#Stukkendeharte S2 Hfst 15 - Rooi Mier
"Dié malletjie sal ons moet toesluit. Ek dink nog steeds sy speel mal noudat sy uitgevang is."
"Konstabel, pasop wat jy sê. As iemand jou nou hoor is ons in die moeilikheid. Jy kan dink wat jy wil maar jy mag nie sê wat jy wil nie."
Die sersant kyk rond om te sien of daar iemand gehoor het maar dit lyk nie so nie. Hy glimlag vir die konstabel en wys na sy kop met sy wysvinger en maak klein sirkeltjies; duideluk 'n teken dat hy dink Mavis het sielkundige probleme.
'n Kaptein kom ingestap.
"Sersant, jy kan maar vir haar haar regte voorlees en haar formeel arresteer."
Die sersant stap na Mavis toe.
"Mavis Saal, ek arresteer jou op 'n klag van ontvoering van 'n dogtertjie genaamd, Lanice van Wyk. Jy het die reg om te swyg. Enigiets wat jy sê kan en sal in 'n hof teen jou gebruik word. Jy het die reg op verteenwoordiging. Indien jy dit nie kan bekostig nie sal een aan jou voorsien word."
Mavis kyk die Sersant aan met 'n leë blik asof sy nou glad nie kan verstaan wat aangaan nie.
"Ek sal mos nooit 'n klein dogtertjie ontvoer nie. Iets is nie reg nie meneer. Waar is Steven? Hy sal kan getuig."
"Getuies word eers in die hof toegelaat Juffrou. Wie is dié Steven?"
"Dit is my verloofde meneer."
"Jy mag een oproep maak. Wees wys hoe jy dit gaan gebruik. As jy 'n regsverteenwoordiger het stel ek voor jy bel hom. As jy nou wil bel kom."
Mavis bel vir Steven.
"Waar is jy Steven? Ek het jou nodig."
"Mavis? Waar is jy? Ek was so bekommerd."
"Ek is by die polisiestasie in Grobbelaarshoop. Hulle sê ek het 'n dogtertjie ontvoer en my gearresteer. Kom haal my asseblief."
"Ek is op pad my lief. Probeer kalm bly."
Mavis begin voel hoe die angstigheid haar begin oorneem.
Die sersant neem haar na die aanhoudingsselle. Jy sal dalk môre hiervandaan oorgeplaas word na Upington toe waar jy in die hof sal verskyn. Hy stoot haar in die sel. Gelukkig vir Mavis is die sel leeg omdat Grobbelaarshoop 'n klein dorpie is. Dit is weinig dat vroue gearresteer word. Daar is dus geen ongure karakters saam met haar nie.
Sy is alleen. Stoksielalleen gaan sy in dié sel wees. Miskien is die glad nie 'n sening nie. Mavis gaan sit in 'n hoekie nadat die sersant die sel toegesluit en weggeloop het.
Alweer alleen. Haar oë dwaal van muur tot muur.
Steven, oorspronklik van Vanwyksvlei, weet nie watter kant toe Grobbelaarshoop is nie. Hy gaan na die naaste persoon en vra.
"Meneer, as u voor by die pad kom, draai links en ry net. U sal daar uitkom. Dit is so bietjie meer as 'n 100 km."
"Baie dankie."
Hy spring in sy bakkie en ry.
Bennie en Derek kom in Grobbelaarshoop aan en volg die rigtingwysers na die polisiestasie. Hulle kan nie vinnig genoeg uit die voertuig klim nie.
"Waar is sy? Waar is my kleindogter?"
"Wie is julle menere?"
"Ek is Bennie van Wyk en dit is Derek Louw. Ons is die oupas van Lanice, die dogtertjie wat ontvoer is."
"Sy is in daai kamertjie met die maatskaplike werkster. U sal net 'n verklaring moet aflê en uself moet identifiseer voordat u haar kan kry."
Derek raak ongeduldig.
"Sersant, vir nou wil ek net my kleindogter sien, hoor jy my! Jy sal maar net moet wag vir jou verklaring. Moenie nou met my sukkel nie."
Derek storm in die gang af met Bennie kort op sy hakke.
"Menere! Menere!"
Derek wys hom 'n onwelvoeglike teken sonder om om te draai.
Die maatskaplike werkster, wat die geraas gehoor het maak die kamer deur oop.
"Sagter julle. Die kind slaap. Sersant laat hulle toe om tog eers net te sien dat die kind veilig is. Hulle kan mos daarna hul verklaring doen.
Menere, raak kalm. Sy slaap. Julle kan inkom maar moenie haar wakker maak nie. Sy het die slaap nodig.
Derek stap reguit na die klein bedjie toe, wat duidelik daar vir slagoffers van misdaad geplaas is. Hy streel liggies oor Lanice hare sonder om haar wakker te maak.
Bennie kom staan langs hom. Skielik oorweldig die emosies hom. Derek, wat meer emosioneel is het niks nodig nie. Hy plaas sy arm om Bennie se nek en hulle trane vloei. Blydskap, verligting, noem dit wat jy wil maar hulle vergeet daar is 'n vreemde vrou in die vertrek. Dié twee oupas is duidelik ewe lief vir hul kleinkinders.
Na 'n rukkie wys die vrou hulle waar die badkamer is sodat hulle hul gesigte kan gaan was.
"Een van julle kan haar nou saggies optel en toemaak met 'n baadjie terwyl die ander 'n verklaring gaan aflê om te bevestig wie sy is."
Bennie sorg dat hy vir Derek voorspring.
"Ek sal haar neem, jy bestuur mos."
Derek steek verleë vas en stap na die toonbank terwyl hy die afstandbeheer van die voertuig druk om oop te maak vir Bennie. Die voertuig was in hul haas om in die polisiekantoor te kom nooit gesluit nie.
Bennie sit op die agterste sitplek met die prinsessie wat met haar kop op sy been lê, knus toegemaak onder sy baadjie. Terwyl hy wag bel hy eers vir Iris en daarna vir Lawrence.
Terwyl Derek uitkom stop 'n bakkie langs hulle en die man hardloop na binne.
Steven het gejaag om hier uit te kom.
"Dit lyk my ons gaan nie 'n rustige aand hê nie sersant."
Die konstabel is gewoond aan rustige weeksaande. Daar is meestal net opgewondenheid in die week as daar 'n ongeluk op die pad na Upington toe of in die rigting van Prieska is.
Naweeksaande is dit besig ja. Dan is dit aanrandings, messtekery, huismoles ensovoorts want van die mense is dronk.
"Kan ek help meneer?"
"Ja asseblief. Ek is Steven Daries en is hier vir Mavis Saal, my verloofde."
"O, identifiseer jou asseblief meneer. Sy is in die sel hier agter."
Nadat Steven homself geïdentifiseer het, verduidelik hy dat sy sielkundige probleme het.
"Ons verstaan Meneer Daries maar daar is niks wat ons daaraan kan doen nie. Die reg moet sy loop neem."
"Is daar enige gevangenis saam met haar in die sel?"
"Nee, sy is alleen."
"Ai tog, sy gaan beangs word. Dit is juis haar probleem."
Die kaptein in bevel vir die nag stap in.
"Wat is die probleem?"
"Die man se verloofde is opgesluit vir ontvoering. Hy sê sy het sielkundige afwykings."
Steven verduidelik aan die kaptein.
"Wel meneer, ons mag haar nie uitlaat sonder 'n regsbevel nie.
Ek sal jou 'n vergunning toestaan. Jy mag haar gaan sien vir 'n paar minute.
Die konstabel sal jou vergesel. Geen fisiese kontak asseblief. Jy mag net met haar praat deur die tralies."
Lawrence is so opgewonde om te hoor dat sy prinsessie veilig en oppad huistoe is dat hy nie eers besef dat hy vinniger ry nie. Larissa, wat voor langs hom sit, vermaan hom.
"As jy jou kinders wil sien sal jy stadiger moet ry my vriend. Jy is ver oor die spoedlimiet."
Sahara sit doodstil. Noudat sy weet die tweeling is veilig verskuif haar bekommernis na hul ma. Sy hoop dat die dokters verkeerd is. Vir Janice om op haar ouderdom in 'n rystoel vasgekluister moet wees sal verskriklik wees. Hoe gaan dit die tweeling beïnvloed? Die aanpassing sal moeilik vir hulle wees want hulle is nog so jonk.
Steven se hart breek om sy aanstaande so te sien. Sy sit in 'n hoekie op haar hurke. Haar kop is op haar knieë en sy bewe. As hy kon het hy nou die tralies met sy kaal hande afgebreek.
"Mavis! Mavis!"
Sy reageer nie. Hy roep dus weer. Sy lig haar kop stadig op en prewel sy naam amper onhoorbaar.
"Steven."
Sy sien hom en roep nou harder uit.
"Steven, het jy my kom haal? Ek het geweet jy sal my nie alleen hier los nie."
Sy staan op en stap vinnig na die tralies.
"Ek het geweet my liefling. Ek het geweet.
Hoekom sluit hulle nie die hek oop nie?
Steven, sê hulle moet oopmaak asseblief! Asseblief Steven.
Hoekom sê jy niks?"
Steven kyk magteloos na die konstabel. Hy vat haar hande wat deur die tralies steek vas.
Die konstabel staan onmiddelik nader.
"Jy mag nie meneer."
Steven los haar hande. Mavis beur teen die tralies met albei haar hande uitgestrek na hom.
Haar stem is nou hard en amper histeries.
"Steven! Steven! Hoekom haal jy my nie hier uit nie. Ek is sooo bang.
Asseblief Steven."
Haar stem raak nou weer net 'n gefluister.
"Ja Mammie, ek sal soet wees Mammie. Moet my nie kom pakgee nie. Ek sal nie stout wees nie."
Sy kyk verskrik na die mure en gaan sit weer in 'n hoekie en wieg terwyl sy met haarself praat.
"Moenie huil nie Mavis. Mammie kom nou. Ek moet nie stout wees nie."
Sy bewe soos 'n riet.
Steven kan dit nie langer aanskou nie. Hy draai weg van haar en staan met sy rug teen die tralies.
"Ek is nie bang nie. Mammie gaan gou kom. Die donker gaan nou weg wees."
Steven se skouers begin ruk.
Die konstabel probeer ongemerk sy trane afvee.
©Rooi Mier 17.01.2023