#Stukkendeharte Hoofstuk 57 - Rooi Mier
Rondom Lily Straat in Reiger Park is dit skielik baie bedrywig. Eers het dit gelyk of daar skielik net maar verkeer van gewone voertuie in die area is. Geleidelik verander dit ook na meer SAPD voertuie. Daar is verskillende uitgange uit die straat. Die uitgange word afgebaken.
Die mense in die area merk dit en begin mekaar oor en weer bel. By sommige huise begin mense oor die hekke en mure hang om te kyk wat volgende gaan gebeur. Sommige mense sluit hulself in en loer deur die vensters
By sommige huise is mense skielik baie bedrywig. Dalk het hulle iets om weg te steek.
Sarie wonder hoekom Steven met haar wil praat. Sy het geweet een of andertyd sal hulle moet gesels, dit is net dat sy nie lus is vir nog slegte nuus nie. Hulle is ook die enigste oorblywende familie van Willem. Sodra die ondersoek afgehandel is moet hy ook nog begrawe word.
Dit op sigself is klaar moeilik. Hoe begrawe jy iemand wat indirek die dood van jou kind veroorsaak het? Wat soveel hartseer in jou gesin veroorsaak het?
Sy weet egter instinktief dat dit nie is waaroor Steven wil praat nie. Hy wil natuurlik skei. Sy sal maar net met alles saamstem; sy het dit immers veroorsaak.
Sy sit en wag reeds vir hom. Hy neem op 'n bank teenoor haar plaas. Sy gaan hom voorspring dink sy.
"Steven, my man, ek wil jou weereens om verskoning vra vir wat ek gedoen het. Ek wil net vir jou sê dat ek aanvaar dat jy nie meer my man wil wees nie. Dit is nie maklik vir my nie maar ek gaan jou nie teenstaan nie."
"Waarvan praat jy Sarie?"
"Ek sê jy kan maar 'n prokureur kry om die skei te hanteer."
"Wie het van skei gepraat? Wil jy skei Sarie?"
"Natuurlik nie. Ek gaan jou nie teenstaan nie."
"Stadig Sarie. Ek het iets anders op die hart. Luister asseblief.
Ek wil jou vertel van my verlede, van alles wat ek deurgemaak het voordat ek jou ontmoet het. Belowe my jy sal eers net luister."
Hy begin vertel van sy kinderdae en alles wat hy deurgemaak het. Alhoewel Sarie 'n gedeelte daarvan gehoor het in die lykshuis, luister sy aandagtig sonder 'n woord.
Dit laat haar opnuut hartseer. Sy hoor die seer in sy stem en dit herinner haar aan klein Sally. Hoe seer moes dit vir haar gewees het, haar eie moeder wat haar wegstuur.
Sy is nie eers bewus daarvan dat haar trane loop nie. Steven se oë is ook nat.
Nadat hy klaar sy storie vertel het kom staan hy voor haar waar sy sit.
"Sarie, ek wil vra dat jy my vergewe. Vergewe my dat ek nooit my geheim met jou gedeel het nie. Vergewe my dat ek my na drank gewend het. Vergewe my dat ek jou nie die lewe gegee het wat jy verdien het nie; dat ek deur my lewe jou gedwing het om in Willem se mag vasgevang te word. Ek wil jou ook vra om my te vergewe vir die manier waarop ek opgetree het die laaste paar weke.
As jy nie kan nie sal ek jou nie verkwalik nie. Ek het besef dat ek jou nog baie lief het en dat dit nie sommer net weggewens kan word nie."
Nadat hy klaar gepraat het staan Sarie op, plaas haar arms om sy nek en gee hom 'n liefdevolle, lang soen.
"As daar iemand is wat om vergifnis moet pleit dan moet dit ek wees Steven. Kan jy mý vergewe. Natuurlik is jy vergewe."
Steven hou haar net styf vas en sê nie 'n woord nie. Sy liggaam ruk net.
Hulle het nie eers opgemerk dat Mavis alles gehoor het nie. Sy is haastig oppad, maar gee haar krediet. Sy versprei 'n positiewe storie van vergifnis dié keer. Niemand het gesien dat sy trane afvee toe sy daar wegstap nie.
Het Mavis ook dalk 'n seer wat sy verdoesel agter baie praat en skinder? Is dit nie dalk haar manier om aanvaarding te soek nie?
Nadat die polisie alle in en uitgange by Lily Straat afgebaken het, ry 'n paar tot by 'n huis in die straat waar hulle vinnig uitspring met wapens gereed. Die straat kry skielik lewe.
Die polisiemanne spring oor die hek en mure. Van hulle hardloop om die huis om die agterdeur en alle vensters te dek. Mense val oormekaar om in 'n posisie te kom om 'n foto of video te neem van die gebeure. Niemand weet egter wat presies aangaan nie.
Ja wat, ons mense sal die gevaar in hardloop uit nuuskierigheid.
Drie polisiebeamptes mik na die voordeur toe. Een klop met 'n dokument in die hand (natuurlik 'n lasbrief), terwyl die ander twee hom dek, gereed om hom te beskerm.
Dit vat 'n rukkie vir die deur om oop te gaan. 'n Vrou van om en by veertig verskyn in die deur. Dit is duidelik dat sy heftig reageer. Die polisiebeampte wys haar die dokument. Sy neem haar tyd om dit te bestudeer terwyl mens duidelik kan sien dat die beamptes ongeduldig is. Probeer sy tyd wen?
Sy staan uiteindelik weg en die polisie beamptes storm die huis binne.
Buite het iemand genoem dat hy gehoor het Meneer M skuil daar binne. Nou is dit in rep en roer. Polisie beamptes sukkel om die mense weg te hou. Elkeen wil die oomblikke vasvang in beeld of ten minste as 'n ooggetuie. Totale chaos daarbuite. Nog drie polisie beamptes gaan die huis binne. 'n Vroue beampte lei die vrou wat die deur oopgemaak het uit. Sy vloek en skel op die beampte. Dit is duidelik dat die beamptes binne die huis nie behoorlik hul werk kan doen nie.
In Kaapstad sit Shane gespanne. Hy spring dan weer op en loop op en af, op en af. Sy oë vasgenael op die horlosie op sy arm, dan die horlosie op sy kantoormuur. Wat neem dit so lank. Hoe wens hy hy was self daar. Die spanning loop hoog. Sy selfoon lui.
Dit is nie sy amptelike sel nie. Hy ruk dit uit sy sak en gooi dit teen die muur. Shane kan dit nie verdra om nie deel van die operasie te wees nie.
Dit is asof hy musiek hoor en iemand druk hom vas sodat hy nie kan dans nie.
In Reiger Park is die spanning ook op breekpunt. Die eerste joernalis het daar aangekom. Nuus oor die moontlike arrestasie van Meneer M is besig om soos 'n veldbrand te versprei. In nuushuise word daar oormekaar geval en geskree soos elke joernalis die een wil wees wat die storie gaan dek vir sy of haar nuushuis.
Binne die huis is alles deurmekaar. Meubels is geskuif, kaste is oop. Daar is selfs 'n gat in die plaffon. Is daar nie dalk iewers 'n geheime deur nie, 'n ondergrondse kamer nie.
Niks, hier is niemand anders in die huis nie. Die beamptes kom een vir een uit. Daar is 'n verslae uitdrukking op elke gesig wat uitkom. Elkeen van hulle wou so graag deel wees van dié groot vangs. Daar is egter geen vis nie.
Shane is net so verslae toe hy die nuus kry. Intelligensie het bevestig dat Max Adriaanse in die huis was maar nou is hy nie daar nie. Hy gaan sit en staar na die muur oorkant hom.
'n Halfuur gelede het Meneer M se foon gelui. Die persoon het hom gewaarsku dat hulle oppad is om hom vas te kom trek. Max was kalm toe hy die beampte bedank.
Verder af in die straat staan 'n ouman en kyk oor die hek na die bedrywighede. Hy is grys en leun op sy kierie. Sy hoed is effens oor sy gesig getrek. Hy glimlag breed en loop hinkepink die huis in.
***
©Rooi Mier 13.07.2022