelyk of hy onsteld was."

Daar is 'n harde klop aan die voordeur.
"Wie klop so hard? Gaan jy kyk Bennie?"
Bennie gaan maak die deur oop. Dit is Derek.
"Keur julle dit goed?"
"Goeie middag Derek. Hoekom lyk jy so onsteld? Keur ons wat goed?"
"Die troue pa."
Lawrence staan by die begin van die gang.
"Troue? Wie se troue? Waarvan praat julle."
Bennie en Iris staar albei van Lawrence na Derek met vraende oë.
"So die mannetjie het julle nog nie vertel nie."
Derek staan dreigend nader na Lawrence wat 'n tree agter toe neem.
"Ek en Janice het gister getrou."
"Julle het wat gedoen?"
"Getrou pa."
"Sê vir my dit is 'n grap asseblief."
"Nee, Bennie. Dit is nie 'n grap nie. Ek was net betyds om te hoor hoe hulle man en vrou verklaar word."
Iris gaan sit op 'n bank. Sy skud haar kop in ongeloof.

Sandra May doen vandag inkopies.
"Dit is veiliger om as 'n vrou rond te beweeg. Niemand sal eers daaraan dink dat ek dalk Max kan wees nie.
Ek sal maar net beduie dat my keel seer is as iemand dalk met my wil praat. Wel, die mense sal dink die manlike goed wat ek koop is vir my 'man.'
Die doek bedek darem 'n gedeelte van my gesig."
Nadat hy sy inkopies gedoen het stap hy na sy motor toe. Hy was net van plan om uit die parkering te trek toe hy skielik regop sit.
"Kan dit wees? Na al die jare? Dit is sy. Dit is beslis sy. Hier probeer ek haar opspoor deur my kontakte en hier loop sy."
Die vrou gaan klim in haar motor.
"Ek sal haar volg. Dit behoort nie te suspisieus te wees nie. Hopelik bly sy nie te ver nie, as sy wel huis toe gaan."
Max volg die vrou, eers tot by die hospitaal. Sy het 'n lang tyd by die hospitaal gebly terwyl hy in die kar gewag het. Hy wou nie uitklim om te sien wie sy by MediClinic besoek nie want hy was bang dat sy hom sou sien. 
"Sy sal dalk nie weet wie ek is nie maar sy kon dalk vir 'Sandra May' in die winkelsentrum gesien het en om 'haar' nou by die hospitaal te sien kan dalk haar aandag trek."
Daarna het hy haar gevolg tot by die huis. 
"Nou kan ek uiteindelik vasstel wie my dogter is."
#RooiMier
©Rooi Mier 17.01.2023

Dinsdag 19 September 2023

#Stukkendeharte S2 Hfst 26 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 26 - Rooi Mier


Janice weet nie hoekom al die jong verpleegsters vandag so rondom haar draai nie. 
"Wat gaan aan vandag verpleegster? Hoekom draai julle so rondom my?"
"Ag, ons voel net om vandag iemand te bederf en te laat goed voel."
"Ek kla nie want ek lyk seker al soos 'n skets van 'n Graad R leerder. Niks maak sin nie maar uit beleefdheid sê jy maar, 'pragtig my kind'. Die probleem is net dat om so opgedollie te wees om in 'n hospitaalbed te lê, nie my idee van goed voel is nie."
"Jou hare lyk pragtig, jou naels is gedoen, nou kan ons met jou grimering begin dan trek ons vir jou die pragtige rok aan."

Lawrence stop op die parkeerarea van die hospitaal. Dit is nog 'n uur voor besoektyd maar hy het toestemming gekry.
"Gee my net so tien minute dan kom julle in asseblief."
Hy neem die bos blomme wat agter op die sitplek lê en stap die hospitaal binne.
"Goeie middag Janice."
"Lawrence, dit is nog nie besoektyd  nie en hoekom is jy so opgedollie?"
"Jy lyk self uit die boeke. Pragtig!"
"Ag, dit is sommer die lawwigheid van die verpleegsters.
Wag 'n bietjie, is hier iets aan die gang waarvan ek nie weet nie?"
Lawrence trek 'n stoel nader en kom sit naby haar. Hy oorhandig die ruiker aan haar.
"Janice, ons het mekaar nodig om Lorenzo en Lanice groot te maak. Met jou in 'n rystoel wil ek nie sê dit is onmoontlik om dit alleen te doen nie maar dit is beslis moeiliker."
Sy wil iets sê maar hy maak haar stil.
"Dink jy nie ook dit sal makliker wees as ons dit saam doen nie?"
"Ons doen dit dan alreeds saam Lawrence. Ek kon nie vir 'n beter pa vir my kinders gevra het nie.
"Ek bedoel ons moet dit as 'n gesin doen. Ek weet ek het jou voorheen gevra en die antwoord was nee maar ek probeer weer."
Lawrence staan op, skuif die stoel en haal 'n ring uit sy baadjiesak. Hy kniel langs die bed by die koppenent.
"Janice Louw, sal jy my die eer aandoen om met my te trou."
"Stadig nou Lawrence. Jy is nie lief vir my nie."
"Ek het geweet jy gaan dit sê. Janice, ek glo dat ek met tyd vir jou lief sal word."
"Dan glo ek nie jy wil opgeskeep sit met 'n invalide nie."
"Dink jy so min van my? Dink jy regtig ek sal moeg word vir jou?"
"Dan is daar ook die kwessie van jou huweliksregte as 'n getroude man. Jy is jonk en gesond en kan baie beter doen. 
Lawrence, ek het nie enige gevoel van my rug afwaarts nie. Ek kan nie van jou verwag om.."
"Sjuut! Moenie die Oranjerivier probeer oorsteek oor die laer brug terwyl dit in vloed is nie. Daar is 'n hoër brug. 
Ons kan 'n spesialis spreek indien nodig.
Kom nou Janice, antwoord my, my knie is al seer."
"Dan sal ons maar saam moet leer om mekaar lief te hê want ek het nog gevoelens vir Larry."
"So sê jy ja?"
"Ja Lawrence, ons kan maar trou."
"Daar is nog iets. Ons trou nou! Alles is gereed!"
"Nou? Soos in nou?"
"Maar my ouers dra nie kennis van dit nie. Weet jou ouers?"
"Nee maar ek gaan trou, nie hulle nie."
"So kan ons maar voortgaan?"
"Trouoffisier?"
"Julle kan maar inkom!"
Drie persone stap die kamer binne.
"Dit is Pastoor Swarts en die ander twee ken jy uit ons skooldae, Cole en Bridget. Hulle sal teken as getuies."

"Is jy al klaar Angela? Jy weet Janice wil vandag tyd spandeer met Lorenzo en Lanice. Dit gaan haar eerste keer wees sedert die skietvoorval. Ons moet 15:00 daar wees sodat sy 'n volle uur met hulle kan kuier."

Larry is buite in die gang naby die kamer waar Janice is. Hy het gesien dat Lawrence daar binne is en dat hy uitgevat is.
"Hy was seker in die kerk."
Hy sien nou die persoon met die manel en die ander twee jongmense wat daar instap. 
"Die pastoor gaan maar seker vir Janice bid.
Na 'n paar minute staan hy nader om te sien wat aangaan. 
Larry kan sy oë en ore nie glo nie.
"Is Lawrence en Janice besig om te trou?"
"Lawrence van Wyk, neem jy Janice Louw as jou wettige vrou?"
"Ja."
"Janice Louw, neem jy Lawrence van Wyk as jou wettige man?"
"Ja."

"Wat soek jy hier? Het ek jou nie gevra om weg te bly nie?"
Larry skrik hom boeglam. 
"Jammer Meneer Louw, ek wou net.."
"Hiermee verklaar ek julle man en vrou. Julle is nou wettig getroud, Meneer en Mevrou van Wyk.
Jy mag maar jou bruid soen Meneer van Wyk."
Derek wou nog vir Larry verwyder maar hy draai vinnig na die deur.
"Wie trou hier binne?"
Hy en Angela probeer saam by die deur ingaan. Hulle vergeet van die tweeling in hul poging om hulle te vergewis dat hulle reg gehoor het.
Die tweeling hardloop albei na Larry en gryp elkeen 'n been.
"Oom Larry!"
Larry druk hulle vas en lei hulle na 'n bank toe in die gang. Hy het agter gekom dat Derek en Angela nie kennis dra van die troue nie.
"Wat gaan hier aan?"
Derek se stem bulder en Angela hou krampagtig aan sy arm vas.
Lawrence en Janice los mekaar en kyk na die deur. Derek se gesig maak dat Lawrence beskermend teen die bed staan met Janice agter hom op die bed.
"Ek is Pastoor Swarts. Die tweetjies het so pas in die huwelik getree."
"Oor my dooie liggaam. Dit is onwettig. Ons weet niks van 'n huwelik af nie."
"Dit is wettig meneer. Hulle albei volwassenes en hier was getuies teenwoordig."
"Het hulle al die register geteken?"
"Nee, hulle gaan dit nou doen."
"Ek weier dat hulle dit doen."
"Meneer, die teken van die register gaan nie die saak verander nie. Hulle was betrokke in 'n wettige seremonie. Alhoewel die register geteken moet word gaan dit nie verander aan hul status nie. Hulle is getroud."
Nie Lawrence, Janice of Angela kon 'n woord inkry tot nou nie. 
"Oom Derek .."
"Moenie my Oom Derek nie."
"My man, kom ons raak kalm. Ek is net so onsteld maar daar is niks wat ons aan die saak kan verander nie. Kom ons praat kalm hieroor."
Derek wil egter niks hoor nie en gryp Angela aan die arm en storm uit met die gang af. Hulle het vergeet van die tweeling.
"Pappa! Pappa!" roep Janice agterna.
Sy bars in trane uit.
Larry bring die tweeling na hul kamer. 
"Mammie, hoekom huil mammie."
Lanice is eerste by die bed. Lawrence en Janice kyk verwonderd op. 
"Wat maak jy met my kinders? Jy moet wegbly van hulle af."
"Hul oupa en ouma was so onsteld dat hulle vergeet het van die kinders. Ek het hulle solank by my gehou."
Angela se stem klink by die deur op.
"O, hier is julle."
"Mammie kan hulle eers los. Lawrence sal hulle huistoe neem."
Angela draai sonder 'n woord om en loop uit.
©Rooi Mier 17.01.2023

Maandag 18 September 2023

#Stukkendeharte S2 Hfst 25 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 25 - Rooi Mier


Die Sondagmiddagete loop heel lekker af by Steven en Mavis. Sahara leer vir die eerste dat Steven haar oorlede vriendin Sally se pa is. Nadat sy gesimpatiseer het vertel Steven haar staltjies oor Sally as 'n klein dogtertjie, altans van dit wat hy onthou.
Sahara leer dat hy geweldig baie gedrink het terwyl Sally opgegroei het.
Mavis en Jenny gesels oor hul ervaringe as klein dogtertjies en moedig mekaar aan om hulp te kry waarop Mavis vir Jenny daarop wys dat sy alreeds besig is met berading.
Miskien sal hulle saam 'n sessie of twee nodig het. Hulle deel hul ervaringe deur die jare wat hulle geskei was.
Dit is toe Mavis vra dat hulle absoluut eerlik met mekaar moet wees en dat daar nie geheime tussen hulle moet wees nie dat dit lyk of Jenny nie meer so vrymoedig gesels nie. Dit wil voorkom of sy van iets af wegskram.
Mavis merk dit op en wonder wat dit kan wees. Sy wil nie druk nie en hoop Jenny sal self oopmaak. 

Larry hang buite die MediClinic uit. Hy het vir homself 'n paar donkerbrille en 'n pet gekry sodat hy so na as moontlik aan Janice kan kom. 
Sy foon lui. Dit is Shane. Hy besluit om dié keer te antwoord.
"Goeie middag speurder."
"Uiteindelik! Jy vermy my mos die afgelope tyd."
"Ja speurder, ek wil nie meer wegkruip nie en jy kan my nie forseer nie."
"Ek het agtergekom jy wil nie meer opgepas word nie. Jy sal nogtans versigtig moet wees. Max is hier in Upington. Wil jy nie maar heroorweeg nie."
"Soos ek jou gesê het speurder Cupido, ek is  nie meer lus vir die muis en kat  speletjie nie."
"Wat bedoel jy? Ek hoop nie jy wil vir Max alleen aanvat nie. Jy weet hoe gevaarlik hy kan wees. Ek sal jou ook moet laat toesluit as jy deur jou aksies my saak benadeel.
Larry? Larry?
Het die mannetjie sowaar afgelui. Besef hy in watter gevaar hy homself plaas?"
"Dit is nog nie besoektyd nie so as ek Janice wil sien moet ek nou probeer inglip voordat die Louws of Lawrence haar kom besoek."
Die verpleegsters is klaar met rondtes. Hulle sal nou eers weers 16:00 omkom wanneer besoektyd klaar is behalwe as 'n pasiënt hulle dringend benodig.
Larry loop eers verby Janice se kamer om te kyk of dit veilig is om in te gaan. Hy glip toe in toe hy sien daar is geen verpleegpersoneel of sekuriteit naby nie.
"Larry? Wat maak jy hier? As my pa jou hier kry is daar moeilikheid."
"Ek moet net uit jou eie mond hoor hoe dit met jou gaan."
"Soos jy mos kan sien, vasgekluister in 'n bed, dalk vir ewig, te danke aan jou."
"Asseblief Janice, vergewe my liefling. Ek voel klaar so skuldig."
"Larry! Loop asseblief. Ek kan nie nou met jou deel nie. Bly ook vir eers weg van my kinders af. Jou teenwoordigheid kan hulle lewens in gevaar stel."
"Dan gaan ek maar. Weet net dit, ek is baie lief vir jou. Meneer M gaan boet vir wat hy aan jou gedoen het."

Shane besef dat hy so spoedig moontlik ook met Sahara moet praat. Hy sal haar ook moet inlig van die beskerming wat hy vir haar moet reël. 
Hy skakel haar nommer maar sy antwoord nie. 
"Hoekom het ek nie die vroumens se adres geneem toe ek laas met haar gepraat het nie? Ek hoop maar sy bel gou terug."

"Dit was nou 'n heerlike Sondagmiddag met Oom Steven en Antie Mavis. Volgende keer moet hulle oor kom na ons toe."
"Ja, dit was lekker."
Jenny klink nie juis oortuigend nie.
"Wat is fout, Antie?"
"Ag, ek voel maar net bietjie af Sahara. Wat is jou planne vir die res van die middag?"
"Ek wil by my pa en die tweeling gaan kuier. Antie het mos nog nie vir hom en sy vrou ontmoet nie."
"Ek sal graag wil sien watter tipe mense hulle is, so ja, ek gaan saam."

"Meneer M, ek wil u net inlig dat Martin Adriaanse oppad Upington toe is. Hy sal seker vanaand daar aankom."
"Dankie dat jy my gewaarsku het. Ek sal hom verwelkom."
"Wat kom Martin hier doen? Is dit besigheid? Hy het immers 'n tak hier in Upington. Ek sal hom dophou met arendsoë.
Dit lyk my die geluk is aan my kant. Shane, Martin en Larry almal in Upington. So dit is moontlik om hulle almal op een tyd af te maai."
#RooiMier 
©Rooi Mier 17.01.2023

Sondag 17 September 2023

#Stukkendeharte S2 Hfst 24 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 24 - Rooi Mier


Shane voel dat hy nou op sy werk kan konsentreer. Nadat hy by sy gewese vrou was en sy verklaar het die kinders maak stories op, het hy hulle geneem en reguit na haar ouers gery.
Daar het hy die kinders die praatwerk laat doen en haar ouers vertel dat sy glo die kinders maak stories. 
Sy gewese skoonouers het dadelik gegaan en haar 'n ultimatum gestel. As sy nie afstand van hom wil doen nie, gaan hulle die kinders met die hulp van 'n maatskaplike werker by hulle hou totdat hulle tevrede is die kinders is veilig.
Met die kinders by haar ouers voel Shane hy kan nou weer konsentreer op sy werk.
Dit is Sondagoggend vroeg en die bus is besig om daai laaste klompie kilometers van Keimoes na Upington af te lê.
Shane sit en dink aan die laaste paar dae se gebeure voordat hy hom na Kaapstad gehaas het. Dit voel al vir hom dat hy iets misgekyk het die dag. 
Hy probeer al die gebeure in herinnering roep. Wat het hy gemis? Sy speurdersinstink is terug.
Daar was 'n stadium dat dit vir hom gevoel het hy is in lewensgevaar maar hy kon dit nie plaas nie. Hy het dit afgeskud want hy het geglo dit was omdat sy kinders in gevaar verkeer het. 
Dit was toe hy die telefoongesprek buite op die parkeerarea van die hospitaal gehad het. Hy probeer vasstel of daar iets in sy agterbewussyn is wat hom 'n leidraad kan gee. 
Skielik sien hy dit. Hy was besig om sy gesprek af te handel toe hy iets sien flits het. Dit was uit die motor wat reg voor hom gestaan het. Die gevoel van dreigende gevaar was op daardie oomblik die grootste.
Shane neem homself weer deur die gebeure. Dan sien hy dit. Die man voor hom in die motor het iets laat sak. Shane kan onthou dat die man se oë vasgenael was op hom en hy het geglimlag.
Wie was die man en hoekom was daar 'n gevoel van gevaar alhoewel die man geglimlag het? Daar was iets bekend aan die man.

"Steven, ek is lus vir lekker gebakte sagopoeding met warm vla. Kan jy vir ons vla, melk en eiers gaan koop? Ek wil vir Magaret en Sahara oornooi."
"Is jy gereed om met jou suster te praat?"
"Ja, ek het gaan dink aan wat jy gesê het en besef dat sy ook baie gely het. Ek gaan haar nie verder straf nie."
"Miskien moet jy leer om haar Jenny te noem?"
"As sy so verkies maar dit gaan moeilik vir my wees."

Max sit en eet 'n wegneem ete. 
"Ai my Rachel. As jy nog gelewe het en ons was bymekaar sou jy nou vir my die lieflikste Sondagmiddagete voorberei het. Dit sou jy afgesluit het met my gunsteling nagereg; 'n outydse rooi jellie met vla. So lekker. Nou moet ek hier sit met die Kolonel se hoender.
Ons het tog ook lieflike tye saam gehad né my liefling. Daardie tye wanneer ek net 'n man vir my vrou was en 'n pa vir my seun.
Nou is jy dood, my seun is dood en my gehoorsame Candice is dood. Al wat nou vir my oorbly is om my dogter te vind. Sy sal my enigste oorblywende familie wees. 
Martin weet dat hy ook reeds dood is vir my. Die foto's wat ek ontvang het van hom by Rachel se graf het my net nog meer vasberade gemaak om hom self dood te maak.
My broer, jy het my baie diep seergemaak.
Nou moet ek my dogter oplei om my besigheid verder te neem, anders vir wie versamel ek skatte? So my dogter, wie jy ookal is, jy is skatryk maar jy weet dit nog nie."
Max het darem al vasgestel dat die vrou na wie hy soek, jare gelede uit Upington weggetrek het. Hy probeer nog iemand vind wat hom op die regte spoor sal bring.

Shane neem hom voor om namiddag 'n draai te ry by Larry. Hy sal maar môreoggend 'n draai by Sahara gaan ry. Miskien kan sy nou al iets onthou om te bevestig dit was Max wat Rachel Adriaanse geskiet het. Dit is maar net nog een klag wat bygevoeg moet word by 'n lang lys.
"Max. Max! Die man agter die stuurwiel in daai motor was Max.
Hoe kon ek so blind wees? Ek kon dood gewees het. Hoekom het hy my nie geskiet nie? Ek kon dood gewees het.
Aan die anderkant; hy was daar binne vyf treë van my af. So, so naby!"
Shane spring op en loop op en af in sy hotelkamer. Daardie bekende gevoel van opgewondenheid begin knaag aan hom. 

Max se foon lui. Net 'n paar mense ken dié nommer en dan ook net tot môre want dan verander hy weer van nommer.
Hy antwoord nogtans nie met sy naam nie.
"Hallo?"
"Meneer, dit is James. Ek wil net rapporteer dat die speurder, Shane Cupido, is terug in Upington."
Die man lui onmiddelik af. 
"Oeeh, lekker. My waardigste teenstaander is terug. Nou lewe ek weer. Op elke hoek en draai moet ek nou op die uitkyk wees. Sjoe!! 
Dit brand hier binne my om die sneller te trek terwyl ek hom in die gesig staar. Hy sal weet sy dood kom en dat ek die sneller getrek het."

Shane is soos 'n opgewende tol. Hy loop op en af, op en af, al in die rondte.
"Max Adriaanse, alias Mnr M die verkleurmannetjie is hier. Hoeveel keer het ek hom dalk mis gekyk want hy lyk elke keer anders.
Daar is mense wat gewaarsku en bewaak moet word. Larry natuurlik, Janice, alhoewel sy niks konkreets van die aanval getuig het tot dusver; dieselfde met Sahara.
Ek wou alleen werk maar met al hierdie mense in gevaar moet ek van my eie spanlede uit die Kaap laat kom. Ek weet nie hoeveel polisielede in Upington Max alreeds omgekoop het nie. Dit is nie veilig om hulle te gebruik nie."
Shane voel aan dat iets groots gaan gebeur binne die volgende paar dae.
©Rooi Mier 17.01.2023

Plekke in #Stukkendeharte -Upington

Plekke in #Stukkendeharte -Upington Gordonia Hospitaal Dr Harry Surtie Hospitaal Upington Medi -Clinic ...