Saterdag 21 Januarie 2023

#Stukkendeharte Hoofstuk 12 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 12 - Rooi Mier

Lawrence is die oggend laat. Hy kon glad nie behoorlik slaap nie. Janice het hom nog glad nie gekontak nie. Sy weet nie dat hy weet nie. Hy wens sy wil hom net bel. Dit was seker negatief anders sou sy hom sekerlik al laat weet het.
Gelukkig skryf hy vandag Wiskunde, sy beste vak. As dit 'n leervak was sou hy dalk swak gedoen het. Hy sien vir Janice by die hek inkom en reguit op die kleedkamers afpyl.
Na die eksamen volg hy haar ongesiens. Hy weet dat sy met Larisa gaan praat. Hopelik gaan hulle by 'n plek praat waar hy naby kan kom sonder hulle medewete. As sy swanger is gaan hy haar vra om 'n aborsie te oorweeg. Nie een van hulle kan nou pophuis speel nie. Dit is mos nog nie 'n mens nie of hoe?


Hy is net betyds om Larisa te hoor sê, "Geluk girl. Jy gaan 'n mammie wees!"
"Sjuut, wil jy hê almal moet weet? Dalk beëndig ek dit vanmiddag. My ma het gesê dat as ek wil ons nog vanmiddag kliniek toe kan gaan."
"Wat sê Lawrence girl? Jy het hom seker al vertel?"
Lawrence dink, "Ek gaan 'n pa word. Ek, Lawrence van Wyk gaan 'n pa word. Nee wat, ek wil nie nou 'n pa wees nie. Dit is goed dat sy dit wil beëndig."


Tog voel hy seer dat hy nie in die saak geken word nie. 
"Ek het tog sekerlik 'n sê. Wat dink hulle van my? So ek is nie veronderstel om te weet dat my kind geaborteer gaan word nie."
Hy worstel met sy gevoelens terwyl hy weg stap. As dit nou Sahara was hoe sou hy gevoel het? In sy drome sien hy vir hulle twee met 'n seuntjie en 'n dogtertjie hand aan hand loop. 


Janice kom by die huis aan. Sy is self in 'n tweestryd. Net gister het sy gesê sy sal nooit 'n aborsie oorweeg nie. Vandag is sy nie so seker nie. Alhoewel haar ma nie vanoggend reguit gesê het dat sy 'n aborsie moet hê nie, het dit haar wel aan die dink gekry. 
"Wil ek my toekoms weggooi deur 'n baba te hê? Ek is nog jonk. In elk geval, wie wil 'n kind van iemand hê wat iemand anders lief het?"
Sy probeer die beeld in haar kop doodmaak. Dit is 'n onmoontlike droom, sy en Lawrence met 'n kind iewers op 'n Kaapse strand.
"Hoe laat gaan ons Mammie?"
"Is jy seker dit is wat jy wil hê? Onthou, as dit gedoen is, is daar geen omdraai kans nie."
"Ja Mammie, ek is seker."
©Rooi Mier 13.07.2022

#Stukkendeharte Hoofstuk 11 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 11 - Rooi Mier


Die volgende oggend word Lawrence wakker en hy onthou onmiddelik wat die vorige dag gebeur het. Hy glimlag ondeund want hy wil vir Anton terug kry. Hy weet nog net nie hoe nie maar dit moet iets groots wees.
Hy besluit om net so deur sy Engels te lees net om sy gedagtes te verfris. Dit is nog drie ure voor hulle by die skool moet wees.


Janice lê wakker. "Ek is swanger! Ja ek is swanger met iemand wat my nie liefhet nie se kind.
Sy het gistermiddag toe sy van die skool af kom by die apteek omgegaan en 'n tuisswangerskaptoetstoestel gaan koop. Gisteraand toe sy seker was dat haar ouers slaap het sy die toets gaan doen. Toe die toets positief wys, het sy op die rand van die bad sit en huil. 
Vanoggend voel sy nog glad nie beter nie. 
"Wat gaan ek doen? Wat gaan my ouers sê? Hulle het al herhaaldelik vir my gemotiveer om 'n toekoms vir my te bou." 
Sy hoor al haar pa se teleurstelling. Dan is daar Lawrence.
"Sê ek hom of nie? As ek die baba gaan hou sal ek hom moet sê. Aborsie is 'n groot nee vir my. Ek glo wanneer lewe begin mag jy dit nie beëindig net wanneer jy wil nie. Vir my is dit moord."
Sy dink aan Rachel, 'n gewese klasmaat in graad 11 wat aan die begin van verlede jaar 'n aborsie gehad het omdat haar ouers haar forseer het. Na dit het haar persoonlikheid soos handomkeer verander. Sy was eens 'n opgewekte, borrelende meisie; na die aborsie stil en teruggetrokke. Sy het 'n oordosis pille geneem. Haar ouers het aan die einde van verlede jaar geskei. Almal sê hulle het mekaar verwyt vir haar dood.
Janice sien nie uit na die dag nie. 
Toe sy uiteindelik oppad skool toe is sit sy die gebruikte toets in 'n plastieksakkie en gooi dit in die vullisdrom wat haar pa uitgesit het. Dit is vullisverwyderingsdag.
Sy weet nie dat haar ma op daardie oomblik by die venster uitkyk nie. 


"Wat gaan aan met my dogter? Sy het verander sedert die matriekafskeid. Janice was altyd 'n stil kind maar deesdae is sy nog stiller. Ons gesels glad nie meer nie.
Ek vermoed dat sy na daardie aand haar onskuld verloor het en nie net deur te drink nie. Noem dit maar moederintuïsie maar ek ken my kind. Is sy swanger?
Angela jy hou daarvan om die bobbejaan agter die bult te gaan haal. Sy sal sê as sy swanger is.
Angela neem die sakkie kombuisvuil uit na die drom. Dit is 'n tipiese Upingtonse lentedag, helder blou lug en duidelik al klaar warm. Sy maak die drom se deksel oop om die vullis in te gooi.


Janice wil nie vroeg by die skool aankom nie want sy wil Larisa vermy. Sy is nog nie gereed om haar te vertel nie. As sy weet dan weet Anton en dan Lawrence. Dit is beter om self vir Lawrence te vertel maar sy moet eers haar ouers vertel sodat sy die swangerskap by die dokter kan bevestig.


Sy kom dan ook by die skool aan toe al die matriekulante hul sitplekke moet gaan inneem vir die eksamen.
Net toe Angela die drom oopmaak sien sy die hond 'n paar huise weg is buite in die straat en dit lyk of hy in haar rigting oppad is. Almal is bang vir daai hond en alhoewel hy nog niemand gebyt het nie is hy groot. Liewer bang Anna as gebyte Anna. Sy gooi die vullis vinnig in en gaan vinnig by die hek in. Die hond draf snuffelend verby. Sy is alreeds by die deur.


Na die eksamen sorg Larisa dat Janice nie wegkom nie. 
"Was jy al dokter toe?"
"Nie hier nie Larisa. Jy vra nie eers hoe ek geskryf het nie."
Larisa trek haar aan die arm na die agterkant van die administratiewe blok toe. 
"Nou moet jy praat, was jy by die dokter?"
"Nee ek moet nog gaan."
"Jy moet sorg dat jy nog vandag daar uitkom. Dit is vir my ook senutergend om nie te weet nie."


Lawrence wil net om die draai kom toe hy hul stemme hoor. Hy het nie lus vir Janice se norsheid nie en besluit om net daar te wag vir Anton. 
Hy hoor Larisa sê, "Jy sal so gou as moontlik moet gaan. Lawrence moet weet."
"Ai jy hou ook nooit op nie", antwoord Janice. "Ek het 'n toets gekoop. Volgens dit is ek swanger."
"Girl, ek wil die peetma wees." Larisa is opgewonde.
Lawrence se bene voel skielik lam. Hy leun teen die gebou aan.
"Sagter, wil jy hê die hele skool moet weet? Ek het nog nie eers my ouers vertel nie en ek moet dit nog bevestig by 'n dokter.
Belowe my, geen woord hiervan aan Anton nie asseblief Larisa."
"Ja ek sal nie vertel nie girl. My lippe is toe. Kom ons loop. Anton wag seker al vir my by die hek."


Lawrence gaan sit plat op die grond met sy rug teen die muur. Hy is nou letterlik en figuurlik rug teen die muur. Wat hy gisteraand as 'n grap beskou het is nou 'n werklikheid.
"Wat nou?"


Larisa sien vir Anton aankom en sê, " Jy gaan nog vandag girl. Wag, voor Anton ons hoor. Sterkte girl, sien jou môre."
Lawrence spring vinnig op en loop haastig hek toe. Hy wil nie nou enigiemand sien nie.


Tuis is daar net 'n vinnige, "Hallo Mammie", en reguit kamer toe. Gelukkig is sy besig met 'n oproep. Lawrence weet nie hoe hy by die huis gekom het nie. Hy is heeltemaal in 'n war.


Janice is self nie beter daaraan toe nie. Sy probeer ook om weg te kom met 'n "Hi Mammie" maar haar ma roep haar terug.
"Janice, is daar fout? Jy lyk nie lekker nie"
"Niks nie Moeder (die woord wat sy gebruik as sy haar ma wil ontduik), is miskien maar net uitsamenstres."
Angela laat haar egter nie so maklik flous nie.
"Janice, daar is iets fout. Jy is mos my kind vir amper 19 jaar. Praat meisiekind."
"Ek voel maar net nie lekker nie, Mammie. Mag ek nou kamer toe?"
"Gaan trek uit dan kom eet jy iets. Jy het nie vanoggend geëet nie. Ek het jou ontbyt uitgekrap vir die hond. Daarna gaan ek jou dokter toe vat. Jy kan nie bekostig om gedurende eksamens siek te wees nie."
Janice weet sy is in 'n hoek. Haar ma gaan nie toegee nie. By 'n dokter sal sy uitkom vandag nog.


Nadat sy klaar uitgetrek het besluit sy dat dit nou die tyd is vir oop kaarte. Daar is geen manier om dit verder te probeer wegsteek nie. 
"Mammie, ek moet met Mammie praat. Kom ons sit. "
Angela stap na die rusbank toe. Janice kom sit oorkant haar.
"Dit klink ernstig. Wat pla jou kind?"
"Mammie, ek, ek, ….. Ek wil eers gou 'n glasie water kry."
Janice gaan kry die water in die kombuis en drink dit eers klaar terwyl Angela geduldig wag. Sy kom neem weer plaas oorkant haar.
Sy probeer weer, oë op die mat gerig. "Mammie, ek". Die woorde kan nie uit nie. Haar ouers gaan so teleurgesteld wees.
Angela kyk haar stip aan en sê, "Ja Janice. Skaam vir die geraam? Jy is swanger."
Janice skrik en kyk vinnig op. Sy is asvaal geskrik.
"Ja ek weet Janice. As jy jou swangerskapstoets wil wegsteek, doen dit beter. Iemand het in ons vullisdrom gekrap en van die vullis laat uitval en net so gelos. Ek het dit gaan optel en sowaar, daar lê 'n positiewe toets in die sakkie wat jy vanoggend gaan weggooi het."
"Ek is so jammer Mammie. Vergewe my asseblief."
"Ek dink al die hele tyd daaraan. Laat ons net eers by die dokter uitkom."


Daardie aand lê sy in die bed en wonder of haar ma al met haar pa gepraat het. Dit is vreemd dat hy nie onmiddelik na haar kamer toe gekom het om self met haar te praat of liewer raas nie. Haar ma het net gesê sy moet nie nou al vir Lawrence sê nie.
Sy raak onrustig aan die slaap.
©Rooi Mier 13.07.2022

Plekke in #Stukkendeharte -Upington

Plekke in #Stukkendeharte -Upington Gordonia Hospitaal Dr Harry Surtie Hospitaal Upington Medi -Clinic ...