Donderdag 29 Februarie 2024

#Stukkendeharte S2 Hfst 38 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 38 - Rooi Mier

Larry het nadat Martin hom afgelaai het besluit om terug te keer na die straat waar al die drama vroeër afgespeel het. Miskien, net miskien gaan hy hoor hoe dit met Max gaan. 
"Ek het in die laaste tyd geleer dat 'n mens moet probeer om liewer een voor te wees op Max. As jy nie is nie, kan dit jou dood kos.
Ek stem ook nie saam met die speurder nie. Max vind 'n mens enige plek waar jy wegkruip. So ek bly net hier Speurder Cupido."
Die straat in nog steeds besig. Hy trek by die sypaadjie op. Nadat hy gestop het merk hy vir Lawrence op. Hy skree Lanice se naam. "Wanneer is hy dan uit die hospitaal ontslaan en waar is Lanice dan?"
Hy sien nou hoe Sahara agteruit loop in Lawrence vas. Hulle draai om en gryp mekaar vas. Die vashouery is beslis meer as 'n groet.
"Het die man dan vergeet hy is getroud? Hoekom druk hy vir Sahara so styf vas? 
Nee, dit is mos nou nie reg nie. Ek gaan nie toelaat dat hy vir Janice seermaak nie. Op een of ander manier gaan ek haar oortuig om van Lawrence te skei. Dié huwelik gaan haar net hartseer en verdriet bring."

Janice slaak 'n sug van verligting toe sy sien Lawrence bring vir Lanice na haar toe. Sy wil haar so graag styf vasdruk maar sy slaap. Lorenzo het ook aan die slaap geraak. Die dag se trauma was net te veel. Hulle was te midde van al die drama.
"My kinders het gesien hoe hulle oupa geskiet was, kort nadat hulle gesien het sy was geskiet en dan was hul pa ook in die skouer geskiet.
"Wat moet deur my arme bloedjies se gedagtes gaan?"
Sy kyk na Lawrence. Hy kan haar nie in die oë kyk nie. Om te dink ek het Larry verraai om met die man te wees. 
"Dit is so duidelik soos daglig dat ek altyd aan die agterste speen gaan drink. 
Ja Janice, jy het destyds op Die Arkie nie sy trouaanbod aanvaar nie, nou voel jy hoe dit voel om verwerp te word.
Hoe gaan dit mense, veral my ouers, reageer as ons net na 'n paar dae weer skei?"
Op 'n vreemde manier voel sy tog verlig. Sy het nog steeds vir Larry lief.
"Eintlik moet ek nie so verontreg voel nie. Hy doen my eintlik 'n guns."

Dit is vroeg die volgende oggend.
Mavis gaan vir haar laaste afspraak by die sielkundige voordat sy môre in die hof moet wees. Na die hofsaak, as hulle besluit om haar nie te vervolg nie, gaan haar behandeling voort.
"Moet asseblief nie vir haar vertel van gister se episode nie Mavis. Wat sy nie weet nie kan nie pla nie."
"Steven, jy weet ek hou nie daarvan om enigiets weg te steek nie. Natuurlik gaan ek haar vertel as sy vra. Haar verslag moet deeglik en eerlik wees. As ek iets wegsteek en sy vind dit agterna uit .."
"Mavis nee jy kan nie."
Mavis lig net haar hand om aan te dui sy gaan dit dien en klaar.
Die afspraak loop baie goed af. Die sielkundige het haar verslag vir die hof opgestel waarin sy bevind dat Mavis emosioneel onstabiel opgetree het. Haar doel was egter om Lanice te help eerder as om haar leed aan te doen.
Sy noem aan Mavis dat sy glo dat Mavis nie vervolg gaan word nie.

Shane het vir die eerste keer tyd om na die twee videos wat die seun geplaas het. Die tweede video was later die aand geplaas maar dit gaan duidelik aan so twee minute nadat die eerste gestop het. 
Shane probeer kyk of hy kan vasstel wie vir Max geskiet het. 
"Ek hoop noe dit is Martin of Larry nie want die keer gaan ek hulle moet aankla. Die skut het ook ander mense se lewens in gevaar gestel.
Tot dusver het ons nog net die een patroondoppie wat Max afgevuur het gevind."
Daar is 'n Mercedes maar die persoon se gesig is nie duidelik nie en die tienerseun het ongelukkig nie die registrasienommer van die motor ingeskry nie.
Shane glimlag.
"Ek sal hom 'n paar lesse moet aanbied."
Op die video is daar egter geen bewyse dat die persoon enigsins uitgeklim het nie.
Hy kyk verder. Dan sien hy Martin se voertuig. Hy en Larry is besig om in die voertuig te klim. 
"Hmm. So hulle was ook daar. Dié twee het skielik onafskeidbaar geword. Waar die een is, is die ander. Alhoewel hulle dit nooit gesê het nie is ek seker dat hulle Max wil bykom. Natuurlik sal hulle dit mos nie aan my erken nie.
Ek sal hulle wel gaan besoek, elk op sy eie, om te probeer vasstel og een van hulle geskiet het. 
Dan moet ek ook probeer om meer inligting oor die Mercedes se baas te kry. Ook moet ons die omgewings waar elk van dié twee voertuie gestaan het te fynkamp vir 'n patroondoppie."
Shane besluit om na die hospitaal toe te gaan om by die dokters self te hoor wat Max se kondisie, of liewer prognose, is.

Paul het 'n paar dae af. Hy het besluit om Upington toe te gaan.
"Eintlik wil ek maat net kyk of ek nie dalk vir Sahara gaan raakloop nie.
Upington is ook 'n goeie bestemming vir 'n kort vakansie."
Hy loop amper in Shane vas in die hotel voorportaal maar dié merk hom nie op nie. Shane is gefokus op 'n oproep.
"Ek het ook vasgestel dat G nou in Upington bly en dat hy nou as Larry bekend staan. My suster Yvonne het so te sê van die aardbol verdwyn. Miskien weet hy iets. Sy was nog laas onder polisiebeskerming buiteland toe."

Rencia is opgewonde.
"Dit was 'n belewenis om dié gewraakte misdadiger, Meneer M, in lewende lywe te ontmoet.
Jammer hy is nie nou in staat om te kommunikeer nie. Ek is egter seker dat hy elke woord wat ekbte sê gehad het gehoor en verstaan het.
Ek kan nie wag om hom vanaand weer te sien nie. Nou moet ek probeer slaap."
Sy trek haar woonstel se gordyne toe. Die nagskof eis sy tol en sy slaap gou.
#RooiMier 
©Rooi Mier 17.01.2023

Woensdag 28 Februarie 2024

#Stukkendeharte S2 Hfst 37 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 37 - Rooi Mier

"Prinsessie! Prinsessie! Lanecia, waar is jy my kind. Asseblief, het iemand dalk my kind gesien?"
Lawrence klink desperaat. 
"My arme kind was onlangs getraumatiseer nou is sy alweer weg. Lanecia!"

"Lanecia! Waar is jy? Lanecia!"
Sahara roep so hard sy kan. Sy tree agteruit en loop in iemand vas. Die persoon roep ook na Lanecia. Sy en die persoon draai terselfdertyd om en albei sê, "Jammer."
"Lawrence? Wat maak jy hier?"
"Sahara. Ek is so dankbaar jy is nie beseer nie. Was jy bang? Jy moes baie bang gewees het my liefling."
Die video flits deur Lawrence se kop en hy sien haar uit die huis vlug.
Lawrence gryp haar en druk haar styf vas.
"Ek was net so bang toe ek daai video kyk."
Sahara hou hom ook vas. Sy weet nie van watter video hy praat nie maar dit maak nie nou saak nie. Al wat saak maak is dat hy nou hier is.
Terwyl hulle mekaar vashou kyk sy op oor Lawrence se skouer.
Sy druk hom skielik weg.
"Lawrence nee. Los my. Kom ons soek vir Lanecia."
Dit ruk Lawrence terug na die werklikheid. Hy los haar.

Janice probeer om uit die motor tussen die mense te kyk of sy nie haar dogter sien nie. Soos sy haar kop van links na regs draai sien sy vir Lawrence.
Hy loop agteruit in iemand vas. Dit is Sahara. 
"Hoekom hou hulle mekaar so styf vas?
Hoekom hou hulle mekaar so lank vas?"
Haar oë vang Sahara s'n toe sy uiteindelik opkyk.  Sy kyk haar stip aan totdat Sahara hom wegstoot.
"Het die vroumens geen skaamte nie? Hoekom soek sy nie haar petuur nie? Lawrence is amper vyf jaar jonger as sy.
Die vermetelheid om aan hom te hang terwyl my kind weg is, terwyl sý kind weg is. 
Dit is net hoere wat aan getroude mans hang."

Sahara voel so skaam en skuldig.
"Wat het my makeer om so aan 'n getroude man te hang? Hoe gaan ek dit teenoor enigiemand regverdig? Die broer en suster kaart sal my nie eers help nie."
Haar gedagtes keer egter onwillekeurig terug na die oomblik. Teen haar wil moet sy erken dat dit goed gevoel het.
"Lanecia! Lanecia!"

Lawrence draai om en kyk in Janice se blitsende oë was. Hy draai weg.
"Prinsessie waar is jy."

Steven sien van ver af vir Mavis in sy motor sit. Hy voel verlig omdat hy nie vir Lanecia by haar sien nie maar terselfdertyd meer bekommerd.
"Nou waar sal die dogtertjie dan wees?"
Mavis wink hom nader. By die motor wys sy vir hom dat die dogtertjie aan die slaap is op die agterste sitplek.
"Mavis, almal is opsoek na die kind. Ons beter haar by haar mense kry. My liefling, jy weet natuurlik dat jy in groot moeilikheid kan kom.
Die verhoor om te bepaal of hulle jou moet vervolg vir die vorige keer is oormôre. Nou dit."
"Steven, ek hoor jou. Sê my egter dit. Die kind het alleen daar staan en huil. Sy was getraumatiseer. Niemand het aandag aan haar gegee nie. Al haar mense wat daar was, was self getraumatiseer. Dink jy ek moes haar by enige van hulle los? Ten minste onthou sy my en het geweet ek sou haar nie seermaak nie."
"Ek hoop net hulle gaan dit ook so sien my liefde. Jy is so 'n liefdevolle mens maar juis dit kan jou in die moeilikheid laat beland.
Ek gaan gou haar familie kry."
Sy hart klop wild.
"Wat gaan nou met sy liefde gebeur. Ek hoop van harte dat hulle sal weet sy het net goed bedoel."
Hy sien vir Iris en glo dat dit makliker sal wees om haar eerder te nader.
"Iris, ek het Lanecia gevind."
"Waar is sy? Hoekom het jy haar nie gebring nie?"
"Sy slaap. Voordat ek jou na haar toe neem wil ek jou net iets sê."
"Daar is nie nou tyd nie. Neem my na my kleinkind toe. Het iets met haar gebeur?"
"Nee, luister net asseblief. Sy is veilig. Moenie nou die anders roep nie. Ek moet eers iets verduidelik."
"Praat en praat gou."
"Ek sal dit so kort moontlik hou."
Hy verduidelik in 'n paar sinne wat gebeur het.
"Iris, Mavis het goed bedoel. As die storie egter by die polisie uitkom kan dit haar saak skade berokken.
Asseblief Iris. Ek smeek jou."
"Ek belowe niks. Neem my na my kleinkind toe."

Iris en Steven kom aangestap na Lawrence toe. Steven dra vir Lanecia wat duidelik slaap.  Toe Lawrence sy prinsessie gewaar, begin hy na hulle toe hardloop. Sy trane van verligting en dankbaarheid begin sommer te vloei.
Iris vertel hom 'n halwe storie van Lanecia wat gehuil het en 'n barmhartige Samaritaan het haar geneem. Mavis het gesien en haar in die motor geneem waar sy aan die slaap geval het.

Bennie se operasie was suksesvol. Die dokter glo dat hy buite gevaar is en dat hy binne 'n week of so ontslaan sal word.

Max  se operasie is meer kompleks. Hy gaan 'n lang operasie hê en sy lewe is in die weegskaal. Daarby het die patroon, nadat dit groot skade in sy ingewande veroorsaak het, in sy ruggraat vasgesteek. Dit kan moontlik verlamming veroorsaak as hulle dit uithaal.

"Max is darem verskriklik lank in die teater. Ek verstaan dit nie hoekom die staat soveel geld en tyd op 'n gemors soos hy kan spandeer nie. Dit sou moes nou soveel makliker gewees het om hom net te los sodat hy kan vrek.
Miskien is dit ook maar beter so. Ek wil hom persoonlik doodmaak."
Hy stap uit na sy Mercedes toe om daar te wag.

Verpleegster Rencia Witbooi is 'n nuweling by Harry Surtie Hospitaal.
"Ek is een van die verpleegsters wat verantwoordelik sal wees vir die versorging van Max Adriaanse. Sy verhaal klink soos 'n storie. Ek sien so uit daarna om hom te versorg."
Sy toon haar identiteitskaart aan die polisieman by die enkelkamer waar Max versorg word. Nadat die polisieman dit gekontroleer het, laat hy haar in.
#RooiMier 
©Rooi Mier 17.01.2023

Dinsdag 27 Februarie 2024

#Stukkendeharte S2 Hfst 36 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 36 - Rooi Mier

Derek en Angela stop by MedicClinic Upington. Buite wag Janice alreeds vir hulle in 'n rystoel en Lawrence is ook daar.
"Goeie middag Meneer en Mevrou van Wyk. Wat gaan aan?"
Daar is 'n neerhalendheid in die manier wat hy hulle aanspreek. Vir enige persoon wat weet sal dit duidelik wees dat hy nog nie vrede daarmee gemaak het dat hulle halsoorkop getrou het nie.
Dit is nie dat hy daarteen is nie maar dit is vir hom duidelik dat dit nie liefde kan wees nie. Janice was net die anderdag nog ernstig met Larry.
"Goeie middag oom, jammer, pa. Ons moet dringend by die tweeling uitkom. Daar is nie tyd nie. Met my besering sal ek egter nie vir Janice in die motor kan help nie. Sal pa?"
"Wat gaan aan? Is daar 'n probleem met my kleinkinders?"
Angela klink bekommerd.
"Ons kan later praat Mammie. Laat ons net eers hier wegkom. Sal pappie my in die motor kan kry?"
Janice klink onseker.
"Wat dink jy van my? Dit sal maklik wees."
Na 'n rukkie is dit duidelik dat Derek sukkel. Dit is immers sy eerste keer wat hy 'n verlamde uit 'n rystoel in 'n motor moet help. Twee paramedici wat daar naby staan kom dit hand by. 
"Ons moet by Sahara se huis uitkom"

Die geheimsinnige is daar toe die paramedici vir Max by noodgevalle ingang van Harry Surtie Hospitaal aflaai.
"Vandag van al die dae is die polisie vinnig. Nou sal dit vir my moeilik wees om na aan Max te kom. Ek sal maar later probeer vasstel wat sy toestand is.
Daar is Shane ook nog. 
Hopelik is hy by sy volle bewussyn. Ek moet hom in die oë kyk voordat ek persoonlik die doodskoot toedien.
Laat ek dan eers maar ry."

Max se toestand is kritiek. Dit blyk of van sy organe beskadig is en hy haal swaar asem. 
Dit blyk egter of hy sy bewussyn herwin het. Hy is egter nie bewus van waar hy hom bevind nie.
Dit klink of hy yl.
"Jenny, ons het 'n pragtige dogtertjie. Ons moet haar goed grootmaak hoor. Net die beste skole sal goed genoeg wees vir haar.
Candice, waar is jy my kind? Hoekom antwoord jy nie vir my nie? 
Ek moet daai 'G' in die hande kry."
Niks wat hy sê maak sin nie. 
"Yvonne, Yvonne my liefling! Waar is jy?"

Shane wonder of Max ooit dink aan die ander Yvonne, die jongmeisie, wat hy probeer ontvoer het. 
Hy maak seker dat daar genoegsame polisiemanne is om 'n behoorlike aflos te hê. Hy deel hulle op in drie groepe van twee elk, elke span gaan vier ure werk. Die res het slaapplek hier by die hospitaal wat spesiaal vir hulle voorberei is. Nadat hy al die name en hul kontakbesonderhede neergeskryf het, gee hy opdragte wat streng uitgevoer moet word. Tot die dokters se identifikasie moet behoorlik nagegaan word en net twee en drie dokters en sekere verpleegpersoneel sal met Max werk. Hy gaan hul besonderhede kry en aan die spanne verskaf.
Shane is baie deeglik. Hy stuur selfs die name van die polisie wat die wagdiens gaan verrig se name deur na die hoofkwartier om hulle agtergronde weereens te ondetsoek.

Sahara raak bewus daarvan dat sy net vir Lorenzo by haar het. Sy begin rondkyk na waar Lanice kan wees.
"Lanice! Lanice! Waar is jy?"
Iris hoor dit en dit skok haar tot werklikheid.
"Lanice!"
Iris kyk rond tussen die mense. Daar is geen teken van Lanice nie.

Derek se motor trek daar op. Lawrence het hulle ingelig van die video en Angela het dit gekyk. Die laaste end was dit doodstil in die motor.
Die feit dat daar so baie mense en polisie is maak hulle onrustig.
"Lawrence, kry my kinders en bring hulle hier. Daar is nie nou tyd om eers vir my uit te haal nie."
Lawrence en sy skoonouers klim onmiddelik uit die voertuig.
"Daar is Sahara met Lorenzo, ek gaan hom solank na Janice toe neem. Sy sal weet waar Lanice is."
Iris klink bietjie meer verlig.
Die is egter van korte duur.
"Hallo Sahara. Wat gaan hier aan?"
"Ek sal nou vir u vertel Antie Angela. Ons moet net eers vir Lanice kry."
"Wat bedoel jy?"
"Lanice is nêrens te vinde nie."
"Hemel nee, nie alweer nie. Laat ek gou vir Lorenzo na Janice toe neem."
Sahara begin weer te roep.
"Lanice! Lanice! Het iemand dalk 'n dogtertjie van vier gesien?"
Derek en Lawrence hoor dat sy vir Lanice soek en hardloip na haar toe.
"Wat gaan aan?"
Skoonpa en seun vra gelyk.
Sahara verduidelik dat Lanice vermis is. 
"Nee man, nie weer nie. Was daai mal vrou nie weer hier nie."

Steven hoor vir die eerste keer dat  almal vir Lanice soek; maar hy hoor ook daardie aanmerking van Derek. Dit maak hom seer want hy weet onmiddelik dat Derek van Mavis praat. Dan skielik raak hy paniekerig. Sê nou sy het vir Lanice?
"Nie alweer nie. Waar is Mavis? Ek het haar nog nie gesien vandat ons hier aangekom het nie." 
Hy begin soek tussen die mense wat intussen begin saamdrom het.
"Mavis waar is jy? Het jy tog nie weer 'n terugslag gehad nie?"
Steven bid dat Mavis nie vir Lanice het nie. Hy begin stap na sy voertuig toe.
"As sy met Lanice weg is; waarheen dié keer?"
#RooiMier 
©Rooi Mier 17.01.2023

Maandag 26 Februarie 2024

#Stukkendeharte S2 Hfst 35 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 35 - Rooi Mier

Sahara se twee pappas lê oor mekaar. Daar is bloed in die oprit. Wie se bloed is dit? Bennie of Max of hulle albei se bloed? 

Iris word flou en sak op die grond neer. Prinsessie, arme prinsessie begin histeries te huil. Haar ouma lê hier by haar voete en oupa lê half onder 'n man en daar is bloed. Daar is niemand wat haar in die chaos vertroos nie. Almal is gefokus op op die liggame wat daar lê.
Shane is nou by die liggame lewe hulle nog? Hy is versigtig want hy dink aan die vorige keer toe Max hom amper geskiet het. Hy hou sy vuurwapen op Max gerig. Daar is tekens van asemhaling maar geen ander beweging nie.
Max se vuurwapen is ook buite bereik as hy sou wou skiet. Bennie se been beweeg.
Vir die eerste keer begin Shane die gebeure in sy kop terugspeel. 
"Ek het my nie verbeel nie. Daar was twee skote. Een was van Max af maar ek kon die verskil tussen die twee skote waarneem.
Wie is die ander een wat geskiet het? Ek het nie geskiet nie omrede daar so baie mense was."

Polisiesirenes klink op in die verte en word al harder. Sahara druk Lorenzo styf teen haar vas. Dit lyk of die skok van die afgelope tyd haar afgeskakel het. Al wat nou registreer is die mans op die grond en Lorenzo teen haar been. Sy hoor 'n dogtertjie huil maar dit klink ver, baie ver.

Martin en Larry klim in Martin se voertuig naby die hoek van die straat. 
"Ons moet hier wegkom. As Shane ons hier vang is ons in die moeilikheid."
Hulle albei steek hul vuurwapens onder die sitplekke weg. Martin skakel die voertuig aan en ry weg, net toe die eerste polisievoertuig om die draai kom.
'n Mercedes trek stadig weg.
"Ek sal moet wag om te hoor of Max nog lewe. Maxie, ongelukkig kàn ek nie nou gaan kyk nie."

Een vir een begin die tienerseun se facebook vriende te video te kyk en te deel. Die dorp begin gons. Die video is baie vinnig gewild op sosiale media.

Lawrence lê met sy selfoon in sy hand. Hy gaan maar lusteloos deur die verskillende plasings. Daar verskyn 'n kennisgewing. Iemand het so pas iets met hom gedeel. Hy sien dat dit 'n video is en maak dit oop om dit te begin kyk.
Lawrence merk dat dit in Sahara se straat is en sit vinnig regop in sy hospitaalbed. 

Op daardie oomblik stoot 'n verpleegster vir Janice by die deur in.
"Hallo my man. Gelukkige menseregte dag. Goed om te sien jy is wakker."
Lawrence antwoord nie. Op daardie oomblik sien hy Sahara by haar deur uit kom. Sy lyk verwilderd. Jenny volg kort daarna. Hy hou sy hand op as teken dat Janice moet stilbly. Op die video sien hy skielik sy pa met Lorenzo en dan sy ma met Lanice. Dan sien hy Max by Sahara se voordeur gebukkend uitkom asof hy in pyn is.
Lawrence gooi sy foon op die bed neer.
"Dokter! Dokter! Verpleegster!"
"Wat gaan aan Lawrence?"
'n Verpleegster hardloop die kamer binne.
"Wat gaan hier aan?"
Die ander verpleegster trek heer skouers op.
"Ek weet nie. Hy het net begin skree."
"Ek wil nou huistoe gaan!"
"Meneer jy word môre ontslaan as die dokter tevrede is."
"Ek gaan nou huistoe. Hoe kan ek hier lê terwyl my kinders en Sahara in gevaar verkeer. Bring 'n vorm sodat ek my uitteken."
Hy gooi die beddegoed eenkant en probeer sy klere uit die bedkassie haal.
Janice wonder wat gaan aan.
"Verpleegster, gee sy foon aan asseblief."
Die verpleegster gee die selulêre foon aan. Janice kyk die video en sien hoe Bennie vir Lorenzo na Sahara toe stoot en op Max afstorm. Daar klink twee skote op.
"Nee! My kinders."
Sy gebruik  sommer Lawrence se foon om haar pa te bel.
"Middag Lawrence!"
Derek viel skuldig. Hy het nog nie eers vir Lawrence gebel vandat hy gewond was nie.
"Pappa, dit is ek, Janice. Kom haal my onmiddelik by die hospitaal."
"Is jy ontslaan?"
"Pappa, my kinders is in gevaar. Kom onmiddelik."
Sy druk af.
Neem my om aan te gaan trek onmiddelik.
Die verpleegsters is albei verwonderd oor wat nou gebeur het. Hulle kyk mekaar aan.
"Ver-pleeg-ster!!! Bring die vorm."
Die verpleegsters skrik en reageer. Die een storm die kamer uit en die ander begin Janice uit stoot.

"Bloed! Ons benodig onmiddelik bloed. Bring 'n sakkie O pos. Ons weet nie wat sy bloedgroep is nie."
Die paramedikus stoot Max na die ambulans waar 'n ander een 'n bloedsakkie gereed kry.
 'n Tweede groep ondersoek Bennie. 
"Hy is in die maag geskiet. Ons sal eers by die hospitaal kan sien of sy besering lewensgevaarlik is. Kom ons gee hom ook bloed voorlopig."
Hulle laai hom in 'n ander ambulans terwyl die eerste een vertrek.

Shane gee vinnig bevele af aan die polisiekaptein teenwoordig, spring in sy voertuig en volg die ambulans met Max.
"Prioriteit is nou eers Max. Hy moet polisiebewaking kry. Sodra daar lede by die hospitaal opdaag sal ek terugkom om bewyse te help vind.
Ek vertrou egter niemand om die ambulans te vergesel behalwe ek nie."

Die geheimsinnige in die Mercedes weet dat hulle Max na 'n staatshospitaal gaan neem daarom ry hy deur na Dr Harry Surtie hospitaal toe.
"Ek moet 'n manier vind om vas te stel hoedanig Max se toestand is."

"Dink jy Max lewe nog Martin?"
"Ek hoop nie so nie. Ons sal moet vasstel."

Steven en Mavis kom ry nikssvermoedend om die draai in Sahara se straat. Hulle merk die polisievoertuie op wat en die ambulans wat daar wegtrek.
Hulle sê nie 'n woord nie en kyk net na mekaar. Wat het hier gebeur. Steven is eerste uit en stap vinnig na die toneel toe. Die polisie het die toneel afgebaken. 
Sahara staan nog steeds met Lorenzo. Iemand is besig om vlugsout voor Iris se neus te hou.
Mavis klim uit. Sy stap reguit na Lanice toe, wat een kant staan en huil.
Sy neem vir prinsessie aan die hand en stap met haar na Steven se motor toe.
#RooiMier 
©Rooi Mier 17.01.2023

Sondag 25 Februarie 2024

#Stukkendeharte S2 Hfst 34 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 34 - Rooi Mier

"Jy lyk nog goed. Ek wonder of ons twee nie nog.."
"Gaan weg jou walglike mens. Ek het destyds die grootste fout van my lewe begaan. As ek maar geweet het wat ek nou weet.
Ek sal jou nooit vertel waar jou dogter is nie."
Sahara het in die deur bly staan toe sy die stemme hoor. Sy kon nie uitmaak waarvan hulle praat nie.
"Wie is by Antie Jenny", wonder sy.
"Ek het nie nou krag vir kuiergaste nie. As dit kon sou ek haar ook vermy het."
Sy wil omdraai om eers weer weg te ry tot later.
Max gryp Jenny aan die hare.
"Nee Max, jy maak my seer!"
Sahara hoor haar geskree en steek vas.
"Max? Het sy gesê Max?"
Sy draai weer om en stoot die deur heeltemaal oop. Voor haar staan 'n vrou wat Jenny aan die hare vashou. Dit is egter 'n mansgesig.
"Los haar! Wie is jy en wat wil jy van haar hê!"
Albei Jenny en Max skrik. Max draai vinnig om maar sodat Jenny tussen hom en die deur staan. Hy vroetel my sy hand onder die romp en haal 'n vuurwapen uit.
"O, dit is net die pragtige jong vrou wat oral opduik. Jy lyk nogals bekend as ek jou van naby beskou. Is dit? Jenny is dié my dogter?
Ja, nou kan ek dit sien."
"Ja, jy is my pa. Ongelukkig moes Antie Jenny nou kies om met die skuim van die aarde te slaap en my te verwek.
Watter soort man is jy wat vrouens aanrand?"
"My kind! My pragtige dogter. Kom hier dat ek jou van nader bekyk."
Hy laat die vuurwapen sak en laat Jenny gaan.
"Nee, ek het nog nooit aan 'n vrou geslaan nie. Ek wou haar maar net laat skrik sodat sy makliker sal praat. Jammer as ek jou seergemaak het my Jenny."
Terwyl Jenny wegbeweeg maak hy die romp los en skop dit uit. Hy staan nou in 'n kort broek wat tot net bokant sy knieë kom.
Vir die eerste keer kan mens sien dat dit mans sandale is wat hy dra.
Jenny gaan staan by Sahara en hou haar vas.
"Jy sal eers deur my moet kom voordat jy aan my kind sal raak Max. Ek sal nooit dat jy jou kloue op haar kry nie moordenaar."
"Jy sê die mooiste woorde."
Hy trek die vroue baadjie uit. 
"Kyk wat ek moes deurmaak om naby my dogter te kom. Nou wil jy nie hê ek moet haar leer ken nie?
O ja, is haar naam Sahara?"
"Ek wil regtig niks met jou te doen het nie Max. Jy het jou vrou reg voor my vermoor. Jy is 'n ongedierte. Bly weg van my en Antie Jenny af!"
"Antie Jenny? Dit is interresant. Ek sal later na daai storie luister."
Max se stemstoon verander skielik.
"Ek het wel gesê ek slaan nie aan vrouens nie maar ek skiet hulle graag dood. Morsdood. Jenny, is jy gereed om te sterf? Dit is wat met jou gaan gebeur as my dogter nie noú saam met my gaan nie."
Max lig weer sy vuurwapen.
"Waar? Kop of hart?"
"Los vir Antie Jenny af. Ek sal vrywillig saam met jou gaan."
Max hou die wapen op Jenny gerig.
"Ek hoop nie jy is besig met speletjies nie Sahara, onthou, jou geliefde antie se lewe hang daarvan af."

"So Lawrence en Sahara is nie broer en suster nie? Watter kans het ek dan om ooit sy liefde te wen? Gaan hy nou van my wil skei of gaan hy net by my bly omdat ek in 'n rystoel is?
Wil ek so 'n lewe lei?"
Janice weet nie hoe om hierdie nuwe verwikkelinge te verwerk nie. 
"Ek het Larry opgegee in die hoop dat ek en Lawrence dalk eendag lief vir mekaar sou word.
Nee, ek kan nie toelaat dat Sahara alweer my lewe ruïneer nie.
Verpleegster!"
Nadat sy geroep het val dit haar by dat sy die klokkie kan lui. Sy druk die knoppie.
'n Verpleegster kom haastig binne.
"Daar is nie 'n krisis nie. Ek wil net weet of jy my later na my man toe kan neem?"
"Geen probleem. Ons kan sommer nou gaan as jy nie besoekers verwag nie. Dit is nou besoektyd."
"Kom ons gaan dan. Ek kry mos nie eens meer besoeke van my ouers af nie."
Die verpleegster rapporteer sommer so in die verbygang dat sy Janice na haar man toe neem.

"Bennie, aangesien Lawrence buite gevaar is, kom ons neem die tweeling na Sahara toe. Dink jy nie sy het ons dalk nodig nie? Sy het so baie om te verwerk en ek dink sy moet weet ons is daar vir haar.
Lorenzo en Lanice gaan haar ook laat voel sy is nog deel van ons familie."
"Ek dink dit is 'n uitstekende gedagte my vrou. Dit kan nie maklik vir haar wees nie. Haar hele lewe is omgekeer in die laaste paar dae. Om dan nog te verneem dat Max Adriaanse jou pa is, moet een van die ergste skokke wees wat mens kan kry. Kom ons ry sommer nou."
'n Paar minute later trek hulle op die sypaadjie by Sahara se woning op.
"Dit is haar voertuig in die oprit. Sy is tuis Iris."

'n Tienerseun by die huis oorkant Sahara sit op die stoep met sy selfoon. Dit is nuut en hy wil die kamera uittoets.

Lanice is eerste van die tweeling uit die voertuig. Iris neem haar aan die hand terwyl Bennie Lorenzo se veiligheidsgordel los maak. 
"Ons gaan lekker by antie Saha kuier! Ons gaan lekker by antie Saha kuier!"
Sy maak 'n lied van die een sin.
"Nie antie Saha nie wê. Is antie Sahaha."
Bennie glimlag.
"Sa-ha-ra", sê hy in lettergrepe.

Binne die huis stap Sahara oor na Max toe.
"Laat Antie Jenny eers toe om in daai kamer te gaan dan kan jy my maar saam neem."
"Nee, sy moet bly waar ek haar kan sien."
Sahara weet sy kan nie bekostig om nog te redeneer nie.

Die tiener oor die pad begin 'n film te maak van die Mercedes af terug tot by die huis voor hom waar die man, vrou en twee kindertjies uit die voertuig klim.

Max sit sy vuurwapen binne die baadjie wat hy uitgetrek het. Dit sal nie wys wees om met 'n vuurwapen by die deur uit te stap nie.
"Jenny, jy gaan Sahara se lewe in gevaar stel as jy enigiets probeer.
Sahara loop jy voor my uit."
Jenny staan naby die deur en wag vir hulle om verby te loop. Sy bewe behoorlik van spanning. Hoe kan sy net hier staan en toelaat dat Max haar dogter wegneem?
By die deur stap Sahara uit. Max loer eers uit om te kyk of dit veilig is. Hy en Sahara sien tegelykertyd vir Bennie hulle instap by die oprit.
Max ruk vir Sahara terug. Op daardie oomblik reageer Jenny skielik. Sy staan vinnig nader en slaan Max met haar arm tussen sy bene.
Max skree met 'n vreemde hoë noot en vou vooroor. Die baadjie met wapen val op die grond neer. 
Jenny skree, "hardloop Sahara!"
Max is besig om na sy asem te snak. Die pyn wat van onder af opskiet verlam hom behoorlik en dit voel of dit in golwe kom. Hy is seker iets is stukkend.
Jenny storm verby hom en skree aan Sahara, "Kom!"
Die tiener met die selfoon spring regop. Aksie hier reg voor sy oë.
Jenny en Sahara storm by die deur uit terwyl Sahara vir Bennie hulle skree om terug te gaan na die motor.
"Vinnig pa. Maak gou. Terug kar toe."
Shane verstar. Iets is aan die gebeur. Hy gryp sy wapen en spring vinnig uit sy motor. Die man in die Mercedes gryp ook na sy wapen maar hy klim nie uit nie.
"Iets gaan aan daar voor!"
Intussen het Max in 'n mate herstel. Hy neem 'n tree vorentoe maar onthou sy vuurwapen. Hy buk vinnig om dit op te tel waar dit uit die baadjie geval het. Die bukkery bring 'n nuwe golf pyne. Hy moet vir 'n oomblik of twee diep asemhaal voordat hy regop kan kom.
"Pa, pappa, vinnig in die kar nou!"
Bennie gryp na Lorenzo maar omdat hy nie weet wat aangaan nie beweeg hy nie vinnig genoeg nie. 
Iris staan versteen met Lanice. Alles gebeur te skielik.
"Antie Saha! Daars antie Saha."
Uiteindelik sien Shane vir Max by die deur uitkom, vuurwapen in die hand. Hy hardloop nader maar besef dat hy nie kan skiet nie
Max sien vir Shane aangehardloop kom. Hy hardloop hinkepinke agter Jenny en Sahara. 
Bennie besef uiteindelik wat besig is om te gebeur. Hy stoot Lorenzo in die rigting van Sahara wat nou by hom is en storm op Max af.
Max lig sy vuurwapen in die hardloop. Twee skote klap amper soos een.
Bennie val in die hardloop. Max ruk en val half bo-oor Bennie. 
Dit voel vir Sahara of alles skielik in stadige aksie gebeur. Ma Iris wat vir Lanice styf vasdruk, Jenny wat histeries gil, Lorenzo wat haar been styf vashou.

Die Tiener kan nie sy video vinnig genoeg op faceboek laai nie. Hy moet dit nou doen. 
#RooiMier 
©Rooi Mier 17.01.2023

Plekke in #Stukkendeharte -Upington

Plekke in #Stukkendeharte -Upington Gordonia Hospitaal Dr Harry Surtie Hospitaal Upington Medi -Clinic ...